Suid-Afrika kan homself nie uit die skuld leen nie

geld-muntstukke-sente-kleingeld

Foto: Pixabay/Pexels.com.

Deur Gerhard Papenfus

In uitsonderlike gevalle mag die gerief van en vermoë om geld te leen, heel voordelig wees. Maar dié “gerief” kan jou ook in ʼn maalkolk van nimmereindige skuld dompel.

Sou my seun, byvoorbeeld, my vertel dat hy ’n R100 000-fasiliteit op sy kredietkaart het, sal dit my glad nie beïndruk nie. Inteendeel, dit sal net bewys dat hy ʼn spandeerder is en dít sal my erg bekommer.

Dit is om hierdie rede dat ek met diepe kommer lees van die mees onlangse Chinese leningsfasiliteite wat aan Suid-Afrika toegestaan is: ʼn verdere R187 000 000 000 vir, onder meer, Eskom en Transnet om uit te mors. China het ook nog R466 000 000 000 vir Suid-Afrika geoormerk – byna meer as die helfte van die R1 000 000 000 000-teiken wat die president in sy visier het. En die olieryke Saoedi-Arabië en Verenigde Arabiese Emirate het ook ’n hele paar nulle, oftewel meer as ʼn “paar” miljard bewillig. Om presies te wees, $10 miljard en $130 miljard onderskeidelik (Altesaam sowat R1 843 miljarde).

Laat ons mekaar reg verstaan: in wat hier ter sprake is, is geen goeie bedoelings nie – hierdie is ’n harde sakebesluit, net soos daar geen goeie bedoelings van jou bank se kant is as dit kom by die leen van geld op jou kredietkaart nie.

Indien enige geleende geld nie goed aangewend word nie (soos om daarmee te woeker om meer te genereer), sal jy tot in der ewigheid geld aan die lener skuld. Terloops, ʼn geweldige groot deel van Suid-Afrika se begroting word gebruik om die rente op vorige lenings te dek.

Die bedrae hierbo genoem is eintlik maar net ʼn druppel in die see in vergelyking met ons land se bestaande leningsrekening. Tot dusver het ons dus maar weinig, indien enige, voorbeelde gesien van waar of hoe die miljarde der miljarde wat geleen is, met vrug gebruik is.

Dink daaraan: dieselfde beginsels wat vir ʼn huishouding geld, geld vir ʼn land. En geld wat geleen word, moet terugbetaal word, selfs al duur dit ʼn leeftyd. As jy nie jou skuldooreenkoms nakom nie, mag daar op jou bates beslaggelê word.

Nog ʼn voorbeeld: Indien ouers spandabelrig is – met ander woorde geld mors – ly die hele familie daaronder en verarm. Indien jy beloftes aan jou kinders maak wat jy nie kan nakom nie, vertrou hulle jou later nie meer nie en begin in opstand kom. As jou kinders boonop nie verstaan waar geld vandaan kom nie, sal húlle ook ’n finansiële las word – en bly.

In Suid-Afrika werk dit so: ons minerale hulpbronne en die vermoë van die belastingbetaler om sy skuld te delg, dien as kollateraal (versekering) as die belegging die slag skeefloop.

Mens leen jouself nie uit die skuld nie; jy kry dit slegs reg as jy harder en slimmer te werk gaan. En natuurlik deur jouself te dissiplineer.

Ongelukkig sien ek nie dat dit in Suid-Afrika aan die gebeur is nie. Ek sien nie dat die miljarde wat vir opvoeding en gesondheidsorg begroot is, vir dié spesifieke doel aangewend word nie. Ek sien geen grootskaalse herstrukturering by Eskom of by enige van die ander oorbelaste semi-staatsinstellings nie. Ek sien ook nie dat tenders beloon word volgens die beginsel van beste prys vir beste gehalte nie. Baie munisipaliteite is bankrot – belasting is verpligtend, ja, maar niemand word met goeie dienslewering daarvoor “beloon” nie.

Bogenoemde is maar ʼn paar voorbeelde van talle ongerymdhede op ʼn ellelange lys.

As ek verder rondkyk, sien ek hoe amptenare en hoës (die belastingontvangers) in besigheidsklas rondvlieg, terwyl die belastingbetalers tevrede moet wees met ekonomiese klas. Omdat ek hierdie onregverdigheid nie kan verdra nie, weier ek om met die SAA te vlieg, tensy ek nie anders kan nie.

Dis hier waar ek wil noem dat ek Pravin Gordhan en Tokio Sekwale al met ekonomiese klas sien vlieg het – daar sal wel ander ook wees wat bereid is om dit te doen. Daar was ook die insident die dag toe ek in die laaste ry in besigheidsklas gesit het met mnr. Cyril Ramaphosa (toe nog adjunkpresident) reg agter my in ekonomiese klas. Hy het my effe verleë aanbod om sitplekke te ruil, beleefd van die hand gewys. Sedertdien vlieg ek slegs ekonomiese klas.

Vir ons land om uit sy ekonomiese dilemma te kom, sal heelwat moet verander. Om mee te begin, sal ons eers ons ingesteldheid teenoor baie dinge moet wysig. Ons sal beslis moet leer om spaarsamiger te lewe. Die regering se roekelose spandering sal ingekort moet word, vaardighede en dienslewering sal drasties moet verbeter – die miljoene burgers wat van toelaes afhanklik is, moet eerder in die ekonomie betrek/ingefaseer word. Die idee is dat hulle nie ʼn las vir die regering bly nie, maar ontwikkel word tot trotse burgers wat kan bydra tot die landsekonomie.

Om ons skuld te delg en daadwerklik ekonomiese vordering in ons land te bewerkstellig, sal alle Suid-Afrikaners wat ʼn verskil wil maak, die sê moet kry (en behou) oor diesulkes wat ons land verniel en agteruit laat gaan. Daarmee saam sal die regering harde, selfs ongewilde, besluite moet neem. In hierdie stadium, met die oog op die 2019-verkiesing, is regeringsbeleide egter net daarop gemik om die populiste tevrede te hou.

Hierdie houding sal nie groei stimuleer nie en nog minder enige skuldlas verlig.

Om te leen, bring slegs kortstondige verligting. Terwyl ons hande klap vir die president vir die beleggings wat hy verseker het, moet die regering ook gemaan word dat, indien hulle nie die gat in die bodem van die emmer toemaak nie, sal alles wat ingesit word, net weer so uitloop en sal Suid-Afrika op die ou end niks oorhê om daarvoor te wys nie.

Inteendeel, ons sal heelwat slegter daaraan toe wees as nou.

  • Gerhard Papenfus is die uitvoerende hoof van Neasa. Hy skryf dit in sy persoonlike hoedanigheid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
koos1

Gerhard, die probleem met die toelase wat betaal word, is dat die mense wat dit ontvang, se stemme gekoop word. As die miljoene in die ekonomie opgeneem word en moet werk soos die res, moet hulle belasting betaal, in plaas van geld ontvang. As dit gebeur, sal hulle ook geleidelik sien hoe die regering hulle, soos die res van die belastingbetalers, faal. Hulle stemme (wel seker nie almal nie) sal geleidelik weg beweeg van die ANC, en dit is iets was die ANC nie kan bekostig nie.

marco polo

Maar dit gaan dan te lekker, dis mos nie hulle geld waarmee die lenings terugbetaal moet word nie, dis die belastingbetaler. En raai wie is die belastingbetalers…?

Snowball

Herbert Hoover het gesê: ” Blessed are the young for they shall inherit the national debt”….. geslagte Suid Afrikaanse belastingbetalers wat in skuld gaan wees by China. Gelukkig het SA Minerale Hulpbronne waarop beslag gelê kan word as die belastingbetalers uiteindelik swig onder die skuldjuk. Voorwaar ‘n mooi nalatenskap om na uit te sien danksy die korrupte ANC.

Rasper

Die volgende wat geskryf is maak my baie bang. Daar staan: “…sal die wat in Suid Afrika ‘n verskil wil maak, die sê moet kry, (en behou), oor diesulks wat on land verniel en agteruit laat gaan.” Dink besigheids eienaars nogsteeds hulle het die hef in die hand? Hoe gaan Afrikanerbesighede die “sê” kry? Hoe gaan enige Afrikaner ooit die sê kry? Soos Roelf Meyer die ANC probeer infiltreer? Soos daardie wit mans wat vir Idi Amin rondgedra het en gekniel het voor hom, net dat sy besigheid oopbly? Ek het min hoop vir politieke leiers gehad, en altyd geglo… Lees meer »

John

Ja Rasper, etiek is net ‘n woord in die Bybel, wat selfs dominees nie wil uitspel nie. Afrokane sal nooit ophou met die speletjie van die verontregte slaaf nie; die liedjie is hier gekomponeer en die note buite Westelinge se klankleer. CR is ‘n Afrokaan. Soos die geldvoorskieters altyd ‘n agenda het, het die lener ook ‘n agenda soos om uiteindelik bankkrotsskap te pleeg en dan martelaar te speel en nooit die lenings terug te betaal nie. Maar soos die magtige Romeine deur die stoere Vandale gestonk is, so is daar ways en means wat elke dwase woesteling ook in… Lees meer »