Suid-Afrika is nié die enigste land met woede en ontevredenheid

rassisme mnn_com

Grafika: Mnn.com

Baie Suid-Afrikaners is, tereg, ontsteld en bekommerd oor die uitdagende wyse waarop sommige swart studente die afskaffing of beperking van Afrikaans as onderrigtaal eis. Die swartes wil ook hê die Westers-gerigte akademiese kultuur moet plek maak vir ’n Afrikakultuur. (Wat dit ook al mag beteken.)

Wat mense amper nog meer ontstel is die geweld en aggressiwiteit waarmee dit gepaard gaan. Dis reeds gesien op die kampusse van Stellenbosch, Potchefstroom en die landboukollege Elsenburg, en dan praat ’n mens nog nie eens van dié van Kaapstad en Rhodes nie.

Baie mense sukkel om sin te maak van wat gebeur. Ja, swart rassisme (en, laat ons eerlik wees, wit rassisme) en groter bereidheid tot geweld in die swart kultuur speel ongetwyfeld ’n rol. Maar dis nie al nie, en dit kan loon om bietjie wyer na die saak te kyk.

Die woede en ontevredenheid op Suid-Afrikaanse kampusse word op groter skaal gedeel op straat waar betogings, dikwels gewelddadig, teen gebrekkige dienslewering ’n algemene verskynsel geword het. Belangriker nog, die woedende borsskoonmaak kom internasionaal voor.

In heelparty lande groei die steun van populistiese politici vinnig. Sulke politici is sowel links as regs; al wat hulle bind, is dat hulle ’n algemene woede onder die kiesers met simplistiese oplossings vir ingewikkelde probleme mobiliseer.

In Amerika is daar byvoorbeeld die miljardêr Donald Trump wat in wese nóg links nóg regs is, maar wat die Withuis met regse retoriek wil verower. Hy wil byvoorbeeld ’n muur langs die Mexikaanse grens (nogal op koste van die Mexikaanse regering!) bou, alle Latyns-Amerikaanse immigrante (Amerikaanse burgers ofte nie) arresteer en terugstuur, die olievelde wat tans deur die terreurbeweging Islamitiese Staat beheer word, met geweld verower en die olie vir Amerika vat, toringhoë tariewe op invoere hef, ensovoorts.

Dat driekwart van sy planne teen die wet of selfs die Amerikaanse grondwet is, pla hom en sy ondersteuners min. Net soos die feit dat bitter min daarvan prakties uitvoerbaar is.

Maar Trump, tans ’n Republikein, is nie alleen nie. In die Demokratiese Party word die voorloper, Hillary Clinton, tans vinnig ingehaal deur ’n linkse politikus, Bernie Sanders.

Sanders kan met die Europese sosiaal-demokrate vergelyk word: Hy wil die rykes belas en dié geld deur allerlei hulpskemas aan die armes uitdeel.

In ’n land waar die verskil tussen ryk en arm die laaste 30 tot 40 jaar aansienlik toegeneem het, vind dié benadering nogal weerklank. Dit ondanks die feit dat jy by miljoene Amerikaners ’n haas anargistiese weerstand teen ’n beduidende rol van die staat kry.

In Brittanje weer word die nuus oorheers deur die opgang wat ’n ouderwetse linkse ekstremis, Jeremy Corbyn, maak. Ná sy loesing in die algemene verkiesing vroeër vanjaar kies die Arbeidersparty se lede ’n nuwe leier, en Corbyn loop voor.

Corbyn wil die swenk na die midde wat deur oudpremier Tony Blair in die jare negentig ingelui is, omkeer. Die party moet weer word wat hy was, ’n linkse party wat feitlik enigiets wat beweeg, wil nasionaliseer en sosiaal-ekonomiese ongelykheid desnoods met owerheidsdwang in die ban doen.

Hy wil Brittanje ook uit Navo en die Europese Unie onttrek en kernwapens eensydig afskaf, hy is goeie vriende met terreurbewegings soos Hamas en Hisbolla, en was in die verlede ’n voorbok op die boikotwa teen Suid-Afrika. Hy was altyd ’n goeie maatjie met die ANC en SA Kommunistiese Party.

Die gematigde establishment waarsku dat dit van die Arbeiders ’n onverkiesbare party gaan maak, maar dit help nie. Dit lyk of Corbyn op ’n oorwinning afstuur.

Dis waar dat die meeste Britse kiesers ver van Corbyn se ideologiese starheid staan en dat hy ’n algemene verkiesing loshande sal verloor, as ’n mens peilings kan glo. Maar dis wel interessant dat daar soveel woede onder die tradisionele Arbeiderskiesers bestaan, nie alleen teen die Konserwatiewe premier David Cameron se regering nie, maar teen die gematigde Blair-rigting in die Arbeidersparty.

In Frankryk is dit die taamlik regse Front National (FN) van Marine le Pen wat opgang maak. Le Pen het die laaste jare baie moeite gedoen om die FN uit die regs-ekstremistiese hoekie te trek waar dit onder haar pa en voorganger, Jean-Marie le Pen, beland het. Maar sy wil Frankryk ook uit die EU onttrek, die euro weer met die frank vervang, en die koms van vreemdelinge drasties beperk.

En sy behaal taamlike sukses. Peilings wys dat daar ’n beduidende kans is dat sy die volgende president van Frankryk kan word.

In Spanje kan ’n ander linkse protesparty, Podemos, onder die leiding van Pablo Iglesias, die establishment se kaarte ook lelik deurmekaar krap wanneer die kiesers oor ’n paar weke stembus toe gaan. Soortgelyke prosesse kom voor in Nederland, België en die Skandinawiese lande.

Griekeland het egter die beperkings van dié protespartye gewys. Daar het die Marxistiese Syriza die verkiesing in Januarie gewen met beloftes dat die uitmergelende besnoeiings wat deur die Duitsers en die EU “afgedwing” word, omgedraai sou word.

Maar die werklikheid het premier Alexis Tsipras ingehaal, en hy is gedwing om ’n swenk van 180 grade te maak. Nou staan die land voor nóg ’n verkiesing, en die kans lyk goed dat hy gaan verloor.

Die groot uitsondering is Duitsland, wat met sy Nazi-verlede ’n afsku van populiste het. Bowendien word bondskanselier Angela Merkel wyd oor partygrense heen gewaardeer en vertrou.

Wat kan ’n mens van dié lang lys voorbeelde sê? Daar is een element wat gemeenskaplik is: Die kiesers is oor die algemeen siek en sat vir die onopregtheid en valse beloftes van hul leiers.

Om verkies te word, doen leiers – of hulle nou links of regs is – dikwels ’n klomp pragtige, maar volstrek onuitvoerbare beloftes. Wanneer hulle aan die bewind kom, blyk dit dat hulle skaamteloos gelieg het.

Dis in sulke omstandighede dat kiesers na populistiese, ekstremistiese strooihalms gryp. Hulle stem nie noodwendig saam met Trump, Corbyn of Le Pen se wilde voornemens nie, maar hulle is woedend vir die onbetroubare establishment en wil ’n boodskap uitstuur.

In Suid-Afrika kom iets soortgelyks voor; vandaar die toenemende woede op straat teen die ANC. Op die tradisioneel wit kampusse word sake verder deur die faktor ras en taal gekompliseer, wat dit des te moeiliker maak om op te los.

Feit is ewenwel dat Suid-Afrika se probleme minstens deels in internasionale verband gesien moet word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.