Waarom Afrikanerparty die regte keuse is

Afrikaners staan op die vooraand van die 2014 algemene verkiesing in Suid-Afrika by ’n politieke kruispad. Die besluite wat ons met hierdie verkiesing neem kan verreikende gevolge hê vir ons vermoë om voordeel te trek uit die parlementêre politiek.

Tog is dinge nie meer so duidelik as voorheen nie. Waar die DA met alle krag en mag teen die beleide van die ANC geveg het wat verantwoordelik is vir Suid-Afrika se groeiende probleme, begin ’n nuwe, jonger leierskap binne die DA om die status quo en politieke posisionering van die party uit te daag.

Die oorsaak van hierdie ommeswaai word aangedui deur die volgende grafiek wat deur www.emtanalytics.com opgestel is in hul onlangse ontleding oor die verkiesing:Grafiek1

Die oorsaak van hierdie ommeswaai word aangedui deur data wat wys dat die stemgeregtigde deel van etniese minderhede van 28% van die totale Suid-Afrikaanse bevolking in 1994 tot sowat 22% in 2014 gedaal het.

Dit is duidelik dat Suid-Afrika se etniese minderhede (gedefinieer as blankes, gekleurdes, Indiërs en Asiate) se proporsionele stem gaandeweg besig is om te daal en daarmee saam word hul vermoë om die politieke diskoers te beïnvloed, ook minder.

Hierdie tendens gaan ook nie verander nie, aangesien die land se minderhede relatief gesproke steeds heelwat minder kinders as die swart groepering kry.

Wat vir die minderhede as geheel geld, is des te meer van toepassing op Afrikaners.

Dit is ook duidelik dat ’n politieke party wat die regering wil oorneem, die grootste gedeelte van die swart stem op homself moet verenig. Só ’n party het dan geen ander keuse nie as om simpatiek te wees teenoor die waardes, verwagtinge en geskiedenisbeskouing van die swart meerderheid.

Dit beteken in praktiese terme dat wanneer die swart kieserskorps glo dat grond deur wit mense van hulle gesteel is en dit vir hulle belangrik is om daardie grond terug te kry, enige party wat graag ’n regering wil vorm, simpatiek teenoor hul eise sal wees (ongeag of hul standpunt histories akkuraat is of nie).

Dit verklaar waarom die drie politieke partye wat tans beplan om nou (of in die toekoms) die regering te vorm, te wete die ANC, DA en EFF, almal ten gunste is van beleide wat skadelik is vir die land se ekonomie en veral ook vir Afrikaners, soos swart ekonomiese bemagtiging, regstellende aksie en grondhervorming.

Dit verklaar ook hoekom die DA nie sy posisie in die Wes-Kaapse regering gebruik het om druk op die Universiteit van Stellenbosch te plaas om Afrikaans as onderrigmedium te bewaar en uit te bou nie. Dis ook waarom die DA in die Wes-Kaap nie Solidariteit gesteun het in sy hofsaak teen die departement van korrektiewe dienste se toepassing van regstellende aksie nie. Dit ten spyte daarvan dat die agteruitgang van Afrikaans en die diskriminasie teen bruin en wit werkers deur werkgewers in die Wes-Kaap, lynreg bots met die belange van die meerderheid van die DA se kiesers in die Wes-Kaap.

Dit is dus duidelik dat demografiese verandering beteken dat Afrikaners wat vir die ANC, DA of EFF stem, geen voordeel in ruil daarvoor in die beleidsrigtings van daardie partye kan verwag nie.
Beteken dit dat Afrikaners afsydig jeens partypolitiek moet raak?
Om hierdie vraag te beantwoord moet daar oorweeg word of daar enige alternatiewe wyse is waarop Afrikaners voordeel uit die parlementêre politiek kan trek.

By die bestudering van ouer demokrasieë is dit duidelik dat ’n klein party wel die politieke boerpot kan wen wanneer dit as sogenaamde koningsmaker kan optree.

Dit gebeur wanneer die twee dominante partye nie self ’n meerderheid van die stem gekry het nie, en die hulp van ’n klein party benodig om ’n regering te kan vorm. Daardie klein party kan dan voorwaardes stel in ruil vir sy ondersteuning van die party waarmee hy gaan saamwerk om die regering te vorm.

Só ’n voorbeeld is die rol wat die Groen Party in Australië vervul het om dit vir die Arbeidersparty moontlik te maak om ’n regering tussen 2010 en 2013 te vorm. Tydens die verkiesingsveldtog in 2010 het die Arbeidersparty belowe dat daar nie ’n koolstofbelasting ingestel sal word indien hulle die regering sou vorm nie.

In die verkiesing het die Arbeidersparty 72 setels in die parlement gewen en die Liberale Party (grootste opposisie) het ook 72 setels gewen. Die Groen Party (met slegs 1 setel) het toe sy steun aan die Arbeidersparty gegee op voorwaarde dat daar ’n koolfstofbelasting ingestel word. Die Arbeidersparty het toe met behulp van die Groen Party die regering gevorm en in 2012 is ’n koolstofbelasting in werking gestel.

Die Liberale Demokratiese Party in die Verenigde Koninkryk (VK) is ook ’n voorbeeld. Nadat hulle die Konserwatiewe Party in 2010 aan bewind gestel het deur hul 57 setels by die 306 van die Konserwatiewe party te voeg, het die Konserwatiewe Party ingestem om ’n referendum te hou oor die verkiesingstelsel wat in die VK gebruik word. Hierdie referendum is deur die Liberale Demokrate aangevra omdat die huidige stelsel hulle tot 9% van die setels beperk al wen hulle 23% van die stemme.

In beide hierdie voorbeelde het die grootste party eise toegestaan wat hulle self skade berokken het omdat dit hulle in staat gestel het om ’n regering te kan vorm. Die moontlikheid van mag is dus ’n baie sterk hefboom wat ’n klein party in sulke omstandighede kan inspan om uitsonderlike toegewings aan hul kieserskorps te wen. Daardie magshefboom bly ook tot en met die volgende verkiesing in plek, want die minderheidsparty kan te eniger tyd besluit om nie meer die regerende party te steun nie en ’n nuwe verkiesing teweeg te bring. Dit maak dit onmoontlik vir die regerende party om nie aan die minderheidsparty se redelike eise te voldoen nie.

In kontinentale Europa is die skep van sulke naverkiesingskoalisies om die regering te vorm en die gepaardgaande uitruil van gunste en gawes algemene praktyk.

Volgens die verslag van www.emtanalytics.com is daar ’n 85% kans dat die Suid-Afrikanse politieke bestel in die toekoms weg sal beweeg vanaf ’n eenpartystelsel na ’n twee- of meerpartystelsel. In beide die twee- en die meerpartystelsel kan ’n klein Afrikanerparty as koningmaker optree en sy pond vleis vir sy ondersteuners eis:Grafiek2

Die verwagte tydsberekening van die oorgang na ’n twee- of meerpartystelsel word as volg deur uitgedruk: “Given the potential outcomes of the next decade, the final takeaway from this analysis should be the recognition that any current political uncertainty is just the opening salvo in a process of realignment that is likely to consume the rest of the decade. Current indications are that the ANC will be in a position to retain power in 2019, but by 2024, the landscape may have shifted sufficiently for the first post-1994 transfer of power via the ballot box.”

Indien Afrikaners vir ’n party stem wat onbeskaamd Afrikanersake bevorder en geen aspirasies het om eendag die meerderheidsparty in die regering te wees nie, kan ons teen 2024 selfs 16 setels in die parlement hou (indien ons die kwynende proporsionele stem van Afrikaners in berekening hou). Dit kan deurslaggewend wees vir enige party wat setels kort om aan bewind te kom. Ons party kan dan enige van ’n aantal voorwaardes stel aan die ANC of DA wat aan bewind wil kom. Voorbeelde kan insluit (in geen spesifieke volgorde nie):

• Die finansiering van een of meer enkelmedium-Afrikaanse universiteite as private instellings.
• Die kwytskelding van sekere dele van die land van die vereistes van regstellende aksie, SEB en grondhervorming
• Die oordrag van Afrikaans-medium skole vanaf die Departement van Onderwys na die Afrikaanse Taalraad, met meegaande befondsing, om as onafhanklike skole bestuur te word.
• Die gewaarborgde beskikbaarstelling van Afrikaans deur die staatsdienste in die provinsies waar Afrikaans deur ’n beduidende deel van die bevolking gepraat word.

Die Vryheidsfront Plus (VF+) het in die verlede bewys dat hy met beide die DA en die ANC kan saamwerk. Die VF+ het die DA in staat gestel om in 2007 Kaapstad te regeer en in 2009 is dr. Pieter Mulder deur die ANC as adjunkminister aangestel. Die party kan hierdie ervaring gebruik in toekomstige onderhandelinge.

Ook in die aanloop tot potensiële regeringsverandering kan ’n Afrikanerparty heelwat vir Afrikaners beteken, soos die VF+ tot op hede gedoen het. Elke nasionale setel beteken ongeveer R1 miljoen se finansiering aan ’n party per jaar. Dit kan aangewend word vir navorsing, belegging in projekte wat Afrikaners ekonomies kan bemagtig en die dryf van hofsake ten behoewe van Afrikaners. Voorbeelde van sulke hofsake waarby die VF+ betrokke was, is die saak om Suid-Afrikaners in die buiteland toe te laat om te stem, die herstel van Transnet-pensioentrekkers se aftreevoordele en om die sing van “Kill the Boer, Kill the Farmer” as haatspraak te verklaar.

Volgens www.emtanalytics.com kan die DA in hierdie verkiesing tussen 2% en 4% van die nasionale stem verloor as gevolg van sy rondvallery met regstellende aksie en Agang. Dit is egter nie vanselfsprekend dat die VF+ daarin sal slaag om hierdie kiesers op te vang nie. Die 52% daling in steun wat die VF+ ervaar tussen die 2006- en 2011-munisipale verkiesings gely het, dui aan dat die VF+ ’n ernstige geloofwaardigheidsknou onder Afrikanerkiesers gekry het toe dr. Pieter Mulder die adjunkministerspos aanvaar het sonder ’n mandaat van sy kiesers of ’n kwantifiseerbare voordeel wat die party vir sy kiesers in ruil daarvoor beding het, terwyl ’n aantal prominente en gewilde leiers van die party uitgeboender is na afloop van die besluit om die pos te aanvaar.

Ten einde Afrikanerkiesers se aandag te trek sal die VF+ sy vlak van gemeenskapsbetrokkendheid drasties moet verhoog, minder staat moet maak op mediaverklarings om sy boodskap by die kiesers uit te kry, sy organisatoriese vermoë (spesifiek takke) moet uitbrei en ’n verkiesingsveldtog bestuur wat om die regte redes verras. Die VF+ moet leer uit die suksesse van AfriForum en kreatiewe maniere vind om die ANC en die DA en die EFF in die verleentheid te stel weens hul rasgedrewe beleide. Die VF+ sal ook beter daarin moet slaag om dinamiese leiers te behou en soos ander ernstige partye sy beleid op skrif stel en toeganklik maak. Dit is elkeen uitdagende take wat die leierskap en die partystrukture sal beproef.

Wat egter duidelik is, is dat indien ons ons demokratiese reg gebruik om vir ’n party stem wat rassediskriminasie teen ons ondersteun, ons nie simpatie van die buiteland kan verwag wanneer ons met buite-parlementêre aksies protes aanteken teen die impak daarvan op ons of ons kinders nie.

Die geleentheid om wesenlike voordeel uit die parlementêre politiek te trek gaan egter nie vir lank met ons wees nie. Soos wat Afrikaners ’n kleinerwordende gedeelte van Suid-Afrika se kiesers word (verwys na die eerste grafieke) gaan ons al minder binne die parlement kan bereik.

Daarom is daar geen langtermyn plaasvervanger vir selfbeskikking nie en moet Afrikaners, ten spyte van uiteenlopende politieke oortuigings (liberaal en konserwatief), daadwerklik bydra tot die vestiging en uitbou van ’n Afrikanerstad.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Ebert Terblanche

Meer oor die skrywer: Ebert Terblanche

Ebert Terblanche is 'n bestuurskonsultant by 'n internasionale ouditeursfirma. Hy spesialiseer in risikobestuur. Hy is betrokke by die Orania Beweging, Afriforum en die FAK.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

19 Kommentare

Mervyn Keown ·

Ebert Terblanche – Wat is ‘n afrikaner Kan jy dit asb vir my beskryf en omskryf. Ek is 1959 gebore in Suid Afrika en beskou myself as ‘n Suid Afrikaner. Ek dans, eet, gesels en kuier in my taal maar respekteer ander tale en mense.

Soos jy sal sien my naam en van is Engels afkomstig van my voorouers wat vanaf ierland geimmigreer het maar ek Mervyn Edward Keown is ‘n Suid Afrikaner maar nie ‘n Afrikaner.

Afrikaner – Almal van ons Suid Afrikaners kom van Frankryk, Duitsland, Nederland ens is hulle afrikaners. ? Vra net.

Jack Sparrow ·

Behalwe dans, eet, gesels en kuier; DINK ʼn Afrikaner ook in Afrikaans wat jou natuurlik uitsluit volgens jou eie oppervlakkige definisie en uiteindelike vraag. Se net.

Koos ·

As Afrikaners met Engelse trou, is die kinders dan Afrikaners, of Engelse? Of mag Afrikaners nie met Engelse trou nie? Aan my ma se kant, so 4 geslagte gelede, was daar ‘n nooi Grant – het ons nageslag nou Engels geword as gevolg daarvan? Ons praat steeds Afrikaans ongeag die feit dat my voorouers aan my pa se kant, Frans gepraat het.

Ons kan seker soos die Amerikaanse Amish, streng reels toepas om nie buite die gemeenskap te trou nie, maar as ons na die diereryk kyk hoor ons dikwels van ‘n genepoel wat versterk word deur soortgelyke diere van ander gebiede in te bring. Waarom is die mens anders? Die nageslag kan ook seker versterk word deur nuwe gene?
Ons Afrikaners is ‘n mengsel van, soos wat Mervyn verduidelik het, verskeie Europese nasies. En daar mag weer nuwe bloed inkom, die tyd staan mos nie stil nie.

Ek dink in Afrikaans, dis vir my baie moeilik om in enige ander taal as my moedertaal te dink, hoewel ek al hordes Engelse boeke gelees het en die voertaal waar ek gewerk het, uitsluitlik Engels was – en ek het Duits op skool geneem. Is ek ‘n Afrikaner?
Volgens wikipedia verwys Afrikaner na Afrikaans sprekende blankes. Maar wat van blankes wat vlot tweetalig is?

Ek dink nie deur in Afrikaans te dink, van jou ‘n Afrikaner maak nie. Ek kon nog nie ‘n bevredigende definisie van Afrikaner kry nie – ek voel bloot soos een, ek voel tuis tussen Afrikaners. Miskien is ek dan een?
Ek is definitief ‘n wit Suid Afrikaner, daarvan is ek redelik seker – ek se redelik, aangesien ons nie weet watter vermenging daar 300 jaar gelede in die Kaap was nie. Ek dink nie enige wit Suid Afrikaner kan met sekerheid se nie. Vir my is dit irrelevant, aangesien ons voorgeslagte die rede is waarom ons is wat ons is.

Miskien moet ons ophou om neer te sien op enige ander nasie wat nie Afrikaner is nie. Ons is tog aanmekaargesit uit verskeie nasies, dis tog wat van ons gemaak het wat ons is.

Ebert Terblanche ·

Mervyn en andere, julle debatteer hier ‘n punt wat nie die fokus van my meningstuk was nie.

Daar is wel ‘n ander meningstuk op die Groot Debat wat die vraagstuk wat julle aan die orde stel behandel. Ek stel voor julle gaan lees dit en as julle nie daarmee saamstem nie, kan julle jul kommentaar daar gaan plaas:

http://debat.maroelamedia.co.za/2013/06/03/wie-en-wat-is-n-afrikaner/

Hierdie artikel is gerig op diegene wat hulself as Afrikaners identifiseer en ek sal graag wil hoor waarom hulle van my mag verskil.

André ·

Absoluut puik. Kan ons nie asseblief hierdie stuk in more se koerante laat plaas nie. Of is daar dalk n beter manier om dit op n beter vinniger wyse “wyd” en “syt” bekend te maak.
Dankie Ebert, jy is n doring.

Benito Odendal ·

Realiteit is egter ‘n ander storie….teoriee , miskiene,grafieke,slimpraatjies en veral sogenaamde akademiese uitsprake ens.ens…….. verander hom soos in glad nie !!! Ons kan nie realiteit probeer skaaf en vorm in iets wat ons gaan pas of wat dalk vir ons kan werk nie….Nee !!!..HY IS SOOS HY IS en basta!!!…..gee die grootste prater vir ons heil ‘n pos in die regering,natuurlik met aansienlike finansiele vooruitsigte , en kyk wat gebeur…..dit is realiteit….!!!…..Ons het leiers nodig…..nie praters,geld wolwe,teorie skeppers en slimjanne nie…net leiers !!!……in kort…by vandag se besluitnemers is daar GEEN verantwoordbaarheid nie en daar slaap soos in klokslag ‘n haas by elke uitspraak wat hul maak!!!….Sny elke politikus,stads en dorpsraads lid en sogenaamde besluitnemer se selaris met twee derdes…..en kyk wat gebeur…..hul baadjie pante sal agtertoe waai soos hul weghardloop om elders ekonomiese heil vir hulself uit te gaan knoei…dis realiteit!!!!…..en dis hoekom ek ,en ek glo baie ander Afrikaners ,nie meer WIL stem nie…..ons is moeg vir eie gewin soekers en lee blikke met slim praatjies….ons het niks wat ons voor MOET stem nie….net geloof en hoop op ‘n leier met integriteit wat ons behoeftes op die hart ,en nie in sy beursie, dra en wat ons kan glo !!!……..goed so….stenig my nou maar en bly weghardloop vir REALITEIT…..hy sal jou vang so hafpad in jou drome want jy kan hom nie verander nie……as iemand dalk wil spekuleer oor die uitslag van die verkiessing….hy’s reeds beskikbaar in Letuli house EN die BBC en SAUK “scripts” reeds geskryf…..he he !!!…..many a true word was spoken in jest…!!!

VerVanRyn ·

Benito, waarom al die ellipse? Dit maak die lese van jou kommentaar moeilik. Ek, en ek glo meeste mense met ‘n bietjie grys stof, stem saam dat politici se salarisse gesny moet word. Die bedrae wat hulle ontvang is astronomies en weerspeel nie ons stand as derde wêreld land nie. Daar is wel een geval wat ek van weet waar ‘n politieke figuur nie sy eie gewin na gejaag het nie. Dit is die einste dr. Pieter Mulder van die VF+.

Met sy aanstelling as adjunkminister(?, nie seker oor die pos wat hy gekry het by Zuma nie) is daar ‘n begroting aan hom bekend gemaak vir die aanskaf van ‘n huis in Pretoria en in Kaap Stad sodat hy daar kan vertoef tydens Parlementêre sittings. Hy is die enigste lid van die Parlement wat die bedrag van die hand gewys het en verkies het om by sy ma te bly in Pretoria en as ek dit nou reg het vriende/familie in die Kaap. Daar is hoop, net te min.

Johan Wiggill ·

Nugtere en interessante analise van die demografiese werklikhede in Suid Afrika. U ontleding is gerig op interne selfbeskikking wat in terme van die beleidsoortuigings van die prominente partye nie veel gaan beteken vir die Afrikaners nie. Dit bied nogtans ‘n interessante hefboom-opsie sou ‘n tweeparty stelsel ontwikkel. Ek sou eerder die hefboom gebruik om ‘n selfregerende gebied te eis in plaas van ‘n Afrikanerstad. Minderhede is so in die minderheid dat subordinansie aan die regerende party onvermybaar sal wees. Dit stel groot eise ten opsigte van minderheidsgroep alliansies, maar kan dalk ten einde ons enigste kans op selfregering wees.

Shannon ·

M.a.w. ons het statistieke analise en algoritmes nodig om uit te wys aan die blanke publiek dat hulle `n helse fout gemaak het deur te dink dat deelname aan demokrasie in die reënboog stoompot sou lei tot `n soort gebalanseerde Utopia ? Dat hul regte beskerm sou word en dat hul vullis sakke opgetel sou word ?

M.a.w. hulle besef nou wat die huidige oorsese expats reeds 20 jaar terug geweet het ? En so ook elke Griek en Portugees wat deur die Afrika kolonies verder en verder afgetrek het en uiteindelik in die republiek opgeeindig het soos wat elke demokratiese domino geval het ?

In Afrika is “democray” een honder persent ekwivalent aan “pluralism” (majority rule, nothing less)

Ek dink nie ons het navorsing nodig nie. Ek reken die blanke publiek, insluitende Afrikaners, is vasgevang in hul eie nimmereindigende rasionalisme :

“Daar’s `n afgrond voor, pasop !” Die oplossing : ‘Ons sal dit mis, al’s oraait’
“Ek sien die afgrond, pasop !” Die oplossing : ‘Dis nog vêr weg, al’s oraait’
“Hier’s die afgrond, wat nou !?” Die oplossing : ‘Glo en vertrou net !’
“Ons stort oor die afgrond, wat nou !?” Die oplossing : ‘Bid !’

aan en aan …

Hier’s nog `n goeie aanwyser vir toegewyde analiste :
Die geld eenheid van Suid Afrika is minder as 9 Amerikaanse sente werd (US$2.00 in die 1970s). Dus, ook die buitelanders is meer intelligent as die lokale minderhede. Hulle wou toe nou nie in die droom belê nie.

Koos ·

Eddy Grant het, ek dink, in die jare tagtig, “gimme hope johanna” gesing.
Vir die wat die lirieke wil lees, dis by

http://www.azlyrics.com/lyrics/eddygrant/gimmehopejoanna.html

Met verwysing na die lirieke, die volgende:

Daar is heelwat ooreenkomste, maar apartheid kan sekerlik vervang word met “affirmative action”,
“To buy new weapons” kan vervang word met “to buy security for the president”
Every mother in black Soweto, met “every mother on every farm”.
Dis ironies dat die ” preacher who works for Jesus” ‘n radikale omkeer gemaak het en nou teen die ANC is. Die einste prediker wat destyds gese het hy weet nie waarom die Afrikaner so bang is nie – “they have nothing to loose, they have everyting to gain”, het hy gese.

Ek wonder of daar nie iemand is wat bereid is om die lied so bietjie aan te pas om by hedendaagse omstandighede te pas nie. Miskien kan ons vir Steve vra? Hy is mos pro Afrikaans.
Dit behoort nogal skokgolwe die wereld in te stuur. Die sg. “bevryder” wat die onderdrukker geword het? Miskien sal dit help as die wereld weet wat presies in S.A. aangaan.
Of vir Eddy Grant self vra om die lied aan te pas en weer te sing?

Kyk gerus wat ‘n Londonse koerant oor die nuwe S.A. geskryf het by:

http://www.advertinator.co.za/osclass/ineptocracy-p31

Die akademici moet my asb. nie stenig oor taalgebruik, sinsvorming en dies meer nie, ek se maar net hoe ek voel op my manier. Ek praat baie lekker met rekenaars.

Matt Heyns ·

Ek aanvaar ‘n Zulu party, ‘n Khosa party en ‘n Afrikaner party interme van interne selfbeskikking. Die NBR is op die regte pad. Ek stem FRONT NASIONAAL om die paal te haal.

Klitsgras ·

Presies die kaliber kieser wat hul soek…….. en verdien.

Mike ·

Die probleem is die afrikaner party wat bestaan doen nie alles wat die afrikaner wil he nie. Front Nasionaal is juis gestig omrede baie afrikaners ontevrede is met wat die VF vermag het die afgelope twintig jaar. Dit help nie wat jy doen is nie wat jy belowe het nie, dit wat jy doen moet die resultate oplewer wat jy belowe het toe die kieser hulle kruisie agter jou naam getrek het.

Ebert Terblanche ·

Beste Mike

Ek dink dit is duidelik uit die aantal stemme wat die Front Nasionaal gekry het, dat hulle die hoeveelheid werk wat ‘n suksesvolle party vereis onderskat het.

Dit is maklik om te sê dat ‘n party nie sy beloftes nakom nie, maar in regverdigheid moet daar ook gekyk word na hoe die party gevaar het met die middele wat die kiesers tot sy beskikking gestel het.

Gaan die Front Nasionaal byvoorbeeld sy beloftes kan nakom met die minder as 5000 stemme wat hy getrek het?

Ons het baie te leer by die ANC wat ‘n breë koalisie vorm van uiteenlopende belange. As ons elke keer wegbreek en ons eie ding probeer doen, dan word ons baie vinnig irrelevant.

Mike ·

Ebert ek stem saam met jou artikel veral wat jy skryf omtrent die VF maar dis juis die probleem en dis waarom FN gestig is. Jy se self wat die VF moet doen om beter steun te kry, nou vra ek kon die VF dit nie self beplan het nie? Jy skryf “Ten einde Afrikanerkiesers se aandag te trek sal die VF+ sy vlak van gemeenskapsbetrokkendheid drasties moet verhoog” dis ou nuus waarom moet die VF dit eers op ander webwerwe lees om iets daaromtrent te doen?

Weereens se ek dis waarom FN gestig is, FN weet hierdie goed die VF moet dit nog uitvind. Pieter Mulder het presies gedoen wat die ou NP hom geleer het en dit is, sodra jy in die parlement jou sit gekry het dan vergeet jy jou kiesers. Jy skryf;

Die 52% daling in steun wat die VF+ ervaar tussen die 2006- en 2011-munisipale verkiesings gely het, dui aan dat die VF+ ’n ernstige geloofwaardigheidsknou onder Afrikanerkiesers gekry het toe dr. Pieter Mulder die adjunkministerspos aanvaar het sonder ’n mandaat van sy kiesers of ’n kwantifiseerbare voordeel wat die party vir sy kiesers in ruil daarvoor beding het.

Ek se weer dis hoekom FN gestig is maar jy verkies om FN eerder te kritiseer. Wel FN is gestig want ons gaan nie nog twintig jaar wag nie, ons gaan nou begin werk aan die party wat bestaan uit gewone mense en nie beroeps politici nie. Die VF kan maar later met ons kom gesels oor ‘n koalisie want dit lyk nie of hulle veel vorder nie.

werner ernst ·

Ebert

Jammer, ek stem so veel met jou saam dat ek nie oor jou idees ‘n lewendige debat kan aanhelp nie.

Verder dink ek ook baie mense moet eerder meer self doen as om te kritiseer. Hoeveel van die wat kla oor die VF+ se prestasie het al self uitgespring, gaan help om plakkate op te hang, weer af te haal en die boodkap te versprei deur pamflette uit te deel en vir mense te vra om te kom help. Nee dis mos lekkerder om voor die TV te sit en sport kyk. Ek het hierdie jaar hard gewerk, meer as 1000 pamflette versprei saam met my kinders en vriende se kinders, meer as 50 plakkate self opgehang en by ‘n stembus ‘n partystal beman met ‘n paar medewerkers vir 11 ure. Ek glo dit het ‘n verskil gemaak. As jy deel word van ‘n plaaslike tak, sal jy ook inspraak kry in die keuse van plaaslike kandidate van jou party en afgevaardigdes kan stuur na die nasionale by-eenkomste waar die leiers gekies word. Ek vind ook dat deelname in party-politiek daartie lei dat jy mense leer ken wat jou waardes deel en dat die samewerking jou moed gee om meer te doen as wat jy eers voor kans gesien het. So laat ons werk en nie kla nie.

Ek wens die FN ook alle sterkte toe en hoop hulle groei ook. As die totaal van FV+ FN groei, wen ons. Ek hoop die FN betrek ook mense wat voorheen nie gestem het nie en vergroot so ons potensiaal. Daar is niks so goed soos kompetisie oor die afrikaner stem om die afrikaners aan die dink te sit en groei te verseker nie.

Selfbeskikking beteken self werk vir jou tooekoms.

Groete
Werner Ernst

Jan Venter (Jannaman) ·

Dagsê,

Daar het jy dit nou, FN verf toe 5138 stemme wat slegs 0,03% van die volk verteenwoordig met die 2014 verkiesing. Hierdie prentjie vertel vir my dat daar nog steeds sommige Afrikaner volksgenote is wat nog steeds ly aan die Piet Retief Sindroom; trek jou eie laer, gaan na die magtigste inheemse volk in suider Afrika en onderhandel net vir jouself vir ʼn lappie grond en dan jy sien jou………. vat se naam!

As ek die 5138 stemme by die Vryheidsfront tel dan maak dit geen verskil aan hul posisie tans nie. So niemand het eindelik die wegbrekers gemis nie. Hopelik sal hulle besin oor hul volk sonde en besef eendrag maak mag.

Komaan! FN ondersteuners, ons moet bymekaar staan en slim te werk gaan met ons stemmery sodat ons ʼn beter land vir ons kinders kan beding inplaas daarvan om onder mekaar te stoei oor dinge wat nie eindelik saak maak nie. Presies soos baie duidelik in die goeie artikel verduidelik is.

Ek is baie verhuig oor die verkiesings uitslae van die VF+ en is dankbaar dat daar weer vier setels in die Algemene Vergadering aan hul toegeken is en in twee provinsies een setel elk. Nogmaals baie geluk.

Die werk wat Argiforum, Solidariteit op ʼn daaglikse basis verrig en ons leefwyse, bestaansreg en dit direk aanspreek is daar tans nie genoeg woorde voor om dankie voor te sê nie. Ek kan dit net beskryf as volkome volk heilsaamheid. Saam met hierdie twee instellings elk wat hul eie doelwitte nastreef saam met die VF+ wat die spreek mond in die parlement is. Noem ek die drie instellings die Afrikaner musketiers wat nie net praat nie maar doen ook en dit met vasberadenheid ʼn groot verskil maak wat aan geteken is in wet boeke. Ons is nou na twintig jaar vir eens en vir altyd verby van praat en niks doen nie. Die daad moet nou by die woord gevoeg word want die volk wil letterlik en figuurlik aan hulle lywe voel dat daar positiewe verandering te weeg gebring word. As die musketiers nie die volk help nie; wie dan?

Nou het ek weer hoop en vrede in my gemoed vir die volgende vyf jaar; dankie aan die musketiers

Groetnis

Jannaman

Riaan ·

Ek het geen bewyse hiervan nie, maar ek het al op meer as een geleentheid gehoor die een groot probleem in die binnekring van die VF+ is die “Mulder Click”

Die blyk ‘n geval te wees waar ‘n familie die hef in die hand het, en met alle mag en krag ook wil behou, en enige persoon wat nie daarvan hou nie, se lewe word ondraaglik gemaak

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.