Stig ’n professionele leergemeenskap

Foto: Pixabay.com

Deur Marietjie du Plessis

Die konsep van professionele leergemeenskappe – gedefinieer as “deurlopende groepe … wat gereeld vergader met die doel om hul eie opvoeding asook die van hul studente te verhoog” (Lieberman & Miller, 2008. p.2) – het in die 1990’s begin as ’n belowende model en strategie vir die verbetering van onderwysgehalte én die prestasie van studente.

’n Suksesvolle leergemeenskap dra by tot ’n gesamentlike en interdissiplinêre benadering tot beide die verbetering van onderwysvaardighede en die akademiese prestasie van leerders. Die hoofdoel van ’n leergemeenskap is om by te dra tot deurlopende individuele verbetering – dit streef daarna om nie net individuele leerders se prestasie te verbeter nie, maar ook dié van skole en spanne.

Die wyse waarop leergemeenskappe funksioneer verskil heeltemal van eenmalige professionele ontwikkelingsessies, wat normaalweg deur eksterne verskaffers gefasiliteer word. Die idee dat professionele ontwikkeling vanaf eksterne bronne verkry moet word, skep egter die persepsie dat onderwysers nie kenners in hul veld is nie. Deur middel van leergemeenskappe word onderwysers – as kenners in eie reg – gebruik om leer te fasiliteer deur hulle eie ervaringe en kennis te deel.

Onderwerpe vir bespreking

Die sleutel tot ’n doeltreffende leergemeenskap is die betrokkenheid en deelname van alle lede. Binne ’n leergemeenskap kan lede terugvoering gee, hulpbronne uitruil en beste praktyke met mekaar deel. Moontlike onderwerpe sluit in:

  • Hersiening van lesse en take.
  • Bespreking van leerders se werk en die assessering daarvan.
  • Aanbevelings rakende onderwysbenaderings.
  • Ontwikkeling van metodes om leerders met leerprobleme te ondersteun.
  • Ondersoek en bekendstelling van nuwe navorsing rakende instruksiemetodes.

Noodsaaklike praktyke

Meeste leergemeenskappe pas ’n siklus van deurlopende leer toe, wat die volgende behels: ondersoek, aksienavorsing, data-analise, beplanning, besinning en evaluering. Lede word aangemoedig om hul eie praktyke te ondersoek, nuwe idees te probeer en na te dink oor wat goed werk, en waarom. Deur die proses bou en deel hulle gesamentlik nuwe kennis, wat beteken dat meer individuele kapasiteit gebou word om leerders se ervaringe te verbreed en prestasie te bevorder. Om doeltreffend te wees, moet leergemeenskappe gereeld bymekaarkom – een maal per maand, of ten minste een keer per kwartaal.

Lieberman en Miller (2008) lys die volgende bykomende vereistes vir doeltreffende leergemeenskappe:

1) Sessies moet ’n duidelike struktuur en doel hê.

2) Lede moet gereeld saamkom en moet moeite doen om verhoudings, gebaseer op vertroue en eerlikheid, te bou. Dit is noodsaaklik om oop gesprekke rakende suksesse en uitdagings te voer.

3) Die fokus van die sessies moet wees op aktiwiteite wat leer sal verbeter, asook om strategieë te ontwikkel om lede se eie ontwikkeling met leerders se prestasies te koppel.

4) Terugvoering moet konstruktief wees.

5) Deelnemers moet verbind wees daartoe om dit wat uit die sessies geleer word, in hul klaskamers/tutorsessies toe te pas.

Uitdagings

Daar is hoofsaaklik twee uitdagings vir leergemeenskappe: tyd en volhoubaarheid. Daar is geen vinnige baan vir die ontwikkeling van ’n leergemeenskap nie. Dit verg tyd en moeite om die nodige gesprekke te voer en strategieë vir probleemoplossing te ontwikkel. Lede wat nie ten volle toegewyd is nie mag dalk nie bereid wees om die nodige tyd en werk wat dit gaan verg, in te sit nie.

Dit gesê, professionele leergemeenskappe hou verskeie voordele in. Die gesamentlike en reflektiewe prosesse wat gevolg word kan lei tot die skepping van nuwe en innoverende idees. Dit verminder ook die isolasie wat onderwysers dikwels ervaar. Verder raak opvoeders meer ingelig soos hulle op professionele en akademiese vlak groei, wat uiteindelik lei tot verbeterde prestasie onder hul leerders.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae