Strafhof-onttrekkings: Die Afrika-sterkmanne lag kliphard

nternasionale-strafhof

Internasionale strafhof in Den Haag, Nederland. Foto: En.wikipedia.org.

Kort op die hakke van Suid-Afrika se besluit om die proses van stapel te stuur om die Internasionale Strafhof (IS) te verlaat, kom nog ʼn Afrikastaat, Gambië, se besluit om hom van hierdie instelling los te maak. Burundi het dieselfde voorneme.

In ʼn sekere sin is dit logies, omdat die hof ver van Afrika geleë is in Den Haag, Nederland. Dit kan ook soos ʼn voorskriftelike, koloniale instelling voorkom en een wat Afrikastate juridies probeer ondermyn. Groot en invloedryke state soos die VSA, Indië en China is op die koop toe ook nie ondertekenaars van die Roomse Statuut nie en derhalwe nie lede van die IS nie.

Daarbenewens is die persepsie dat slegs Afrikane voor die hof gedaag word oor hul vergrype, stellig ook nie vergesog nie. Al 39 individue wat tot dusver deur die hof aangekla is, kom uit Afrika. Dit wissel van voormalige staatshoofde, soos Charles Taylor, die gewese president van Liberië, tot krygshere soos Joseph Kony, wat aan die stuur van die rebellegroep Lord’s Resistance Army (LRA) in Uganda was, tot sittende staatshoofde soos pres. Omar Al-Basjir van Soedan.

Hierdie persepsie moet egter getemper word deur die feit dat sekere Europese leiersfigure, soos Ratko Mladić en Slobodan Milošević, ook al deur die hof ondersoek is vir die wreedhede en oorlogsmisdade wat hulle in die 90’s in Bosnië gepleeg het.

Hoewel ek nie glo dat een instelling, wat boonop op ʼn ander vasteland geleë is, ʼn einde aan die vergrype, bloedvergieting en vergrype deur staatsleiers en ander figure in Afrika gaan bring nie, moet daar egter gekyk word na wié wil almal die Strafhof vaarwel roep. Dit is immers nie almal in Afrika wat so voel nie en veral in Suid-Afrika is daar grootskaalse ontevredenheid oor die besluit.

Botswana, wat dikwels teen die kontinentale stroom swem oor heelwat kwessies, het vandeesweek sy spyt oor Suid-Afrika se besluit uitgespreek en sy verbintenis met die IS herbevestig. Die African Group for Justice and Accountability (AGJA), ʼn groep bestaande uit prominente juriste, akademici en menseregte-aktiviste, het ʼn beroep op Gambië, Burundi en Suid-Afrika gedoen om hul besluite te heroorweeg.

Magsbehepte maghebbers

Wat my opval van al die Afrikastate wat sterk teen die IS gekant is of sonder meer daaruit wil padgee, is dat hulle feitlik sonder uitsondering op ʼn outokratiese en korrupte wyse regeer word en hul leiers oënskynlik so lank as moontlik aan hul mag wil vasklou. Die burgers van die onderskeie lande het geen werklike voorkeur uitgespreek oor hul lande se betrokkenheid by die IS nie en daar is buitendien veel groter kwessies om op te fokus.

Uganda se pres. Yoweri Museveni, wat die IS onlangs as ʼn “nuttelose hof” uitgekryt het en een van die hof se mees verbete Afrika-kritici is, regeer sy land al vir 30 jaar. Hy het in 2005 ʼn grondwetlike wysiging bewimpel om perke op presidensiële termyne uit die weg te ruim. Allerhande beperkinge op politieke pluralisme is ook ingestel.

Jahja Jammeh regeer Gambië al sedert 1994 nadat hy deur middel van ʼn staatsgreep aan bewind gekom het. Hy het sedertdien allerlei perke op persvryheid ingestel, kritici en opponente van sy regering is al gemartel, ontvoer en doodgemaak en talle verkiesings is bekook om Jammeh aan bewind te hou.

Burundi is vanjaar al in chaos gedompel en ten minste 100 mense is dood, toe pres. Pierre Nkurunziza, wat dié arm landomslote staat al vanaf 2005 regeer, dit reggekry het om ʼn derde termyn, wat deur die Grondwet verbied word, as staatshoof te begin dien. Die onafhanklike media is toegemaak en sowat 150 000 Burundese het vlugtelinge geword.

In Suid-Afrika is pres. Jacob Zuma al sedert 2009 in die saal en hy het sedertdien op ʼn berekende wyse te werk gegaan om die land se instellings en staatsondernemings onder sy beheer te bring. Hofbevele is verontagsaam, sy kornuite is in sleutelposisies aangestel en korrupsie sowel as ondeursigtigheid floreer.

Die gesaghebbende Freedom House, ʼn nieregeringsorganisasie wat navorsing oor demokrasie en politieke vryhede doen, het al verdoemende uitsprake oor hierdie state en hul leiers gelewer. Hulle lig veral Suid-Afrika en Gambië se agteruitgang uit in die 2016 Freedom of the World-indeks. Suid-Afrika word nogtans as “vry” bestempel, met ʼn algehele telling van 2 uit 7 (hoe hoër jou telling, hoe meer onvry is jy), maar Burundi, Uganda en Gambië verkeer almal al vir jare in die “onvrye” kategorie. Laasgenoemde state se politieke, burgerlike en ekonomiese regte word deur hul onderskeie regerings op growwe wyse geskend.

Afrika-oplossings vir Afrika-probleme?

Een van Afrika se vernaamste probleme sedert die dekolonisering van die vasteland sedert die laat 50’s, was die verskynsel van “sterkmanne”, oftewel tiranne wat hul bevolkings op totalitêre maniere onderdruk het, terwyl hulle self die staatskas leeg geplunder het. Dink maar aan Idi Amin, Mobuto Sese-Seko, Robert Mugabe, Kwame Nkrumah, Sani Abacha, Jean-Bedel Bokassa, Francisco Nguema, Haile Selasse en nog vele meer.

Almal het geglo hulle en hulle alleen kan hul lande se probleme oplos en het gevolglik geen afvalligheid geduld nie. Trouens, dis moeilik om aan veel Afrika-leiers oor die laaste 60 jaar te dink wat hulself op goeie regering kan roem! Botswana en Suid-Afrika is in sekere tydperke dalk sulke uitsonderings.

Hierdie sterkmanne het deur die dekades aan mag vasgeklou, hul bevolkings deur hul doelbewuste optrede, maar ook hul onbevoegdheid, arm gehou en hulself ten koste van ʼn hele vasteland se mense verryk.

Die Nigeriese skrywer Chinua Achebe som dit perfek op as hy in 1983 hierdie verskynsel in sy eie land beskryf: “The trouble with Nigeria is simply and squarely a failure of leadership. There is nothing basically wrong with the Nigerian character. The Nigerian problem is the unwillingness or inability of its leaders to rise to the responsibility, to the challenge of personal example which are the hallmarks of true leadership.”

Martin Meredith, ʼn Britse skrywer van talle blitsverkopers oor Afrika, skryf desgelyks hieroor in The State of Africa: “At the core of the crisis is the failure of African leaders to provide effective government. Few countries have experienced wise or competent leadership . . . For the most part, Africa has suffered grievously at the hands of its Big Men and its ruling elites.

Na die Kongolese burgeroorlog in die vroeë 1960’s en die stigting van die Afrika-Unie (AU) se voorloper, die Organisasie vir Afrika-eenheid in 1963, het daar ʼn kontinentale mantra ontstaan dat daar “Afrika-oplossings vir Afrika-probleme” moet wees. Die Weste moes dus ophou inmeng in die vasteland wat hulle gekoloniseer het en onafhanklike Afrika los om sy eie probleme oplos. Die Weste het, weens sy skuldgevoelens, dit tewens ook gedoen.

Die probleem was dat Afrika se leiers steeds gretig was om massas hoeveelhede Westerse geldhulp te aanvaar en dit te verkwis, terwyl hulle self geen teenvoeters en oplossings van hul eie geskep het nie. Die sogenaamde Afrika-hof van Geregtigheid en Menseregte is ʼn opperste papiertier wat slegs nominaal bestaan en die AU is maar ʼn bra futiele organisasie.

Eerder as om self oplossings te begin bied, het Afrika-leiers boonop tot baie van die probleme bygedra deur hul mede-tiranne soos Al-Basjir te vertroetel en beskerm, eerder as om hulle te vang en uit te lewer soos Serwië met Mladić gedoen het. Die ironie is dat Al-Basjir waarskynlik al meer swart Afrikane laat doodmaak het as enige Europese koloniale leier.

Die beleërde leiers van die lande wat uit die IS wil onttrek, wil ʼn buitelandse demoon skep om die aandag van hul eie mislukkings en dwingelandy af te trek. Hulle het nou hul outokratiese binnelandse optrede ook in swak internasionale gedrag omgeskakel en hulself van alle aanspreeklikheid onthef. Wat is meer gerieflik en voordelig as om ʼn instelling in Europa te verlaat en terselfdertyd ʼn bietjie kunsmatige nasionalisme tuis op te wek?

Die tiranne lag lekker hieroor en die gewone Afrikane gaan gevolglik verder ly. Dit verklaar ook tot ʼn groot mate hoekom weinig van Afrika se skouspelagtige ekonomiese groei in die 2000’s tot op grondvlak deurgesypel het.

Maak maar gereed vir ander outokratiese Afrikastate soos die Demokratiese Republiek van die Kongo, Zimbabwe en Rwanda om ook weldra hul bedoelinge aan te kondig om die IS te verlaat.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

DewaldS ·

Die internasionale strafhof kan hulle geloofwaardigheid herstel deur oorlogsmisdadigers sois Tony Blair en George Bush te verhoor en diep weg te sluit. Tot dan is hulle maar net ‘n proxy vir Westerse belange.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.