Suid-Afrika, Azanië of Guptastan: Dit is ʼn kwessie van prioriteite

Minister Nathi Mthethwa. Foto: GCIS/Flickr/GovernmentZA

Mnr. Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, het gehoop om die nasionale agenda wat nou sentreer om die Gupta-e-posse te verander deur ʼn stelling dat daar ʼn geskikte naam vir Suid-Afrika gevind moet word. Mthethwa, wat ook ʼn lid van die  ANC-NUK en ʼn geswore Zuma-lojalis is, het ANC-kaders onlangs toegespreek en onder meer gesê: “Suid-Afrika is nie die naam van die land nie, maar net ʼn geografiese beskrywing van waar ons is.” Een van die kaders het die naam Azania (in Afrikaans Azanië) voorgestel.

Sy standpunte het hier en daar mediadekking gekry, maar die weerligafleier om aandag weg te trek vanaf die president en die ANC se interne moeilikheid was nie suksesvol nie. Naamsveranderinge bring nie die veranderinge waarop mense gehoop het nie. Soveel dorpe, strate en munisipaliteite se name het verander, maar dieselfde probleme het gebly en net groter geword. Slaggate het meer geword, dienslewering het nie verbeter nie en korrupsie gedy. Die blote verandering van die naam wat simbolies is en transformasie reflekteer kan op kort termyn politieke wins inhou, maar bied geen langtermyn-oplossing nie.

Naamsverandering in Suid-Afrika is dus heeltemal ʼn legitieme en ook verstaanbare proses. Dit word allerweë aanvaar dat plekname standvastigheid en sekerheid skep. In dokumente van die Stad Kaapstad word die volgende gesê:

  • Name is belangrike liggingsinstrumente en navigasiehulpmiddels vir ’n voorspelbare, bestuurbare en ordelike omgewing, en skep ʼn “plekbesef”.
  • Name verteenwoordig die begin en einde van reise of bestemmings.
  • Name is plekbakens en fokuspunte deur simboliek, assosiëring en herinnering.
  • Name het kragtige positiewe of negatiewe betekenisse vir mense, en bied geleenthede om eensgesindheid binne ʼn gemeenskap te bevorder, of pyn en verdeling te vererger.

Waar Suid-Afrika – nou meer as ooit – ʼn behoefte aan ware versoening het en met opregte dade, woorde, aksies en gebare eengesindheid moet bevorder, het oorhaastige naamsveranderinge die potensiaal om groter polarisering in gemeenskappe teweeg te bring. Die wyse waarop daar tot dusver in die meeste plekke in die land omgegaan is met plekname en dit ingestel is, het nie eensgesindheid en versoening bevorder nie, allermins.

Binne Suid-Afrika word naamsverandering nie gekoppel aan kulturele versoening nie, maar ook aan ontplooiende politieke en transformasiedoelstellings. Ondeurdagte, onsensitiewe en eensydige pleknaamsveranderinge, wat al as kulturele sloping beskryf is, is ruim deur die ANC-regering ingespan om struggle-helde te vereer. Veral is dit ook handig as ʼn politieke en ideologiese instrument om die “apartheid-” en “koloniale” verlede van minderheidsgroepe by te kom. Soveel sinvolle voorstelle oor naamsverandering is in die verlede gemaak deur verskillende rolspelers, maar die ANC het deur sy optrede gewys dat voorstelle met moontlike oplossings nie ʼn plek het in sy toepassing van meerderheidsdemokrasie nie.

Dit bring ons nou terug by die voorstel dat Suid-Afrika se naam nou kwansuis moet verander. Afrika het sy kwota name van lande wat van naam verander het. Ons onmiddellike buurlande Zimbabwe was oorspronklik Rhodesië, desjare die broodmandjie van Afrika, en Namibië was Suidwes-Afrika. Die naamsverandering as sulks het nie bygedra tot vertroue in die lande en hul mense nie. Inteendeel. Veel eerder is dit die politieke aksies wat aandag trek en in Zimbabwe se geval wat die land vernietig het.

Die swartbewussyn-groeperinge wat die naam Azanië bevorder, is ook ietwat oningelig aangesien die naam afkomstig is van die Antieke Grieks wat verwys na verskeie gedeeltes van Suidoosters tropiese Afrika.

Die 66 verwysings na Suid-Afrika in die Suid-Afrikaanse Grondwet (Wet 108 van 1996) bevestig die naam van die land, die staatsvorm, en vestig ook die term Suid-Afrikaner vir die inwoners van die land. Dit alles wys hoe ondeurdag, onverantwoordelik en oningelig die minister van kuns en kultuur is. Naamsveranderinge het enorme implikasies, vir ʼn land nog meer, en politieke leiers moet besef dat naamsveranderinge heel onderaan ʼn lys van prioriteite behoort te lê.  Naamsveranderinge raak nie armoede, werkloosheid, korrupsie, wanbestuur, gebrekkige dienslewering, lae of geen ekonomiese groei en misdaad aan nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Eish ·

Waar val die perd nou uit met die strooi? Sekerlik bietjie vervelig om elke dag na die krale en houtolifantjies te kyk. Née regtig!

Hennie ·

Van die Suid Afrika waarop ek trots was en tot die dood toe sou veg het bitter weinig oorgebly. Die ANC moet net versigtig wees dat hulle nie hul sogenaamde struggle verlede met die naamsverandering uitwis nie. Internasionaal onthou almal nog die onreg wat Suid Afrikaanse Blankes hul swart mede – burgers aangedoen het met apartheid…. die sogenaamde Azaniërs mag dalk net vind dat hulle soos die res van Sub-Sahara Afrika van die internasionale radar af verdwyn.

Veritas ·

Hennie hoe vinniger hulle die naam verander, hoe beter vir dié wat dit opgebou het. Die ou SA was dalk die muishond van die wêreld weens apartheid maar het groot aansien gehad wat die ekonomie, militêr en opvoeding aanbetref. Vandag se SA kan op niks roem behalwe dat Bafana Bafana nog nooit die wêreldbeker kon wen nie.

Gerhard Burger ·

Baie dankie vir die artikel Jan! Ek stem saam! Moet sê, ek was nogal verbaas dat ‘Azania’ vanuit ‘n ANC-vergadering gekom het. Sover my kennis strek was daardie naam nog nooit op die ANC-kaarte gewees nie. Dit was inderdaad uit die swartbewussynsgroepering voorgestel en nagestreef. Veral na die wegbreek van Robert Sobukwe en ander, met die vorming van die PAC en sy dampkring-organisasies. Van hulle het egter bitter weinig oorgebly – en so ook van die potensiaal vir die vervangende naam ‘Azania’, of enige ander. Die minister is inderdaad ‘n opportunis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.