Suid-Afrika is ook ʼn standbeeld

Die oorloggedenkstandbeeld op Markplein in Uitenhage wat aan die brand gesteek is. Foto: Twitter

Die oorloggedenkstandbeeld op Markplein in Uitenhage wat aan die brand gesteek is. Foto: Twitter

Die onderstaande artikel is geskryf deur Janco Jordaan, wat vir twee termyne studenteraadsvoorsitter van die NWU se Potchefstroomkampus was. Hy is tans die direkteur van studentelewe by die Potchefstroomkampus.

Aanvanklik dink mens dat om die kop te eis van ʼn standbeeld van iemand op wie se beursgeld jy dalk besig is om jou graad te voltooi, belaglik is en sal oorwaai. Dan maak berigte van vandalisme in Rustenburg en Uitenhage hoofopskrifte en foto’s van groen-bemorsde Burghers in Pretoria doen die rondte op sosiale media.

Tans is daar verskeie menings op die tafel, maar nog nie werklik iets waarby almal kan of moet berus nie. Een so mening word gehandhaaf deur Assata Shakur in die City Press van 6 April 2015 waar sy van mening is dat “..the European is not your friend…”. Die benadering wat sy volg stel dat vuur met vuur geveg moet word en dat dit nie die tyd is vir gesprekke of debatvoering nie. Sy meen dat standbeelde ten alle koste verwyder moet word en as dit nie in samewerking met owerhede gedoen kan word nie, ander planne gemaak moet word.

ʼn Ander mening, deur Flip Buys, is dat die verwydering van standbeelde nie ten doel het om dit waarvoor die vereerdes gestaan het uit te wis nie, maar eerder dit wat hulle was en dit wie ons nou is.

Alhoewel daar baie ondersteuning vir beide hierdie pole kan wees, lê die antwoord vir die pad vorentoe sekerlik iewers tussen dié twee. Die feit van die saak is dat hoewel ek myself glad nie by me. Shakur se standpunt kan skaar nie, is daar baie wat dit doen. En ongeag of ek aanklank by mnr. Buys se standpunt vind of nie, is daar baie, wat soos ek lyk en praat, wat dit doen.

Op die oog af blyk die antwoord te wees dat alle landsburgers geskiedenis- en tradisie-ateïste moet wees. Dit impliseer dat daar eers begin is om ons land se geskiedenisboeke werklik te skryf ná 1994, want al wat eintlik voor 1994 gebeur het, was die Struggle. Selfs dít behoort egter met hierdie benadering nie deel uit te maak van ons geskiedenis nie, aangesien daar dan niks oorbly waarteen mens sou kon Struggle nie.

Standbeelde word opgerig om ʼn persoon met invloed te vereer of om belangrike gebeure te herdenk. Standbeelde word gereeld beskou as vorms van openbare kuns en vertoonvensters vir die wêreld. Standbeelde, ongeag van wie, is deel van ons land en van ons geskiedenis. Dalk is daar sommige mense wat meer aanklank vind by Kerkplein as by Nelson Mandela Square of andersom, die feit bly staan: albei is ewe deel van ons geskiedenis.

Suid-Afrika is in baie opsigte ook ʼn standbeeld, maar met die oog op die huidige gebeure en die tipe sake wat op die spits gedryf word, kan mens eerlik begin vra: Waarvan is Suid-Afrika ʼn standbeeld en vir hoe lank nog gaan ons dit wees…?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

ISAK DU PLESSIS ·

EK STEUN DIE ANTI-KOLONIALE SIMBOLEVELDTOG… EN MOEDIG GRAAG DIE AFRIKANE WAT SO STERK DAAROOR VOEL AAN OM DIT TOENEMEND-KONSEKWENT DEUR TE VOER
1. TONG IN DIE KIES:
Daarom, as koloniale simbole soos ons standbeelde julle dan pla, stel ek voor –
– Julle raak ook ontslae van julle koloniale oorheersers se kleredrag (oorpakke en al) en dra tradisionele Afrika-klere soos voor kontak met kolonialiste
– Julle straf enige Afrikaan wat ‘n koloniale-produk soos tou, kabel, ‘n elektriese snylem, hamer, verf of boor gebruik om van die aanstootgewende koloniale simbole soos standbeelde ontslae te raak of dit te beskadig
– Julle keer terug na julle tradisionele wonings van modder, hout en gras
– Julle ontkoppel alle koloniaal-ontwikkelde elektriese toevoer na hierdie wonings.
– Julle ontkoppel en vernietig alle watertoevoer dmv metaal of plastiekpype na hierdie wonings
– Julle raak ontslae van julle koloniaal-ontwikkelde vervoermiddels – motors,
motorfietse, fietse, ens en gebruik geen taxi’s, treine of vliegtuie nie.
– Julle straf elkeen van julle mense wat op ‘n koniale teerpad loop, perd-, donkie- of bees ry.
– Julle praat julle inheemse tale en straf elkeen van julle mense wat Engels, Afrikaans of enige ander koloniale taal praat.
– Julle raak ontslae van alle moderne, kommunikasiemiddele soos selfone, telefone, rekenaars, televisiestelle en radios wat deur die kolonialiste ontwikkel en die land ingebring is.
– Julle verbied alle Afrikane om persoonlike hulpmiddels van koloniale oorsprong – soos brille (ook donkerbrille), gehoortoestelle en valstande te gebruik.
– Julle besoek nie langer enige koloniaalopgeleide mediese dokters, verpleegsters of die klinieke waar hulle werk nie… die Afrika-dolos-gooiers en kruie-dokters is sekerlik ‘n beter opsie.
– Julle verbied julle kinders en jongmense die dienste van enige opvoedkundige instelling waar metodes en tegnologie van koloniale oorsprong soos skryfkuns, balpunt penne, potlode, papier, rekenaars en ander onderwyshulpmiddels gebruik word.
– Julle weier om gemunte of gedrukte geld te aanvaar of te gebruik… dit is ‘n uit-en-uit koloniale nalatenskap soos illustreer deur die Cecil John Rhodes beursfonds.
– Julle weier om aan die koloniale vryemarkstelsel deel te hê en fokus toenemend op die ou Afrika-stelsel van ‘n ‘plundering economic system’ soos ons Ingelse koloniale vriende dit beskryf het. (Iets waarmee julle reeds goeie vordering gemaak het sedert ’94 en wat julle maklik kan vervolmaak)
– Julle brei hierdie lys van taboes en voorskrifte uit nagelang ander simbole en ikone van koloniale-oorsprong julle pla.

Ek wens my Afrika-landgenote alle sterkte toe hiermee en ek hoop julle geniet die koloniaal-vrye Afrika-lewe.

En oja, vra die voorvaders se seën op julle pogings en vergeet wat die Bybel daaroor sê soos baie van julle reeds doen.
*****************************************************
2. ERNSTIG:
EN BY NADENKE OOR LAASGENOEMDE, ROEP MY HART NEE. NEE, NEE NEE!!! – kom ons bid dat God julle sal bevry van hierdie bygeloof. En dat Hy ons en julle oë en harte sal oopmaak vir sy evangelie van verlossing en bevryding in en deur Christus. Van liefde, bekering en vergiffenis… van ons wittes teenoor julle en julle swartes teenoor ons wittes. En dat Hy ons almal sal verlos van die Bose… en ons ons daaglikse brood sal gee in hierdie land wat ons deel… sodat ons sal weet dat die eer en die heerlikheid aan Hom behoort… tot in ewigheid.

En… toe ek stilweg hierdie gebed bid, kom ‘n ander insig by my op. Hierdie beeldskending in Suid-Afrika is niks nuuts nie. Dis ‘n ou truuk van Satan om mense daartoe te verlei… soos in die tuin van Eden reeds gebeur het. Toe Adam en Eva die beeld van God wat aan hulle toevertrou was, vernietig het deur toe te gee aan hulle eie grootheidswaan. Waar nietige mense soos God wou word. En hierdie vernietiging van die Godsbeeld in ons, is steeds deel van baie Suid-Afrikaners se manier van leef. Daarom die haat vir die ‘koloniale’ en die blindheid vir wat dit alles vandag ook vir Afrikane beteken. En die wrewel by wittes hieroor… ook by myself.

Isak du Plessis

Martha ·

Dankie Isak vir jou mening. Ek glo dat baie van ons presies voel soos wat jy dit verwoord het. Ek in elk geval voel so, maar dan voel ek dat dit is om teen die stroom te swem in ‘n rivier wat in vloed is. Weet nie wanneer, hoe en waar ek gaan uitspoel nie. Ek bid ook en hou aan my geloof vas dat die Here alleen die uitkoms sal gee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.