Suid-Afrika benodig patriotte, nie apologete of afbrekers nie

Ernst-van-Zyl-van-AfriForum-het-ook-s

Ernst van Zyl is vir die meeste mense meer bekend as die bekende Twitter-gebruiker Conscious Caracal (@ConCaracal). Foto: Forumnuus.co.za

In 1904 het Mark Twain die volgende aantekening in sy notaboek gemaak: “In the beginning of a change the patriot is a scarce man, and brave, and hated and scorned. When his cause succeeds, the timid join him, for then it costs nothing to be a patriot.

In gesprekke rondom braaivleisvure oor provinsiale en kulturele grense heen word die volgende gewilde voorskrif vir die magdom sosiale en ekonomiese kwale van moderne Suid-Afrika gereeld herhaal. Ons land het ’n geweldige behoefte en ’n groot tekort aan goeie leiers wat eerlik en beginselvas kan leiding gee in hierdie moeilike en onseker tye. Mens moet altyd in gedagte hou dat leiers verskillende verskyningsvorme het, afhangende van die vereistes wat deur die konteks van daardie tyd bepaal word. Baie mense klou steeds vas aan die wanopvatting dat leiers eenvoudig verskyn, soos en wanneer benodig wanneer die tyd reg is, soortgelyk aan die bekende tema van ridders op wit perde in mites en legendes. In die regte wêreld leer die geskiedenis ons egter dat elke groot leier ook maar as ‘n doodgewone mens van vlees en bloed in die wêreld gekom het.

Die grootste oorsaak van die hedendaagse skaarsheid aan sulke invloedryke leiersfigure is waarskynlik die hiper-geïndividualiseerde wêreldbeskouing wat baie van ons landgenote deesdae aangeneem het. Talle Suid-Afrikaners sluit hulself vrywillig uit van die samelewing, gemeenskappe en politieke stelsel rondom hulle, en hulle trek dan weer laer agter hoë mure in toenemend geïsoleerde en ontkoppelde borrels van selfvoorsienende veiligheidskomplekse. Suid-Afrika hunker egter in ons nood na leidinggewende individue wat bereid is om te werk en te veg vir ’n saak wat veel groter as hulself en eiebelang is.

Waar is diegene wat bereid is om persoonlike voordeel en behoeftes op te offer om te doen wat reg is vir hul land, hul gemeenskap en hul kinders se toekoms? Ons land benodig meer mense wat bereid is om die bespotting, etikettering, smeerstukke en leuens wat deur hul teenstanders opgedis word, te verdra deur, ten spyte daarvan, op te staan vir die waarheid, eerlikheid, burgerlike pligte en geregtigheid. Suid-Afrika ervaar dus ’n wurgende tekort aan dapper landsburgers wat bereid is om langtermynvolhoubaarheid bo korttermyn- persoonlike bevrediging en -voordeel te stel. ’n Goeie leier sal altyd die belange van sy land voor die belange van sy politieke party stel. ’n Gepaste antieke Griekse spreekwoord lui: “’n Samelewing word groot wanneer sy ou mense bome plant in die skaduwee waarvan hulle nooit self sal sit nie.”

Hierdie onbaatsugtige benadering tot die lewe word roerend geïllustreer in die gewilde Suid-Afrikaanse volksverhaal van Racheltjie de Beer. Terwyl hulle in die veld op soek was na ’n verlore kalf, het ’n ysige storm Racheltjie en haar boetie oorval, wat hulle laat verdwaal het. Namate die erns van die situasie by haar begin insink het, het die jong meisie besluit om ’n groot miershoop uit te hol, waarbinne haar boetie kon pas. Toe die koue vir haar boetie ondraaglik geword het, het Racheltjie in ’n laaste desperate poging van heldhaftigheid al haar eie klere opgeoffer om haar boetie mee te bedek. Ten einde moontlik haar boetie se lewe te red, het sy toe die miershoopopening met haar tingerige klein lyfie, wat aan al die elemente blootgestel is, bedek. Toe die son die volgende oggend opkom en die storm bedaar het, het Racheltjie se pa op die klein bevrore liggaampie van sy dogtertjie afgekom. Onder haar stokstywe lyfie vind hy sy huilende seuntjie wat bevoorreg was om nog te lewe. In plaas daarvan dat albei kinders van die koue verkluim het, het Racheltjie die moed, insig en volwassenheid van gees besit om haar eie lewe gewillig op te offer ten einde die lewe van haar boetie te red.

Dit is binne die vermoë van elke persoon om ’n mens van gesonde karakter met beginselvaste integriteit te wees. Die duur prys wat mens moet betaal om daardie bewonderenswaardige doel te bereik, is egter die rede waarom hierdie potensiaal selde verwesentlik word. Die skrikwekkende koste vir diegene wat dit waag om so te lewe, manifesteer in die onverbiddelike en dikwels bitter persoonlike aanvalle op hulle deur invloedryke figure en instansies sowel as ruggraatlose mense.

Alhoewel baie smag na die erkenning en roem wat ’n dapper leier of held verdien, is baie min bereid om die enorme uitdagings en risiko’s wat daarmee gepaard gaan, soos om in die openbaar vir jou beginsels en vir ’n saak groter as jouself te veg, aan te durf. Die meeste mense wat vir hulself kan dink, bevind dat om teen die grein te dink en die ideë van die heersende Zeitgeist te kritiseer, ’n té gevaarlike pad is om te bewandel. Dit is besaai met die bestaande gesagsorde se waghonde, beeldpoetsers en stormtroepe wat oorgehaal en gereed is om die hande wat hulle voed, tot elke prys te verdedig.

Baie mense is jaloers op die roem en lofprysing wat ware patriotte uiteindelik ontvang, maar in plaas van om in die voetspore van hierdie beginselvaste dapper heldefigure te volg, verkies hulle om eerder terug te staan. Sommige raak so afgunstig dat hulle patriotte verkleineer en selfs so ver gaan soos om hul prestasies en hul karakters aan te val. Hulle kies die maklike uitweg om vanaf die kantlyn te kritiseer en af te breek, eerder as om hul moue op te rol en betrokke te raak by die bouproses.

In die moderne kompeterende lewe word dikwels aangevoer dat goeie leiers ’n beleid mag volg waar ’n goeie doel enige middele regverdig. Daar word doodluiters aanvaar dat sekere euwels eenvoudig geduld moet word om die goeie eindresultaat te bereik wat hulle onder die masker van patriotisme as in die beste belang van die mense beskou.

Aldous Huxley ontbloot hierdie drogredenasie as hy aantoon, “The ends cannot justify the means, for the simple and obvious reason that the means employed determine the nature of the ends produced.”

Die ware patriot moet dubbel en dwars seker maak dat die nou pad wat hom lei na billike uiteindes, geplavei is met regverdige, goed beredeneerde en regmatige middele. Onregte in die hede kan nooit die ongeregtighede van die verlede herstel nie, omdat dit ’n ewige waarheid is dat die hede ’n nare en konstante gewoonte het om altyd in die verlede te verander. So word ’n nuwe geslag benadeeldes geskep.

Hoekom grawe jy ’n nuwe slaggat om ’n ou een mee op te vul?

Laat ons dus nie onsself verloor in idealisme of ons verantwoordelikhede uitkontrakteer deur te wag vir diegene wat slimmer, sterker of beter praat as ons om op te tree en ons probleme vir ons op te los nie. Almal wat al ooit gaan kamp het, het die situasie al beleef waar ’n belangrike iets soos tentpenne vergeet is. Dit lei gewoonlik tot ’n vingerwysende, “Ek het gedink jy gaan dit bring”-bekgeveg.

Kom ons hou eerder op om mekaar of samesweringsmagte van binne of buite te blameer. Kom ons rol eerder ons moue op en maak ons hande vuil deur iets konstruktiefs te doen om die probleme wat ons in die gesig staar, op te los. Ons moet nie net ’n juigkommando wees wat die beginsels van diegene van ons wat die arena betree, loof en prys nie. Elkeen van ons moet hul voorbeeld nadoen deur alles te doen wat ons kan om ons gemeenskappe en ons pragtige land in ’n beter toestand agter te laat as waarin ons dit gevind het. Deur die eeue heen bly ’n fundamentele waarheid duidelik, ’n volk hoef nie getalryk te wees om werklik groot te wees nie.

Grootheid word gemeet aan die vermoë en die dapperheid om groot te dink én te doen.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst van Zyl

Ernst van Zyl is AfriForum se hoof van openbare betrekkinge en die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Hy het ʼn meestersgraad (cum laude) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal, is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen bekend as Twitter) en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

marco polo ·

Lang storie en dan se jy ons moet iets konstruktiefs doen. Wat stel jy voor, Ernst? Baie van ons hunker na n volkstaat, maar diegene wat ons gedink het voor loop, het ons versaak. Dan kom die eeue oue Afrikaner probleem (of dalk oplossing). As jy nie tevrede is met die leierskap nie, slaan jy maar jou eie rigting in en doen jou eie ding.

Pieter du plessis ·

SA moet opgedeel word in onafhanklike state soos in Europa waar elke volk homself regeer met sy eie verkose leiers ekonomie,polisie en wetgewing .

Catherine ·

Pieter ek stem saam met jou. Ek verstaan net nie die afrikaner se dwarstrekkerigheid nie. Dit is die oorsaak dat ons nie meer Europieërs is nie.
Een van die dae is die afrikaner wereld bewooners , van pure dwars trek.

Alta ·

Dis presies wat Steve Hofmeyr voorstel en voorstaan maar almal is gou om hom te kritiseer.

John ·

Mense, dit is nie 1984 nie ook nie 1994 nie. Toe Afrikaners in die posisie was om ‘n gebied te beding het dieselfde tipe mense soos Agri SA heftig baklei om eerder De Klerk se planne ten uitvoer te bring… en nou doen hulle dit weer. Met wie gaan bogenoemde eie-gebieders onderhandel? En hoekom sal so ‘n smeekbede cum eis toegestaan word. En watter mense sal saam wil gaan koek op ‘n leè nèrens sonder enigiets… of dalk ‘n pienk spaarvarkie. Wil die 3 skepies weer aanland en haai hier is ‘n paar vergete skeepslinge en kom ons vra nog helpers en ons bou… ‘n slag gewelhuise en plant wingerdstokke en dalk mielies…. nou water vind… En wat gebeur… Mense ons moet handevat. Hier is armes buite die grens… die Bybel sè… so sè dominee.. en nog 1 en nog 2… en dan… Burgers, die vyand is op ons!

John ·

…. en nou, waar is die res van die kommentare? Uiteindelik gaan hier net ♡♡♡♡♡ toegelaat word. So much vir vryheid van spraak. Hierdie idealistiese dromer se fantoom moet tog net nie ‘n puncture kry nie… Binnekort gaan die ANC alle oppossie-bekke snoer… julle s’n eerste. Die outeur vra juis dat mense in die ope kom en nie individualisties afgesonderd in kassies wegkruip nie en sodra mense hul menings lig… woeps word die kassies deur eie geledere toegespyker. Rassisme teenoor die eie is die volgende stap, soos destyds in Rusland onder kommunisme. Verraai jou naaste en wen… omarm ander kulture en godsdienste en groei… selfs dominees glo in bid saam met diegene wat glo Christus was bloot net ‘n profeet en nie die Seun nie… en Christene en Jode moet van die aarde gevee word…. Wie is AfriForum eintlik?

B ·

Korrek John, dis hoekom ek my baie keer nie eens meer verwerdig om die moeite te
doen om weldeurdagte repliek te lewer, want die forums word onewehandig gemodereer en jou bydrae verdwyn in ‘n blik, ipv om te ‘engage’. (Jip, die ironie van ‘spraakvryheid’ – baie artikels word juis op hierdie plarform gepubliseer oor hierdie aspek en ander soortglyke temas, maar by die objektiewe uitvoering daarvan is daar gebreke. Ek wonder soms hoekom ek platforms soos die nog finansieel ondersteun?? Dalk moet ek maar weer besin waarheen my geld (en webwerf besoeke) gaan)

Farmer Brown ·

Dom vraag, maar verduidelik asseblief vir wie moet ons Patrioties wees????
Ek neem aan nie vir die ANC regering nie , maar vir die AFRIKANER.
Wat vra jy nou eintlik moet ons doen?
Hier is nie ‘n toekoms vir ons kinders nie , moet hulle asseblief nie veroordeel as hulle nie hier wil bly nie.

Taalgogga ·

“‘n Samelewing word groot wanneer sy ou mense bome plant in die skaduwee waarvan hulle nooit self sal sit nie.”
“A society grows great when old men plant trees in whose shade they know they shall never sit” – an ancient Greek proverb
Ons weet wat julle bedoel, maar kyk na leestekens of woord volgorde asb.

Jan ·

Die VF+ het meer as 400 000 stemme ontvang. Die tyd het dus aangebreek to “put one’s money where one’s mouth is”. Indien slegs eenhonderdduisend hiervan sou besluit om hulle DSTV te staak (+- R1000 p.m.) en dan daardie geld in ‘n Grondfonds te stort, kan daar sodoende maandeliks R100,000,000 ingesamel word. Eenhonderd-miljoenrand!!! Hiermee word dan grond aangekoop. Elke maand dus ‘n stukkie van daardie Volkstaat. En moenie vir my se dat dit nie gedoen kan word nie, want dit gebeur alreeds. Nee, ek verwys nie nou na Orania, Kleinfontein en selfs Eureka nie, maar na ‘n handjievol volksgenote/patriote wat reeds met hul geringe bydraes, plase aangekoop het.

Vryburger ·

Jan, volkstaters moet net op ‘n georganiseerde wyse ‘n gebied teiken en in groot getalle soontoe verhuis en ‘n ekonomie sistematies van die grondaf opbou, vreedsaam en sonder protes. Die weskus is yl bewoon, gaan kyk maar na die verkiesingsyfers. 20 000 vierkante km sal doen. Individue kan grond koop, maar met ‘n grondfonds kan grond gekoop word om kubutze te vestig om mense te lok. So word die bal aan die rol gesit en oor 30 jaar sal onafhanklikheid realiseer. Die grondfonds kan ook gebruik word om moderne ekonomiese aktiwiteite te vestig, gegrond op die 4de Industriële Revolusie. Ons het net ‘n trigger nodig om met die proses te begin.

Apie ·

Lekker stuk.ons het werk om te doen. Doen jou deel. Ons is goeie soliede mense. Staan sterk en wees deel van ordentlike oplossings soos baie van ons reeds doen

Catherine ·

Ek lees alles en wonder. !! Afrikaner kinders verlaat die land. Ons ou mense kan aftrede nie bekostig. Wat word van ons. Nêrens sien ek beplanning vir hulle wat te jonk is vir die oorvol oue tehuise. Te arm vir aftree oorde. Ons sal hier moet bly en wat word vir ons beplan.

Thinus Erasmus ·

Ja Ernst soos jy se, dit kos ‘n patriot om ‘n land en volk te red, dit kos ‘n pionier om nuwe grond te breek en dit vat ruggraat om vir ‘n saak op te staan. En om dit alles te verydel benodig net ‘n groot bek (jammer) en baie ja-broers.
Nee John, voor 1984 kon ons ‘n Afrikaner staat sommer net reel (of weggee 1994), nou sal daarvoor baklei moet word, net soos oral in die heelal sal geen minderheid bestaan as hulle nie vir hulself opstaan en baklei teen die meerderheid nie.
Dit sal nie met mooi praatjies en pragtige beloftes bereik word nie, of met die hulp van die VVO of Amerika, wie ook al nie, maar ons sal dit SELF moet doen.
Of anders moet ons patrioties raak oor die gemors waarvan Farmer Brown praat, jammer maar ek kan nie patrioties raak oor ander se mislukkings nie.
Jan jy het ‘n plan, maar ek ook: Afrikaners kort ‘n tradisionele leier – ons is ook inheemse volk/e van SA en moet ook dieselfde reg as die swart en nou ook Khoi en San stamme geniet. Ek dink ons kort eintlik 2 of 3 leiers, ‘n generaal, ‘n goewerneur en ‘eerste minister:
Generaal vir die Patriotte
Goewerneur vir die joiners
en ‘n Eerste minister vir die wat so op die kantlyn, die draad en oorsee sit!

Jan ·

Vryburger, dit wat jy noem, laat ‘n handjievol patriote reeds die laaste vierjaar gebeur. En dit met letterlik geld wat bymekaar geskraap moet word. Maar omdat die wil en die durf-en-daad by hulle teenwoordig is, word die ideaal verwesentlik.

Thinus Erasmus, nee, hierdie groepie patriote het nie vir ‘n leier gewag om dit vir hulle te doen nie. Een van die wonderlike vrugte van hierdie projek, is dat leiers gebore word. Mense (mans en vroue) wat in baie gevalle deur die huidige SA platgeslaan was, maar nou die geleenthede kry om hul potensiaal ten volle te kan uitleef. Skep dus eers die omstandighede op die GROND, en die leiers sal vanself navore kom.

Vryburger ·

Jan, wat my verstom is dat politieke partye en organisasies wat aanspraak maak op Afrikaners se steun traag is om daad by die woord te voeg. Hulle beskik oor die ondersteuning en hulpbronne om die bal aan die rol sit. Persoonlik dink ek hierdie oefening kan gedoen word sonder enige verteenwoordiging in die parlement. Daar word soms kosbare tyd vermors met sinnelose debatte waaroor die Afrikaner min beheer het. Afrikaners het in hierdie stadium nog finansiële bronne en kundigheid om so ‘n projek te maak werk.

Jan ·

Vryburger, jy slaan die spyker op die kop. Ek het reeds in die jaar 2000 my voorstel (vir die stigting van ‘n Grondfonds) aan al wat ‘n “Volksparty en -organisasie” was, voorgele. Jammer om te moet se, maar hulle reaksie hierop was teleurstellend gewees. In die meeste gevalle het hulle nie eens op my voorstel gereageer nie. Oor die negentienjaar daarna, het ek dit by talle geleenthede weer gedoen, maar met dieselfde negatiewe gevolge. Totdat minder as tweehonderd volksgenote/patriote ongeveer vierjaar gelede besluit het om hierdie taak self aan te pak. En ons brei uit. Die proses om dit te vermag, is makliker as wat mens dink.

Vryburger ·

Jan, dit is te verstane dat julle die projek wil beskerm. Ander belangegroepe mag dit beskou as ‘n bedreiging wat nou hul domain betree. Vir ons gewone mense word net gesê die regering sal dit of dat nie toelaat nie, maar ons is nie altyd seker of dit wel die geval is nie. Sodra julle wel gereed is, skep’n webtuiste om jul ervarings te deel op sosiale media met ander wat julle denke deel. Dit is dalk die vonk wat nodig is. Dit lyk my Afrikaners wat bereid is om ledegeld te betaal vir politieke partye en belangegroepe sal eventueel druk op hul leierskap moet uitoefen om nuwe planne te maak. Die vet weet, ons moet groter begin dink en die tyd loop uit, want ons nader ‘n doodloopstraat. Sterkte met die projek.

Thinus Erasmus ·

Jan ek stry nie maar verstaan my stelling reg: In die NSA landsbestel moet daar ook vir ons Afrikaners voorsiening gemaak word vir ‘n tradisionele leier, nie politiese leiers nie. As inheemse volk moet ons dieselfde regte geniet as die ander inheemse volke met hul konings, kapteine, chiefs en voorvaders, reenkoninginne, prinse en prinsesse.
En ons tradisionele leier/s moet ook dieselfde vergoeding as die ander kry!
Die res het ek sommer geskerts.
Maar jou idee steun ek heeltemal, ons moet vir niemand of niks wag nie, ook nie ons laat keer nie, skouer aan die wiel!

Bob ·

Goed geskryf Ernst. Om self daardie held/leier/pionier te wees is verseker nie maklik nie en dikwels ‘n ondankbare saak. Ek wil wel diegene bemoedig wat wel al hierdie pad begin stap het om hoop te hou. Daar is tog mense wat dieselfde oortuiging as jy het en in tyd, as julle hande vat, sal jy verbaas wees oor dit wat bereik kan word. Ek is ‘n ouer en sien verseker geleentheid vir my kind in hierdie land.

Jan ·

Marco Polo, ek sal dit baie graag wil doen, maar met die aanvalle wat daar die laaste aantal maande teenoor Adriaan Nieuwoudt en sy poging geloods was, wil ek hierdie groepie volksgenote se projek ten alle koste beskerm. Ek vertou dat jy hiervoor begrip sal he. Ek weet nie of Maroela Media dit sal toelaat nie, maar indien dit hulle sou welgeval, kan jy jou e-pos op hierdie forum plaas en ek sal dit dan persoonlik met jou opvolg.

marco polo ·

Dankie Jan. Maroela, kan julle asb vir my en Jan in verbinding plaas, julle het mos ons e-posse.

marco polo ·

Jan, ek is vlg week vir n tydjie terug in SA en sal teen die Weskus opry. Hoe ver moet ek ry?

Jerry ·

Daar wag n ontnugtering op jongmense wat sommer enige aanhaling wat aan hulle toegedig word ter harte neem, tensy jy natuurlik self dit reeds beleef en geleef het! So wat het die skrywer al geleef en beleef van wat hy hier aanhaal? Ek weet nie, want hy se nie vir ons nie. Eintlik moet ons nie ons gedagtes laat besoedel deur slim aanhalings te gebruik voordat ons dit self op die proef gestel het, dit beleef en geleef het! Hou eerder julle koppe skoon en gebruik julle gesonde verstand en godgegewe talente vir julself en julle geliefdes! As iemand so baie van Racheltjie se storie hou is dit goed so, moet net nie toelaat dat hy jou laat opeindig soos Racheltjie nie, laat hy homself soos Racheltjie gaan laat opeindig as hy een of ander sinistere behoefte daaraan het! Dit is soos n persoon wat n fight soek, maar wat wil he iemand anders moet die fight vir hom fight. As julle sien iemand soek skoor moenie sy fight vir hom fight nie. Fight net jou eie fights en help eerder diegene wat nie skoorsoek nie!

Judge Dredd ·

Ons het ook nie meelopers van ANC/EFF plannetjies nodig nie.

rassie ·

Daar sal natuurlik binne die geledere van Afrikaners groot meningsverskille bestaan oor wie en wat ‘n “patriot” is of nie is nie. Blykbaar sal dit later dieselfde uitslag hê as die vraag oor Afrikaner identiteit. Elkeen sal self besluit of hy of sy ‘n “patriot” is of nie en wie anders een is of nie.

Of mens met hulle saamstem of nie, doen die leiers van organisasies soos AfriForum, Solidariteit, Helpende Hand en die VF+ ten minste iets prakties en wettigs volgens eie sienswyse en oortuiging van wat ookal hulle as “patriotisme” beskou. Natuurlik haal dit ook die nuus en word dit óf deur ‘n juigkommando besing óf gekritiseer. Beide sal altyd daar wees. Nodig of nie nodig nie.

Daar is egter ook talle persone wat ongesiens op hul eie beskeie wyse hul kant in die praktyk bring deur andere wat in verknorsing is te help of deur met gemeenskapsdienste te help. Nie almal het dieselfde geldelike of selfs fisieke vermoë nie. Nie almal kan parlement toe nie en nie almal is goeie sprekers, ekstoverte of strategiese denkers nie. Hul help bou in stilte, maar bou bou hulle. Daar is dus moontlik meer “patriotte” as wat op die oog af mag blyk.

Persoonlik dink ek nie dat persone wat ‘n land verlaat en hul kinders nie ook “patriotte” kan wees nie. Soos byvoorbeeld die Nederlandse immigrant HF Verwoerd wat in later jare as ‘n groot Suid-Afrikaanse en selfs Afrikaner patriot beskou en aanvaar is.

Dink vir Jouself ·

Ernst, moet jou nie laat afsit deur sommige negatiewe kommentaar op jou indrukwekkende positiewe skrywe vir ‘n jong Suid-Afrikaner nie. Bly positief oor wie jy is, waar jy vandaan kom, wat jy kan doen om ‘n verskil te maak en waarnatoe jy op pad is. Die negatiewe skeibrekers en kibbelaars sal altyd jou pad kruis. Hul bepaal gelukkig nie die rigting van jou pad nie. Omdat jy die groot prentjie sien is jy mense wat baie ouer as jy is vêr vooruit op die lewenspad. Jou slotboodskap is dat ons per slot van sake groot moet kan dink as ons groot dinge wil doen. Vir sommige is dit klaarblyklik te veel gevra. Baie dankie dat jy nie net kla nie maar ‘n verskil probeer maak. Sterkte en voorspoed.

Therese van Schalkwyk ·

Stem saam, dis ‘n skitterende artikel!
Die ware SA patriotte is die mense van AfriForum en Solidariteit.
As daar enige organisasies is wat die lewe in Suid-Afrika in die toekoms hoegenaamd leefbaar kan maak, is dit hierdie twee.
Doen so voort!

Kallie ·

Nee, Therese, ware patriote is mense wat die Afrikaner na die beloofde land sal lei. Tans sit ons op ‘n mishoop wat al hoe groter word terwyl die Afrikaner se sg. leiers floreer. Daar is geen manier dat SA leefbaar gemaak kan word nie.

Henk ·

Baie ou mense het bome geplant waarvan ons nie die skaduwee sal geniet nie. Die probleem is die hedendaagse jeug en jongmense wat n ander uitkyk op die lewe het. Een wat nie noodwendig gegrond is op die leiding wat in die Bybel aan ons gegee word nie. Een waar daar geen vrees vir God is nie. Want ons land se grondwet is verhewe bo God se wet. 16 Desember is n heerlike braai dag. Hoeveel mense weet wanneer is Hemelvaartdag? Goeie Vrydag en Paas Maandag drink en braai almal net so lekker. Dit gaan nie oor n te kort aan leiers nie. Dit gaan oor n tekort aan volgelinge want die probleem is nie hulle probleem nie, hulle kinders sal die probleem uitsorteer

Marius Muller ·

Van nou af is my generator half vol en nie half leeg nie.Die rye by munisipale kantore met lui beamptes is nou n geleentheid om mense sosiaal beter te leer ken.Die riool in my drinkwater is nou n minerale aanvulling.Waar ,O Waar is my leiers wat my sal kom red,kom patriote kom!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.