Suid-Afrika brand

Bennie van Zyl. Foto: Daleen Gouws

Suid-Afrika ploeter voort. Ons moet iewers eerlik raak en ʼn graaf ʼn graaf, of sommer ʼn skopgraaf noem. Die ANC, as ʼn sogenaamde bevrydingsbeweging, het met ʼn geweldskultuur die land oorgeneem, onkundige kiesers met vrees en/of beloftes gemanipuleer om in 1994 vir hulle te stem en daarna op hul gebaande weg voortgestu. Met leuens en verdraaiings oor die geskiedenis heen het die ANC ʼn wanpersepsie by die massas gevestig oor wat die oorsaak is dat almal nie in die welvaart rol nie.

Wat almal duidelik nie besef nie, is dat niemand kan stry teen die evalueringsrol van die markkragte nie. Geen politieke aankondiging of wet verander die laaste woord wat altyd deur die markkragte gespreek word nie. Suid-Afrika is reeds voor Covid-19 geëvalueer, te lig bevind en na rommelstatus afgegradeer.

Die ANC het twee primêre verantwoordelikhede van ʼn regering nie nagekom nie, naamlik dat hy nie toegesien het dat ʼn gesonde klimaat vir beleggers en entrepreneurs geskep word nie, en dat hy nie na die veiligheid van die inwoners van die land omgesien het nie.

Die ANC het ook ʼn verdere las op die land geplaas deur sy kaderontplooiing en korrupsie. Hierdie resep het die perfekte storm vir mislukking en anargie gevestig.

Die ANC se inbinding met Cosatu en die SAKP is op ʼn bepaalde ideologie gegrond wat nagestreef word. Hierdie ideologie is gegrond op hul aangepaste weergawe van dit wat hul in die voormalige Sowjet-Unie geleer het. Wêreldwyd het dit nog net armoede en mense-onderdrukking teweeggebring. Die lyke van die lande wat die model nagestreef het, lê gesaai op die geskiedenispad.

Blaam

TLU SA is deel van ʼn verskeidenheid organisasies en individue wat oor tyd heen waarskuwings aan die regering gerig het oor die tydbom wat deurlopend met hul beleidsomgewing gebou word. Hierdie waarskuwings is gedoen met skrywes aan die regering, verskeie mediaverklarings sowel as persoonlike gesprekke. Die reaksie, indien enige, was telkens dat alles apartheid, kolonialisme en rassisme se skuld was.

Daar word weggeskram van die feit dat die beleid van transformasie veroorsaak het dat onkundige en onbevoegde aanstellings in verskeie poste gemaak is, en dat die posbekleër nie die verantwoordelikheid wat die aanstelling op hom of haar plaas, aanvaar het nie. Deur met ʼn SEB-beleid vol te hou, gee die regering eintlik vir mense ʼn klap in die gesig deur te toon dat hulle nie in staat is om in eie reg sukses te behaal nie.

Ekonomiese beginsels

Die onvermoë van die ANC en sy kaders word al hoe meer blootgelê. Dit het niks met rassisme uit te waai nie, maar eerder of die keuse wat elke individu in die lewe maak of die verantwoordelikheid wat die lewe van elke persoon vereis, aanvaar word. Die ekonomiese spelreëls bepaal dat diegene wat toekomsgerig is – met ander woorde planne maak om van more ʼn beter dag te maak – ʼn sin vir dringendheid het, verantwoordelikheid aanvaar en regstellend optree waar daar tekortkominge is, en diegene sal wees wat sukses in die lewe sal behaal. Daarby is ʼn behoorlike onderwysstelsel nodig om kundigheid te verseker.

Niemand kan ʼn ander persoon bemagtig nie; dit bly ʼn individu se keuse of hy homself gaan bemagtig. Die ANC het ʼn kultuur van “ek eis” geskep wat niks tafel toe bring nie, maar onrealistiese verwagtinge by mense skep en ʼn verdere ingesteldheid van “die wêreld skuld ons” ontwikkel het.

ANC se beleid

Daar word beweer dat die onlangse onluste ʼn poging tot ʼn staatsgreep vanuit ANC-geledere was, maar dit kan nie bevestig word nie. Wat wel bekend is, is dat die ANC deur hul poging om te regeer, tesame met hul swak beleidsomgewing, omstandighede vir ʼn groot groepering mense wat niks het om te verloor nie geskep het, omdat werkloosheid en armoede jaarliks styg.

Hoe meer verskeie rolspelers die ANC daarop probeer wys het dat hul die regte beleid moet toepas sodat die ekonomie kan groei, hoe minder het die ANC hom daaraan gesteur. Die voorbeeld wat die ANC se kaders vir die massas gestel het, naamlik dat dit maar reg is om jouself uit die staatskas te verryk en daar dan met sagte hande met jou omgegaan sal word, kon gewis ook die vuur aangesteek het om te begin plunder en te steel.

Die 2016-gemeenskapsopname en intersensusopname wat deur Statistiek Suid-Afrika uitgevoer is, toon dat 80% van Suid-Afrikaners aangedui het dat hulle Christene is. Die afgelope tyd se plundering word moeilik by Christene uitgebring wat net op ʼn uitstappie wou gaan. Met watter waardestelsels het hierdie mense keuses gemaak?

Te duur

Die omgewing wat die ANC skep se prys het gewis te duur vir ons land en sy mense geword. Daar is baie duur betaal, maar is dit al wat betaal gaan word? Wat lê vir ons in die afsienbare tydperk voor?

Die ANC het die tafel gedek en die probleem is dat ons almal nou saam vir ete moet aansit. Die afwesigheid van die SAPD in die meeste gevalle tydens die onluste het veroorsaak dat die gemeenskappe hande gevat en hul omgewings gestabiliseer het.

Suid-Afrika se inwoners het ʼn gebrek aan ʼn staat wat na hulle veiligheid, lewens en besittings omsien. Die burgerlike samelewing het uit hierdie situasie geleer dat ons grootliks op onsself vir ons eie veiligheid aangewese is.

Dit is billik om in hierdie omstandighede te vra waarvoor belasting betaal word. Is dit net om toe te sien dat daar voldoende fondse beskikbaar is sodat dit tot eie voordeel van verskeie trogvreters gebruik kan word? Dié bydrae tot voordeel van die inwoners van die land raak al hoe meer onder verdenking.

Kortsigtigheid en faksiestryd

Vir die regering om in hierdie tydsgewrig wapens vir selfverdediging onwettig te wil maak, is net so kortsigtig soos om te sê dat daar nie brandstof gekoop kan word in draagbare kanne nie. Die staat se bydrae tot ekonomiese groei is hoogstens dat hulle sélf die hekkie geword het wat oorkom moet word alvorens daar by sodanige groei uitgekom kan word.

Die faksiestryd in die ANC was die vonk in ʼn kruitvat wat die ANC self oor tyd met hoogs plofbare kruit gevul het. Suid-Afrika betaal nou die prys van die stryd om mag tussen twee groeperinge binne die ANC. Beide hierdie faksies is steeds tot ʼn sinkende ideologie verbind met uitgangspunte van onteiening sonder vergoeding, ʼn nie-werkbare SEB-beleid, kaderontplooiing en meer, wat alles gefundeer is uit hul Nasionale Demokratiese Revolusie waar gesentraliseerde mag gevestig moet word.

Indien daar hopelik iets goeds uit hierdie onaanvaarbare plundering en beskadiging van bates kom – juis van die mense wat die werk en voedsel voorsien – kan dit dalk meer mense by die punt bring om te besef dat ons land die ANC se onvermoë om te kan regeer nie verder kan bekostig nie.

Hieronder is skakels na drie skrywes wat TLU SA in Junie 2019, Junie 2020, asook aan die begin van 2021 aan president Cyril Ramaphosa gestuur het. Ongelukkig het ons buiten ontvangserkenning nie enige verdere reaksie gekry nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rian ·

Om aan te sluit by die hoofberig: n revolusie is n duur storie. Iemand of n organisasie/s is besig om hierdie anargie te finansier.

Kokerboom ·

Kan die oë van sake en bedryfsleiers nie maar oopgaan en ophou om die skadelike regering te ondersteun of hul skoothondjies te wees vir eie gewin?

Jedi Knight ·

Ontspan Bennie. Die Griekse wigte en teenwigte behoort binnekort in te skop.

Hendrik ·

Soos met enige probleem, moet die probleem eers erken word voor die probleem opgelos kan word. As mens egter die probleem heeltyd op iemand / iets anders (soos Apartheid) kan plaas, sal jy nooit by erkenning van jou probleem uitkom nie. Dus, die ANC en EFF sal aanhou om witmense te blameer vir alles wat fout is in SA tot daar niks van die land oor is nie. Afrikaners se enigste oplossing is selfbeskikking, maar solank ons nog verkies om ander mense te gebruik om vullis te verwyder, huise skoon te maak en tuine te versorg, sal ons dit nie bereik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.