Sterk selfstandige gemeenskappe is ons reddingsboeie

Kallie Kriel is die uitvoerende hoof van AfriForum. (Foto: Rozier van Tonder/OkayDeer.)

Die “huisarres” waarin die regering ons tydens die Covid-19-inperking geplaas het, het – benewens die oorweldigende negatiewe gevolge van die onoordeelkundige verlenging van dié inperking – gelukkig ook tot gevolg gehad dat die noodsaak van ’n gesonde gemeenskapslewe en vryheid opnuut vir ons duidelik geword het.

Baie van die negatiewe gevolge van dié afsondering – soos die druk wat dit op mense se emosionele welstand, gemeenskap-sakeondernemings, die ekonomie as geheel en gemeenskapsaktiwiteite by skole en kerke geplaas het – bevestig dat elkeen van ons nie net ’n rondswerwende, losstaande enkeling is nie. Ons geborgenheid en vermoë om sinvol en volhoubaar te bestaan, is ten diepste verbind aan ons gesinne, families, vriende en die gemeenskappe waarvan ons onlosmaaklik deel is.

In die lig van die mens se behoefte aan geborgenheid en ’n gebondenheid aan gemeenskappe, is dit jammer dat die term “sosiale distansiëring” soms gebruik word, eerder as om te praat van die handhawing van ’n “fisieke afstand”. Terwyl dit wys is om ’n fisieke afstand te hou, moet ons toesien dat ons sosiale nabyheid handhaaf aan die gemeenskappe waarvan ons deel is. Benewens die voordele wat die nabyheid aan jou gemeenskap vir jou emosionele gesondheid inhou, is sterk en selfstandige gemeenskappe ook noodsaaklik om ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir ons en ons kinders hier aan die suidpunt van Afrika te verseker.

Sterk selfstandige gemeenskappe is ons reddingsboeie en eilande in die onstuimige see van korrupte politici rondom ons, wat self tydens ’n krisis teen minderhede diskrimineer deur middel van hul Covid-19-hulpprogramme. Dit is bevrydend om te besef dat ons gemeenskappe ’n sterk buffer kan wees om ons te help beskerm teen ’n owerheid wat toenemend vyandig teenoor minderhede optree. Die wete dat ons as roepingsgedrewe mense met die hande aan die einde van ons eie arms en met die krag van ons plaaslike gemeenskappe sélf ’n beter toekoms kan verseker, bring hoop en nuwe energie. Dit verhoed dat jy in moedeloosheid verval as jy in die ongelukkige posisie is om na onbekwame en magsbehepte ministers te moet luister – wat boonop verregaande voorskrifte van die “bevelsraad” wat ons nou regeer, aankondig.

In die 11 weke sedert die inperking in werking getree het, het AfriForum duidelik beleef hoe Afrikaners en minderhede oor die algemeen toenemend begin saamstaan en in belang van hul gemeenskappe optree. Duisende lede van AfriForum se takke en buurtwagte het sedert die begin van die inperking tonne kos en beskermende toerusting onder bejaardes en ander kwesbare persone in hul eie gemeenskappe help versprei; hulle het skole met veiligheidstoerusting ondersteun en talle ander vorme van hulp gebied. Samewerking tussen organisasies soos AfriForum, Saai, Solidariteit Helpende Hand, die vakbond Solidariteit en talle ander instellings in ons gemeenskappe, is nou groter as ooit tevore. Meer as 15 000 gemeenskap-sakeondernemings het reeds gratis op die webwerf www.afriforumnetwerk.co.za geregistreer sodat mense uit hul gemeenskappe dié besighede kan opspoor en met hul koopkrag kan ondersteun.

Die noodsaak vir saamstaan is ook duidelik in die feit dat AfriForum se ledetal – die verswakkende ekonomie ten spyt – sedert die begin van die inperking van 237 000 tot meer as 245 000 toegeneem het. Dit maak dit vir AfriForum moontlik om in hierdie krisistyd deur ons sterk gemeenskapstrukture met nóg groter krag vir ons gemeenskappe te kan intree.

Natuurlik is die opbouproses wat weens die Covid-19-krisis vir ons almal en ons gemeenskappe voorlê baie, baie groot. Ons sal egter, soos ons voorgeslagte, hierdie uitdaging oorkom deur harde werk, deursettingsvermoë, genade van Bo en die krag van ons gemeenskappe.

Ons elkeen het ’n kritieke rol te speel om ons gemeenskappe sterker te maak. Jy kan dit soos volg prakties doen:

  • Probeer om steeds jou skool- en kleuterskoolrekening te betaal. As ons skole beheerliggaamposte moet begin sny, gaan nie net die skool nie, maar ook die gemeenskap se ekonomie verswak.
  • Dra by tot en wees betrokke by jou kerk.
  • Gebruik jou koopkrag om plaaslike besighede in jou gemeenskap te ondersteun. Besoek www.afriforumnetwerk.co.za. Probeer om, byvoorbeeld, jou haarkapper nou al vir jou volgende haarsny te betaal, of koop ’n wegneemete by jou plaaslike restaurant.
  • As jy ’n werkgewer is, neem mense vanuit jou gemeenskap in diens.
  • Help die kwesbare mense in jou omgewing.
  • Raak by jou plaaslike AfriForum-tak en -buurtwag betrokke, of by die gemeenskapsorganisasie van jou keuse.
  • Koester jou gesin, familie en vriende.
  • Help op enige ander wyse wat jy kan om ’n gesonde gemeenskapslewe te bevorder.

Kom ons almal staan saam en doen ons deel in belang van ons gemeenskappe, want saam is ons sterker!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miskruier ·

Eendrag maak mag, kyk verby die klein verskille, jy is Afrikaner.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.