Suid-Afrika herhaal Turkse ekonomiese foute

ʼn Gebou-afbeelding op ʼn plakkaat van pres. Recep Tayyip Erdogan van Turkye wat ʼn bushalte in Istanboel versier. (Foto: Emrah Gurel, AP)

Die Turkse geldeenheid, die lira, het vanjaar reeds meer as 40% van sy waarde verloor. Inflasie in Turkye het verlede maand 18% bereik. Die Turkse aandelebeurs het 17% van sy waarde vanjaar verloor en die land se staatskuld styg daagliks. Wesenlike vrese bestaan dat ’n uitgebreide skuldkrisis in Turkye kan ontstaan wat baie negatiewe gevolge vir die Midde-Ooste, Europa en talle ontwikkelende lande kan inhou.

Die krisis in Turkye is nie uniek nie en ’n land soos Suid-Afrika kan saam met ander ontwikkelende lande soos Mexiko en Argentinië ’n paar belangrike lesse hieruit leer.

Die huidige Turkse president, Recep Tayyip Erdoğan, het reeds meer as tien jaar gelede besluit om ’n proses in werking te stel waarvolgens hy uitgebreide politieke en ekonomiese mag oor Turkye kon verkry. Vandag is Erdoğan in ’n baie sterk posisie in Turkye met ’n nuwe grondwet en ’n presidensiële stelsel wat geweldig baie mag aan hom toeken. Daar is bitter min onafhanklike media in Turkye oor, en onafhanklike burgerlike organisasies is ook op die agtervoet.

Om sy magsgreep te kon uitvoer, moes Erdoğan die nodige steun onder ’n meerderheid van Turkse kiesers kry. Hy het dit reggekry deur rentekoerse kunsmatig laag te hou, staatsbesteding wesenlik uit te brei en kunsmatige ekonomiese groei te verwesenlik. ’n Paar jaar gelede was Turkye een van die snelgroeiendste ekonomieë in die wêreld. Dit het Erdoğan gewild gemaak en nadat sy opponente hom met ’n staatsgreeppoging uit die kussings probeer lig het, het hy die gaping gevat om sy magsposisie wesenlik uit te brei deur die grondwet te verander en sy opposisie op brutale wyse stil te maak.

Erdoğan skets die afgelope paar weke sy land se ekonomiese uitdagings as ’n soort aanslag van Amerika op gewone, onskuldige Turkse burgers. Dit bevorder nasionalistiese denke onder baie Turke en het baie van sy landsburgers selfs oortuig om goud en buitelandse geldeenhede vir lire te laat ruil ten einde die geldeenheid te help stabiliseer. Ook in Suid-Afrika, Mexiko en ander ontwikkelende lande sien ons hoe die nasionalistiese tromme geslaan word.

Die Turkse ekonomie is sterk verbind met Europese ekonomieë en ’n grootskaalse skuldkrisis in Turkye kan banke in Europa op risiko plaas. Turkye se grootste handelsvennoot is die Europese Unie en die EU sal nie wil sien dat Turkye in die moeilikheid beland nie. Verder is Turkye steeds ’n lid van die Noord Atlantiese Verdragsorganisasie en is die Weste nog nie gereed om Turkye as militêre bondgenoot te vervreem nie. Suid-Afrika beskik oor geen van hierdie sterkpunte nie.

As een ontwikkelende land siek word, steek die ander baie keer aan. Lande soos Suid-Afrika, Argentinië en Mexiko het almal probleme van hul eie en die Turkse krisis kan dit net vererger omdat dit skeptisisme onder beleggers oor die veiligheid van beleggings in hierdie lande se ekonomieë verhoog.

Suid-Afrika loop die risiko om weens swak politieke en ekonomiese besluite dieselfde pad as Turkye te stap. Indien die rand nog heelwat meer moet verswak en inflasie en rentekoerse heelwat moet verhoog, kan Suid-Afrika se reeds wankelende ekonomie self in duie stort.

Terwyl Erdoğan tans na Europa en veral Duitsland uitreik, klap die Suid-Afrikaanse politici eerder die Weste in die gesig en kruip voor twyfelagtige nuwe vriende in Asië.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

John ·

… en Sjina gaan soos Europa allerhande eise stel. Tukye, Griekeland en Italie moet nou al die immigrante huisves wat die ryk Europese lande nie wil he nie. Duitsland klap die sweep soos haar voorvaders, destyds Nazi’s genoem, maar die gene loop dik. Wat gaan die eise wees wat Sjina stel? Xi het nie verniet ewigdurende heerskappy ontvang nie. Hy dien sy land en geen ander land se belange nie.

AgAsseblief ·

Uitvoerende Hoof van die Orania beweging. Sjoe dit gaan my laat regop sit, en luister.

Hello ·

Die EU gaan geld bele in Afrika wat dit ten doel het om 10 miljoen werksgeleenthede te skep. N klap na Trump is dus nie n klap na die weste nie

IK ·

Turksvye is gewoonlik nie ‘n Turks-vy maar hierdie een is maar wie sal nou worrie daaroor?

Paul ·

Onteiening: Dit gaan goed eindig, sê Cyril. Organisasies soos AfriForum en ander wat “valshede” oor Suid-Afrika se grondhervormingsplanne oorsee verkondig, se pogings sal op niks uitloop nie, meen pres. Cyril Ramaphosa dié week na hy ooreenkomste met China aangegaan het.

Die werklike probleem is dat Suid Afrika het met die wêreld se kundigheid binnelands gesit om die ekonomie aan die gang te kry, maar nee toe word hordes blankes in Zuma se tyd genoop om die Land te verlaat en die land boer op elke gebied agteruit. Hulle kniehalter ekonomiese groei met drakoniese wette en regulasies gedryf deur hul ideologie, dus het hulle nie self die kapasiteit en kennis om die land te laat groei nie, hulle faal jammerlik.

Julius het intussen ‘n stigma aan al wat blank is laat kleef tot so ‘n mate dat hulle eerder sal vergaan voor hulle enige wit mens binnelands weer sal toelaat om die land op te hef, nee, hulle voer liewer Chinese in.

Paul ·

En as die regering dan nou nie ‘n begrip van die ekonomie het nie, wat dan? Ek sien elders in die media prof Jannie Rossouw van Wits sê in ‘n artikel dis tyd dat adj. pres. David Mabuza en die res van die kabinet ’n “basiese ekonomie 1-lesing” kom bywoon – en hy is bereid om dit vir hulle aan te bied. Ek dink CR moet ook daar ‘n draai gaan maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.