Stille diplomasie: ANC, Zuma en regering swyg oor Zimbabwe

Ondersteuners van Emmerson Mnangagwa, die man wat Zimbabwe se volgende president gaan word, hou foto’s van hom vas by die Manyame-lugmagbasis in Harare waar Mnangagwa sou land. Foto: Ben Curtis/AP.

Emmerson Mnangagwa sal Vrydag ingehuldig word as slegs die tweede president van Zimbabwe in 37 jaar.

Hy het ʼn ongekende geleentheid om Zimbabwe ʼn nuwe rigting te laat inslaan. Terwyl beslis nie almal in Zimbabwe bly is dat Robert Mugabe bedank het nie, is daar weliswaar ʼn reuse-uitbundigheid in die land en onder die uitgewekenes in die buiteland oor sy vertrek. Dit is te midde van hierdie euforie dat nóg ʼn Zanu-PF-sterkman die president van die land word en daar word inderdaad hoë verwagtinge van hom by groot segmente – waarskynlik die meerderheid – van die samelewing gekoester.

Ten spyte van sy twyfelagtige reputasie en brutale verlede word Mnangagwa ʼn nuwe begin gegun en min mense met sy getuigskrifte kry sulke geleenthede. Die internasionale gemeenskap hou ook sy optrede en uitlatings fyn dop en is versigtig opgewonde oor ʼn moontlike nuwe begin in Zimbabwe. Met die regte besluite en beleid kan hy Zimbabwe weer die broodmandjie van Afrika maak want die land het opsluit die potensiaal om dit te wees.

Hy maak wel die regte soort geluide met sy uitlatings oor demokrasie en die wil van die mense, maar dit is te midde van ʼn atmosfeer van vreugde en optimisme oor Mugabe se vertrek. Dit is nie in sulke omstandighede wanneer iemand se grootmoedigheid en bona fides getoets word nie. Dis wanneer die bevolking se blydskap kwyn en hulle aandring op hul eise wanneer ʼn leier en party se geduld en verdraagsaamheid getoets gaan word. En Mnangagwa en Zanu-PF se rekord in hierdie verband is erg onthutsend.

(Uiters) stille diplomasie

Ewenwel, waar staan pres. Jacob Zuma, sy party en die Suid-Afrikaanse regering oor die hele kwessie van die magsoorgang in Zimbabwe? Dis ʼn vraag waaroor die wêreld en ons in Suid-Afrika natuurlik wonder. Die kort en eerlike antwoord is dat ons nie weet nie want die regering is suinig met inligting. Dit is vreemd, veral te midde van die grootste nuusgebeurtenis van die maand en beslis een van die grootstes van die jaar.

Op die presidensie se webwerf is daar slegs ʼn uiters bondige verklaring oor Zuma wat nie meer na Harare sal reis nie. Dit is ʼn uiters vreemde besluit omdat die bondige verklaring juis daarop dui dat die Suider Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap besluit het dat hy een van die afgevaardigdes moet wees om die situasie in Zimbabwe te gaan monitor. Geen rede vir die afstel van die reis word verstrek nie en daar is ook geen aanduiding of die ander afgevaardigdes, soos pres. Joao Lourenco van Angola, steeds die reis gaan onderneem nie. Dit is nog vreemder as in ag geneem word dat Mnangagwa Vrydag daar ingehuldig word.

Op die ANC se webwerf word absoluut geen woord gerep oor die hele aangeleentheid nie. Die party was gou om sy mond oor Swart Maandag uit te spoel, maar sedertdien was daar slegs verklarings oor mindere sake as Zimbabwe en ook oor interne ANC-aangeleenthede. Die laaste verklarings oor Zimbabwe deur die regerende party in Suid-Afrika is laas in April 2016 uitgereik.

Voorts het die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) ook skynbaar niks te sê oor die Zimbabwe-olifant in die vertrek (ofte wel op ons voorstoep) nie. Onder die paar verklarings wat dit uitgereik het in November, handel die laaste een oor ʼn selfmoordbomaanval in Nigerië en Suid-Afrika se leedwese daaroor. Die tweede laaste een (op 17 November) handel oor die kabinetsamesprekings wat onlangs in Tuynhuys in Kaapstad gehou is en eintlik min met buitelandse sake te make het. Die res gaan ook oor allesbehalwe Zimbabwe, terwyl dit hul uitsluitlike hooffokus behoort te wees.

Terwyl die wêreld juig – en nie uitgepraat kan raak nie – oor ʼn tiran wat weg is, sit die Zuma-regime en die ANC weer eens hul beleid van stille diplomasie met groot oorgawe, maar letterlik ook met groot stilte, voort.

Sonder woorde, of antwoorde

Wat is die moontlike redes hiervoor? Dit is straks meer kompleks as wat ons dink of waarvoor ek ruimte hier het om dit omvangryk te ontleed, maar een besliste rede is dat Mugabe se val die vryheidsbewegings in Suider Afrika heeltemal in die war gestuur en beangs gemaak het.

Skares wat juig oor ʼn vryheidsvegter-wat-president-geword-het se vertrek is iets wat nie in hulle ideologie en verwysingsraamwerk inpas nie. Een van hul eie het die ongewilde onderdrukker geword en dit is iets wat hulle nie kan begryp of erken nie.

Hoewel nog ʼn vryheidsvegter die leisels oorneem, wil hulle bloot nie erken dat Mugabe so ʼn enorme en ongewilde ramp was nie. Hulle kyk uiteraard ook na Zimbabwe as ʼn spieël en sien hul eie tanende gewildheid en miskien selfs hul toekoms. En dit laat hulle duidelik sonder woorde – en antwoorde.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

V ·

Dankie vir die uitmuntende artikel. Goed om te weet dat die doring in die anc se vlees, nie ‘n witman is nie, maar hulle eie selfwaan. Kan nie wag om die uitslag van die Desember kongres te sien nie. Die lyne tussen die wat veg vir die vryheid van numa one, en van die wat die rangorde om die trog wil verwissel, sal duidelik getrek wees. Maar om te hoop dat die lede van die kongres (beide kante) in wese sal verander om die land en sy mense voor op te stel, is soos kaf in die wind. Die anc bly in wese sonder woorde en antwoorde op die vrae wat die lewe aan hulle vra.

Eugene ·

Volgens my kennis was biskop Abel Muzorewa die eerste nuut verkose leier (eerste minister) na mnr Ian Smith waarna mnr Robert Mugabe oorgennem het vir die volgende 37 jaar. Die leier van die land was die eerste minister genoem waarna dit na president verander het in 1987.

Theresa ·

Regte geluide. Stilte. Geen antwoorde nie. Eintlik die norm.

kat ·

Zuma is seker bang om in Zim te gaan kuier by sy boesomvriend want daar gaan hy uitgejou word!
Kan nie daarvoor wag nie!!!

kat ·

So twee weke gelede voor die onllngese verwikkelinge en voordat die President-elect na S A gevlug het – het hy geluide gemaak dat die Boere moet terugkeer na Zim sodat daar weer geboer kan word. Wonder wat se Malema en Zuma daaroor.

Jaco ·

Hulle het hulle gat af geskrik, en besef nou dit kan hier ook gebeur.

Die wiel draai, en papa wag vir jou!

Hendrik ·

Ek wil net sê toe ons bure se hond gevrek het het my hond ook stil gebly. Seker maar in hul geaardheid of hoe oom?

Johann Marx ·

Tog interessant dat daar in verskeie artikels berig word hoe Mugabe uiteindelik besluit het om die “mag” oor te gee….nie die “leierskap” nie…die “Power”. In Afrika word daar nie sommer van “leaders” gepraat nie, want niemand “lead” nie….daar is net baie “rulers”, en hulle “rule” net met die taal wat Afrika die beste verstaan: GEWELD!!

Nico ·

Snaaks hoe mense die lug ruik en onmiddellik perde in die stroom verwissel. In 1948 het ek gesien hoe stoere Sappe oornag in Nasionaliste verander het na die uitslag van die algemene verkiesing wat Dr Malan aan bewind gebring het !! Manteldraaiers, en hulle was maar altyd daar!

Eish ·

Dit is nou n uitstekende opmerking, dankie. Dit is so n raps meer as n dekade voor my tyd, maar die geskiedenis is goed opgeteken en n mens sien vandag steeds die ingebore mutasie.

Daar waar die aas is, sal die aasvoëls bymekaarkom.
Water volg die pad van minste weerstand en dit is in die geval dan ook so. Diegene wat deur moeilike omstandighede vashou aan hul beginsels, trek maar vlieë sodra die wa deur die drif is en die woeste watermassa agtergelaat is.

Interressante afleiding is dus dat die navolgers kom sodra jy sukses behaal het. Maar helaas, hul bly net navolgers.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.