Suid-Afrika: ’n Stelsel van identiteitspolitiek

Die EFF-lede wat pas as lede van die parlement beëdig is. (Foto: Twitter via @EFFSouthAfrica)

Deur Monica Mynhardt

Die 2019-verkiesingsuitslae het vir talle Suid-Afrikaners en selfs politieke ontleders as ’n groot skok gekom – partye wat moes groei, het gekrimp en partye wat moes wegkwyn, het floreer. Daar bestaan egter ’n wêreldwye en ook plaaslike tendens wat partye se suksesse en nederlae in vanjaar se verkiesing verduidelik. Hierdie verskynsel staan bekend as identiteitspolitiek.

Hoewel, identiteitspolitiek oorwegend as negatief en verdelend gesien word, hoef dit nie te wees nie. Ongeag jou gevoelens, is dit in ieder geval iets wat baie van die Suid-Afrikaanse politiek verduidelik en, myns insiens, ook tot voordeel van álle groepe in die land kan wees.

Wat is identiteitspolitiek?

Identiteitspolitiek is die politieke organisering van groepe op grond van ’n gemeenskaplike eienskap, spesifiek met die doel om die belange van die groep te beskerm en bevorder, dikwels ten spyte of ten koste van ’n groter groep/geheel.

Die konsep het vervolmaking gevind in die latere deel van die 20ste eeu, spesifiek met groter momentum van die burgerregte- en vrouebewegings in die 1960’ en 70’s in Amerika. In hierdie tydperk het swart Amerikaners nie gelyke regte geniet nie en was in talle state steeds onderworpe aan talle wetgewing wat segregasie onderhou het. Gemarginaliseerde mense wat van gelyke regte ontneem is, het op grond van ’n gedeelde identiteit in groepe georganiseer ten einde hulself te mobiliseer teen onderdrukking. Hierdie burgerregtebeweging versinnebeeld so ook die doel van identiteitspolitiek perfek – die organisering van groepe met ’n gedeelde identiteit om regte en belange te beskerm.

Identiteitspolitiek het egter ’n toenemend verdelende instrument geword. Groepe aan beide kante van die spektrum gebruik hierdie konsep om ’n “ons” en “hulle” te skep – nie noodwendig om ’n groep se belange te bevorder nie, maar eerder net om die ander groep te demoniseer in ’n poging om politieke en soms morele hoë grond te verkry.

Politieke rolspelers en aktiviste het toenemend die nuttigheid van hierdie taktiek begin uitbyt om politieke groepe te mobiliseer. In Amerika word dit al meer gebruik om te verdeel en demoniseer, veral in gevalle waar sekere groepe nié van gelyke regte ontneem word nie. Dit is rede waarom daar so ’n uiters negatiewe konnotasie aan hierdie konsep gemaak word. Die gebruik daarvan om mense binne betrokke groepe te verenig met die doel om belange te beskerm, is egter die weergawe van identiteitspolitiek wat noemenswaardig is en in Suid-Afrika baie betekenisvol kan wees.

Die alternatief tot identiteitspolitiek, oftewel die neiging om eerder in groepe te organiseer en funksioneer, is individualisme.

In die beoordeling van identiteitspolitiek as verskynsel en politieke taktiek, moet daar ’n opweging plaasvind tussen dié twee moontlikhede. Die belangrike vraag in hierdie opsig is: Is dit beter om as individu of as deel van ’n groep te organiseer?

In die Suid-Afrikaanse konteks blyk dit in die beskerming en bevordering van belange duidelik meer voordelig te wees om eerder deel van ’n groep te wees.

Internasionale identiteitspolitiek: ’n opkomende tendens

Met die einde van die Koue Oorlog en die gepaardgaande val van die Sowjet-blok in die 1990’s, was die wêreld besonders optimisties oor die wyse waarop state en groepe voortaan met mekaar sou omgaan. Na verwagting sou alle state vanuit ’n liberaal-demokratiese grondslag verwesters en globaliseer tot een interafhanklike en interverwante nuwe wêreldorde. Daar is ’n verwagting gekoester dat ’n meer homogene en geassimileerde internasionale orde tot stand sou kom.

In sy boek The Clash of Civilizations het Samuel P. Huntington egter voorspel dat hierdie homogene globale kultuur nié tot stand sou kom nie en dat die wêreld homself weer sou begin organiseer op kulturele vlak – ’n nuwe wêreldorde met uiteenlopende kultuurgemeenskappe as die grondslag.

Met die opkoms van nasionalisme wêreldwyd, die groeiende magsbasis van gelowe soos Islam wat byna as ’n kultuur bestempel kan word en die toenemende terugkeer van mense na hul eie unieke kulturele identiteite, blyk Huntington reg te wees hieroor. Katalonië se onafhanklikheidstryd van Spanje is so ook ’n hedendaagse versinnebeelding van hierdie tendens.

Die idee van ’n homogene globale kultuur is niebestaande en ’n onwenslike doelwit om na te jaag. Duisende van hierdie kulture is onassimileerbaar – assimilasie wat forseer word, doen noodwendig afbreuk aan alle kulture.

Hierdie internasionale tendens kan ook duidelik in Suid-Afrika bespeur word en verder ook gebruik word om dieper insigte te kry oor die rigting waarin ons land op pad is.

Plaaslike identiteitspolitiek: die 2019 verkiesing

Een van die belangrikste eienskappe van vanjaar se nasionale verkiesing was die opkoms van die streeksparty. Talle ontleders het hierdie as ’n slegte en verdelende ding bestempel, siende dat streekspartye op spesifieke groepe/kulture gefokus het, eerder as om ’n allesomvattende Suid-Afrikanistiese kultuur te bedien.

Van hierdie partye is as rasnasionalisites en verdelend bestempel en afgemaak as antidemokraties. Die partye wat die grootste groei getoon het in hierdie verkiesing, was almal partye wat identiteitspolitiek as taktiek toegepas het. Hierdie partye het onbeskaamd op spesifieke kulturele groepe gefokus.

Die partye wat die mees noemenswaardige groei vanjaar getoon het, was partye wat met spesifieke identiteite/kulture vereenselwig. Dit is belangrik om daarop te let dat die opkoms van die streeksparty juis rassepolitiek verwerp en terugkeer na kultuur as die basis vir belange en identiteit.

Die IVP staan tereg bekend as die Zoeloe-party. Meer as 90% van die IVP se nasionale steun het uit KwaZulu-Natal gekom – ’n provinsies wat oorwegend Zoeloe-sprekend is. Verder was die enigste ander plekke waar die IVP noemenswaardige steun verwerf het, in gebiede met ’n bogemiddelde aantal Zoeloe-sprekers. Daar bestaan ’n onmiskenbare korrelasie tussen die teenwoordigheid van Zoeloe-sprekendes en IVP-steun.

Die VF+, ’n tradisioneel Afrikaner-party, was na alle waarskynlikheid vanjaar se grootste suksesverhaal – die partye het meer as verdubbel in absolute steun en verteenwoordiging in die nasionale en provinsiale wetgewers. Gebiede waar die VF+ groot steun verwerf het, en selfs verkiesingsdistrikte gewen het, is gebiede met ’n bogemiddelde konsentrasie Afrikaanssprekendes.

GOOD het weer groot sukses onder bruin gebiede verwerf. ALJAMA het groot sukses onder Moslem-kiesers verwerf, en gevolglik in gebiede met hoë konsentrasies Moslems.

Hoewel die EFF oënskynlik net ’n radikale swart party is, speel sekere swart kulture selfs in hierdie party ’n beduidende rol. Die EFF se grootste steun is van Noordwes, Vrystaat en Limpopo afkomstig – al drie provinsies met bogemiddelde Sesotho, Tswana en Pedi verteenwoordiging. Hierdie drie tale, wat die Sesotho-taalfamilie verteenwoordig, is die groot EFF-tale en ook aanduiders van EFF-steun.

Hierdie terugkeer na eie unieke identiteite is wêreldwyd glad nie ’n vreemde verskynsel nie – lande waarin mense organiseer op grond van kultuur en dienooreenkomstig hul eie regte beskerm en belange bevorder, is nie vreemd nie.

Hoewel hierdie teenwoordigheid van identiteitspolitiek as negatief bestempel is, verteenwoordig die opkoms daarvan ’n beweeg na ’n aansienlik meer natuurlike Suid-Afrika. As ’n land met uiteenlopende en soms teenstrydige belangegroepe is die opkoms van identiteit-spesifieke partye juis wat ons land nodig het. Eerder as partye wat voorgee asof hulle die mitiese homogene “almal” verteenwoordig, het Suid-Afrika juis partye nodig wat onbeskaamd vir sekere belangegroepe opstaan. Tans word ons politiek gedefinieer deur die rassespel van getalle en meerderhede. Die oomblik wat ons afstand doen van die arbitrêre klassifikasie van ras en terugkeer na organisering rondom kultuur en taal, sal ons politieke en burgerregte landskap drasties verbeter.

Kultuur, eerder as ras of kunsmatige grense, bepaal mense se belange en identiteite.

Gevolgtrekking

Suid-Afrika se uiteenlopendheid, geskiedenis en houding teenoor individuele regte noodsaak identiteitspolitiek, eerder as individualisme. Veral minderheidsgroepe het nodig om identiteitspolitiek aan te wend om eie belange te beskerm. Vanuit daardie groepsbeskerming sal mense weer die geleentheid hê om individuele vryheid te geniet.

Dit ís waar dat identiteitspolitiek ten koste van ’n groter geheel/groep is – in ons land is dit ten koste van Suid-Afrikanisme. Dit is egter juis die ding wat ons land nodig het.

Ons het nodig om hierdie oorkoepelende homogene kultuur te verwerp, sodat ons die onskatbare waarde van ons eie kulture kan ontsluit.

  • Monica Mynhardt doen tans ‘n internskap by die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stephan de S ·

Dankie vir die duidelike uiteensetting v identiteitspolitiek. n Vraag wat by my nie wil weggaan nie, is: hoekom is kultuur n morele basis vir politieke rangskikking en ras nie. Vergeet vd histerie wêreldwyd oor ras op die oomblik. Maar wanneer die histerie eendag gaan lê, hoe kan taal en kultuur morele gronde wees vir politieke ordening maar ras nie? Help my. Wat mis ek dalk?

Gert ·

Goeie vraag. Soos ek dit verstaan, mag jy trots wees op jou taal, kultuur, godsdiens, en allerhande ander identiteite, maar as dit kom by ras, mag jy net trots wees daarop as jy nie wit is nie.

Andreas ·

Watter eienskappe onderskei ras/etniese groepe van mekaar, dus wat bepaal bv die Afrikaner, se identiteit? Antwoord, dit wat julle hier genoem het, maar wit soos Gert dit hier uitdruk, gaan jou baie ver bring nie.

Dirk Breytenbach ·

Ons kan redeneer soos ons wil, en soos die tendense tans wereldwyd uitspeel sal groepe van watter aard ookal toenemend uitkomste bepaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.