Studente se motiewe dalk edel, maar taktieke bedenklik

adam-habib-wits

Adam Habib visiekanselier van die Universiteit van Witwatersrand (Wits). Argieffoto.

Deur Victor Correia

Adam Habib, visiekanselier van die Universiteit van Witwatersrand (Wits) het onlangs in Potchefstroom, as hoofspreker by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Institusionele navorsing (SAAIR), sy perspektief oor die huidige studente-onluste gedeel.

Habib meen die studente se motiewe is wel edel, omdat studiekoste oor die laaste 10 jaar by verskeie universiteite met dubbelsyfers gestyg het, die pas van transformasie stadig is en kulturele vervreemding toeneem.

Universiteite is genoodsaak om hul fooie te verhoog, omdat studentegetalle in hierdie tydperk van 420 000 na oor ʼn miljoen toegeneem het, terwyl die per kapita-subsidie sedert 1994 van 75% na net oor die 40% verminder het. Baie voornemende studente kan nie die verhoogde fooie bekostig nie.

Habib het die krisis sien kom en namens verskeie universiteitshoofde van die groot banke in Suid-Afrika gaan sien om vir meer toeganklike studentelenings te beding. In antwoord op ander se kommer oor die plan, het Habib geantwoord: “Wil julle eerder geen graduandi hê nie, as graduandi met studieskuld?”.

Habib vertel verder Wits kan beskou word as ʼn leier op die gebied van transformasie. Wits is 75% getransformeer volgens die Shanghai-gradering van internasionale universiteite en is steeds een van Suid-Afrika se top universiteite. Habib voeg by die persepsie, dat uitnemendheid en transformasie nie versoenbaar is nie, is nie geldig in Wits se geval nie.

Tog kan gevra word waarom betogings in die reël meer gereeld uitbreek op kampusse waar transformasie verder gevorder het. As dinge so voortduur, wonder ʼn mens net hoe lank Wits nog een van Suid-Afrika se top universiteite gaan bly?

Hoewel Wits persentasie-gewys goed getransformeer het, het die meerderheid swart studente steeds vervreem gevoel omdat die universiteit se kultuur, simbole, taal, kurrikulum en werksetiek nog kenmerkend van die vroeë wit nalatenskap was. Die universiteitsbestuur het reeds, voor die betogings uitgebreek het, ʼn 10 punt-transformasieplan opgestel en goedgekeur.

Die punt wat Habib probeer maak, is dat universiteitsbesture reeds met dié kwessie, waaroor studente later sou betoog, besig was voordat die betogings van 2015 uitgebreek het. In dié opsig simpatiseer hy met die “edele struggle” van die studente. Habib voeg wel dadelik by hy kan hom nie vereenselwig met die bedenklike “taktieke” wat die beweging gebruik nie.

Om die punt te illustreer, neem Habib ons terug na die begin van die betogings in 2015, waarby hyself intens betrokke was. Hy het van meet af ingestem om met die studente te onderhandel. Studenteleiers het ʼn 0%-verhoging geëis, waarop hy geantwoord het dit is onmoontlik, behalwe as die regering ʼn toegewing maak.

Kort hierna het die studentebetogings gevolg met die opmars na die parlement. ʼn Regeringsamptenaar het Habib gebel en gevra of die verhoging toegestaan moet word, waarop hy instemmend geantwoord het: “Gee dit!”. Die 0%-verhoging het sedertdien baie kritiek ontlok, maar Habib hou vol dit het wel die positiewe gevolg gehad dat staatsubsidies aan universiteite vir die eerste keer in 20 jaar verhoog is.

Die toegewing het egter nie die gewenste uitwerking gehad nie, maar eerder nuwe woema aan die studentebeweging gegee. Die volgende Maandag was daar nuwe sake waaroor Wits moes besin en aan die begin van die akademiese jaar van 2016, het ʼn aantal studente gratis onderwys geëis. Weer is daar gepoog om met studente te onderhandel, maar dié keer was die studente nie oop vir onderhandeling nie.

Op 19 September 2016 het ʼn nuwe rondte betogings op Wits uitgebreek, wat gekenmerk is deur studente se bedenklike taktieke. Die studenteleiers se rassisme, geweld en oneerlikheid bedek die skynbaar edele motiewe van die huidige betogings met ʼn donker wolk. Habib vermeld hoe hy privaat met studenteleiers onderhandel en dieselfde studenteleier 10 minute daarna verkondig die universiteit wil nie met studente onderhandel nie.

Verskeie studente skryf ook aan hom hulle word geïntimideer deur betogende studente. Habib het ʼn ernstige beroep op studenteleiers gedoen om nie privaat een ding en ʼn ander ding in die openbaar te sê nie. Eintlik kom dit net neer op ʼn beroep op studenteleiers om eerlik te wees.

Die huidige werkswyse wat studente volg, om geweld te gebruik om hul sin te kry, is vir hom nie aanvaarbaar nie en kan volgens Habib die edelheid van die hele beweging verongeluk. “Die uitkoms word nie bepaal deur die edelheid van die doel nie, maar deur die taktiek wat jy gebruik om daarby uit te kom.”

Dit is vir hom onaanvaarbaar dat studente meer as ʼn miljard rand se skade aangerig het, sonder dat enige vervolging plaasgevind het. Hy meen so-iets sou gladnie tydens Apartheid geduld word nie. Daar moet fermer opgetree word teen studente en tans word ʼn poging aangewend om dit te doen.

Die gevolge van die studentebetogings kan Suid-Afrikaanse universiteite in die toekoms duur te staan kom. Habib moes in die afgelope 9 maande 3 keer na die VSA vlieg om buitelandse beleggers te verseker hul beleggings by Wits is veilig. Die bedrag wat ter sprake is, is R2,5 miljard uit ʼn totale begroting van R5,5 miljard, wat navorsing by Wits tot ʼn skielike stilstand kan bring indien geld in die toekoms elders belê word.

ʼn Ander kommerwekkende tendens is dat bekwame akademici tans in hul massas na die buiteland vlug. Dit hou die gevaar in dat Suid-Afrikaanse universiteite se status stelselmatig sal afneem en dat Suid-Afrika uiteindelik as ʼn land agteruit sal gaan, wat in die proses die gaping tussen ryk en arm verder sal vergroot.

Habib sou wou voorstel dat die rykes belas word om die probleem op te los, maar wys daarop dat dit nie moontlik is met Suid-Afrika se klein belastingbasis nie. Buitendien word toegang in lande soos Duitsland en Skandinawië, wat gratis universiteitsonderrig bied, beperk tot ʼn klein deel van die bevolking.

Indien Suid-Afrika gratis onderwys vir ʼn bepaalde groep studente wil bied, sou dit volgens hom net moontlik wees as dit stelselmatig oor ʼn lang tydperk geïmplementeer word en uiters afhanklik wees van positiewe ekonomiese groei.

Verder meen Habib die oplossing vir die krisis kan nie net op universiteite afgewentel word nie. Daar moet besluit word hoe fondse die beste bestee kan word en moeilike keuses moet selfs gemaak word, byvoorbeeld dat daar besluit moet word of meer in gesondheid of onderwys belê moet word. Soos die ekonomie krimp, sal die keuses al hoe moeiliker word.

Die toekoms van openbare universiteite in Suid-Afrika hang in die weegskaal en besondere leierskap is nodig om te verseker die kommerwekkende tendense, waarop hier gewys word, word omgekeer. Daar sou selfs gevra kan word of dit nie reeds te laat is om die sinkende skip te red nie?

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Neewat ·

Bedenklik? Dit is omdat julle sulke lam ordentlike woorde gebruik dat die studente julle aan die stert rondswaai. Hoekom sê julle nie hulle taktieke is afstootlik, onaanvaarbaar, vernielsugtig, barbaars nie. Bedenklik en onaanvaarbaar klink nog heel sag en opgevoed. Dit is omdat julle nie julle afkeur streng genoeg uitdruk nie, dat die studente koning kraai. Hahah nou sou dit nie tydens apartheid geduld word nie, maar tog kerm julle elke dag oor die apartheidsera en hoe SWAK en SLEG dit was. Kan maar net lag, julle het hierdie monsters grootgemaak, deal with them!

Andre ·

Ek dink ons almal weet dit gaan lankal nie meer oor klas gelde nie.Daar is n ander mag agter die hele oproer maar die regering is magteloos en het glad nie meer beheer oor die land nie,die uitlatings wat malema maak en daarmee weg kom is n bewys dat daar geen meer respek vir die wet isnie

Ben Prinsloo ·

Habib moet dalk n edele stewel onder sy bas kry. Kom weg van die “u owe me” houding en begin swot. As jy deurkom is jy professioneel en sal jy maklik jou skuld kan afbetaal. As jy daar sit tot in jou dertigs wil jy nie swot nie, jy wil jou skuldig maak aan rampokkery.

Theuns ·

Mr Habib, siestog! Jou polities korrekte uitkyk gaan maak dat jy een van die dae sonder ‘n job gaan wees! Kry vir jou!

Stoney ·

As Wits 75% getransformeer is, waarom het julle kampus onder die mees ontstuimige en wrede oproer deurgeloop? Lyk my julle studente moet eers gaan leer wat is aanvaarbaar in ‘n demokrasie en wanneer grens dit aan onopgevoed en barbaars!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.