Suid-Afrika moet oorentoesiastiese lisensiëringsbestel heroorweeg

Martin van Staden (Foto: Verskaf)

Deur Martin van Staden

Ondanks hul oënskynlik edele bedoelings, verhoed die land se lisensiëringswette dat nuwe kleinsakeondernemings tot ʼn bedryf toetree, wat die bestaande maatskappye teen mededinging beskerm.

Boonop skep dit nuwe moontlikhede vir korrupsie en die kriminalisering van ekonomiese aktiwiteite. Suid-Afrika se lisensiëringsregime moet aansienlik afgeskaal word.

Só sê die skrywers van Laws Affecting Small Business: Licensing, deel van ʼn reeks boekies wat die Vryemarkstigting uitgee. Die navorsing in die LASB-boekies dek agt terreine van staatswetgewing en -regulering wat die vestiging en groei van kleinsakeondernemings in Suid-Afrika belemmer en benadeel.

Lisensiëringswetgewing – of dit nou oor permitte, goedkeurings, sertifikate of lisensies gaan – is onafskeidelik verbonde aan strafbaarmaking.

ʼn Mens kan vriende, familie en vreemdelinge byvoorbeeld vrylik op ʼn toer van jou tuisdorp neem. Die oomblik wat jy dieselfde diens – as ʼn “toergids” – wil verkoop, moet jy noodwendig arbitrêre toestemming van die regering hê, anders kan jy beboet of selfs in die tronk gestop word.

Dit is duidelik hoe dié soort benadering tot ekonomiese bedrywighede – tesame met ander onaantreklike ekonomiese beleide soos die arbeidsregime – potensiële nuwe marktoetreders kan afskrik om sakeondernemings van die grond af te kry.

Lisensiëringswetgewing is wêreldwyd ʼn probleem. In Suid-Afrika is daar die bykomende las van omkoopgeld wat betaal moet word aan amptenare wat oor die diskresie beskik om lisensie-aansoeke “in die openbare belang” goed te keur of te weier. Dit skrik potensiële toetreders nog verder af.

Praktiese stappe wat die skrywers van LASB: Lisensiëring aanbeveel, is dat die meeste bestaande lisensiëringswette, indien nie almal nie, herroep moet word. Dit sal die eerste prys wees.

Anders moet lisensieaansoeke deur outomatiese lisensiëring vervang word en geen nuwe lisensiëringswetgewing moet ingestel word nie, tensy dit vir ʼn aanvaarbare regeringsdoelwit streng noodsaaklik is. Lisensiëringswette wat bestaande maatskappye met de facto-monopolieë bevoordeel of mededinging ontmoedig, moet afgeskaf word.

Dat gesondheidspa-operateurs, sauna-eienaars, spraakterapeute, toergidse, boksafrigters, masseurs, en posmanne onder die honderde beroepe tel waar mens ʼn lisensie moet hê om jou werk te doen, is duidelik niks anders nie as ʼn hekwagskema van die regering ten bate van bestaande besighede.

Voorts moet informele straathandelaars se goedere nie gekonfiskeer word bloot omdat hulle nie met ʼn lisensie te voorskyn kom nie. ʼn Munisipale verordening wat sodanige beslaglegging magtig, moet vir die terugbesorging van die eiendom voorsiening maak. Dit behoort ook hoogstens vir smouse wat eetware wil verkoop nodig te wees om ʼn lisensie te hê.

Die skrywers merk tereg op dat lisensiëringswette in die diskoers geregverdig word as dat dit daar is om verbruikers te beskerm, maar in die praktyk het dit die teenoorgestelde uitwerking.

Vir verbruikers is dit in werklikheid die voordeligste as hulle die grootste moontlike keuse tussen verskillende verskaffers van goedere en dienste het – as hulle vertrou word om vir hulself te besluit watter verskaffer hul belange die beste sal dien. Geen regeringsamptenaar is bevoeg om dié besluit namens hulle te neem nie.

Lisensiëringswette bied valse gerusstelling aan die publiek. Al word daar byvoorbeeld van prokureurs verwag om ʼn vierjaargraad te hê en twee tot drie jaar aan die verwerwing van ʼn “lisensie” te bestee wat hulle toelaat om te praktiseer, lees ons gereeld van ʼn prokureur wat weens wanpraktyk van die rol geskrap is. Die “lisensie” het die wanpraktiserende prokureur se dienste miskien net nog duurder gemaak vir die kliënte wat deur hulle bedrieg is.

Die publiek moet verstaan hulle moet hul eie oordeel gebruik om hulself te beskerm – ook byvoorbeeld die uiters nuttige kollektiewe oordeel danksy aanlyn graderingstoepassings wat die afgelope jare die norm geraak het. Die vereistepermit van die regering is dikwels nie die papier werd waarop dit gedruk is nie.

ʼn Mens moet ook nie die fout maak om te dink net omdat ʼn lisensie volgens die wet vir iets vereis word, dit inderdaad nodig is nie. In Amerika, byvoorbeeld, vereis talle deelstate en stede dat barbiers en haarkappers ʼn lisensie moet hê om hul gekose beroep te beoefen. In Suid-Afrika het barbiers en haarkappers sedert minstens 1991 nie ʼn beroepslisensie benodig nie.

Dit wys dat al dink ʼn mens miskien die vereiste lisensie is iets wat verbruikers beskerm, beteken dit in werklikheid net bykomende koste vir die entrepreneur en uiteindelik dus vir die verbruikers. Dít met min of geen bykomende voordele nie.

Lisensiëringswette is veral besonder nadelig vir entrepreneurs wat met min wegspring, of dié uit agtergeblewe gemeenskappe. Vir welvarender entrepreneurs, of dié met toegang tot prokureurs en konsultante, is dit baie makliker om aan die drukkende wette te voldoen. Vir ander is die gevolg dikwels dat hulle óf van hul entrepreneursgretigheid afstand doen, óf die risiko aangaan om nie aan die betrokke lisensiëringsvoorskrifte te voldoen nie.

Suid-Afrika se ekonomie is in die haglikste toestand ooit. Die regering se agenda moet wees om struikelblokke, wat ekonomiese aktiwiteite en groei verhinder, soveel moontlik uit die weg te ruim. Entrepreneurs moet links en regs sakeondernemings laat opskiet om werksgeleenthede te skep en bekostigbare goedere en dienste aan te bied – sonder dat hulle hoef te voldoen aan edikte wat die staat uitvaardig en wat daardie goedere en dienste noodwendig duurder maak.

Die LASB-boekies verteenwoordig ʼn derde van die Vryemarkstigting se boek Radical Economic Transformation: The Legal Route to Economic Freedom, wat ʼn omvattende hervormingspakket aan die hand doen om die Suid-Afrikaanse ekonomie te laat floreer.

Om nie alleen die bestel van lisensiëringswetgewing nie, maar inderdaad die ekonomie in sy geheel te bevry, is gebiedend noodsaaklik.

  • Martin van Staden is die redakteur van die Vryemarkstigting se boek, ‘Radical Economic Transformation: The Legal Route to Economic Freedom’. 

Die volledig boekie oor lisensiëring kan hier gelees word. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.