Suid-Afrika se ‘deurmekaar’ buitelandse beleid

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Die pas afgelope samesprekings tussen die Suid-Afrikaanse minister van buitelandse sake, Naledi Pandor, en haar Amerikaanse eweknie, Anthony Blinken, vestig weer die aandag op die vraag waar die swaartepunt van Suid-Afrika se buitelandse beleid behoort te wees.

Blykbaar het die gesprek op sigself goed verloop. Volgens die BBC is daar gepraat oor handel en beleggings, gesondheid en wetenskap, waar ooreenstemming bereik is.

Maar die “olifant in die kamer”, luidens die BBC, was Oekraïne. Blinken het Pandor blykbaar vergeefs probeer oortuig om die Amerikaanse standpunt van afkeuring oor Rusland se inval in Oekraïne te steun.

Suid-Afrika wil amptelik nie kant kies nie. Pandor het gesê sy en Blinken het “reguit” oor die saak gepraat, maar dat die uiteenlopende standpunte “nie dié vriendskap beskadig het nie, maar inderwaarheid versterk het”.

Nou ja, ʼn mens moet aanvaar dat politici soos Blinken en Pandor sake by sulke verskille nie op die spits wil dryf nie. Dis positief dat dit die betrekkinge in elk geval nie merkbaar laat versleg het nie.

Maar kom ons kyk dieper na die saak. Waarop berus ʼn land se buitelandse beleid?

Elke regering benader die saak uiteraard anders. Tog, meestal tree veral twee faktore – of dalk moet ons eerder oor kategorieë faktore praat – na vore: Ideologiese oorwegings en harde belange.

Wat die ANC-regering se benadering rakende die Oekraïne-kwessie betref, lyk dit duidelik dat ideologiese oorwegings ʼn belangrike rol speel.

Die ANC het naamlik al sedert die vroeë sestigs ʼn intieme verhouding met die ou Sowjetunie gehad. Dit was in dié geval op ideologiese vlak, want die ANC (en uiteraard die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, wat die bondgenootskap toenemend oorheers het), het deur die jare steeds meer kritiekloos agter die Sowjetunie aangeloop.

ʼn Mens kon dit sien in die wyse waarop elke aspek van die Sowjetunie se buitelandse beleid – van sy oorheersing van Sentraal-Europa tot sy inval in Afganistan – klakkeloos deur die ANC/ SAKP verdedig is. Plus natuurlik die wyse waarop die bondgenootskap die Sowjet-weergawe van die Marxisme-Leninisme voor 1990 in Suid-Afrika wou invoer (ek behandel dit breedvoerig in my boek Terreur en Bevryding, wat vroeër vanjaar verskyn het).

Nou ja, dinge het sedert 1990 natuurlik in sekere opsigte drasties verander. Die ANC/ SAKP regeer in Suid-Afrika; die Sowjetunie het in sy 15 deelrepublieke versplinter; en Rusland se greep op Sentraal-Europa is verbreek. Rusland se internasionale invloed is ʼn fraksie van wat die Sowjetunie s’n was.

Tog dui alles daarop dat ʼn belangrike restant van die ANC/ SAKP se geneentheid teenoor die Kremlin steeds oorleef. Die regering se weiering om Moskou se skaamtelose aggressie teenoor Oekraïne af te keur, is ʼn goeie aanduiding daarvan.

Die vraag is of dit wys is. En hier kom die tweede kategorie in, naamlik harde eiebelang. Rusland se politieke, ideologiese en ekonomiese invloed in die wêreld is slegs ʼn fraksie van wat dié van die Sowjetunie was.

ʼn Mens sou in die vorige bedeling dalk nog kon redeneer dat dit onwys sou wees om ʼn vyand van ʼn supermoondheid soos die Sowjetunie te maak. Maar dit geld nie meer nie.

Om die waarheid te sê, Rusland se beeld is veral weens sy inval in Oekraïne internasionaal só sleg dat eiebelang die skep van meer, eerder as minder, afstand verg. Suid-Afrika se harde eiebelang beteken nie dat hy by wyse van spreke troepe moet stuur om Oekraïne te gaan help nie, maar wel dat hy die algemene Westerse afkeurende houding – al is dit van ʼn afstand – moet steun.

Neutraliteit is nie regtig ʼn opsie nie. Veral nie omdat dit op ʼn oorblyfsel van die ANC/ SAKP se liefdesverhouding met die Kremlin berus.

Maar die saak het ook nóg ʼn kant. As ʼn mens aanvaar dat ideologie ook ʼn oorweging is wat ʼn land se buitelandse beleid bepaal, is groter afstand teenoor die Kremlin nog meer noodsaaklik.

Dit gaan hier nie om die feit dat pres. Wladimir Poetin se regime ʼn diktatuur is wat geen afwykende menings duld, en wat inderwaarheid teenstanders wat hy as gevaarlik beskou, vermoor nie. Dis – ook uit die ANC/ SAKP se oogpunt – veel erger as dit.

Poetin is inderdaad geen kommunis (meer) nie, al is sy politieke verlede gegrond in sy lidmaatskap van die Kremlin se geheime polisie, die KGB. Vir sover ideologie ʼn rol in sy lewe speel, is hy eerder ʼn ekstreem-regse Russiese nasionalis.

Al sy geskrewe en gesproke uitlatings van die laaste jare wys dat hy die uiteenval van die Sowjetunie as ʼn geweldige ramp beskou, nie omdat dit die einde van die kommunisme was nie, maar omdat dit ʼn nekslag vir Rusland/ Sowjetunie se oorheersing in die wêreld beteken het. Sy beleid teenoor die Russiese buurstate is, luidens sy eie woorde, om ʼn einde aan hul onafhanklikheid te maak en hulle opnuut onder die Kremlin se heerskappy te bring.

Dis daarom dat hy Oekraïne se bestaansreg ontken en waarom hy militêre aggressie aanwend om dié land opnuut te onderwerp. En, as hy sy sin met Oekraïne sou kry, kan ander gewese deelrepublieke van die Sowjetunie daarna volg.

Die ANC/ SAKP se nostalgiese houding teenoor die Kremlin, en die regering se weiering om kant tussen Rusland en Oekraïne te kies, berus gevolglik op een van die grootste ironieë wat ʼn mens jou kan indink. ʼn Regering wat sy eie ideologiese rigting as links sien, steun ʼn ekstreem-regse, nasionalistiese bewind wat skaamtelose aggressie teenoor ʼn buurstaat pleeg, al is dié steun ook hoe bedek.

Dit wys maar net weer hoe onsuiwer die internasionale houding van die Suid-Afrikaanse regering is, en hoe deurmekaar sy buitelandse beleid gevoer word.

Die probleem is dat dit onnodig afstand skep tussen ons land en die Weste, die wêrelddeel waarmee ons harde ekonomiese (en dus ook politieke) belange verreweg die sterkste is. Dáárteen sink ons bande met Rusland totaal in die niet.

Met ander woorde, die regering se houding insake Oekraïne druis regstreeks teen ons eiebelang in. Ons sou veel nader aan die breë Weste moet staan as ons weet wat goed vir ons is.

Maar wat is die kans dat die ANC/ SAKP dit sal insien? Ek bly maar skepties…

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die Weste sal ons ook maar laat val soos ‘n warm patat. Wes Europa word verdring deur uitlanders en Amerika is in ‘n warboel. Ons moet ook kennis neem wat Rusland en China in Afrika doen, goed of sleg. Hierdie globale stryd kan Afrika dwing om kant te kies, en dit sal lei tot ernstige probleme. Veral sakeleiers moet katvoet loop en sinvolle menings begin lug.

annie ·

Wat ‘n eensydige outydse en EU- Nederlandse siening. Indien Leopold vir Zelenskyyy aanbid, good for him, dan sit hy en baie ander saam met beautiful Pelossi om die nuwerwetse Nazi-gesinde Navo-tafel. Die vliegtuig wat Oekraïene destyds afgeskiet word aan Rusland toegedig te spyte van bewyse. Indien Rusland se gas- en olievelde plus sy minerale darem Shell se speelveld kan word, nê?

Republikein in die Wes Kaap ·

En voordat Blinken sy oë kon knip is hy weer landuit met sy tas vol nuwe planne. Of mens daarvan hou of nie, China gaan die globale agenda in die tweede helfte van die eeu domineer. Net ‘n paar kernbomme sal hulle dalk keer…

Marthinus W ·

Poetin “ekstreem regs”! In Rusland kla hulle dat hy te gematig is. Rusland is in Oekraine omdat daar 30 biolabs is, Kief nie hulle kernwapens weggemaak het nie, en Navo kernwapens ongeveer 15 MINUTE van Moskou af het. En SA ondersteun Rusland weens BRICS; dis wat bondgenote doen. (Kyk hoe pleeg Europa ekonomiese selfmoord om hulle bondgenoot te ondersteun)

Oefening vir Leopold: Laat Rusland/China kernwapens op Kuba, Suid-Amerika plaas. Indien die VSA se oukei, dan is Rusland/China verkeerd.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Uitstekende artikel.
Elkeen wat ‘n ander land dreig met kernwapens moet in die openbaar nakend en onderstebo opgehang word. Waarom lees ek nie in die openbare media dat Naledi Pandor vir Putin aanspreek waar Putin ander lande dreig met kernwapens? Het sy ‘n benul van die pyne en ellende wat mens ervaar by blootstelling aan radioaktiewe bestraling komende van ‘n kernbom ontploffing!

Treurwilger ·

Om Putin uit te sonder is ietwat oneerlik.
Die vervaardiging en gereed hou van kernwapens is op sigself ‘n dreigement.
Enige land in die besit van kernwapens, hetsy in die betrokke land óf op die grens van ‘n ander land, is ‘n skurk na my mening.

Treurwilger ·

Waarom word kernwapens hoegenaamd deur enige land vervaardig en aangehou?
Elke enkele land met kernwapens moet dit nóu tot niet maak, want hulle is deur die bank besig om met die toekoms van die planeet te dobbel.
Daar is nie uitsonderings nie.

(Maroela moedig lesersdebat aan, soms … )

Republikein in die Wes Kaap ·

Amerika was die eerste en tot dusver die enigste land wat kernwapens gebruik het. Die Amerikaners kan ons seker inlig oor al die pyn en ellende.

Marthinus W ·

“Rusland se beeld internasionaal sleg”: dit is omdat die hoofstroom Westerse media dikteer word deur Amerika. (n Lae hou, wat dui op n gebrek aan insig in internasionale politiek) Lees bietjie wat die die ander nuusdienste skryf. Selfs in Duitsland begin daar al hoe meer stemme opkom wat kla oor die eensydige nuus en afkraking van Rusland. En Zelenski begin nou gekritiseer word. Dit beteken hy het sy doel gedien, hy gaan nou vir die wolwe (beer) gegooi word. Amnesty Intl het die afgelope week n verslag uitgestuur wat wys op Kief se oorlogsmisdade [hulle kruip in skole, hospitale weg, sodat, as die Russe hulle aanval, hulle kan “bewys” dat die Russe skole en hospitale aanval]. Die mense wil weet waarom Zelenski en sy vrou in Vogue poseer, terwyl daar n oorlog aan die gang is. En wat van al die geld wat genoem wor din die Panama Papers?

Republikein in die Wes Kaap ·

Daar was nou al ‘n paar gevalle waar Zelenski se troepe POW tronke in die ooste met kanonne bestook. Baie lede van Azov en Russiese wagte is al gedood. Indien die Russe vir Azov vrylaat het Zelinski probleme

Autobahn ·

Onwaarskynlik dat die meningsmaker die slegte beeld van Afrikaners en Boere in bv die Duitse hoofstroom-media hier as „argument“ sal gebruik.

Een van die afgesaagsde taktike om mense se menings te probeer manipuleer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.