Stormagtige politiek vir VSA in 2019 verwag

vsa-vlag-amerika-amerikaans

Foto: Samuel Branch/Unsplash.com

Die Amerikaanse politiek verveel nie sommer nie. Daar kan algemeen aanvaar word dat 2019 ’n baie opwindende jaar in die Amerikaanse politiek gaan wees.

President Donald Trump het tydens sy eerste twee jaar as Amerikaanse president ’n baie gunstige politieke omgewing gehad met die Republikeinse Party wat die senaat en huis van verteenwoordigers, sowel as ’n oorgrote meerderheid goewerneurskappe, beheer het. Dit het egter nou verander. Hoewel Trump ’n groot goue raam om die donker wolk van die middeltermynverkiesing van 6 November probeer skets het, is die waarheid egter dat dié verkiesing ’n groot terugslag vir die Republikeine was.

Uiteindelik het Trump se party veertig setels in die huis van verteenwoordigers verloor. Talle goewerneurskappe en honderde posisies in die verskillende state se wetgewers is ook aan die Demokrate afgestaan. Hoewel die slagting kleiner was as wat Barack Obama in 2010 beleef het, was dit steeds ’n groot terugslag vir die Republikeinse Party.

Tydens verlede week se inhuldiging van nuwe kongreslede in die Amerikaanse hoofstad, Washington DC was dit duidelik dat die Demokrate lus is vir baklei. Talle nuwe kongreslede kom uit die groeiende linkse en radikaal progressiewe faksie van die Demokratiese Party en word sterk deur hul eie linkse, soms selfs sosialistiese ideologie gedryf.

Trump se weiering om wetgewing te steun wat sommige federale staatsdepartemente finansier sou daar nie befondsing vir ’n muur op die grens tussen Amerika en Mexiko ingesluit word nie, gee ’n voorsmaak van wat vanjaar voorlê.

Amerika verkeer tans weens verskeie redes in ’n baie gunstige posisie. Sedert Trump president geword het, is vyf miljoen nuwe werksgeleenthede geskep. Werkloosheid is besonder laag, deelname in die ekonomie is sterk en Amerikaners ervaar ʼn duidelike toename in persoonlike inkomste en welvaart. Daarmee saam is Amerika tans nie gewikkel in enige groot oorlog nie. Trump se besluit om die Amerikaanse weermag uit Sirië te onttrek en Amerika se militêre teenwoordigheid in Afganistan af te skaal, geniet steun onder die Amerikaanse publiek, hoewel sy onkonvensionele manier om internasionale skakeling te behartig, ’n meerderheid van Amerikaners teleurstel.

Daar is dus op papier genoeg rede om te glo dat Amerikaners eintlik heel tevrede moet wees en dat 2019 eintlik ’n rustige jaar behoort te wees. Daar is egter drie belangrike redes waarom dit nie die geval gaan wees nie. Die eerste rede is opgesluit in die onkonvensionele presidentskap van Trump. Wat gaan sy volgende onverwagse stap wees? Niemand weet nie.

Tweedens is die Demokrate daarop uit om Trump en die Republikeins-beheerde senaat vanuit die huis van verteenwoordigers opdraande te gee. Voortslepende wetgewende geskille, ondersoeke teen die president en selfs ’n totale onvermoë om belangrike ooreenkomste oor wetgewende prioriteite te bereik, is heeltemal moontlik.

Derdens het die veldtog vir die 2020-presidentsverkiesing reeds afgeskop. ’n Lang, dramatiese en definitief gemene veldtog lê vir Amerikaners voor in aanloop tot volgende jaar se presidentsverkiesing.

Amerika is steeds die belangrikste ekonomiese, politieke en militêre rolspeler in die wêreld. Daarom moet ons dophou wat daar gebeur en kan ons verwag dat 2019 ’n baie stormagtige jaar in die VSA gaan wees wat tot heelwat onsekerheid in die res van die wêreld aanleiding gaan gee.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

John ·

Dit is duidelik dat superpresident Soros en sy CNN-party die wereld goed opkook vir WO3. In die VSA glo beide Hillary en Nancy (die ‘pous’) hulle is die land se president met Opra en Michelle op die kantlyn. Die swartsmeer-veldtog teen Trump was die slinkse truuk wat seker nog teen enige president op aarde gevoer is, as sou hy, onvolwasse onvoorspelbaar, onintelligent en onverantwoordelik wees. CNN se roekelose joernaliste bespring hom soos dolhonde, want dit werk. Die MUUR word nou die simboliese Russiese muur na WO2 wat eerder afgebreek moet word.

Ronnie ·

Daar is geldige redes waarom die Dems so groot oorwinning in die afgelope verkiesing behaal het. En waarom soveel vroue tot die politiek toegetree het.
Trump word gesien as skurkagtig as dit kom by vroue. ‘n Ware man sal nooit vroue aan hulle geslagsdele gryp en hulle teen hulle sin soen nie. Wat nog ‘n president? Sy talle beledigings teenoor vroue is welbekend. Die Kavanaugh aanstelling is nog ‘n faktor. Vroue voel sterk oor gesinsbeplanning en oor die reg om oor hulle eie liggame en hulle eie lewens te besluit. Ons leef nie meer in die middeleeue nie!
Kyk na groep fotos van die Dems soos dit nou daar uit sien en na die GOP. Die een kleurvol en jeugdig, die ander verstokte ou manne gebaadjie en gedas. Dis soos ek reeds gesê het, kierangkies sal braai. Die samestelling van die Demokratiese party is nou ‘n doring in die vlees van die GOP en van die konserwatiewe media. Hulle lyk bang?
Daar lê sekerlik ‘n onstuimige jaar voor. Trump staan met sy rug teen die muur en hy kan nie bekostig om die geveg rondom die muur te laat vaar nie. Hy kan nie bekostig om die Withuis te verlaat nie. As hy nie meer kan voorgee hy veg vir die muur nie waaroor gaan hy praat? As die kriminele ondersoeke na elke instansie wat die Trump naam dra tot aanklagte en vervolging lei is al wat tussen hom en ‘n oranje oorpak staan, die mure van die Withuis.

Jerry ·

Nie net die demokrate nie, maar ook die republikeine moet so gou as moontlik van trump ontslae raak. Hy beskik oor die vermoe om alles wat hy aan vat in n gemors te verander. Hoe op dees aarde het die republikeine die ou as hulle presidentskandidaat gekies, hulle moes wragtigwaar uiters desperaat gewees het met so n swak keuse! Maar laat ons tog ook nie van die klomp hier in SA vergeet wie se oordeel hulle net so erg in die steek gelaat het met hulle blindelingse lofsange aan trump.

Ronnie ·

Jerry, hy gaan forseer word om te bedank en hy gaan aan die pen ry. Lank voor die 2020 verkiesing. My gevoel is die kongres sal “verraad” van die tafel afhaal as deel van ‘n ooreenkoms. Maar die ondersoeke na sy geldsake sal voortgaan en al sy ongeregtighede sal aan die lig kom.

Jaco Fourie ·

Ek skaam my om te lees dat daar so waar Demokrate-dissipels hier in afrikaans skryf. Is die propaganda en liberale breinspoeling so effektief? Nog nie een van die aanklagte teen Trump kan geslaagd deurgevoer word. Trump is wel bietjie van ‘n loskop, maar hy verpersoonlik ekonomiese groei en goeie konderwatiewe waardes teenoor die liberale Demokrate se humanistiese sotheid en besetenheid. Wat is so misdaad om ‘n nasionalis te wees wat sy land wil beskerm teen immigrante wat geen wesenlikke bydrae tot die ekonomie maak behalwe vir hande-arbeid? Ons hoef maar net na die twee partye se ondersteuners te kyk om die klas en beskaafdheidsverskil te sien. Die Republikeine is behoudend, die Demokrate besete. Trump se suksesse word verswyg en vals aantuigings word gefabriseer om hom te diskrediteer. Hoe het Clinton vroue hanteer? Sommer in die Withuis! Obama het die VSA byna in die grond in bestuur en het GEEN van enige van sy verkiesingsbeloftes nagekom! Hillary is self skuldig aan soveel skandale! Komaan, wees realisties… Trump is soms effe impulsief met sy Tweets, maar hy is die grootste staatsman in die Weste sedert Reagan.

Jerry ·

Jaco, dit gaan juis hier oor waardes, waardes wat trump nie huldig of respekteer nie. Trump tree onvolwasse op en voel n veer vir mense, laat staan nog waardes. Niemand gaan enigeiets met konserwatiewe waardes te doen wil he nie, want trump laat dit lyk asof dit n boosheid is wat gebruik word om mense, selfs sy eie mense te na te kom. Konserwatiewe mense skaam hulself vir trump en gaan toenemend hulself distansieer van konserwatiewe waardes omrede hulle nie langer met trump wil assosieer nie! Om mense te belieg, te bedrieg en te mislei met onwaarhede en halwe waarhede en om jou attensies op die teenoorgestelde geslag af te dwing is nie konserwatiewe waardes nie, of is dit?

Gert ·

Dis juis die demokrate wat lieg en bedrieg, net soos sekere soortgelyke partye hier. Daar is opnames van al daai senior demokrate waar hulle hulleself uitgespreek het ten gunste van die muur, nou draai hulle om en voer aan hulle is gekant teen ‘n muur. Die media probeer voorgee dat Trump verantwoordelik is vir die huidige dooie punt, terwyl dit 100% die demokrate se skuld is omdat hulle weier om die geld goed te keur vir die muur wat Trump aan die bevolking belowe het voor sy verkiesing. Daardie muur sal mijarde per jaar spaar aan patrolleringskostes van die grens, en repatriasiekostes van die ONWETTIGE migrante wat die land oorspoel.
Dis net ondenkbaar dat mense wat kan dink kant kies teen Trump!

Annie Webb ·

Baie duidelik wie hierbo glo die linkse hoofstroommedia in die VSA wat die Demokrate ondersteun en wie kry hulle inligting van die meer konserwatiewe media wat die Republikeine en Trump ondersteun. Die persoonlike heksejag op Trump is desperate identiteitspolitiek. Die storie oor sy optrede teenoor vroue is gebaseer op een enkele (private) gesprek en is twak. Hy is bekend daarvoor dat hy vroue en anderskleuriges oral in sy besighede kans gee om te presteer. Daar is baie meer bewyse van kriminele optrede deur Obama en Kie as deur Trump. Lg. het niemand se geld nodig nie. Die Demokrate het nou grotendeels openlik “sosialisties gedraai”, wat tot groter ondersteuning vir Trump behoort te lei. Onder rasionele mense in elk geval. Hy het wondere verrig met die ekonomie en sy kortaf en reguit manier van praat en dinge doen, is presies wat konserwatiewe Amerika nou nodig het. Die verfyndheid waarop tradisionele Republikeine aanspraak maak, het geen wapens teen die aggressiwiteit van die dikwels ongepoetste en agterbakse Demokrate nie. Vorige Republikeine het elke keer geval vir die Demokrate se taktiek wat Chuck en Nancy nou ook probeer het: “Just OK our current budget proposals and we can talk about the wall later.” Trump het direk vir Nancy gevra: “Will you OK the money for the wall later?” waarop sy nie anders kon as “No” antwoord nie. Toe staan Trump op en stap uit. Ek dink die Demokrate “has met their match” en Trump gaan wen. Die histeries gillende linkse media ten spyt.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.