Suid-Afrika en die ‘demokratiese paradoks’

Met die nasionale verkiesings van 2019 om die draai, word daar algemeen oor die toestand van Suid-Afrika se demokrasie geredekawel.

Die gedagte van demokrasie is wêreldwyd bekend. In die Westerse beskawing word liberale demokrasie algemeen beskou as die mees korrekte vorm van regering.

Die vraag moet egter gevra word wat die term demokrasie nou eintlik beteken, in besonder wanneer daar in die Suid-Afrikaanse konteks daarna verwys word.

Die term “demokrasie” het oor die wêreld, maar veral in Suid-Afrika, ʼn gonswoord geword wat deurlopend gebruik word, maar ten opsigte waarvan die gebruikers van die woord nie noodwendig die werklike betekenis van die konsep begryp nie.

Die algemene opvatting is dat demokrasie ʼn vorm van regering is wat daarop geskoei is dat almal gelyk behandel moet word, en by implikasie dat geen burger van die reg om te stem ontneem mag word nie. In die praktyk vergestalt die reg op gelykheid hom in demokratiese verkiesings, wat regering deur die meerderheid tot gevolg het.

Daar is egter ander vereistes vir die bestaan van ʼn gesonde demokrasie. ʼn Noodwendige gevolg van ʼn meerderheidsregering is dat minderhede dikwels gemarginaliseer word, aangesien hulle belange nie juis die hoogste prioriteit op die meerderheidsparty se agenda is nie. Die tragiese ironie van ʼn demokratiese bestel is, dus dat daar in die strewe na gelykheid, wat in die vorm van ʼn meerderheidsregering neerslag vind, ʼn vorm van ongelykheid geskep word, deurdat groepe wat nie so sterk in getal is nie juis ervaar dat daar deur die sogenaamde demokratiese regering teen hulle gediskrimineer word.

Juis daarom is een van die vereistes van ʼn gesonde demokrasie dat dit nie eksklusief oor getalle moet gaan nie, maar dat die minderhede se regte op so ʼn wyse in ʼn grondwet en wetgewing beskerm moet word dat diskriminasie teen minderhede deur die meerderheidsregering verhoed word. Wanneer minderhede in ʼn bepaalde staat dus ervaar dat hulle regte nie na verwagting beskerm word nie, is dit nodig om te vra of daardie staat oor ʼn gesonde demokratiese bestel beskik.

Die Amerikaanse politieke wetenskaplike, Francis Fukuyama, skryf dat die gedagte van liberale demokrasie oor die wêreld posgevat het en dat die mensdom hiermee die eindpunt van sy sosio-politieke ontwikkeling bereik het.

Samuel P Huntington neem egter ʼn meer kritiese standpunt in wanneer hy skryf dat die onderskeie beskawings oor die wêreld heen nie noodwendig met liberale demokrasie tevrede sal wees nie, maar eerder dat daar ’n groeiende belangstelling in identiteitspolitiek sal plaasvind.

Betreffende die onderwerp van demokrasie verwys Huntington na wat hy as die “demokratiese paradoks” beskou. Liberale demokrasie is tans die polities korrekte regeringsvorm in die wêreldpolitiek. Wat egter dikwels gebeur, is dat state wat hulle histories nie met liberaal-demokratiese waardes kon verbind nie, wel demokrasie as regeringsvorm aanneem deur verteenwoordigende liggame soos parlemente en nasionale vergaderings aan te neem, maar dat hierdie sogenaamde “verteenwoordigende liggame” dan gebruik word as voertuig om ’n regering daar te stel wat juis nie aan die verdere elemente van demokrasie voldoen nie. Die algemeenste verskyningsvorm hiervan is die vertrapping van minderheidsregte in die naam van demokrasie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Ernst Roets

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Ernst Roets is die Adjunk-Uitvoerende hoof van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

John ·

Liberale demokrasie is ongelukkig nie ‘n natuurlike ontwikkeling voortvloeiend uit diepsinnige filosofiese deurtasting binne ekonomies-aktiewe gemeenskappe nie, maar klinies-afgeforseerde oogmerke van sekere groepe met magsoorname en dominansie ten hoof doelwit; uiters gevaarlike groepe met groot geld wat omkoop as ‘n uiters geslaagde metode van stemwerwing geidentifiseer het.

Frans C ·

Toe dit vir die linkse partye in die Weste duidelik word dat die ANC nie die stryd militer in
Suid Afrika gaan wen nie,het sanksies en isolasie die wapen geword om die Suid Afrikaanse regering na die onderhandelingstafel te dwing.

So het onderhandelinge,’n nuwe grondwet en ‘n gewaande demokrasie die Trojaanse perd geword,wat die ANC aanbewind gebring het.Nou dat die party sy ware kleure begin wys
wil almal in opstand kom omdat dinge nie uitwerk, soos voorgestel is nie.

Met die Staat (ANC) wat nou met nuwe wetgewing openbare skole staatsskole wil maak,
raak die prentjie al hoe droewer,want waar Universiteite broeineste van onrus geword het,
is die moontlikheid nie uitgesluit dat Staatsskole dieselfde pad sal loop en Afrikaans ook daar as onderrigtaal in die slag sal bly.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.