Is Suid-Afrika al meer ’n nasie wat lieg en bedrieg?

212c7afHoe verrot is die Suid-Afrikaanse samelewing regtig en wat is die werklike omvang van korrupsie en leuens tot op die hoogste vlakke van besluitneming?

Dit is sekerlik een van kwelvrae wat die afgelope weke by al hoe meer mense opgekom het wat dag na dag moet lees en hoor van individue in (veral) hoë poste wat willens en wetens leuens oor hul kwalifikasies en grade vertel.

In sommige gevalle is dit mense wat al vir jare in uitsoekposisies was en seker net geglo het dat hulle te “slim” is om ooit uitgevang te word.

’n Tendens soos hierdie kan eenvoudig nie goed vir enige land wees nie en sekerlik net bydra tot persepsies van ’n “Piesang-republiek” waar daar geen sprake van eerbare leiers met enige integriteit is nie.

In die afgelope weke is die publiek nie minder nie as drie keer geskok met nuus van hooggeplaastes wat oor kwalifikasies gelieg het.

Daar was die omstrede Hlaudi Motsoeneng, bedryfshoof van die SAUK, wat geswyg het oor die feit dat hy nie eens ’n matrieksertifikaat het nie.

Die openbare beskermer het bevind hy is onregmatig by die SAUK aangestel, terwyl hy sommer ook onreëlmatig reuse-verhogings aan homself en ander personeel toegeken het.

Nou is Ellen Tshabalala, SAUK-voorsitter, ook in die sop oor sy ook glo oor haar kwalifikasies gejok het.

Sy het glo aangevoer sy het ’n B.Com-graad van Unisa en ’n nagraadse diploma in arbeidsverhoudinge wat blyk nie die geval is nie. Sy het nou heelwat om in die parlement te verduidelik.

Net voor dié bom gebars het, is die ANC-strydros Pallo Jordan na jare ook uitgevang dat hy nie oor ’n doktorsgraad beskik nie. Nie net het hy dekades met die leuen saamgeleef nie, maar glo ook gepoog om ’n joernalis met ’n biografie-foefie te probeer omkoop om nie sy geheim uit te lap nie. Jordan het intussen as parlementslid bedank.

Voor Motsoeneng, Jordan en Tshabalala was daar ook al andere soos Sicelo Shiceka, voormalige minister van samewerkende regering en tradisionele sake wat aangedui het dat hy ’n meestergraad in politieke ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf het wat ook nooit die geval was nie.

Schiceka, wat in 2012 dood is, het ook in ’n stadium vir sy vriendin Nana Masithela in 2009 ’n aanstelling as finansiële hoof van die Madibeng-munisipaliteit in Noordwes gereël waarvoor sy onbevoeg was. Sy is afgedank omdat sy glo voorgegee het om ’n MBA-graad te hê.

Dit is egter nie net op regeringsvlak waar ligtelik met die waarheid omgegaan word nie. ’n Paar jaar gelede is prof. Johnny Molefe, rektor van die Tshwane-universiteit van Tegnologie (TUT), ook afgedank na ’n gemors met sy kwalifikasies waar hy aanspraak op ’n geakkrediteerde doktorsgraad gemaak het wat nie erken is nie.

Maar dit is nie net hooggeplaastes wat hulself op papier beter wil laat lyk nie.

Verskeie kwalifikasie-verifiëringsmaatskappye het verlede jaar daarop gewys dat talle Suid-Afrikaners leuens tydens werksaansoeke vertel.

In ’n studie wat Managed Integrity Evaluation (MIE) gedoen het, is bevind 54% van mans en 46% van vroue jok as hulle vir werk aansoek doen. Mense jok nie net oor hul kwalifikasies nie, maar ook oor vorige misdaadveroordelings en rybewyse.

Bestuurders van organisasies wat kwalifikasies verifieer, meen organisasies en maatskappye loop die gevaar om self bedrog te pleeg as hulle werknemers met vals kwalifikasies aanstel wat nie die werk kan doen nie.

In Suid-Afrika is dit baie moeilik om te verifieer of iemand oor sy kwalifikasies lieg. In die meeste gevalle moet werksoekers toestemming gee dat werkgewers hul kwalifikasies mag nagaan of ’n aansoek moet ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting gebring word.

Miskien het dit tyd geword vir ’n baie meer deursigtige proses rondom die openbaarmaking van Suid-Afrikaners se kwalifikasies. Dalk kan universiteite die leiding in die verband neem en as fluitjieblasers begin optree wanneer mense beweer hulle het kwalifikasies aan ’n bepaalde instelling verwerf terwyl dit nie die geval is nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Renate Barnard ·

Dit is ‘n tragiese stand van sake. Die jeug word groot met verrotte rolmodelle. En die grootste tragedie is die feit dat daar NIKS met die oortreders gebeur nie – behalwe dat hulle in baie gevalle ‘n bevordering kry vir hul skandalige optrede. Integriteit en eerlikheid is deesdae ‘n baie raar verskynsel. En dan wonder ons nog hoekom dinge gaan soos dit gaan. Die oplossing begin egter by elke mens self – dit is nooit te laat vir ‘n ommekeer in die land nie.

Ant ·

Renate, ek stem saam dit is nie te laat nie. Solank daar mense is wat sien hierdie praktyke is verkeerd, is daar hoop op groter intergriteit in die samelewing. Die uitdaging vir elkeen van ons is om in elke dagtaak of omswerwing met goeie waardes om te gaan. Stop die verval met klein persoonlike aanpassings, soos om verkeers wette te gehoorsaam, nie vullis rong te gooi nie, beleefd te wees met die onbeleefde agter die toonbank.

Die volgende stap is om mense wat soos ons voel bymekaar te trek en lig-punte in SA te laat groei. Ons het in die verlede akademiese en ekonomiese vooruitgang gemaak deur saamgroepering. Ons moet weer so maak met saamgroepering van mense wat dieselfde voel.

Die alternatief is om te funksioneer tussen die verval van waardes as ‘n eiland van integriteit, wat vir my blyk ‘n moeilike taak te wees.

Nicolaas ·

Baie beslis n nasie geword wat lieg en be drieg. Vanaf die leiers tot eiendomsagente. Vanaf jou huis tot in die kerk. Swart beslis die meerderheid, maar wittes laat ook nie op hul wag.

Magda ·

Solank hul hulself kan verryk gee hul nie om of hul almal lieg-en bedrieg nie.

Shirley Kuhn ·

Mens moet versigtig wees om nie te veralgemeen, maar as gewone landsburger, wil dit vir my voorkom asof daar n tendens van laksheid, geen werks trots en “more is nog n dag” mentaliteit onder ons nasie begin ontstaan. Dit is ideale en vrugbare grond sodat korrupsie kan ontkiem, beheermaatreels en raamwerke is opgestel en is in plek. Rade en Senior Bestuur is gekwalifiseerd en bewus van alle risiko’s. Risiko beplanning en raamwerke is in plek. Ek dink die probleem is op die grondvlak. Dis volgens my waar die probleem gesoek moet word – die skuiwergate op grondvlak. Wanneer klein hoeveelhede oor n tydperk as n aanvaarde persentasie afwyking in die finansiele rekords genoteer word, lig geen wenkbroue want dis binne die aanvaarde persentasie. Die groter impak word partykeer eers jare later gevoel.

tamilyn ·

Die gedagtegang gaan eerstens rondom geld in plaas van God…dit is hartseer

Gerhard ·

Dis regtig fantasties dat daar mense is wat glo ons kan die gety omkeer. Ek het self so gevoel maar ek dink die golf van korrupsie, lieg en bedrieg het nou al so gegroei dat ons dit nie meer gestop gaan kry nie. Daar is werklik nie meer enige ‘n plek te kry waar die ANC kaders aangestel is waar daar nie gesteel, bedieg en ‘n gemors is nie. Die groot hartseer is is dat dit by die dag meer word. As die kaders sien hoe nr 1 en sy “crownies” tekere gaan, hoekom op dees aarde sal die res enigsins anders wil optree. Dit wil deesdae voorkom asof hulle dit as hulle reg beskou om te steel en net te plunder…….steel en plunder is nie net fisies jouself verryk nie maar ook die duisende wat daagliks in die staatsdiens rondhang sonder om werklik enige bydrae te maak. Ons het seker al die grootste staatsdiens in die wereld vir die grootte van die land maar ons moet daagliks hoor van die 1000e vakante poste……nog meelopers om nog meer te vermors. Ek twyfel of daar nog omdraaikans is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.