Suid-Afrika beleef ’n swart nasionalistiese radikaliseringsproses

transformasie

Argieffoto.

Die kommentaar van ’n swart student op ’n toespraak van Mmusi Maimane, die DA-leier, verlede week op die kampus van die Universiteit van Kaapstad, vat vir my die onderliggende kern van die hele “transformasie”-herrie op universiteite saam.

Maimane het luidens ’n berig in Die Burger onder meer gesê Suid-Afrikaners oordeel mekaar te veel op grond van hul velkleur en dat daar geen plek vir rassiste, wit of swart, moet wees nie. Gelyke onderriggeleenthede moet die doel op universiteit wees.

Op Stellenbosch gaan dit byvoorbeeld wat hom betref nie oor die verwydering van Afrikaans nie, maar hoe ’n balans verkry kan word sodat swart studente nie meer uitgesluit hoef te voel nie.

Die kommentaar van die student, ene Fezeka Mehlomakulu, ’n tweedejaar in internasionale betrekkinge, het volgens die berig só gelui:

“Sy hele toespraak het net daaroor gegaan om wit mense se vrese te besweer. Hy praat van transformasie, maar nie dekolonisasie nie. Hy wil hê swart mense moet dieselfde regte as wit mense hê eerder as om swart mense die beginpunt te maak.”

Hiermee het die student ’n basiese politieke en kulturele vertrekpunt blootgelê wat uiters veelseggend is. As ’n mens sin wil maak van baie van die goed wat tans in Suid-Afrika gebeur, moet jy dit begryp.

Laat ek dit aan die hand van ’n historiese analogie probeer doen.

Ná die Vrede van Vereeniging van 1902 was die Afrikaners platgeslaan. Die twee gewese Boererepublieke was rokende ruïnes, maar ook in Kaapland, waar die verwoesting skaars sigbaar was, was hulle kwaai gedemoraliseer.

Onder leiding van mense soos genl. J.B.M. Hertzog, pres. M.T. Steyn en later ook dr. D.F. Malan het hulle egter skouer aan die wiel gesit om weer te bou en hul selfrespek te herwin.

In dié omstandighede was militante denke en optrede teenproduktief, wat die rede is waarom die Rebellie van 1914 nooit grootskaalse aktiewe steun geniet het nie. Simpatie – nie dieselfde nie – was daar natuurlik wel.

Dis interessant om die geskrifte oor die Anglo-Boereoorlog in die vroeë jare te bekyk. Die herinneringsgeskrifte van mense soos genls. Christiaan de Wet, Koos de la Rey (nooit voltooi), Jan Smuts (ook onvoltooid), C.C.J. Badenhorst en ds. J.D. Kestell is betreklik vry van wraakgevoelens en weersin teen die vyand. Die hoofdoel van dié en ander werke is gewoon om mee te deel wat die skrywers in die veld beleef het.

Dan kry jy ’n lang periode van stilte. Tot die dertigerjare, toe ’n ware ontploffing van geskrifte op die mark kom – boeke van genls. Jan Kemp, Manie Maritz, E.J. Weeber en ander. Die toon van dié geskrifte is aggressief, ideologies, skerp anti-Engels en loop oor van veronregte gevoelens.

Dié geskrifte hang saam met ’n radikalisering van die Afrikaner-nasionalisme in die jare 1933-1948. Dié radikalisering is meegebring deur onder meer die Depressie (wat tienduisende Afrikaners tot die bedelstaf gedwing het), asook Hertzog se ommeswaai van 1933-1934, toe hy die Nasionale Party eers in ’n koalisie en toe ’n samesmelting met genl. Jan Smuts se Sappe gelei het.

Dan was daar die staatsregtelik bedenklike wyse waarop Smuts die land in samewerking met die goewerneur-generaal, sir Patrick Duncan, in die Tweede Wêreldoorlog in gelei het. En les bes het die oorlog aanleiding gegee tot ’n enorme ekonomiese groeikoers, wat honderdduisende swartes na die stede laat stroom en die Afrikaners, reg of verkeerd, bevrees vir hul oorlewing gemaak het.

Dit was die regstreekse oorsaak van die apartheidsbeleid van ná 1948. Dat die ekonomiese roereier reeds toe al só deurmekaar gemaak was dat apartheid onmoontlik kon slaag, het eers baie later geblyk.

Nou ja, dis ’n mite dat die geskiedenis homself herhaal. Historiese gebeure is uniek; daarvoor verskil die mengsel van faktore tussen tydperke te veel.

Maar dit beteken nie dat ’n mens géén ooreenkomste kan raaksien nie. En só ’n ooreenkoms is daar wel tussen die jare dertig en nou.

Soos toe was die eerste jare ná die oorgang van 1994 relatief (let wel op die woord relatief) rustig. Pres. Nelson Mandela was by wyse van spreke die vader van die nasie wat die Springboktrui gedra het, by mev. Betsie Verwoerd gaan tee drink het en die versinnebeelding van versoening geword het.

Maar die laaste jare merk ’n mens ’n duidelike radikalisering in swart geledere. Jy merk dit in die toenemende aandrang dat alle beroepe en posisies in die samelewing die nasionale demografie moet weerspieël (lees: skop die whiteys uit en sit swartes in hul plek). Jy merk dit in die militante, positiewe reaksie wat Julius Malema en sy EFF veral onder jonges uitlok. Jy merk dit in die groeiende eise dat Afrikaans as onderrigtaal op Stellenbosch, Potchefstroom en Bloemfontein onder sy jis geskop moet word.

Gaan lees nou weer die student se reaksie wat aan die begin aangehaal is. Wat hy daar sê (en dis in die video Luister effens minder reguit geëggo), is dat wit en Westers nie die vertrekpunt en maatstaf moet wees nie. Dis Afrika dié, maatjie, en óns kultuur en beskawing moet maatgewend wees.

Die ironie dat sulke mense hul swart nasionalisme deur middel van Engels verwoord, ontgaan blykbaar sowel die betrokke studente as ander wat Afrikaans oral wil uitdruk en met Engels met sy imperialistiese en koloniale verlede vervang. Sulke mense vind dit klaarblyklik heel normaal dat Engelstalige universiteite soos UCT en Wits openlik sê voornemende studente moet bewys lewer van hul beheersing van die Engelse taal voordat hulle toegelaat word.

Laat Stellenbosch of Potch dit nou net durf waag om ’n soortgelyke eis oor Afrikaans te stel, en die duiwel sal los wees. Blade Nzimande, nog nooit bekend vir sy kalmte nie, sal heeltemal histeries raak.

Hoe ook al, Suid-Afrika beleef tans ’n swart nasionalistiese radikaliseringsproses wat soortgelyk (let wel, nie identies nie) is as die radikalisering wat die Afrikaners in die jare voor 1948 meegemaak het.

Dit het reeds soortgelyke gevolge (gelukkig darem nie identies nie) in dié sin dat daar reeds in sekere sin op amptelike vlak teen wittes – ek verwys na die sogenaamde regstellende aksie – gediskrimineer word.

Die gevaar is natuurlik dat dit op sy beurt ’n radikaliseringsproses by die Afrikaners kan veroorsaak.

Toegegee, dis moeilik om rasioneel en gematig te bly as daar op verskeie terreine ’n aanslag op jou volk se voortbestaan gemaak word. Maar as jy reageer deur tot jou teenstander se peil te daal, het jy geen saak meer om voor te veg nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

9 Kommentare

Ampie ·

Interessante analogie. Wat wel verskil is dat die Afrikaners voor 1948 dalk effens geradikaliseer was en ‘n klomp Sap vergaderings ontwrig het, maar daarna die Engelse bevolking inklusief omarm het. Die swart opposisie was gewelddadig en nou wil hulle frustrasies oor leë beloftes van hul kleptomaniese heersers op blankes projekteer.

Christiaan Potgieter ·

Dis ‘n goeie artikel. Ek raak altyd egter ‘n bietjie krapperig as skrywers ‘n analogie in Afrikaner geskiedenis soek vir swart optrede vandag. Waarskynlik het my renons daarin ontstaan omdat dit ‘n tipiese styl van Naspers “meningvormers” is om die “regses” op hulle plek te sit. Ek weet Leopoldt formuleer versigtig hier, want hy weet dit baie goed. Ek dink egter daar is beter analogieë te vind in ander Afrika-lande se geskiedenisse. Hoe dit ookal sy, alles wat tans in SA gebeur is juis deur die nare regses voorspel. Ons wou juis nie Afrika noord van ons se ellende herhaal nie. Nou sit ons egter met die gemors van FW en Naspers se groot vet uitverkoping. Die temperatuur styg egter vinnig. Is Leopoldt bereid om aan ons meer as geskiedenislesse te bied. Quo vadis leopodt?

Gwen ·

Wat ’n lekkerte om sulke nugtere kommentaar te lees. Mnr. Potgieter, ek kon dit nie beter gestel het nie. Dankie.

Therese van Schalkwyk ·

Baie interessant, met besliste ooreenkomste tussen daardie jare en nou.

Ek wil by Christiaan Potgieter (hierbo) aansluit…..let op Leopold Scholtz se versigtig politiek korrekte bewoording wanneer hy skryf: “wat honderdduisende swartes na die stede laat stroom en die Afrikaners, reg of verkeerd, bevrees vir hul oorlewing gemaak het”. Ek glo regtig ‘n mens hoef vandag nie meer te wonder of die oorlewingsvrees “reg of verkeerd” was nie. Hoe net elke dag die koerante te lees, of hoe?

As Naspers en sy pynlik korrekte joernaliste tog net die besliste aanslag teen al wat wit en Afrikaans is wil erken, kan daar dalk meer druk op die ANC-regering uitgeoefen word in die verband. Tans word instansies soos Afriforum van Naspers se kant af veroordeel as opswepers omdat hulle durf om die Afrikaner se benarde situasie te probeer beredder.

Daar is geen gevaar van ‘n “radikaliseringsproses” by die Afrikaner nie. Daarvoor is daar genoeg blind-liberale kommentators wat vertel presies hoe om “rasioneel en gematig” alles prys te gee wat al vir meer as ‘n eeu by ons universiteite en elders bereik is. Wat ‘n mooi gesig sou dit nie wees as die Afrikaanssprekende Matie-studente (wit én bruin) hul stemme ook laat hoor het op ‘n volgepakte Rooi Plein, soos wat die swart studente dit doen nie. Naspers sou egter, net soos Blade, beslis “heeltemal histeries raak”.

Daar sal uiteindelik geen saak meer oor wees om voor te veg nie.

Johannes Comestor ·

Waarom publiseer Leopold Scholtz hierdie gedagtes op Maroelamedia en nie in ‘n Naspers/Media24-koerant soos Die Burger nie? Ek het die indruk dat daar ‘n groeiende gaping tussen Scholtz en die plaaslike Naspersjoernaliste is en dat hy nie toegelaat word om vryelik sy gedagtes oor bv die gebeure aan die Universiteit Stellenbosch (US) in Die Burger te publiseer nie. Die Burger publiseer berigte oor die verslegtende toestand, bv van Afrikaans, aan die US en die Landboukollege Elsenburg maar neem geen redaksionele standpunt in belang van blankes en Afrikaans in nie.

Leopold Scholtz ·

Beste Johannes, lees gerus my weeklikse rubriek in Die Burger more (Donderdag). As jy nie die papierkoerant kry nie, gaan kyk gerus op Netwerk24 onder “Stemme”, waar dit ook sal verskyn. Beste wense, Leopold

Simon ·

Die Afrikaners van destyds het nie so vandalisties en geweldadig te werk gegaan nie. Miskien is dit tyd dat ons wat ons christelike en morele waardes wil uitleef bietjie teen die swart radilkalisme opstaan. Die was nie reg vir destydse mense nie en dis nie reg vir hedendaagse regering ook nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.