Strewe na selfbeskikking nie verkeerd, maar…

Twee referendums waarin volke op hul selfbeskikkingsreg aanspraak maak, is die laaste tyd gehou.

Verlede Sondag het die inwoners van die Spaanse provinsie Katalonië, ondanks die hardhandige pogings van die sentrale regering om dit te keer, oorweldigend ten gunste van afskeiding gestem. Mede deur Madrid se intimidasie was die stempersentasie weliswaar laag, slegs 42%.

En verlede week het die Koerde van Koerdistan in die noorde van Irak ook met ʼn groot meerderheid gewys dat hulle van laasgenoemde wil afskei.

Dergelike afskeidingsbeweging broei in mindere of meerdere mate ook elders in die wêreld. ’n Mens dink aan Skotland in die Verenigde Koninkryk, Vlaandere en Wallonië in België, Suid-Tirool in Italië, selfs Friesland in Nederland en Beiere in Duitsland. Ook in Kalifornië is daar ’n beweging om dié deelstaat van die VSA te laat afskei.

In Europa en Afrika het dergelike afskeidingspogings al verskeie kere sukses gehad. Dink maar aan die uiteenval van die Sowjetunie (1991), Joegoslawië (1991-’95) en Tsjeggo-Slowakye (1993). In Afrika was daar Eritrea wat ook in 1993 van Ethiopië afgeskei het, en die Suid-Soedan wat in 2011 dieselfde van die Soedan gedoen het.

(Ofskoon, die woord sukses moet in die meeste gevalle eintlik maar in aanhalingstekens geplaas word. Die uiteenval van die Sowjetunie en Joegoslawië het met groot chaos en soms geweld gepaard gegaan. Eritrea word vandag deur een van die wêreld se wreedste diktature geregeer, en die Suid-Soedan het self binne enkele maande uiteengeval in ’n bloedige burgeroorlog wat steeds voortduur. Eintlik is net Tsjeggo-Slowakye ordelik en vreedsaam ontbind.)

Dergelike afskeidingsbewegings vind natuurlik veral by sommige Afrikaners aanklank. Immers, die Afrikaners het in die 19de eeu hul eie state – Transvaal en die Vrystaat – gehad, en met die verlies van die politieke heerskappy in 1994 is daar Afrikaners wat weer droom van ’n eie volkstaat, los van Suid-Afrika.

In beginsel is daar met ’n dergelike strewe na selfbeskikking niks verkeerd nie, mits aan sekere vereistes voldoen word.

In die soeke na ’n antwoord sal baie mense hulle deur hul emosie – vrees, haat, moontlik rassisme, ensovoorts – laat lei. Dit is begryplik, maar futiel. ’n Saak soos dié kan slegs klinies benader word.

  • Die heel eerste vraag is natuurlik: Waar presies moet dié volkstaat kom? Dis ’n vraag wat al sedert die vroeë jare negentig gevra word, toe sulke geluide uit die AWB en KP opgeklink het, maar wat geen konsensus opgelewer het nie. Dié groep meen die staat moet híer wees; die ander meen dáár.
  • Dit moet vreedsaam gebeur. As dit slegs deur oorlog kan geskied, of as die “skeiding” met grootskaalse bloedvergieting gepaard gaan (Indië en Pakistan in 1947), is die kool die sous nie werd nie.
  • As die proses geweldloos moet bly, is dit noodsaaklik dat dit deur onderhandeling en wedersydse instemming van alle partye moet gebeur.
  • Die “skeiding” moet nie meer probleme veroorsaak as wat dit oplos nie. Die Soedan se skeiding het byvoorbeeld grootskaalse onstabiliteit veroorsaak in ’n omgewing wat tog al onder ernstige armoede gebuk gaan. Dié tussen Indië en Pakistan het op ’n permanente vyandskap (en drie oorloë) uitgeloop, wat des te erger is noudat albei kernwapens het.
  • Die afgeskeide volkstaat moet lewensvatbaar wees. Met ander woorde, hy moet groot genoeg wees; sy ekonomiese potensiaal moet hom aan die gang kan hou, en genoeg Afrikaners moet ’n begeerte hê om hulle daar te vestig.
  • Sowel teen die agtergrond van basiese Christelike moraliteit as van die internasionale politiek sal dié staat geen “apartheid” – diskriminasie op die grondslag van velkleur of afkoms – kan toepas nie. Indien wel, sal geen ander land ter wêreld jou erken nie, en daarmee is jou idee tot mislukking gedoem.

In Suid-Afrika se geval sou die legitieme verteenwoordigers van die verskillende etniese groepe wat hulself as sodanig beskou, dus as gelykes om ’n ronde tafel byeen moet kom en saam besluit dat die “huwelik” nie werk nie en dat ’n skeiding in vriendskap die beste gaan werk.

Die vraag is: Is só iets moontlik? In teorie, miskien. In die praktyk, waarskynlik nie. Die belangrikste rede is dat dit ondenkbaar is dat die ANC, of enigeen van die gevestigde hoofstroompartye (dalk met die uitsondering van die VF Plus) daartoe sal instem. Wat al klaar beteken dat die kans dat dit met vreedsame onderhandeling bereik kan word, byna weglaatbaar klein is.

Dan: Kom ons veronderstel argumentsonthalwe dat só ’n staat tot stand kom. Ons weet mos vooraf dit sal ’n ekonomiese sukses wees. Gesien die swak sosiaal-ekonomiese vooruitsigte vir die res van Suid-Afrika, gaan die volkstaat ’n suigkrag op die arm, uitsiglose, werklose swart massa elders uitoefen, wat na die nuwe staat sal stroom. Jy kan maar droom van instromingsbeheer, my vriend, jy kan Trump se muur met soekligte en masjiengewere daar neersit – kom sal hulle kom.

Kort voor lank sit jy weer met ’n gebied waar die swart mense die oorweldigende meerderheid vorm. En dan begin die probleem van die ou Suid-Afrika weer van voor af. Ek is bevrees ons moet afsien van die idee van ’n afgeskeide volkstaat. Nie omdat dit in beginsel verkeerd is nie, maar omdat dit nie praktiese politiek is nie.

Wat dan? Die alternatief is, soos Winston Churchill ná sy bewindsoorname in Mei 1940 aan die Britte beloof het, “bloed, sweet en trane”. Met ander woorde, harde werk, geduld en eindelose volharding.

Na my beskeie mening het Solidariteit en AfriForum die regte antwoord met hul Plan B. Dit is om by wyse van spreke ’n alternatiewe virtuele staat naas die amptelike, mislukkende staat op te rig en die krag en innoverende vermoë van die burgerlike samelewing in te span.

Kortliks gesproke: Pak misdaad self aan (sulke inisiatiewe word juis tans aan die gang gesit). Vul die gate in die strate en paaie self. Sorg self dat die riolering en watertoevoer aan die gang bly. Moenie wag vir die staat nie; jy sal wag tot die hane eiers lê.

Dit is die “vrydorpe” waarvan Solidariteit se baas, Flip Buys, vandeesweek in ’n artikel in Beeld praat.

Moenie illusies hieroor hê nie. Dit gaan nie maklik wees nie. Inteendeel, dit gaan uiters moeilik wees.

Maar die Afrikaners het al voor groter uitdagings in hul geskiedenis gestaan. Buys meen die Afrikaners het voldoende kulturele kapitaal om dit te doen.

Om te dink die keuse van die Katalane en Koerde is ’n moontlikheid vir ons, is – en ek sê dit met die grootste liefde – intellektuele luiheid. Daar’s werk!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

52 Kommentare

Hendrik ·

Sal ek die eerste tree waag? Dit neem minstens 20 jaar om so gebied te vestig met jou eie geld. Dink net strate, dreineringspype, water, elektrisiteit , riool, rioolplaas (NB), omheining, veiligheid, dorpstigting, nodige winkels, klein nywerhede, eie arbeid (probleem), huisvesting vir eie arbeid (probleem), dorpsraad en administrasie, demokratiese verkiesing, volhoubare groei, skool/e en miskien teerstrate. Alles beteken harde werk waar ‘n mans sy DSTV op Saterdag moet opoffer om self in te spring en te werk indien arbeid nie beskikbaar is nie. Nie vir die lui ou nie…….

Verwonderd ·

Stem saam. Om jou self te verskans waar jy nou bly, staan ‘n mens ook die gevaar om in gesluk te word deur ‘n moreel korrupte samelewing. Maw hoe meer geld jy spandeer om na jouself in jou wêreldjie om te sien in ‘n ekonomie en samelewing sonder waardes, hoe weerloser word ‘n mens teen die tendense van jou omgewing. Soos ‘n krimpende eilandjie. Soos Leopold noem: kom sal hulle kom. Dit geld ook vir die ekonomiese eilandjies wat deur goed opgeleide individu tot stand gebring is en nou bedreig word met uitwissing deur die huidige ekonomiese transformasie. Ek hoop Plan B is volhoubaar.

Trevin ·

Jy kan nie vir ewig belasting twee keer betaal nie…Plan B kan net ‘n tydelike oplossing wees. Vry stede is nie “vry” as jy nog steeds belasting aan ‘n korrupte onbeholpe staat betaal nie.

Volgens Frans Cronje se “A Time Traveller’s Guide to SA in 2030” blyk dit dat die mees waarskynlike toekoms van SA ‘n verbrokkeling is. Daarin le moontlike geleenthede om vreedsaam af te skei.

SA gaan nie lyk soos dit nou lyk oor 13 jaar nie, dis modder en yster wat op die oomblik kleef aan mekaar, ‘n heel onnatuurlike dispensasie.

Boerseun ·

Jy is korrek. Ons moet slegs aan onsself belasting betaal – net dan sal ons ekonomies vry wees. En dis juis ons verpligte belastinggeld aan die regime en ondrdrukker wat ons in kettings hou. Dit MOET stop!

Chris Ws ·

Leopold Scholtz ek stem saam met u siening – 100% ook!’n Volksstaat kan nie werk nie.Sou daar so ‘n staat gestig word wat verhinder die anc om alle toegangs paaie te versper en die mense in die Volkstaat dood te wurg?Dis selfmoord.

Gerhard ·

‘n Volkstaat kan verseker werk, wat nie kan werk nie is om te om op een of ander manier binne die nuwe Suid-Afrika te kan oorleef. Die Volk is stadig besig om te sterf maar die manne hou hulle self blind met drogredenasies.

Eish ·

Kan net saamstem met die rubriekskrywer. Ek trek nêrens heen nie. My ou besigheidjie se kliëntebasis ontbreek in totaliteit in Orania. Plan B sal maar die ding moet doen. Dubbel belasting of te not.

Gerhard ·

Orania het ander geleenthede en jy gaan heelmoontlik jou huidige besigheid iewers in die toekoms aan BEE of AA afstaan, maak jou oe oop.

Chris Ws ·

Ek wil Orania en sy mense nie afskiet nie.Ons was daar vir 3 dae om dinge deur te kyk.Mooi dorpie met vriendelike mense en heelwat om te sien.Beslis ‘n besoek werd.Maar nee wat baie ver van dokters,tandartse fisioterapeute , hospitale en winkelsentrums af.Brandstof is ook peperduur daar en omdat mense daar so vrek ver van groot sentrums af is kos dit ekstra aan brandstof.Huise daar is net myle te duur.Die lug is baie skoon maar die temperatuur uiterstes is onaangenaam.Omdat ons pensioenarisse is ,is ek jammer maar Orania is nie die uitweg vir ek en my ongeluk-gestremde vrou nie.Daar is ook nie nywerhede wat genoeg werk kan skep vir groot getalle werkende jongmense nie.Daar was in die verlede ‘n groot melkery maar hy’s blykbaar al geruime tyd tot niet.Wonder hoekom?

Kosie Kramer ·

Die dinge wat Hendrik noem gebeur in Orania, maar hulle is slim genoeg om die gebied nie as dorp of staat te proklameer nie. Sou Orania ontwikkel en ekonomies uitbars, sal hulle waarskynlik die probleme hê wat Leopold noem.

Die Koerde se saak is anders, en moet anders benader word. Sirië, soos ons dit vandag ken, is byvoorbeeld in die laat 1940’s deur Britse burokrate geskep, omdat die “oorwinnaars” van die Tweede Wêreldoorlog besluit het wie hoort waar. Dit is waarom die baie dapper Koerde verdeel is tussen Turkye, Irak en Iran. Turkye se diktator haat die Koerde, en daar is bewyse van Turkye wat wapens aan IS verskaf, en olie by IS koop. (`n VSA State Dept dokument op die net verduidelik hulle probleem met Iran, Irak en Sirië: slegs Israel mag oor kernwapens beskik. Geen ander Midde-Oosterse land durf dit hê nie, or there will be trouble.)

Indien ons `n moderne Jalta/Potsdam kon hou, om die gemors wat Churchill, Roosevelt en Stalin geskep het reg te maak, kan ons, as ons fantaseer, `n beter wêreld skep. In hierdie fantasie van my moet die hele wêreld, maar veral die Midde-Ooste, herskep, die grense herafgebaken, word. Maak Jerusalem `n vrystad, en hoofkwartier van die VN, as eie “land”. Israel as staat met 1948-grense. En toe’s my koffie koud…

Hendrik ·

Kosie hierdie dinge gebeur net buite Pretoria met ‘n dor, Kleinfontein, wat groter is as Orania en met meer mense en huise. Orania is ‘n dorp.

Gerhardus Petrus Padda ·

Meeste van wat jy sê is waar, dit gaan moeilik wees. Dit is egter moeilik om n Christen te wees in hierdie tirannie van korrupsie wat SA nou is. Die gemeentes wat ons van lees in die Nuwe Testament was enklawes in n korrupte Romeinse wereld, en Paulus het hulle beveel om volgens Christus se wette te leef en nie volgens die Romeine se wette nie. Hoe is dit nou anders as “selfbeskikking”?

Lizl ·

Dis `n tamelaetjie, en ons kan nie so aangaan nie. Volkstaat is nodig, maar uitvoerbaar ?? Iets moet gebeur ! Ek en my man het besluit ons gaan Orania toe. Ons sal wel die mas opkom. Dit is net veiliger vir ons, die misdaad in die res van die land is een te veel, en ek sien nie kans dat my pragtige dogter verkrag moet word of met kookwater gemartel word nie. Hopelik kom God tot ons redding vinnig!

Frikkie (Nie pienk) ·

Hoop jul kom tot besinning voor jullle spaargeld in Orania “belê” word. Gaan kyk eers na die armoede en voorwaardes en dink weer!!

Gerhard ·

Ek sal ook se gaan kyk eers na Orania, want jy sal waarskynlik dan besluit dat dit beter is as die res van Suid-Afrika en dan soontoe trek. Die armes op Orania het immers Orania gekies bo die res van Suid-Afrika.

Jaco Kleynhans ·

Dr Leopold Scholtz se denke oor selfbeskikking spreek van ‘n totale onvermoë om ‘n reeks plaaslike en internasionale gebeure van die afgelope twintig jaar te verreken. Ek het onlangs sy nuwe boek Kruispad gelees en dié boek kon net soos hierdie artikel net so wel uit 1995 of 1996 dateer. Dr Scholtz aanbid steeds die kamma-liberale grondwet van Suid-Afrika en glo steeds dat Afrikaners wat na selfbeskikking streef regs of rassisties is.

Wat het oor die afgelope twee dekades gebeur? Afrikaners se posisie en rol in Suid-Afrika het wesenlik verander en terwyl planne beraam moet word om regoor Suid-Afrika waar Afrikaners woon uitdagings te bowe te kom en oplossings vir daaglikse probleme te vind, besef ‘n groterwordende deel van die Afrikanerbevolking, insluitende regses, linkses en dié in die middel, dat groeiende selfbeskikking nie meer soos wat Scholtz beweer as intellektuele luiheid afgemaak kan word nie.

Wat in Skotland, Katalonië en talle ander plekke gebeur is ‘n besef dat globalisme en die anargie van die meerderheidsgesentreerde territoriale staat minderheidsvolkere uiteindelik tot assimilasie en selfs vernietiging dwing.

Dr Scholtz moet dalk self nie te intellektueel lui wees nie en Prof Koos Malan se onlangse reeks artikels op Maroela Media gaan lees. Hier is ‘n skakel na een:

http://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/die-val-van-die-jong-siek-regstaat-en-die-groei-van-n-nuwe-bedeling-plan-a/

Dat ons denke oor selfbeskikking vandag anders moet lyk is ‘n feit. Ou planne vir groot volkstate is verby, maar groeiende selfbeskikking geniet baie aandag onder ‘n groterwordende deel van die Afrikanerbevolking.

Ockie Schoeman ·

Jaco ek stem 100% met jou saam, selfbeskikking is nie so vergesog as wat baie dink nie. Alhoewel dit traumaties en baie ontwrigtend sal wees vir die meerderheid van ons volkie is dit al hoe ons n toekoms kan verseker vir ons kinders en om uit die wrang idee van globalisme te bly want daarmee saam gaan baie verdriet kom.
Net as voorbeeld(met die klem op voorbeeld), neem die Wes Kaap, daar is op hierdie stadium baie Transvalers wat daarheen verhuis om verskeie redes en ons ken die meeste daarvan. Al die nodige infrastruktuur is reeds gevestig soos hawens, krag voorsiening, brandstof, landbou ens ens. Ons kan nie vasgekeer word iewers in die middel van SA nie, dis ongelukkig so. Huidiglik gaan n baie groot deel van die Wes Kaap se finansiële bydrae tot die land direk na die sentrale regering en baie minder vloei terug.
Die blote beskikbaarheid of moontlikheid van so n staat is reeds vir baie n droom. Dit is nie intellektueel lui om so n droom te hê nie, ons volkie sal net sy fisiese luiheid moet laat vaar en meer dinge self moet doen in plaas daarvan om alledaagse dinge altyd te wil LAAT doen.

Leopold Scholtz ·

Beste Jaco, jong, ek val byna op my rug van verbasing oor jou heftige aanval. Man, ek is nie jou vyand nie. Waar het ek Afrikaners wat na selfbeskikking streef “regs of rassisties” genoem? Ek het eksplisiet en uitdruklik geskryf daar is niks in beginsel met die idee verkeerd nie; dit gaan oor die uitvoerbaarheid daarvan. Nee, man, moenie my in ‘n hoek druk waar ek nie wil wees nie. En koel af voor jy weer so kwaad raak – in alle vriendelikheid.

JC ·

Uitstekend, dankie Jaco, maar Leopold het ‘n baie goeie punt beet oor die suigkrag- effek, wat basies onoorkombaar is, ook wat betref ons klein blanke getalle vis a vis swart getalle.
Nodeloos om te se, sal swart werknemers in die al hoe meederwordende gebiede wat na outonomiteit of semi-onafhanklikwording kyk, behoorlike beskerming moet geniet.
Dit is ‘n wonder dat die ANC en Kie boelies, nog nie probeer het om te karring aan artikel 235 nie, want DIE artikel gaan terug kom om hul te byt in die watsenaam. In elk geval is SELFBESKIKKING ‘n internasionaal erkende reg.
#235!

Jaco Kleynhans ·

Beste Leopold. Ek is nie kwaad nie, sien jou nie as ‘n vyand nie en het ook geen behoefte om jou aan te val nie. Die realiteit is egter dat jy vir baie jare reeds skryf oor selfbeskikking en keer op keer dieselfde ding bly sê. Die baie effense hoofstuk in jou boek wat hierdie tema bespreek, verskil weinig in inhoud van hierdie artikel, net soos talle vorige koerantartikels wat jy oor die jare geskryf het. Jy beskryf soos altyd baie deeglik die enorme uitdagings vir Afrikanerselfbeskikking. Dankie daarvoor. Daardeur skets jy natuurlik die prentjie dat hierdie opsie bykans onmoontlik is. Ek en baie ander Afrikaners is tereg opgewonde oor wat in Katalonië en Koerdistan gebeur. Wat in Katalonië en Koerdistan gebeur is in lyn met denke oor groeiende Afrikanerselfbeskikking. Ons weet dat nie die Koerde of Katalane noodwendig nou volle vryheid gaan kry nie, maar dat hulle wel heel waarskynlik met groter outonomiteit gaan wegstap. Ly ons wat daaroor opgewonde is nou aan intellektuele luiheid? Ag nee wat! Het jy toe ooit Verder As Vryheid deur Carel Boshoff gelees wat ek twee jaar gelede vir jou gegee het? Lees dit gerus. Verder verstaan jy dalk ook nie so mooi Solidariteit se Plan B nie, omdat Orania en die ontwikkeling van groter selfstandigheid in Orania deel van daardie goeie plan is. Volle vryheid in ‘n eie staat is steeds Orania se doelwit, maar ons weet die pad daarheen is lank en moeisaam. So ook die Katalane en Koerde.

Bloeisel ·

Selfbeskikking is gegewe…….! Dit gaan gebeur wanneer hierdie ou vrot boom, (regering), uitgekap is! Dis God wat besig is om skoon te maak, sodat nuwe groei kan plaasvind! Nuwe groei SAL plaasvind!!!

Instroombeheer in Ooste ·

Dink wyer. Instromingsbeheer word inderdaad baie suksesvol toegepas in verskeie oosterse lande.

Fanie ·

Leopold val nie die beginsel van Selfbeskikking aan, maar wys op die praktiese struikelblokke. Orania se nuwe strategie van groeiende Selfstandigheid tot ‘n ‘Vry Stad’ (ipv Volkstaat) oorkom die meeste praktiese probleme. Dit bied natuurlik groot en moeilik oorkombare uitdagings, maar SA bied groter en onoorkombare uitdagings. Orania is egter nie ‘die oplossing’ nie, maar deel van ‘n groter omvattende plan.

Jaco Kleynhans ·

Beste “Fanie”. Jy is verkeerd in jou denke dat Leopold nie die beginsel van selfbeskikking aanval nie. Hoewel hy sê dat die strewe na selfbeskikking nie verkeerd is nie lys hy dan wel ‘n aantal uitdagings vir selfbeskikking op so ‘n wyse dat die idee van volwaardige vryheid vir volkere soos die Katalane, Koerde en natuurlik die Afrikaner byna belaglik gemaak word. Selfs net in sy eerste punt is sy verwysing na die AWB en KP duidelik daarop uit om bydraes van die 1990’s te diskrediteer. Die uitstekende werk wat deur die Afrikanervryheidstigting en ander individue en organisasies gemaak is, word verswyg.
Tweedens sien jy Orania se strategie verkeerd. Die idee van ‘n Vry Stad staan nie in die plek van ‘n Volkstaat nie, maar is eerder ‘n stap in die rigting van ‘n Volkstaat. Orania en sy instellings het definitief nie ‘n besluit geneem om die een strategie met die ander te verruil nie, maar eerder om heeltemal korrek die proses van selfbeskikking meer realisties as ‘n projek in verskillende fases aan te pak. Gaan lees gerus die grondwet van die Orania Beweging.

Johanna Botha ·

Sal goed wees om weer veilig te voel en sal dan moontlik skoon water he om te drink en selfs n pension …wat in SA gaan dit maar net slegter soos alles breek en geplunder raak en geen wette o derhou word nie en mense wegkom met moord.

Nouja ·

Leopold, wat jy intellektuele luiheid noem, noem ek naiwe politieke onvolwassenheid.

Gemsbok ·

Europa (en ook die VSA) is onwillig om instromingsbeheer toe te pas, nie omdat dit onprakties is nie, maar omdat die hul Elite besluit het dat bevolkingsgroei deur immigrasie ‘n wenslike oplossing is vir die probleme wat veroorsaak word deur die gebrekkige aanwas van die plaaslike bevolking. Duitsland, Nederland, Frankryk ens. staar almal ouderwordende bevolkings in die gesig met minder kinders wat beide ekonomiese groei en belasting-inkomste beperk terwyl uitgawes styg. Hierdeur herhaal hulle eenvoudig die fout wat Afrikaners in die twintigste eeu gemaak het. Afrikaners hoef nie die foute van die verlede te herhaal nie.

Soos ander opmerk is daar heelwat lande wat baie effektief instromingsbeheer toepas. Dit sluit lande in die Midde-Ooste en die Verre-Ooste vanaf Sauidië-Arabie tot Japan in. Vir hulle is instromingsbeheer wel praktiese politiek.

Die stelling dat ‘n Afrikanerstaat ‘n trekpleister vir arm ongeskoolde arbeid gaan wees is ook aanvegbaar: die wêreld beweeg met rasseskrede weg van die gebruik van ongeskoolde arbeid. Meganisasie, robotika, outomatisering en kunsmatige intelligensie vervang ongeskoolde werksgeleenthede met rasseskrede. Mense kan nie trek na plekke waar hulle nie ‘n brood kan verdien nie.

JC ·

Baie dankie Gemsbok, ook ‘n oorwoe en geldige punt wat jy maak in jou laaste paragraaf.

John ·

Daar is natuurlik die ander groter gevaar dat die ANC hierdie idee van ‘n federasie kan aangryp. Dr Z se ideologie vir SA sluit in die skoonmaak van alles wat wit is ~ met swart smeer ~ kan moontlik die injaag in een kraal van uitgeworpenes impliseer om hulle so onder beheer te hou. As ons so inskiklik word en dit onder ‘n waan toelaat, sit ons op ‘n stukkie aarde 10×10 mm in tente van die VO en dit sluit die skeppers van die ora in en almal wat glo die Kaapse wynplase is regmatig hulle s’n. Ons bly glo dat daar iets goeds in die regering steek en dat hulle nou sal onderhandel vir beter dae vir ons. Hoe optimisties kan mens tog bly in ‘n wereld wat holderste-bolder wil New Age, post-post-moderniseer, na Mars toe marsjeer, kunsmatige intelligensie uitrol en/of waterstofbomme en alle gelowe uitfaseer om een groot slang-drogbeeld te aanbid… te midde van cannabis ea duiwelse heerlikhede. Waarheen sal ons kan vlug, want dit is eintlik die probleem waarteen ons baklei: Die totale agteruitgang en verval van die mensdom?

Pietsepan ·

Leopold, jou artikel praat die waarheid. Die plan B van Afriforum is ‘n goeie beginsel maar na my mening moet ons ‘n Libertynse staat nastreef. Dan ontwikkel mens groepe van uitnemendheid wat vry is van ‘n korrupte sentrale regering. Gaan kyk na die Nederlandse webtuiste meervrijheid vir voorbeelde. Demokrasie soos wat dit vandag in SA toegepas word is uitgedien.

Gerhard ·

Fantasties, laat weet JZ ons begin sommer more ;-) Oo wag ek glo nie hy sal daarvan hou nie.

rassie ·

Leopold,

Die ” intellektuele luiheid” waarna jy verwys geld vir enige ander plan B – Z indien dit nie presies uitgespel word wat die inhoud, haalbaarheid en toekomsverwagtinge daarvan is nie. ‘n Plan wat vaagweg goed klink kan stuit teen die realiteite van die detail. Net soos wat die volkstaatplan teen die detail gestuit het. Dit moet soos ‘n gedetaileerde besigheidsplan opgestel word, kompleet met ‘n SSGB ontleding, anders gaan die intellektuele luiheid dit ook inhaal en dieselfde lot wat die volkstaatgedagte getref het dit ook tref.

Pierre ·

Dis vir my jammer dat baie Afrikaners so maklik aanvaar dat dit nie kan realiseer nie. Is ons volk so maklik om te oorwin?
Laat my dink aan ‘n Mahammad Ali gedagte oor onmoontlikheid:

“Impossible is just a big word thrown around by small men who find it easier to live in the world they’ve been given than to explore the power they have to change it. Impossible is not a fact. It’s an opinion. Impossible is not a declaration. It’s a dare. Impossible is potential. Impossible is temporary. Impossible is nothing.”

Sebastiaan ·

Ek kan net saamstem met Gemsbok. Grense kan verdedig word en instroming wel beheer word. Dit is dikwels die wil wat ontbreek, want dit beteken om onaangename dinge te doen soos om die polisie of weermag opdrag te gee om geweld te gebruik. Duitsland in 2015 wou nie vlugtelinge keer nie, Hongarye wel. Verder trek mense nie so seer agter ekonomiese geleenthede aan nie, maar agter welsyn en agter persepsie. Ek sien ook nie dat Suid-Afrika heeltemal in duie stort nie. Ook ‘n mislukte staat soos Nigerië huisves miljoene mense wat daar aanbly want hulle oorleef op ‘n manier en weet nie van beter nie.

Loeis ·

Minuspaliteite bestaan uit wyke, en Afrikaners is op die oomblik die meerderheid in baie wyke, of spesifieke dele van wyke.

Ongelukkig stem die meeste Afrikaners vir die DA, vir wie ons selfbeskikking nie ‘n oorweging is nie, maar eerder ten gunste van die huidige stelsel van swart meerderheidsregering is.

Indien kandidate en partye wie vir selfbeskikking staan egter ‘n beduidende hoeveelheid steun in hulle wyke kry, het hierdie mense ‘n mandaat van die kiessers, en kan mens, in terme van die grondwet, begin om territoriale selfbeskikking op te eis. ‘n Volkstaat binne die grootter Suid-Afrika kan dus op baie plekke in die land gelyk wees, en kan wees waar jy op die oomblik bly – baie van ons hoef nerens heen te trek nie. Hierdie is ‘n grondwetlike reg, en geweld hoef nie deel van die gesprek te wees nie.

Natuurlik is daar baie uitdagings, byvoorbeeld minuspale wyke wat so afgebaken is dat dit ons benadeel, en moet ons verwag dat die selfbeskikkingsdrang met openlike vyandigheid begroet sal word. Dan is dit maar so, hulle hoef nie daarvan te hou dat ons ons regte uitoefen nie – hierdie is dalk een van die eerste goed waaraan ons gewoond moet raak.

Tiaan Theron ·

En weereens moet ons hoor hoe mense wat na hulself as Afrikaners verwys, die ideaal van Vryheid as onhaalbaar en belaglik afmaak. Ek was die afgelope 6jaar by die BAV betrokke en nie in een van ons gesprekke met Kleurlingleiers, Swartleiers, Indiërleiers of selfs die ANC regering het ons gehoor dat daar by enige van hulle n idee bestaan dat ons met onhaalbare ideale besig is nie, maar by Leopoldt Scholtz daar doer uit die vreemde moet die Volk hoor dat die wat hul vir Vryheid beywer intelletueel lui en polities naief is. Wat n skreiende skande. Ek het gehoop namate die argitekte van die reenboog etopia se eksperiment voor hul oë misluk ons tenminste hierdie ooglopende aanvalle op Vryheidsliewende volksgenote sal sien kwyn. Toe nou nie.
Die feit dat Scholtz so ruim omgaan met die gebruik van Flip Buys se naam neem ek aan is n poging om die indruk te skep dat Flip tesame met sy beweging ook meen dat Volkstaters intellektueel lui is. Wel ek het vir jou n verrassing Scholtz. Miskien moet jy n slag n naweek op Orania tydens die Burgervergadering kom kyk wie is die mense wat kliphard werk om ons ideaal n werklikheid te maak. Ek is bevrees jy gaan ontnugter wees! Van die sogenaamde denkers wat op hierdie platvorm skryf is jy beslis een van die laastes wat nog nie die ideaal van territoriale selfbeskikking vir ons volk om arm het nie nou is dalk n goeie tyd!

Loeis ·

Ek stem.

Mense het vir ‘n feit geweet dat die ou Romeinse ryk nie kon ondergaan nie. Die geskiedenis het hulle verkeerd bewys.

Na president Burgers Transvaal (ons praat nou hier van ons onafhanklikheid) aan die Britse ryk afgeteken het, hy verklaar dat dit nie terug gewen kon word nie, en die Britse regering se amptelike antwoord aan Paul Kruger en genote was dat die anneksasie nie omgekeer KAN word nie. Die Britte het ‘n ander deuntjie na die Slag van Majuba gesing.

Dit IS moontlik. Dit gaan oor wat mense WIL vermag. En ja, daar is verseker uitdagings, maar die antwoord bly dieselfde.

Leopold Scholtz ·

Jaco, nou waarom raak jy dan so heftig? Ek het mos nie na Orania verwys nie? In elk geval, ek dink ons verskil oor die saak, maar laat ons dit met wedersydse respek doen.

Nouja ·

Dit klink my soos nou die dag se bekgeveg tussen ou “Boelie” en nog ‘n knaap wat ons so op Monitor vermaak het.
Hmmm, wonder wie is die boelie hier vandag en wie tree op soos ‘n volwassene.

Arend ·

Dr Scholtz se beredenering en veral sy gevolgtrekkings is tipiese liberale drogredenasies. Hy het ‘n ruk gelede geskryf hy is nie links of regs nie, maar dwars. Nee, Dr Scholtz, jy bluf nie almal nie. Jou redenasies kan pylreguit herlei word na die NWO en die liberaliste se gepaardgaande doelstellings. Hulle, jy inkluis, doen alles moontlik om vryheidsdenke en nasionalisme verdag te maak. Dan sit jy boonop in Nederland? Waarom nie hier in Suid-Afrika nie? Is dit dalk omdat jy self intellektuelle lui is en nie kans sien om deel te neem aan ons stryd om oorlewing as volk nie? Waarom word Orania nie oorstroom met volksvreemdes nie? Waarom sou ‘n volkstaat, of ‘n toekomstige vergrote Orania, kwansuis oorstroom word? Gaan bestudeer weereens Art 235 met bietjie meer aandag; dalk word dit dan duidelik dat selfbeskikking kan werk, ongeag van die standpunte van die ANC. Die blote feit dat Orania en Kleinfontein steeds voortbestaan en tewens groei, illustreer die onmag van die ANC (en die DA) om hulle tot niet te maak.

Pierre ·

Ek is bly jy noem die NWO want dis waar al ons probleme vandaan kom, van die Boere oorlog tot Verwoerd se sluipmoord tot magsoorgawe in 1994. SA is maar net deel van die NWO se Globalistiese planne. Maar ons gaan nie dat dit ons keer om ons strewe om weer vry te wees te bewaarheid nie. Dit gaan net moeilik wees om stroomop te swem, want in die proses beduiwel ons die NWO se planne. Maar daar is voorsiening in die konstitusie daarvoor.
Dit lyk my die Globaliste hou daarvan om mense te breinspoel teen nasionalisme, patriotisme, liefde vir jou eie mense en so aan. En mens moet ook maar kyk wat internasionaal aan die gang is, met ‘n totale aanslag teen die wit ras.

Leopold Scholtz ·

Beste Arend, ek woon terwille van my Nederlandse vrou in Nederland (is al 44 jaar met haar getroud). Sy het meer as 30 jaar vir my in SA gewoon, en noudat ek afgetree is, is dit “payback time”. Jislaaik, ek is bly jy lig my in dat ek ‘n ondersteuner van die liberale NWO is. Ek het dit self nie geweet nie. En terwyl ons gesels, hoekom so dapper wegkruip agter ‘n skuilnaam? Wys bietjie jou gesig, toe?

coollbeann ·

Ek sien n beeld in my gedagtes, n volk wat na 26 jaar weer kan lewe vir sy God, ons kinders, hul skoole, ons Lewens …
Hierdie onderdrukking deur vreemdes keer ons 1 doel in die lewe, God

Hanned ·

Julle mis een belangrikke stukkie data – kyk na die populasie groei wat verwag word in Afrika oor die volgende 30jaar. Weeg dit op met die moontlikeid van self beskikking. Daar gaan ongelooflik baie mense in Afrika wees oor die volgende 10-20 jaar. En baie min Afrikaners. Kies wys

Tiaan Theron ·

Dit is juis een van die belangerike redes waarom ons nie anders kan as om te werk ter bereiking van ons selfbeskikkings doelwit. Sodat die huidige sowel as toekomstige vreemde massas nie oor ons lot hoef te beskik nie. Sonder staatkundige vryheid sal ons toeskouers van ons eie ondergang bly. Die wat tevrede is met inlywing by ander volke of groepe of watter ander slim keuse ookal wil uitoefen, is welkom.
Vir die kernkragtige draers van die volksiel wil ek sê, laat waar nie die strewe om vryheid!

JC ·

Indien nie vir enige ander rede nie, dan vir ons taal en kultuur. Want mogoeng is slim, en speel op Afrikaner se apatie. Die gepoogde algehele verengelsing van die regpleging wat hy wil bewerkstellig is die begin van die veldtog om ons, en ons kultuur en taal uit te wis. Die meeste persone begeef hulle in ‘n materialistiese oorlewingsstryd, en het nie tyd om te besin oor sulke aangeleenthede nie.
Dus moet ons mogoeng se planne beveg met alles wat ons het, deur ondere andere aan te sluit by die Vereniging van Regslui vir Afrikaans en Akademia te ondersteun wat ‘n LLB graad wil aanbied (in Afrikaans natuurlik) Ek stem saam met Tiaan, want in Afrika beteken onderhandelinge en toegewings nie vrede en ordelike naasbestaan nie, dit beteken onderdukking en oorheersin, met hope onverdraagsaamheid as bykos, soos ons Afrikaners nou op die harde manier leer (wanneer sal die mens ooit leer?) Mogoeng het skynbaar die kleed aangetrek van die moderne Afrikaner onderdrukker. Hy sal graag vir Milner in die opsig wil oortref.
Selfbeskikking gaan kom Leopold, dit staan soos ‘n paal bo water, en is onvermydelik, dit is slegs net ‘n kwessie of onduidelik in watter vorm presies.

JC ·

Die padda word stadig gekook in die pot, maar dit help nie, hy is NOU bewus daarvan.

Selfbeskikking is harde werk ouens, vra maar vir Oraniers en Kleinfonteiners, maar ons moet onsself afvra of ons bereid is om die opofferings te maak. Indien ek namens die jonger geslag mag praat, ‘n besliste en ondubbelsinnige ja!!!! Geskiedenis gebeur met ons, soos Herman Giliomee dit stel, en dit is waarnatoe Afrikaners onvermydelik beweeg in osn volgende fase van bestaan en uitlewing van ons identiteit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.