Stof die ANC sy Kodesa-notas af?

Deur Werner Human

werner-human-solidariteit-adjunkbestuurshoof

Werner Human. (Foto: Verskaf)

’n Hooggeplaaste ANC-lid en een van die party se hoofonderhandelaars tydens Kodesa vertel tydens ’n onderhoud: Die uitkoms waarvan hulle seker was ná elke onderhandeling – ongeag wat toegegee of gewen is – is dat die beginsel van meerderheidsbewind regdeur die proses in stand gehou moet word.

Waar die onderhandelaars aan die kant van die Nasionale Party (NP) die grondwetlike skikking as ’n eindpunt beskou het vir ’n demokratiese Suid-Afrika, was die inwy van demokrasie vir die ANC ’n brughoof – ’n aanvalsvertrekpunt van waar hy sy idees verder kon deurvoer.

Juis deur meerderheidsbewind as regeringsvorm ononderhandelbaar te maak, sou die ANC, wanneer dit vir die party polities gunstig is, beleidstandpunte wel kon deurvoer.

Die brughoof behels dat die ANC sy beleidstandpunte deurlopend verfyn, bevestig en uitbrei, en dat die beleidstandpunte dan as ’n opdrag aan die kaders in die regering deurgegee word. Die doeltreffendheid van die uitvoering van die opdragte hang tot groot mate af van die weerstand wat daar teen die opdragte bestaan.

Die verklaring van die koronavirus tot ’n pandemie, en die drastiese en ingrypende inperkingsmaatreëls wat afgedwing word, het aan die ANC ’n geleentheid gebied om idees waarteen sterk weerstand bestaan opnuut aan te roer.

Hoofsaaklik twee opdragte kan hier gemeld word.

Die eerste opdrag is om die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te bespoedig. Dit is die program waar gesondheidsorg in Suid-Afrika as’t ware genasionaliseer word sodat betaling vir mediese dienste deur middel van ’n sentrale fonds geadministreer word.

Die loodsprogram vir die NGV was ’n mislukking. In ’n omvattende ekonomiese studie is onder meer aangetoon: Selfs met die optimistiese aanname dat die Suid-Afrikaanse ekonomie oor die volgende tien jaar met 2% gaan groei, sal daar ’n tekort van R230 miljard vir dié program wees. Na beraming sal dit neerkom op ’n belastingtekort van ongeveer 10% wat aangevul sal moet word – en dit is nie moontlik nie.

Gegewe die sterk aanduidings vanuit ekonomiese en wetlike oorwegings dat die NGV nie in die belang van Suid-Afrika is nie, het pres. Cyril Ramaphosa onlangs gesê: “Dít (die Covid-19-pandemie) kan beskou word as die bevestiging van die ontstaansrede vir die NGV. Geen persoon wat met die koronavirus besmet is, is weggewys nie en dít is die presiese oogmerk van die NGV.”

Die tweede opdrag is die herstrukturering van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank beraam ’n inkrimping van 6,1% in die ekonomie en die tesourie beraam ’n moontlike vyf miljoen mense wat hul werk kan verloor. Dit sal die werkloosheidskoers oor die 50% stoot.

Steeds het pres. Ramaphosa onlangs nog gesê: “Radikale ekonomiese transformasie moet die dryfkrag van ons ekonomiese toekoms wees, wat ons nou sal moet uitkerf.”

Die ANC is onomwonde oor wat radikale ekonomiese transformasie behels: om die ekonomiese struktuur van die land op ’n rassegrondslag te herrangskik, en die herverdeling van grond en eiendom deur die beleid van onteiening sonder vergoeding.

Anders as in die vroeë 1990’s beskik Suid-Afrika oor ’n veel sterker burgerlike samelewing wat op verskeie fronte georganiseer is, waaronder die bevordering van burgerregte, maatskaplike bystand en beroepsorganisasies.

Die drastiese inperkingsmaatreëls hou beslis uiters nadelige gevolge vir die ekonomie en werksekerheid in, maar bied ook geleentheid dat die veerkragtigheid van gemeenskappe ’n groter rol kan speel sodat ons ons toekoms self kan skep.

Dit is ’n reuse-uitdaging om die leemtes te vul wat die afsonderingstydperk laat, maar ons durf nie die geleentheid laat verbygaan om die selfstandigheid van gemeenskappe te bevorder nie.

Soos Winston Churchill gesê het: “Moet nooit met ’n krisis mors nie. In uitdagende tye moet die aanvaarde realiteite bevraagteken word – en in die plek daarvan mag daar oplossings buite die bestek van die normale gang van sake gevind word.”

  • Werner Human is die adjunkbestuurshoof van regsake en navorsing by Solidariteit.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jaco ·

wanneer begin die ANC met al hierdie goed? Dis net praat praat praat. Hulle ontken plaasmoorde, weier kospakkies vir wit mense en se lelike goed oor wit mense, maar verder kom dit ook nie. BEGIN tog asseblief net met al die goed. En so tussendeur die onteiening en radikale ekonomiese transformasie, deporteer dan ASSEBLIEF alle wit mense na Europa, Amerika, Kanada en Australie. Sommer net so. Met niks. Dis ok. Stempel net groot in elke paspoort “return to South Africa is forbidden for this passport holder”. Dis regtig ok. Dan is daardie lande gedwing om ons as vlugtelinge in te neem. met harde werk en kwalifikasies en onderving sal ons wel weer regkom. ten minste sal ons “verkeerde”velkleur dan nie meer teen ons tel nie.

Pieter ·

Met die Jan van Riebeeck, Bloedrivier en Paardekraal Geloftes, wie kan sê dit is die ANC en hul stemvee se land? Met die BLM veldtog mag dit dalk beter wees om in jou Gelofteland te bly, indien jy die geloof, hoop, liefde en vertroue het.

JohanR ·

Nog ‘n ANC “smokescreen” om nou weer aandag van ietsie ander af te vat? Ek wil Griekeland toe gaan na Mykonos toe asseblief ANC, as julle wittes gaan deporteer.

James ·

Briljant, Werner. Groete. (Jou voormalige ou buurman, daar in Moreletapark – toe jy en jou huismaats nog kinders was en my grassnyer kom leen het..) :)

Hennie ·

Vir wat en wie moet ek vlug? Hierdie is my geboorteland en my Moedertaal en moet ek vlug omdat ek die voorreg van ‘n witvel het? Dis loutere snert dié en ek wens mense wat die weghardloop propageer, wil sommer vandag nog die land verlaat. Die agtergeblewenes is beter af sonder as met julle! Dat ons weer sal oorwin is ‘n gegewe en ons sal weer die land ens sy mense bou as ‘n voorbeeld van sukses en welvaart…onthou net om julle, wat wil vlug, se kaartjies te laat stepel, “never to return – proclaimed traitor”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.