Suid-Afrika nie meer die enigste poort tot Afrika

Argieffoto van die Anahita-oord in Mauritius. Foto: Anahita.mu

Ná die politieke verandering in Suid-Afrika in 1994 en die uitskakeling van die laaste elemente van isolasie wat die land geteister het, is allerweë aanvaar dat Suid-Afrika die poort tot die res van Afrika sou word. Suid-Afrika met sy goeie infrastruktuur, eerste wêreldse ekonomiese sentrums en sterk instellings is wêreldwyd beskou as die leier in Afrika. Terwyl groot skenkings en lenings aan die land beskikbaar gestel is, het internasionale maatskappye en organisasies gedurende die 1990’s kantore in die land kom vestig ten einde uit die potensiaal van Suid-Afrika, maar ook die res van Afrika voordeel te put.

Vandag is Suid-Afrika nie meer die grootste ekonomie van Afrika nie. Talle Afrika-lande het beter eiendomsreg, minder korrupsie, laer misdaad en ’n vryer ekonomie as Suid-Afrika. Terwyl buitelandse beleggings in Suid-Afrika stagneer, neem dit sterk toe in lande soos Mauritius, Kenia en Rwanda.

Met ’n vinniggroeiende bevolking, baie hulpbronne en geskikte klimaat hou Afrika groot potensiaal vir die volgende dekade in. Mauritius en Rwanda is twee lande wat die afgelope tyd bewys het wat in Afrika moontlik is. Mauritius is tans per capita die rykste land in Afrika met ’n gemiddelde welvaart van 33 000 Amerikaanse dollar per persoon.

Behalwe dat Mauritius ’n gewilde vakansiebestemming is en die land se ekonomie sterk op toerisme gebaseer is, het die land oor die afgelope tien jaar sy ekonomiese basis dramaties verbreed deur regulasies te verminder, belasting te verlaag, onderwys te verbeter en op die kernfunksies van regering naamlik veiligheid, infrastruktuur en goeie monetêre beleid te fokus. Saam met Namibië en Botswana is Mauritius een van die veiligste lande in Afrika met ’n vrye media, lae inflasie en dalende werkloosheid.

Die totale welvaart in Mauritius het die afgelope 10 jaar met 195% gestyg. Dit is gedryf deur ’n groeiende middelklas wat weer moontlik gemaak is deur sterk ekonomiese groei. Terwyl die toerismebedryf steeds groei, het die land sterk nuwe finansiële dienste en handelsektore gevestig. Die belangrikste drywer egter van die groei in welvaart is weens buitelandse beleggings en die immigrasie van welvarende mense uit Europa en suidelike Afrika.

Wat oor die afgelope 10 jaar in Mauritius gebeur het, gebeur ook tans in Rwanda, Senegal, Botswana en enkele ander Afrika-lande. Die kombinasie van goeie eiendomsreg, ’n vrye ekonomie, lae misdaad, goeie infrastruktuur en verantwoordelike monetêre beleid is besig om hierdie en andere opkomende Afrikalande van die res te onderskei.

’n Mens sou kon vra waarom internasionale finansiëledienstemaatskappye wat oor die afgelope paar jaar in Mauritius kantore gevestig het, dit nie in Suid-Afrika gedoen het nie. Netso sien ons dat groot mynmaatskappye hul beleggings uit Suid-Afrika na ander Afrikalande verskuif het. Eiendomsontwikkelingsmaatskappye uit Europa bou vandag kantoorgeboue, woonstelblokke en meenthuiskomplekse in Kigali, Dakar, Port Louis en Gaborone.

Suid-Afrika het nie heeltemal sy posisie in Afrika verloor nie, maar min is oor van die groot droom van die leier van Afrika. Onsekerheid oor eiendomsreg, stygende misdaad, geen ekonomiese groei en hoë werkloosheid is slegs enkele van die redes waarom Suid-Afrika toenemend sy rol in Afrika verloor.

Ons almal gaan die prys daarvoor betaal.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

tamboti ·

Dit is baie subjektief geredeneer.
As jy na SA se MISDAAD prestasie kyk, is ons besig om die belangrikste misdaad poort na Afrika te word; smokkel met alles onwettig en wettig onder die son, tot mense handel en orgaan oes. So ook word alles onwettig ge-oes, koper, aluminium en ander minerale en metale, vuurmaak hout en vee en gesaaides, en vrugte op grootskaal.
Dan praat ek nie eers oor die Miljarde wat uit die staat ge-oes word nie.
SA van industriele reus in Afrika na Misdaad reus!
Viva Afrika

Adriaan ·

Dis hartseer om te sien hoe ander lande bewese stappe implementeer wat hulle op die pad na sukses plaas en dan eerstehands te ervaar hoe die ANC telkemale die teenoorgestelde doen.

JoeV ·

Ons probleem is die ANC kan nie bekostig om ‘n opgevoede middelklas te skep nie, hulle sal al die stemme verloor sodra mense daardie vlak bereik.
Sosialisme en Kommunisme se uiteindelike doel is juis om sleg beheer van die land te behou en ekonomiese groei en onderwys is beslis nie deel van so ‘n plan nie.
Het al veertien jaar gelede in Nigerië gesien dat lande soos Nigerië, Ghana, Mosambiek en Angola besig is om agter te kom wat Afrika vir hulle beteken en begin om die vergrype na onafhanklikheid reg te stel met sterker bestuur, soms vanuit Europa, selde uit Sjina!!!

Wdp ·

Die ouens in beheer van die land is instaat om enigeiets wat werk te breuk. Dan dink hulle die hele afrika kyk op na hulle.

Tobie Klarens ·

Senekal, nogal, ne? In die Vrystaat of Senegal in Wes Afrika?

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Tobie

Dankie vir jou navraag. Die fout is nou reggestel om te verwys na die land Senegal in Wes-Afrika.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens Maroela Media

John ·

Onse fop-prez het maar weer die Mandela-haka moes opdis voor sy kollekte-bordjie omgestuur is. Die holruggeryde storie oor arme SA se vere begint nou al uitval van al die gebruik. Die sg struggle lyk al te veel na ‘n strangle-spulletjie en die darling of de world soos ‘n blikskottel sonder boom wat skaamteloos met ‘n ou vuil paplepel gepeper word…

DewaldS ·

Verkneukel ek myself nou in jou skerpsinnigheid en jou kreatiewe taalgebruik!

Jaco ·

@ John, eers was ek baie negatief nadat ek hierdie berig gelees het, maar toe lees ek jou kommentaar en laat jy my kliphard lag! Dit was nou skerp! Dankie daarvoor! Briljant!!

koos1 ·

Ironies was dit al hierdie lande wat gehelp het om SA te “bevry”. SA het die mees “progresiewe ” grondwet. En waar bring dit die land…… reguit in die afgrond in.

Jerry ·

Goed opgesom deur die skrywer dat almal in SA die prys gaan betaal!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.