Suid-Afrika het ʼn goeie dosis Stockholm-sindroom weg

Op Donderdag, 23 Augustus 1973 is die “Sveriges Kreditbank” van Stockholm, Swede, oorrompel deur Jan-Erik Olsson in ‘n rooftog wat vir sowat 131 uur, of vyf en ‘n half dae, voortgeduur het. Olsson het vier van die bank se werknemers gyselaar gehou. (Foto: EGAN-Polisen / SCANPIX SWEDEN / AFP)

In Augustus 1973, 50 jaar gelede, tydens ʼn bankroof in Stockholm, Swede, is gyselaars vir ʼn paar dae deur rowers in die bank aangehou. Die einste gyselaars wou later nie teen die bankrowers getuig nie en het volgens een bron ook selfs geld gehelp insamel vir die rowers se verdediging.

Dit het oor tyd ʼn sielkundige verskynsel geïnspireer naamlik Stockholm-sindroom. Dit word beskryf as ʼn toestand waar mense met verloop van tyd positiewe gevoelens teenoor hul ontvoerders of diegene wat hulle misbruik of selfs mishandel, ontwikkel.

Hoe onwaarskynlik dit ook al mag klink, wil dit voorkom asof die meeste Suid-Afrikaanse burgers aan een of ander vorm van die Stockholm-sindroom ly.

In ʼn ongekende stap het die VSA Ambassadeur in Suid-Afrika Reuben Brigety, die regering daarvan beskuldig dat wapens aan Rusland verskaf is vir die oorlog in Oekraïne. Die president se reaksie is om ondersoek na die bewerings in te stel. Nog ʼn ondersoek wat lank kan duur, geld verkwis en uitkomste en aanbevelings wat nie geïmplementeer word nie. As die sosiale en hoofstroommedia dopgehou word dan wil dit voorkom asof die meeste kommentators dit redelik eens is oor die opbouende frustrasie met die regering oor buitelandse beleid, beurtkrag, verslegtende dienslewering, lang uitgerekte hofsake en min na geen uitvloeisel van enige reg en geregtigheid wat moes volg na die omvattende Zondo-verslag oor staatskaping nie.

Midde in ʼn verswakkende ekonomie en die inploffing van staatsondersteunde entiteite soos Eskom, PRASA en die Poskantoor kom die regering met ʼn wysigingswet op gelyke indiensneming wat maar net nog ʼn nuwe vorm van klein apartheid is, met ander woorde diskriminasie op die wetboeke. Volgens Solidariteit kan die wysigingswet rassekwotas op sektorale en streekvlak vasstel en maatskappye se ‘diensbillikheidsplanne’ moet dan aan kwotas voldoen. Enige redelike mens sou dink dat enige regering wat ernstig is oor die ekonomie en die welstand van sy hele bevolking moontlik dan alles in die stryd sou werp om die beste kundigheid, wit en swart, in te span en infrastruktuur begin herstel en bou.

In die lig van die bogenoemde omstandighede sou enige redelike mens ook dink dat kieserspatrone en -lojaliteite sou skuif veral van ʼn regerende party wat die omstandighede veroorsaak het. In ʼn meningspeiling onder 1 517 geregistreerde kiesers in Maart vanjaar het die Social Research Foundation bevind dat die ANC as regerende party nog steeds 52% van steun geniet. Dit is gebaseer op ʼn 66%-kiesersopkoms en sluit kiesers in van alle ouderdomme, rasse en gebiede in die land.

Buiten vir die ammunisie aan Rusland-skandaal was daar die laaste maande nog skandale rondom korrupsie, skoolvoedingskemas in Natal en die Oos-Kaap, hospitale wat nie kos of mediese voorrade kry nie, ʼn kragminister wat drie maande na aanstelling nog nie uitvoerende magte het nie, onbevoegde ministers wat deur uitsprake hulle onkundigheid demonstreer en vele meer.

Politiek word soms verklaar as die kuns van die moontlike; die kuns van regering en die studie van wie kry wat, waar, wanneer en hoe. Die uitoefening van invloed, beheer en mag en die toedeling van beheer oor hulpbronne of waardes word derhalwe in wese die sentrale kern van politieke partye se bestaan. In Suid-Afrika se geval is die toedeling van hulpbronne op patronaatskappe aan kaders van toepassing en is dit in baie gevalle hulle enigste inkomste.

Die sterkte van ʼn staat word geëvalueer met die volgende 6 elemente in gedagte: Soewereine gebiedsbeheer, effektiewe belastinginvordering, goeie bestuur van hulpbronne, die vestiging en instandhouding van infrastruktuur, die vermoë om basiese dienste te lewer en die handhawing van wet en orde. Die laaste vier dui op ernstige verswakking. Die ANC as regerende party het deur sy invloed en totale beheer oor die staat in al sy fasette, eerder hul eie belange as die ontwikkeling van die staat bevorder. Ons sien die ernstige implikasies daarvan vandag.

Ten spyte daarvan en ten spyte van die feit dat Suid-Afrikaanse burgers elke dag die gevolge sien en beleef en inderwaarheid aan misbruik en mishandeling deur die ANC blootgestel is, is 52% van kiesers nog van mening dat die ANC die regerende party moet wees en daarom hulle stem verdien. Dit kan niks anders as ʼn vorm van die Stockholm-sindroom wees nie. Dit is egter nie net op die tradisionele magsbasis van die ANC van toepassing nie.

Ten spyte van president Ramaphosa se lustelose gebrek aan visie, leiding en onvermoë om besluite te neem is daar nog steeds mense wat dan vra, maar wie anders? So al asof Ramaphosa, ten spyte van enige sigbare suksesse in sy termyn dan nog steeds die regte leier is vir die uitdagings waarmee ons worstel. Dit is ook ʼn demonstrasie van die Stockholm-sindroom.

Die ander moontlikheid is dat pres. Ramaphosa lankal nie meer enige beheer of houvas oor die regering het nie. Al hoe meer word die moontlikheid genoem dat die land en die president deur ʼn ANC-faksie buite die Uniegebou of buite sy kantoor bestuur word. Dalk het die president op ʼn persoonlike vlak nie ekonomiese ooghare vir die Russe nie, want tong in die kies moet ons dan ook erkenning gee aan die feit dat die president eerder Amerikaanse dollars in sy meubels by Phala Phala versteek het, as Russiese roebels.

Dit wil dan voorkom asof die ANC of ʼn faksie daarvan die kuns vervolmaak het om nog steeds die steun van die meerderheid van die burgers te behou. VSA se president Dwight D Eisenhower het in Maart 1956 gesê: “As ’n politieke party nie as sy grondslag die vasberadenheid het om ’n saak te bevorder wat moreel en reg is nie, dan is dit nie ’n politieke party nie; dan is dit is bloot ’n sameswering om mag te gryp”.

As die vraag wat moreel en reg is, gevra en van toepassing gemaak moet word op die ANC dan sou ons min tekens hiervan sien. Dan word die sameswering om mag te gryp en te behou dan die mees waarskynlike. Die uitdaging vir die opposisie partye en die burgerlike samelewing is om die sielkundige greep op die kiesers van die ANC te breek.

Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Daar is ook nie ‘n samehorigheid en wil onder andersdekendes om die politieke bestel te verander nie. Ons is nie eensgesind nie. ‘n Paar instansies en hul leiers werk weer in donker kamers aan planne en vra volgelinge om slaafs na te volg, ongeaf die gevolge. Geen openbare debatte en deename nie. Volgelinge moet dié wat nie saamstem nie aanval en verneder. Dit herhinner maar weer wat 30 plus jaar gelede gebeur het. Die geskiedenis word bloot herhaal.

Jaco ·

Toe die verregse AWB in die 1980s ‘n volkstaat bedink het, het die regerende Nasionale Party gesê dis rassisme. Die regse Konserwatiewe Party en die ewe regse Herstigte Nasionale Party (vreemd; dié 2 partye kon NOOIT saamwerk nie) het gesê “ ‘n volkstaat kan nie werk nie”. In 1991, toe ALMAL al geweet het dat die ontbande ANC ‘n veelrassige verkiesing sou wen, het net 60 mense darem Orania gestig, maar na 31 jaar het Orania net so 3000 mense, wat terloops in 8 kerke verdeel is. So selfs daar is onenigheid.
Byna 1 miljoen nee stemme in 1992 se referendum was in 1994 af na 425 000 vir die Vryheidsfront.Die Konserwatiewe Party het mos daardie verkiesing geboikot. Daarna het die VF-Plus in elke verkiesing verswak, tot by bietjie van ‘n oplewing in 2019. Ons het kanse verspeel deur oplossings af te skiet met “dis rassisme”, “dit sal nie werk nie” en” daars nie geld daarvoor nie”, enersdenkende groepe wou ook nie saamwerk nie en ons boikot verkiesings.Ons grawe lekker aan ons eie graf

Cherokee ·

Die antwoord op jou vraag oor waarom die HNP en KP nooit eensgesind was nie, lê opgesluit in die feit dat na die HNP gestig is deur Dr Albert Hertzog, is die KP gestig met ‘n byna identiese beleid. Ek het aan Oom Jaap Marais gesê en ek het op ‘n verhoog aan Ferdi Hartzenberg gesê, dat die KP is gestig deur die Nasionale Party om die Nee-stem te verdeel. Ek is steeds oortuig dat dit so is.
Die Vryheidsfront is gestig deur mense wat oorspronklik ja gestem het, en dit kon nooit werklik groei nie.

Bees Boer ·

Goeie antwoord. Die HNP het nee gesê vir ‘n volkstaat, want hierdie hele land is ons land.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die KP se standpunt was dieselfde. Nou het ons geen land nie. Minderhede moet nooit gulsig wees nie.

Cherokee ·

‘n Ander feit is dat die DA wat gelei word deur n dinamiese spreker, die kind is van die uiters linksgesinde liberale VP, wat geveg het vir ‘n swart regering.

Cherokee ·

Die tema van die artikel behels egter die vraag waarom die ANC aan bewind gehou word, juis deur mense wat daaronder ly. Die teenvraag is egter, watter party die ANC sal vervang. Hoe groot is die moontlikheid dat ‘n koalisie-regering gevorm kan word, wat minder liberaal sal wees as die ANC? Die waarskynlikheid dat massas die ANC sal verlaat ten gunste van die EFF, is skrikwekkend groot. Die toekoms van Suid Afrika is in die weegskaal, want die gemiddelde kieser besit nie redenasie vermoë.

Kosie ·

Praat van Stockholmsindroom…
Die VSA en Engeland was nog nooit ons vriend nie. Meer as 100 jaar word ons al vertrap en verguis deur hulle; ons was net hul slawe om hulle te verryk, terwyl hulle vir ons voorskryf. Maar die “nuwe” agenda vir die Afrikaner is mos dat Rusland die vyand is en hoe durf jy van die evangelie afwyk.
Die Afrikanerbond was nog nooit tot voordeel van die Afrikaner nie, maar beslis tot voordeel van enkelinge en hul meesters in Engeland en die VSA.
Wanneer gaan die Afrikaner begin opstaan vir reg en geregtigheid, of gaan ons altyd vir ons laat voorgeskryf deur die “meningsvormers” en hul meesters?

Republikein in die Wes Kaap ·

En die einste VSA en VK het ons aangemoedig om oorlog te maak teen ons bure, terwyl hulle en ander Wes Europese lande die ANC geldelik ondersteun het en kaders toegelaat het om in die VSA, VK en Wes Europa te woon. Alles was tot voordeel van die weste. Ons was eintlik die Zelinski van vandag.

Anna-marie ·

Presies, VSA en UK het ons aangemoedig om oorlog te maak en toe hulle rug op ons gedraai. Presies wat hulle met Ukraiene doen. Hulle voel NIKS vir die mense van Ukraiene nie. Gebruik hulle net om Rusland mee by tekom.

Schalk ·

Ek dink werklik dit is tyd dat ons begin onderskeid tref tussen Suid Afrikaanse burgers en anc ondersteuners. Geen regdenkende mens kan nog vir die anc stem nie, die sogenaamde 52% is sekerlik die korrupte kriminele onder die bevolking. Maar as jy in ag neem dat die grootste gros anc kiesers ongeskoold is, kan jy nie vir beter vra nie.

Marthinus W ·

Hoeveel kommentators het al in shacks gebly? Tussen modder en vullis en afval. Hulle is meestal ongeskool en kannie ander werk kry as hande-arbeid. Hulle verdien te min om woonstelle of huise te koop of selfs net te huur. Hulle oorleef deur gemors op te tel, uit asblikke te haal, en by skrootwerwe te verkoop. n Krywa vol ou ysters vir R7,00. Hierdie mense word die meerderheid in ons land. Die ANC help deur Sassa-toelae, bv R2080 p.m. as jy 60 jaar en ouer is [ek kry so n toelaag.] Nie alle Sassa-ontvangers sit en niks doen nie; hulle gebruik daardie paar rand en help ander, of bele R250 p.m. in n spaarplan. Prof John Galbraith het dekades gelede in sy boek “The Affluent Society” bevind dat armoede eintlik die norm is; rykdom is die uitsondering. Dis meestal die armes, en die ontvangers van staatstenders wat ANC stem. Niks met n sindroom te doen nie. Die werklikheid! is bietjie anders.

Republikein in die Wes Kaap ·

Hoe dikwels hoor jy die volgende reaksie van ons mense: “Die ANC sal dit nie toelaat nie.”
Dit sê vir my die regime is wel in ons koppe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.