Stryd teen kulturele Marxisme  

Deur Pieter de Lange 

Pieter de Lange.

In ʼn relatiewe kort tyd, sedert die gewelddadige dood van George Floyd op 25 Mei, het die Black Lives Matter-organisasie oënskynlik die dominante morele beweging van ons era geword. Die vlaag van afgryse oor die manier waarop Floyd versmoor is, het oor die wêreld gespoel en skielik was BLM oral op die voorgrond en niemand het hul motiewe of dryfvere bevraagteken nie.

Verdeeldheid 

In Suid-Afrika is dit hartseer om te sien hoe die Black Lives Matter-organisasie besig is om verdeeldheid en onenigheid onder bekende sportsterre te veroorsaak. Die eenheid en euforie van die wonderlike Wêreldbeker-rugbyoorwinning van 2019 kan aan flarde geskeur word deur die BLM.

As mens so deur artikels en briewe lees, dan is daar baie griewe, vrese en opgekropte woede wat na vore kom. Billy Claasen, die besturende direkteur van die Landelike- en Plaaswerkers-ontwikkelingsorganisasie, vra byvoorbeeld: “Hoekom is dit vir party wit mense so moeilik om te verstaan waaroor Black Lives Matter gaan?”

Die apartheidsgeskiedenis van rassediskriminasie dekades gelede, is nog nie vergeet nie en die huidige blatante diskriminasie teenoor wit mense, en veral Afrikaners, beteken dat die hele Suid-Afrikaanse gemeenskap besonder kwesbaar is vir ʼn kulturele aanslag wat daarop ingestel is om te verdeel en verwarring te veroorsaak. Francis Fukuyama noem dit “Politics of resentment.”

Kulturele Marxisme

John Anderson[1], ʼn vorige adjunk- eerste minister van Australië (1999 tot 2005) in gesprek met Douglas Murray, skrywer van The Madness of Crowds – Gender, Race and Identity (wat handel oor geslag, ras en identiteit), het die tendens van radikale groepe bespreek om enige twispunte uit te buit, hetsy aardverwarming of rassespanning in ’n poging om die gemeenskap te verdeel en uitmekaar uit te trek. Anderson se beskrywing daarvan as kulturele Marxisme” is deur Murray bevestig.

Marxistiese opleiding  

As opgeleide Marxiste is dit natuurlik hul doel om ontevredenheid, onluste en anargie aan te blaas, aangesien hulle die kapitalistiese stelsel wil vernietig. (Stigterslid Patrisse Cullors het in ’n onderhoud met Jared Ball van The Real News Network, erken dat hulle Marxistiese opleiding gehad het). Kyk maar net hoe gaan dit in die stede in die VSA. Die BLM-beweging is duidelik ʼn ekstremistiese groep met radikale doelstellings om die status quo omver te gooi. Die BLM verklaar openlik dat alle swart Amerikaners ʼn gewaarborgde minimum inkomste moet ontvang, gratis mediese sorg, skole, kos, huise – alles verniet – asook gratis geslagsveranderingsoperasies en aborsies.

Die ander oogmerke is om die polisiemag af te skaf en tronke oop te gooi, aangesien polisiebrutaliteit kwansuis die grootste bedreiging is vir die swart gemeenskap in die VSA. Tog word amper 90% van die sowat 3 000 moorde op swart Amerikaners jaarliks, deur ander swart Amerikaners gepleeg.

Sosiale euwels  

Die Amerikaanse Sensusburo berig dat meer as 1 uit elke 4 kinders sonder ʼn pa groot word daar.

“Gevolglik is daar ʼn vader-faktor in elke sosiale probleem in Amerika vandag”, sê hul verslag. Die BLM doen niks om die sosiale euwels, wat so baie lewens in die VSA eis, te beveg nie. Inteendeel, die BLM verklaar oorlog teen die kernfamilie, naamlik pa, ma en kind –soos beskryf deur Dr. Martin Luther King as “The group consisting of mother, father and child, is the main educational agency of mankind.”

In direkte teenstelling kondig die BLM op hul webblad aan: “We disrupt the Western-prescribed nuclear family structure requirement by supporting each other as extended families and ‘villages’ that collectively care for one another, especially children, to the degree that mothers, parents and children are comfortable.” Voorts verklaar hulle: “We foster a queer-affirming network. When we gather, we do so with the intention of freeing ourselves from the tight grip of heteronormative thinking or rather, the belief that all in the world are heterosexual.”

Die Britse BLM is duidelik net so ekstremisties, met Sasha Johnson, ʼn leidende figuur, aangetrek in paramilitêre uniform, wat die Britse polisie met die Ku Klux Klan vergelyk, en dan voorstel dat ʼn swart militia in die lewe geroep word sodat hulle ʼn revolusie kan bewerkstellig.

Wit mans is die vyand 

Die BLM se ander doelwit is “Black liberation”, tog het Barack Obama onlangs twee termyne as die eerste swart Amerikaanse leier gedien.

Die BLM stel nie belang in ʼn kleurblinde gemeenskap nie, maar eerder meer rassebewustheid sodat rassisme kwansuis beveg kan word. Byvoorbeeld, Yusra Khogali, ’n stigterslid van die BLM se Toronto-tak in Kanada, het wit mense op haar Facebook-blad beskryf as “resessiewe genetiese defekte ” wat uitgewis moet word.

By die BLM is daar geen teken van oudpres. Nelson Mandela se versoeningsbeleid nie. Die Breitbart Londen-webblad haal ʼn BLM-aktivis aan wat op video verklaar het dat “wit mans” die vyand is, want hulle het kapitalisme, patriargisme, en fascisme geskep, gebruik en ondersteun alleen wit mans, deur wit mans en tot die belang van wit mans.

Lewis Hamilton se stelling “Silence is complicity” dui op die outokratiese neiging van die organisasie. As oortuigde Marxiste skroom die BLM ook nie om die Christelike geloof en Israel aan te val nie. Dis geen wonder dat die Australiese rugbyster Israel Folau nie die knie by ʼn onlangse wedstryd wou buig nie.

Hoe op aarde kan professionele sportsterre so naïef wees om die knie te buig voor ʼn organisasie wat die bron van hul groot salarisse en borgskappe wil vernietig. Dis hoog tyd dat die ekstremistiese Amerikaanse organisasie ontmasker word en hul sinistere motiewe aan die lig kom.

Ons beste wapen teen dié tipe radikale aanslag is nog steeds samewerking en versoening tussen alle rasse.

  • Pieter de Lange is in Kroonstad gebore en woon nou in Kent in Engeland. Hy het al talle artikels vir verskeie media geskryf. Hy is ook die skrywer van die Olimpiese boek, “The Games that Cities Play”.

[1] Webblad: johnanderson.net.au

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Riaan

Goed geskryf. Dankie. Wil net ook noem dat hierdie tegnieke/ meganismes, glad nie iets nuuts is nie. Dit is bloot ‘n mags stryd om die Weste te de-moraliseer. As ‘n persoon aandui dat hy/sy in Marxisme opgelei is, dan moet daar gekyk word na die 4 fases van oorname naamlik – De-moralisasie, De-stabilisasie, Krisis en Normalisering. –Yuri Bezmenov het dit mooi uiteengesit. – “As I mentioned before, exposure to true information does not matter anymore. A person who is demoralised is unable to assess true information. The facts tell him nothing, even if I shower him with information, with authentic proof,… Lees meer »