Strukturele hervorming begin by die toplaag

geld ekonomie suid-afrika

Argieffoto.

Deur Jeannette Gnade

Die organisasie vir ekonomiese samewerking en ontwikkeling (OECD) het aanbeveel dat Suid-Afrika dringend strukturele hervormings moet aanbring om die ekonomie te stimuleer. Volgens dié organisasie is daar min ruimte vir monetêre en fiskale stimulasie aangesien die land tegnies in ʼn resessie inbeweeg het en deur twee van die wêreld se drie bekendste graderingsagentskappe afwaarts gegradeer is. Die OECD betreur ook die land se hoë werkloosheidskoers, die gebrek aan verbruikersvertroue en die invloed wat politieke wendings op die land se ekonomie het.

Die organisasie, met sy hoofkantoor in Parys, Frankryk, sê regtig niks nuuts oor die stand van Suid-Afrika nie. Die sogenaamde uitdagende strukturele hervormings wat voorgestel word kan dalk help as die land oor genoeg politieke waagmoed beskik en die private sektor se steun kan werf.

Die OECD sê sleutelsektore soos energie, telekommunikasie en vervoer moet aan groter wedywering onderhewig wees. Dit is onmoontlik om mededinging te bewerkstellig as die regering nuwe marktoetreders by voorbaat aan bande lê soos wat met Neotel gebeur het. Telkom het jarelank die telekommunikasie-sektor oorheers en die regering besit ʼn leeue-aandeel in dié maatskappy. Die regering sal nooit soveel wedywering toelaat dat dit sy inkomste in gedrang bring nie.

Tans word daar weer oorweging geskenk aan die verkoop van staatsbates om sukkelende semi-staatsinstellings soos Eskom en die SAL te help. Sou dit nie beter gewees het om dié maatskappye lankal te privatiseer nie? Die regering kon op ʼn aandeleverdeling aangedring het of die geld uit die eenmalige verkoop belê het. In dié stadium het die verrotting van staatskaping al so diep in al die staatsentiteite gevorder dat hulle nie meer as lonende bates beskou word nie.

Watter regdenkende belegger stel belang in maatskappye wat selfs oorsee ʼn slegte naam gekry het? En al die sprake van radikale ekonomiese transformasie wat hoofsaaklik gerig is op swart opheffing maar ʼn skuiwergat bied vir swart bevoorregting, help ook nie. Die negatiewe reaksie op die nuwe mynbouhandves getuig daarvan.

Die OECD sê die Suid-Afrikaanse regering moet dringend optree om die geweldige inkomstegaping te verklein, maar sê nie presies hoe nie. Nie almal in die land – of in die wêreld – is ewe opleibaar nie en kan dus onmoontlik dieselfde inkomste verdien. Selfs al word meer werksgeleenthede geskep, gaan dit nie die inkomstegaping laat verdwyn nie.

Skep eerder werk sodat elkeen volgens sy eie vermoë tot die staat se belastinginkomste bydra. Die grootste uitdaging vorentoe is om eers die land se politieke kwellinge uit die weg te ruim. ʼn Verantwoordelike en eerbare regering wat ver vooruit kan kyk, is die antwoord.

Moontlik sal die keerpunt aan die einde van die jaar kom as die regerende party nuwe leiers kies. Dit is die grootste enkele strukturele hervorming wat die land nog van ondergang kan red.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.