Stryd om Afrikaans raak ‘bloedig’

bloedskenk

Foto: Argief.

Ons familie was nog altyd taalaktiviste. Ek het in die 1960’s en 1970’s grootgeword met my ouma Anna (1900-1981) se vertellings van hoe sy herhaaldelik in die hoekie van ’n klaskamer moes staan met die bordjie wat sê “I am a donkey” omdat sy Afrikaans by die skool gepraat het. So het ons maar altyd Afrikaans gekies, vir Afrikaans gestaan en waar nodig, vir Afrikaans “geveg”.

In 2005 het ek by AfriForum aangesluit en taalaktivisme het deel van my posbeskrywing geword. AfriForum het deur die jare al baie taalstryde gewen en sommige ook verloor (net voorlopig!), maar ook die positiewe beleef dat mense besef die voortbestaan van ons taal is nie vanselfsprekend nie en dat ons op ons taalregte moet aanspraak maak.

Verlede week, met die lees van die reaksie op die nuuskommentaar waar Herman Toerien oor die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) se “English only”-taalbeleid skryf, het ek gedink ons moet dalk weer besin oor boikotte vir taal – wanneer dit sinvol is en wanneer nie.

Taalgeskille is altyd emosioneel en geld, politiek en mag speel onvermydelik ’n rol daarin. Dit help nie om beroepe op mense te doen om hierdie elemente uit taalgevegte te haal nie. Ons taal (hetsy moedertaal of taal van eerste keuse) is onlosmaaklik verweef met ons identiteit. Mense wat ons taal minag, word deur ons ervaar as mense wat ons identiteit minag. Tereg kan taal ook gebruik word om te straf, te bevoordeel, uit of in te sluit.

alana-bailey-afriforum-featured

Alana Bailey, AfriForum se adjunk- uitvoerende hoof van internasionale skakeling. )Foto: Reint Dykema)

Internasionale Moedertaaldag se oorsprong lê in die herdenking van die dood van studente wat vir die reg om in eie taal te studeer, gesterf het. Ons kan dus nie sê dat taal “maar net ʼn kommunikasiemedium is” nie. Dit is deel van die diepste vlak van ons persoonlikheid en denke.

Wat koste betref, meertaligheid is duur, maar as dit toegepas word op so ’n manier dat meer mense toegang tot die ekonomie kry, of ʼn maatskaplike stryd daardeur ontlont word, dan is die wins wat daaruit voortspruit, baie meer as die koste.

Dat taal ook nismarkte skep, word bewys deur die sukses van ondernemings soos Virseker. Mense is bereid om vir hul taal te kies.

Om terug te kom na die SANBD – AfriForum en dié diens is al jare lank aan die stoei oor hul taalgebruik. As ek reg onthou, het hulle al meer as ’n dekade gelede ’n webblad wat slegs in Engels beskikbaar is, van stapel gestuur. Dikwels was/is skenkersvorms nie in Afrikaans of enige ander taal buiten Engels beskikbaar nie. Bemarkingsmateriaal is net in Engels ontwerp. Lede wat skenkers is, kla by die SANBD en by AfriForum. Die redes wat deur die SANBD aangevoer word, is (onder meer) dat eentaligheid “diskriminasie voorkom”.

Die geykte, ongeldige argument van mense wat nie dink dat dit juis diskrimineer teen die feitlik 90% Suid-Afrikaners wie se moedertaal nié Engels is nie. Om almal ewe veel te benadeel, is beslis nie ’n manier waarop inklusiwiteit bevorder kan word, soos die SANBD se hoofbemarkingsbeampte opnuut in April vanjaar aan ons verduidelik het nie!

Hoe hanteer ’n mens dan die situasie? Daar is verskillende opsies:

  • Boikot

Soms werk dit, maar elke boikot het ’n prys. Jy kan nie begin met die aksie as jy nie die prys bereken het nie. Kom ons veronderstel baie mense neem deel aan ’n boikot. Die instelling wat geboikot word, mag sluit. Mense gaan hul werk verloor. In die geval van die SANBD kan mense letterlik weens ’n gebrek aan bloed sterf. Ek sien mense stel voor jy hou van jou eie bloed op reserwe, of dat jou familielede vir jou skenk. Wat gebeur wanneer jy ver van jou gebergde voorraad of geliefdes skielik beseer of siek word? Is dit vir jou, wat besluit om te boikot, die moeite werd? Geen boikot waarborg ook sukses nie. Dit kan selfs negatief inwerk, want as té min mense die aksie ondersteun, kan dit die instelling wat geboikot word, juis oortuig dat hul keuse teen Afrikaans die moeite werd was, want nou het hulle tasbare bewyse van hoe min mense in opstand teen hul besluit kom. Hierdie is alles uitkomste waaroor besin moet word voor die aksie van stapel gestuur word.

  • Betoog

Die vorige bogenoemde argument oor boikot, geld ook vir betoog. Te min steun, en jy bewys dat jou standpunt eintlik ’n randargument is en maar geïgnoreer kan word. In ons land is mense ook al redelik moeg vir betogings, so gaan dit steun werf of afskrik? Tog kan ’n deeglik georganiseerde en goed ondersteunde betoging op sy tyd wel indruk maak en slaag – AfriForum het al verskeie aksies van dié aard met groot sukses deurgevoer, byvoorbeeld ter behoud van die naam van Pretoria. Weer eens moet al die opsies egter deeglik oorweeg word voor daarmee begin word.

  • Lagtivisme

Lagtivisme is ’n minder bekende konsep in Suid-Afrika, maar as dit reg uitgevoer word, kan dit uiters suksesvol wees. Dit behels, naamlik, die strategiese gebruik van spot en humor deur niegewelddadige aktiviste wat ingespan word om die gesag van opponente te ondermyn deur hulle belaglik te maak, hul geloofwaardigheid af te takel, die vrees wat hulle inboesem, te ontlont, apatie in betrokkenheid te omskep en ’n wye gehoor se aandag te trek. Een van die vernaamste lagtiviste is Srđa Popović – daar is heelwat inligting oor hom en die konsep op sosiale media beskikbaar. Hier moet ek eerlik sê dat ek nie aan ’n lagtivistiese manier kan dink waarop die SANBD oortuig kan word om meertalig diens te lewer nie, maar Maroela Media se lesers is waarskynlik kreatief genoeg om met ’n idee of twee vorendag te kom?

  • Oorreding

Oorreding is gewoonlik die wen-wen-oplossing, want as die opponent oortuig kan word om van opinie te verander, is die uitkoms meestal meer permanent. Hiervoor is navorsing en deeglik beredeneerde feite gewoonlik nodig. AfriForum is besig met ’n gesprek met die SANBD en ander gesondheidsdienste in dié verband. Ons sal in die komende maande meer hieroor vertel. Oorreding verg tyd, maar brand geen brûe af nie en vind volhoubare oplossings.

  • Ondersteun

Ondersteuning is ook ’n meer “vriendelike” vorm van aktivisme. ’n Voorbeeld is dat jou plaaslike restaurant net Engelse spyskaarte aanbied. Jy bied aan om die spyskaart op jou koste in Afrikaans te laat vertaal en druk. Dit werk goed wanneer die diensverskaffer op klein skaal funksioneer, maar wanneer ons van ’n multinasionale restaurantgroep met ’n tak in elke dorp en voorstad praat, of van die SANBD wat ’n nasionale voetspoor het, is die oplossing nie noodwendig volhoubaar nie.

  • Skep ’n alternatief

Virseker, Sol-Tech en Akademia is puik voorbeelde van alternatiewe wat met groot sukses geskep is nadat terreine verengels het. Om ’n alternatiewe bloeddiens nasionaal uit te rol en veilige bloedprodukte aan gebruikers te voorsien, sal groot uitdagings aan beskikbare hulpbronne stel. Weer eens, niks is onmoontlik nie, maar maak ingeligte, weldeurdagte besluite.

  • Vra en neul

Vra en neul is lastig, beide vir die een wat vra/neul en die een by wie gevra/geneul word, maar dit is nogal verrassend effektief. In Jakobus 4 in die Bybel word gesê “julle kry nie, want julle vra nie” en dit is dikwels ook hier op aarde onderling die geval. As ek nooit die Afrikaanse spyskaart vra nie, gaan die restauranteienaar nooit weet dat dit belangrik vir my is nie. Doen ek dit een keer, gaan hy ook nie weet die behoefte is ernstig genoeg dat dit ’n invloed op sy besigheid se winsgewendheid sal hê nie. Hoe meer mense herhaaldelik vra, hoe groter is die kans dat iemand in ’n gesagsposisie gaan hoor. In plaas van pruimbekkie trek en onderneem om nie bloed te skenk nie, vra elke keer wat jy skenk vir Afrikaanse vorms. Ons hoor van lede dat daar plekke is waar die SANBD steeds Afrikaanse vorms aanbied, want hulle weet getroue skenkers vra daarvoor. Skryf aan die SANBD en vra dat daar in jou omgewing waar jy gewoonlik skenk, Afrikaanse vorms moet wees. Hou aan vra, hou aan skenk. As skenker het jy bedingingsmag en bewys jy die behoefte aan vorms in jou taal elke keer wat jy skenk.

Ek kyk hoe wild mense onderaan die nuuskommentaar stoom afblaas en ek dink die SANBD se besluitnemers is waarskynlik nie onder Maroela Media se tweemiljoen lesers nie (anders was die vorms al lankal weer in Afrikaans beskikbaar). Daardie kommentaar laat ’n mens ’n rukkie lank beter voel, maar dan is die gevoel weer verby en die vorms nog steeds Engels. Lewer kommentaar en kla by die mense wat moet hoor. En hou aan kla. Maar kla met die morele hoëgrond aan jou kant – sonder kru taal, beledigings, sarkasme of ander tegnieke wat kan veroorsaak dat die besluitnemer die diskriminasie teen jou kan probeer rasionaliseer en regverdig. Veg teen onreg sonder om self onreg te pleeg (as ek nou digterlike vryheid met Nietzsche se woorde mag toepas).

Ten slotte

Ja, ons moet kwaad word as ons taal geminag, of ons taalregte vertrap word – of dit nou aspris of onbewustelik gebeur. Wat egter die deurslag gaan gee, is hoe ons die saak verder voer om die situasie om te keer.

Ons kan bloed skenk en lewens en ons taal in die proses red!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Dan ·

Dankie Alana, vir mense soos jy, instansies soos Afriforum en mense wat ons saak namens en vir ons veg. Ons stem in die menigte, ons burgerregte waghond vir wanneer ons alleen te min en te dun is. Afrikaans sal voortleef, in ons, in ons kinders en VIR ons kinders.. Mag God ons versterk en moed en insig gee waar ons ookal onsself bevind..

John ·

Die glo geagte dr Philip en sy trawante waaronder sendelinge uit verskeie land, het gif gesaai oor Afrikaners. Hulle en hul swart meelopers (wat van wapens en perde voorsien is om Boere te verdryf), eintlik maar verhewe slawe, het hulle glo doodgelag oor die krom-en-skewe Engels van die trekkerboere. Duisende briewe is oorsee gepos wat nou in biblioteke lè waarin die leuens opgeteken staan , dit alles om die Kroon se gierige handjies in SA-grondjies te bevorder. Philip het die Boere gehaat en op sy sterfbed het hy glo visioene gesien oor die toekoms. Sy naastes het ‘n verbod geplaas op sy laaste geskrifte en woorde. Ons kan raai wat daar afgespeel het.

Jerry ·

Ons doen die regte dinge reg wanneer ons onreg beveg sonder om self onreg te pleeg. Ons kan nie in ons situasie bekostig dat wanneer ons die vinger na ons opponente wys, meer vingers terugwys na onregte deur onsself nie! Die verskillende metodes wat oorweeg kan word is goed uiteengesit, alhoewel slegs die metodes wat dit daartoe verleen dat die regte dinge reg gedoen word, behoort oorweeg te word, gegewe ons situasie! Daar is hoop terwyl ons ter goeder trou handel en onderhandel, veral omrede ons in meeste gevalle weet dat ons opponente nie ter goede trou sal handel nie en ons hulle dan met die waarheid en feite kan klop. Dit kan ons regkry wanneer geen vinger na ons toe wys nie! Vra en neul, asook oorreding is dus die metodes wat in die situasie ingespan moet word, terwyl Afrikaanssprekendes aangespoor word om vir n saak van lewe en dood, bloed te skenk dat die biesies bewe!

marco polo ·

In die afwesigheid van ‘n gebiedsgebonde volkstaat, moet ons dalk begin dink aan ‘n virtuele volkstaat. Skep alternatiewe vir alles wat nie werk nie en dood ge-BEE is. Daardeur kan ons nie net werk skep vir ons eie mense nie, maar ook behoorlike diens in ons eie taal kry. Ek hou van die Akademia idee, ons moet dit net verder vat.

ChrisE ·

Dit mag nou as kleingeestig beskou word. My bloed is nie Blou vir die Bulle nie. My bloed is ook nie Ingels vir die Bloedoortappingsdiens nie.

Nika ·

ek skenk nie bloed nie want ek is anemies maar is baie ongelukkig dat SABS so optree teen Afrikaans spreukendes, sal ander aanhits om ook nie te skenk nie agv dit.

Louisa ·

Nika, jou Anemie is presies die rede hoekom mense moet aan hou bloed skenk!!!! Maar doen wat Alana voorstel, elke keer wat skenkers gaan skenk, moet hulle vra vir die vorms in Afrikaans.

Mike ·

Stem saam daar moet dringend gekyk word na ‘n eie bloed diens.

Stem ·

Ek stem saam, eie bloedverskaffingsdiens. Dan sal ek ook begin bloed skenk.

Mike ·

Daar sal noodwendig en baie dringend gekyk moet’ word na ‘n eie bloed diens. Die blankes is na my mening nog die grootste skenkers en wanneer hulle gaan ophou bloed skenk aan die bloedsuiers gaan dit ‘n groot impak hê op hulle SANB.

Ek skenk nie bloed nie tensy ek dit kan verniet kry as ek dit nodig kry en ook skenk ek nie omrede dit verniet gegee word aan die massas wat nie sal betaal daarvoor nie. Dis tyd om terug te slaan en ons eie dienste op die been te bring so gou moontlik.

Siener ·

Ek stem saam Mike.
AfriForum kan ‘n Afrikaanse Bloeddiens skep waar skenkers betaal word vir hulle bloed. Werk word aan Afrikaans sprekendes gegee. Bloed word verkoop aan hospitale en instansies teen ‘n wins. Totdat dit gebeur sal ek ook nie weer bloed verniet weggee aan ‘n instansie om teen R4000 per eenheid te verkoop nie. Die Bloeddiens of Iemand maak groot geld met ons Bloed. Soos die ander mense sê ” DIs teen my Culture”

Gert ·

Die hele argument teen vorms in Afrikaans is belaglik. Eerstens is daar nie ekstra koste nie, want die vorms bestaan reeds, hoef dus nie ontwerp te word nie, en Afrikaans gebruik presies soveel papier en ink as Engels (In elk geval na my mening). Tweedens maak dit op geen manier diskriminasie minder deur ‘n bestaande taal weg te vat nie.
Maar nou ja, ons weet dat dit eintlik niks met een van die twee aangevoerde redes te doen het nie, dis deel van die Afrikaner-haat-veldtog.

Danie ·

El wonder maar net , as ek in die moeilikheid is of oemand moet help wat in die moeilikheid is, maak dit regtig saak in wat se taal dit geskied

jaco ·

hoe verander n geveg vir taalregte die lot van:
-boere wat op plase aangeval en dikwels vermoor word?
-duisende wit mense wat werkloos is?
-vuil swak staatshospitale?
-paaie wat nie instand gehou word nie?
-En en en?
wat help dit ons kry ons wonderlike taalregte, maar daar is anders amper niks van ons oor nie?

Gert ·

Na my mening het dit niks met mekaar te doen nie. As jy Afrikaans prysgee, gaan plaasmoorde en werkloosheid nie verdwyn nie, inteendeel dit gaan onveranderd bly.
In elk geval veg ons nie om taalregte te kry nie, maar om bestaande regte te behou.

Rehana Mohamed ·

Fantastiese artikel, Alana. Jy kon dit nie beter stel nie. ONS skool is ook n bloedskenk skool, wat gereeld skenk. Ek was nou onlangs in n geskil met 1 vd verpleegsters betrokke wat my nie in Afrikaans wou help nie. Ek was hewig ontsteld, ek het dit aan die onderwyser betrokke genoem. Niks het ongelukkig daarvan geword nie. Ek dink ek moes Meer geraas gemaak het… Ek het omgedraai en geweier om Engelse vorms in te vul. Ek kon in trane uitbars, van woede. Soos jy se.. Misken my taal. Misken jy my menswees, my identiteit. Hulle Kom weer eersdaags.. Ek wonder wat sal my reaksie die keer wees… As die bloed bank Hierdie besluit geneem het.
Ns.. My moeder het gereeld bloed ontvang, sy het dialise 4 keer n week ontvang

tony louwrens ·

My mense is Afrikaners, my ma was Engels, n mens so kan verneem sy was Brits. Ek was na n Engelse klas in n Afrikaans skool gestuur, en ook die nadele van n tweetalige meegemaak. Die Afrikaners het ons Rooinekke en Souties genoem, het dit my ontwrig, nee, ek het beter daarvan afgekom. Daar is n plek vir ons taal, ons kry nou die nagevolge van alles wat van Engels na Afrikaans moes oorskakel. Die huidige klomp sal en sou nooit Afrikaans as taal aanvaar nie, Engels is n n wereldtaal, maar sal Afrikaans uitsterf?? ek glo nie so nie, in elk geval nie in my huis nie.

Marthinus Willemse ·

In die voormalige Sowjetunie het die burgers grappies (lagtivisme) gebruik om die ondraaglikheid van kommunisme en sosialisme te verwerk. Josef Stalin het meer as 200 000 mense in die goelag (tronk) gegooi oor die grappies wat hulle vertel en versprei het. Karel Radek, `n prominente kommunis, wat saam met Wladimir Lenin op die trein was waarmee hy Rusland binnegekom het om die revolusie van 1918 te lei, is dood in die tronk oor die grappies wat hy oor Stalin vertel het.

Ek het `n paar duisend daarvan vertaal, en omskep in `n manuskrip. Nie Naspers (NB Uitgewers) of Penguin Random House wou dit publiseer nie. Naspers was eerlik: hulle gaan nie genoeg geld daarmee verdien nie. Penguin was meer diplomaties: hulle wil hulself nie met die materiaal “assosieer” nie. Die rede daarvoor is die huidige russefobie, waarmee Westerse media en baie “joernaliste” baie geld maak daaruit. Plaaslik het Leopold Scholtz my op Netwerk24 daarvan beskuldig dat ek `n internet trol is wat in St Petersburg bly, omdat ek Rusland verdedig, met feite en die waarheid.

hercu ·

my bloed bly rooi en Afrikaans!

ek is ‘n kaakvoet boerseun en sal so doodgaan!

sterkte aan die SANBS wat nou sonder my bloed moet klaarkom :-(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.