Stop die politieke misbruik van werknemers se pensioengeld

flip-buys-tweede-groot-trek-02

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. (Foto: Reint Dykema)

Hardwerkende werknemers se pensioengeld word al jare lank misbruik vir politieke doelwitte wat pensioenfondslede al miljarde rande gekos het. Hierdie benadeling het in baie gevalle op verkwisting en selfs op gewettigde plundering neergekom.

Dit is die hoofrede waarom net sowat 6% van werknemers kan aftree in die wete dat hulle ná ’n leeftyd van harde werk genoeg aftreegeld het om hul oudag kommervry deur te bring.

Die Suid-Afrikaanse pensioenbedryf is die land se grootste bate en verteenwoordig die spaargeld van bykans 17 miljoen lede ten bate van meer as R4,262 miljoen.

Die eerste misbruik was die verwatering van pensioene deur maatskappye se uitdeel van gratis aandele aan polities-gekoppelde magnate ingevolge Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtiging (BBSEB)-wette en -kodes. In praktyk het dit beteken dat arm pensioenarisse se geld aan ryk bemagtigingsmagnate oorgedra en herverdeel is. So is enkelinge bemagtig ten koste van die ontmagtiging van miljoene gewone werknemers se pensioengeld.

Die tweede misbruik was die belasting op pensioengeld vanaf 1996 tot 2006, waartydens pensioenfondslede meer as R50 miljard aan belasting betaal het. Fondslede het ʼn totale verlies van meer as R120 miljard as gevolg hiervan verloor.

Die derde misbruik is die perk van 30% wat regulasie 28 van die Pensioenwet op buitelandse beleggings geplaas het. Dit het meegebring dat fondsbestuurders nie vry was om fondslede se geld in die beste beleggings te plaas nie, omdat hulle verplig was om dit op die SA aandelebeurs te belê. Die probleem is dat die SA aandelebeurs minder as 1% van die globale beurse uitmaak, en dat fondsbestuurders dus nie behoorlik kon diversifiseer nie. Ons het ook net te min groot maatskappye waarin die groot pensioenfondse kan belê en dit vergroot die risiko.

Die vierde misbruik was die swak staatsbestuur en politieke inmenging in die sakewêreld wat ekonomiese groei en daarmee saam die opbrengste van pensioenfondse gestrem het. Indien die ekonomie oor die afgelope agt jaar 3% meer per jaar gegroei het, kon pensioenfondse se bates bykans 25% meer gewees het. Die gehalte van regering en regeringsbeleid word in die uiters swak ekonomiese syfers jaar na jaar uitgedruk. Dit het meegebring dat arm pensioenarisse en gewone werkers die ANC se swak beleid en swak staatsbestuur moes subsidieer. Die verval van belangrike infrastruktuur, soos munisipale dienste en spoorlyne, het maatskappy- en pensioenopbrengste ondermyn. Die afgradering van die land deur die belangrikste graderingsagentskappe was die onvermydelike gevolg hiervan en het pensioene verder benadeel.

Die vyfde misbruik was die regering se jare lange versuim om nog kragstasies te bou of Eskom te privatiseer. Die elektrisiteitskrisis is een van die grootste oorsake van die langste ekonomiese afswaai wat die land in 70 jaar beleef het.

Die jare lange straflose staatskaping en die meegaande korrupsie van nywerheidskaalafmetings het die land sowat R1,5 biljoen (Engelse trillion) en ʼn miljoen werkgeleenthede gekos, en het bykans vyf miljoen mense regstreeks benadeel. Die feit dat die klaarblyklike skuldiges nog nie aangekla is nie en dat baie nog selfs magtige openbare posisies beklee, benadeel die ekonomie, pensioenfondse en alle landsburgers verder.

Die sewende benadeling van pensioenfondslede is die wisselkoers wat sedert 1994 jaarliks gemiddeld met 6,5% verswak het en wat Suid-Afrikaanse pensioenfondslede in wêreldterme verarm het. Die wisselkoers word gesien as ʼn land se “aandeelprys” wat die wêreld se vertroue in die landsbestuur meet.

Die agtste misbruik van pensioengeld is die swak opbrengs wat hardwerkende mense kry vir hul swaarverdiende belasting as gevolg van staatsverval. Die swak staatsbestuur van openbare gesondheidsorg en veiligheid bring mee dat mense private medies en sekerheid ten duurste moet verkry en dan nie genoeg geld het om vir hul aftrede te spaar nie. Pensioenarisse kan ook nie duur private dienste bekostig nie.

Die negende faktor is die swak staatsbestuur wat daartoe lei dat Suid-Afrika se grootste uitvoerproduk nou produktiewe belastingbetalers is. Die uitvloei van soveel kundigheid het reeds ʼn groot impak op maatskappyprestasie en die opbrengste van pensioenfondse gehad.

Die tiende faktor is dat nadat die staat nou die belastingbetalers se geld opgebruik het, die regering pensioengeld wil gebruik om swak bestuurde staatsondernemings te subsidieer. Dit word beplan sonder enige geloofwaardige aanduiding dat hulle die beleidsrigtings wat tot die jare lange wanbestuur van bykans al hierdie ondernemings gelei het, gaan aanpas. Suid-Afrika het sowat 715 staatsbeheerde maatskappye en slegs een was verlede jaar winsgewend, naamlik die Suid-Afrikaanse Bosboumaatskappy Bpk. (Safcol). Die meeste groot maatskappye het ook ’n reusagtige skuldlas.

Die groot pensioenfondse belê reeds groot in staatseffekte met die staatspensioenfonds as bykans 50% van hul bates. Gedwonge verhogings in staatsondernemings kan gevolglik tot laer opbrengste en swak beleggings lei.

Hierbenewens is daar nog talle ander krisisse deur die regering self geskep wat pensioene benadeel, soos sosialistiese beleidsrigtings en rassewette wat gelei het tot ʼn rekord in die werkloosheidskoers, ʼn onbekostigbare welsynstelsel, onteiening sonder vergoeding en planne vir ʼn onuitvoerbare nasionale gesondheidsversekering.

Daarom mag hardwerkende mense en arm pensioenfondslede nie verder swak regering subsidieer nie. Eskom en ander staatsondernemings moet spoedeisend winsgewend en doeltreffend gemaak word deur hulle van staatsbeheer te bevry. Dan sal beleggingsgeld vanself daarheen vloei, soos na enige ander veilige en goeie belegging.

Intussen moet Eskom se finansies reggeruk word deur grootskaalse regsaksies om gesteelde geld terug te vorder, te sorg dat stadsrade geld wat vir elektrisiteit gevorder is, aan Eskom oorbetaal, grootskaalse wanbetalers vas te vat, Eskom se bestuur te bemagtig om te doen wat nodig is om die kragreus te red, en om private verskaffers dringend toe te laat om elektrisiteit op te wek.

Die regering moet ophou om krisisse net te verduur in plaas van om te doen wat nodig is om dit op te los.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jan ·

Die pensioenfondse , en in besonder die GEPF, is die laaste bastion om pensionarisse n mate van oorlewing te verseker. Wanneer die fonds gestroop word is ons almal tot armmoediges gedoem.

Gato ·

Dit klink vir my of die ANC se patetiese bestuur van die land kan kwalifiseer as ‘n misdaad teen menslikheid. Hulle verarm miljoene mense en veroorsaak fisiese pyn en leiding. Nie net nou nie maar dit affekteer mense al vir die afgelope 20 + jaar en dit gaan nog so wees vir die volgende 50 +jaar.
Ek sien net een uitweg vir die land maar ek mag dit nie noem nie dan sal MM my kommentaar verwyder.

Johan Venter ·

Lees mens hierdie weldeurdagte artikel, soos vele ander op Maroela wat ons met uiters waardevolle inligting verryk, dan wil mens graag aan ons president, wat ons, onder andere, oor pensioenfondse probeer sus, sê: “Ja Cyril en dan is daar mense na wie mens graag luister omdat hulle die kennis het en met gesag kan praat, veral waar dit oor die geskiedenis gaan, oor Edward Jenner, Piet Retief, grondgrype, pensioene en die NGV.”

Johan Venter ·

Flip, die volgende behoort deur die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies as ‘n misdaad teen die mensdom geklassifiseer te word:

Regerings wat deur die dryf na hul sosialistiese kommunistiese ideologie, of andersins, die bewoners van daardie land van enige van die volgende stroop/plunder:
1. Grond/Vaste eiendom
2. Pensioene
3. Private Gesondheidsorg
4. Geld, eiendom of enige verhandelbare dokumente in die bewaring of onder die beheer van ‘n Handelsbank, onder die beheer van Fondsbestuurders
5. Deur die Nasionalisering van die land se Reserwebank
6. Insgelyks behoort Breëbasis Swart/Wit Ekonomiese Bemagtiging of Swart/Wit Ekonomiese Bemagtiging en Regstellende Aksie as bykomende misdaad hieronder gelys te word

koos ·

Democracy is a pathetic believe in the collective wisdom of individual ignorance – HL Mencken

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.