Stormloop deur Palestyne op Israel se grens

Palestynse Hamas-ondersteuners woon ’n byeenkoms by in Desember 2017 vir die 30ste herdenking van die bestaan van die Hamas-beweging in Nablus aan die Wesoewer. (Foto: Majdi Mohammed, AP)

Hamas, die radikale Palestynse politieke organisasie wat die outonome Gaza-strook beheer, het massas mense, vroue en kinders ingesluit, tot ’n “spontane” stormloop op die grensheining met Israel aangehits nadat daar eers kampe op die grens opgerig is waar hulle vir dae geïndoktrineer is. Dit was egter net ’n fraksie van die duisende “kampeerders” wat aan die stormloop deelgeneem het. Israel moes die aanval afweer, anders sou miljoene ander volg en die land sou vernietig word, ’n verklaarde doelwit van Hamas. Gewapende vegters was blykbaar reeds agter die “burgerlikes” in posisie om aan te val en die ongewapende aanvallers is as kanonvoer voorgestuur. Israel se soldate moes die stormloop afweer en in die proses is 13 mense gedood nadat hulle herhaaldelik gewaarsku is om nie nader te kom nie.

Die Palestynse propaganda het die aanval op Israel vertolk as ’n “terugkeer na ons grond” (sien die parallelle met die EFF se propaganda). Een van die mites van die Palestyne is die “reg tot terugkeer”.

Dit is histories ’n omstrede konsep. Hulle verwys na die feit dat hulle voor die Joodse intrekkers in die gebied van Israel daar gewoon het en ná die oorlog van 1948 – kort ná die onafhanklikheidsverklaring van Israel – wat die Palestyne en hul Arabiese bondgenote verloor het, verdryf is, of eerder, gevlug het. Om daaruit ’n reg op grond in Israel vir opvolgende generasies af te lei, is verregaande. Diegene wat aanval en die oorlog verloor, kan nie aanspraak maak op terugkeer nie, nog minder as daar Israeli’s woon wat die grond intussen ontwikkel het. Nogtans ondersteun die Verenigde Nasies in hierdie geval die Palestyne se aanspraak. Sou, byvoorbeeld, Duitsland eis dat Duitsers die reg het om Pole binne te val omdat daar meer as 70 jaar gelede Duitsers gewoon het wat as gevolg van die verlore Tweede Wêreldoorlog verdryf is, sou geen land dit ondersteun nie omdat feite nie ongedaan gemaak kan word sonder verdere leed nie. Boonop sal lande wat oorwinnaars van ’n oorlog is, hul grond nie weer aan die verloorder afstaan nie. Die beste is dat die lande versoen en mekaar se wedersydse misdade erken.

Allermins is terugkeer ’n ewige reg vir volgende generasies. Aangesien die Palestyne geweldig vermeerder het sedert 1948 sou die “reg tot terugkeer” Israel met miljoene Palestyne laat oorstroom wat die einde van die Joodse staat sou beteken. Die beskerming van jou grense is ’n internasionaal erkende reg, maar blykbaar geld dit nie vir Israel nie.

Die Palestyne en hul wêreldwye ondersteunersnetwerk is meesters op die gebied van emosionele propaganda, beter selfs nog as die ANC tydens die struggle. By hulle tel ’n lewe maar min as ’n mens kyk hoe hulle onder mekaar veg en verskillende organisasies en Islam-denominasies mekaar fisiek aanval, maar in die media kry hulle dit reg om altyd die arme, onskuldige slagoffer te speel. Talle Palestyne leef in armoedige omstandighede en ervaar ’n hardhandige behandeling deur Israel, maar die hoofverantwoordelike daarvoor is die Palestynse leierskap, wat in ’n siniese magspel hul eie mense as pionne gebruik.

Die opoffering van mense as pionne vir ’n “groter doel” is kenmerkend van radikale organisasies. Dink maar aan Mao se Lang Mars of die Groot Sprong wat miljoene menselewens gekos het. Op heelwat kleiner skaal was daar nader aan die huis Swapo se inval deur swak gewapende troepe in die destydse Suidwes-Afrika kort voor hul onafhanklikheid in 1989, of die ANC se binneval van die Ciskei om die leierskap te verwyder waar – willens en wetens – die lewe van ongewapende mense op die spel geplaas is om die verdedigers in die oë van die wêreld te blameer.

Net soos radikale “bevrydingsbewegings” het ook die Palestyne ’n strategie dat elke toegewing op ’n eis net beteken dat die doelpale geskuif word. Gaza en die Wesoewer het reeds outonomie, maar pleks om die geleenthede wat dit bied te gebruik, word die meeste geld wat veral deur internasionale organisasies ontvang word, gebruik om Israel op allerhande maniere aan te val.

Daar is egter ook ’n ander dimensie aan die konflik, naamlik die interne wedywering tussen die radikale Hamas en die meer gematigde Fatah.

Eersgenoemde beheer die Gaza-strook, laasgenoemde die Wesoewer. Beide eis Jerusalem as Palestynse hoofstad op en wil graag die hele Israel tot ’n Palestynse staat verklaar, maar kan nie eens die klein outonome dele saam bestuur nie.

Net soos die EFF probeer om met anti-blanke haat, grondeise en besettings teenoor die ANC punte te wen, probeer Hamas met besonder opspraakwekkende aksies teen Israel aandag te trek om onder Palestyne en internasionaal as hul verteenwoordiger te geld.

Dit volg nadat ’n onlangse samewerkingsooreenkoms tussen Hamas en Fatah kort ná die ondertekening weer verbreek is. Dit is alles pogings om die swak bestuur en korrupsie van die twee Palestynse gebiede te verdoesel deur die ewige sondebok, Israel, te bemoei. Hamas is deesdae selfs in die Arabiese wêreld geïsoleerd, ook deur sy suidelike buurstaat en eertydse ondersteuner, Egipte, en probeer met dié soort aksies aandag te trek.

Hierdie jaar is ook die 50ste herdenking van Israel se onafhanklikheid en Hamas wil met die stormlope volhou.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
dr. Sakkie van der Merwe

Net soos die ANC in die Sewentiger jare kinders gebruik het om hul doelwitte te bevorder en dan te huil as daar van hul sou omkom.

Jerry

In beide SA en Israel duur die onophoudelike stryd voort tussen diegene wat het en diegene wat wil he. Wereldwye ondersteuning behoort in meeste gevalle aan diegene wat niks het. Diegene wat alles het, is dan gewoonlik die muishond van die verhaal, einde niet.

Patrys

Die modus operandi is so dieselfde! En met ons minister wat die aanvalle elke keer veroordeel weet ons waar ons eie regering se lojaliteit lê. Hulle offer hulle vroue en kinders op sodat die wereld die wat hulself verdedig kan veroordeel. En net so iets interessants, die regering het grondeienaars aangesê om sake van grondonteiening by die polisie aan te meld, nadat die mense dit gedoen het, het die hof onder andere een so saak wat gemaak is teen grondbesetters in Midrand, oor die naweek uit die hof gegooi. So die polisie doen niks, as jy ‘n saak maak, gooi… Lees meer »

Pietman

Goeie berig. Ja die ANC, EFF en Hamas is voëls van enerse vere.

Kannaland

Wat ek nie verstaan nie is waarom Israel so sukkel om sterk te staan. Ek dog die Joodse mense het geweldig baie mag regoor die wereld. Is hulle besig om mag wereldwyd te verloor?