Suid-Afrika se fiskale afgrond

Deur prof. Jannie Rossouw en dr. Fanie Joubert

Prof. Jannie Rossouw.

Die Fiskale Afgrondstudiegroep (FASG of Fiscal Cliff Study Group in Engels) waarsku reeds sedert 2014 dat Suid-Afrika se staatsfinansies op ’n onvolhoubare wyse ontwikkel. Eenvoudig gestel, kon die groei in staatsinkomste net nie byhou met die groei in uitgawes nie. Gevolglik het die situasie onvolhoubaar geraak.

Die konsep van ʼn “fiskale afgrond” het nie noodwendig ʼn algemeen aanvaarde akademiese definisie nie. Dit is in 2012 deur Ben Bernanke (destydse hoof van die Amerikaanse Sentralebank) gebruik om die moontlike impak van die beëindiging van talle samelopende belastingverligtings op die Amerikaanse ekonomie te verduidelik, waarna die terminologie meer gereeld gebruik is.

Die FASG het die term fiskale afgrond vir Suid-Afrika herdefinieer as die punt waar drie tipes regeringsuitgawes, naamlik maatskaplike toelaes (social grants), vergoeding van staatsamptenare en rente op staatskuld, gesamentlik meer as regeringsinkomste sal beloop. Al drie hierdie regeringsuitgawes het in die afgelope dekade skerp gegroei, dus in ’n tydperk waartydens ekonomiese groei meestal onderpresteer het. Voorts is al drie lopende uitgawes, met ander woorde dit is uitgawes wat nie toekomstige bates (en dus inkomste) sal genereer nie. Dit is wel belangrik om te meld dat hierdie analise vanuit ’n finansiële volhoubaarheidsoogpunt gemaak word. Die ontleding  probeer dus nie die noodsaaklikheid of waarde-vir-geld-aspekte van die uitgaweposte oplos nie.

Die Aanvullende Begroting van 2020 is uit noodsaak in reaksie op die ekonomiese impak van die Covid-19-krisis in Junie vanjaar deur Tito Mboweni, minister van finansies, ter tafel gelê. Syfers uit die begroting toon dat Suid-Afrika nou die afgrondpunt bereik het, aangesien die som van die drie uitgaweposte meer as 100% van die belastinginkomste tydens die 2020/’21-boekjaar sal beloop.

Dit is ‘n drastiese agteruitgang in vergelyking met die Februarie 2020-begroting, toe hierdie verhouding 75,5% van die belastinginkomste was. Trouens, as ons verder terugkyk, is die posisie selfs meer kommerwekkend, omdat hierdie verhouding in 2007/’08, ongeveer 55,0% was. Dit beteken die verhouding het bykans verdubbel oor die afgelope dekade terwyl die Suid-Afrikaanse regering nie in staat was om die neiging hok te slaan nie. Dit beteken dat daar minder fondse beskikbaar is vir ander belangrike staatsbestedingsinitiatiewe, byvoorbeeld infrastruktuurbesteding.

Weens die Covid-19-inperking sal die regering se inkomste vanjaar met sowat R300 miljard afneem. As hierdie inkomste in die volgende fiskale jaar aangevul kan word (of ten minste kan terugkeer tot die voor-krisis vlak), kan dit vir enkele jare ruimte skep om van die fiskale afgrond te herstel. Maar dit sal drastiese optrede van die kant van die regering verg om permanent van die afgrond te herstel, sowel as ’n vinnige herstel in algemene ekonomiese aktiwiteit – aspekte wat geen waarborg het nie.

Staatsdiensvergoeding is ‘n belangrike drywer van die onvolhoubare fiskale posisie. Tydens die laaste dekade het die staat se vergoedingsrekening jaarliks teen ’n gemiddelde koers van sowat 3,5 persentasiepunte bo die inflasiekoers gegroei. Dit was, onder meer, die gevolg van jaarlikse kerfaanpassings wat staatsamptenare ontvang, bo en behalwe hul jaarlikse aanpassings. Staatsdienssalarisgroei sal ten minste tot die inflasiekoers beperk moet word om die stand van die fiskale afgrond te laat stabiliseer.

Dr. Fanie Joubert.

Die ander uitgawepos wat vinnig gegroei het, is rente op staatskuld weens die skerp toename in die regering se leningsbehoefte. Dit dra by tot die minister se waarskuwing dat Suid-Afrika bedag moet wees op ’n soewereine skuldkrisis. Internasionale leners se bereidwilligheid om fondse aan die Suid-Afrikaanse regering te leen, moet nie verwar word met die vermoë van Suid-Afrika om hierdie fondse terug te betaal nie.

Voorts lei Suid-Afrika aan burokratiese ooraanbod (burocratic oversupply). Die belastingbasis kan nie meer die burokrasie ondersteun nie. Slegs ongeveer 600 000 individuele belastingbetalers lewer nou meer as 20% van Suid-Afrika se jaarlikse belastinginkomste. Sekere burokratiese dienste moet eenvoudig geskrap word om staatsuitgawes onder bedwang te bring.

Suid-Afrika het in ‘n dekade geen besparingsbegrotings (austerity budgets) gehad nie. So ’n begroting is ten minste ‘n gebalanseerde begroting. In werklikheid het Suid-Afrika oor die afgelope dekade jaarliks groot begrotingstekorte getoon van gemiddeld meer as 5% van BBP. Dit beteken dat geen reserwekapasiteit geskep kon word nie.

Die ideale rol van die staat in die ekonomie is om ’n omgewing te skep waarbinne die privaat sektor kan floreer en só ekonomiese groei kan skep. Die probleem met Suid-Afrika se verswakkende fiskale situasie is dat die staat op ’n stadium ’n las op die ekonomie raak. Onder hierdie omstandighede sal lopende uitgawes ander noodsaaklike uitgawes (byvoorbeeld die skep en instandhouding van infrastruktuur) begin kniehalter.

Te midde van hierdie fiskale krisis is dit noodsaaklik om instellings te beskerm wat steeds goed funksioneer, byvoorbeeld die Reserwebank. Terselfdertyd moet regeringsteun gestaak word aan openbare ondernemings wat by herhaling misluk het, byvoorbeeld die Suid-Afrikaanse Lugdiens, Denel en Alexkor. Hierdie ondernemings is nie krities vir Suid-Afrika se sukses nie, en die realiteit is dat die land hul bloot nie meer kan bekostig nie

Die FASG het sedert 2014 verskeie berekenings oor die fiskale afgrond gemaak. Figuur 1 toon die ramings van die fiskale afgrond, soos gemaak ná die 2007-, 2020- en 2020- aanvullende begrotings. Die opwaartse beweging in die lyne toon ’n duidelik verswakkende neiging tussen 2007 en 2020 (blou na geel lyn op die grafiek). Die jongste berekenings ná die aanvullende begroting van 2020, wys die verdere drastiese agteruitgang wat die ekonomiese inperkingsmaatreëls gebring het, asook dat die fiskale afgrondspunt bereik is (groen lyn op die grafiek).

Die berekenings toon verder dat die fiskale afgrond teen 2022 tydelik afgeweer kan word as regeringsinkomste ná die Covid-19-grendeltydperk herstel. Die onderliggende neiging van staatsfinansies bly egter onvolhoubaar, met ’n verdere afgrond wat teen 2029 dreig. Die Suid-Afrikaanse regering gaan dus drastiese, en heel moontlik polities onpopulêre keuses, moet maak om ’n permanente fiskale afgrond te vermy.

  • Jannie Rossouw is die tussentydse hoof van die Universiteit van die Witwatersrand se Bestuurskool en dr. Fanie Joubert is senior lektor aan die departement ekonomie by Unisa. Die opinies is dié van die skrywers en weerspieël nie noodwendig die opinies van enige van die universiteite nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pieter ·

Dit sal die ANC kommuniste nooit doen nie. Geen verskil tussen zim en suid afrika nie n kommunis bly n kommunis maak nie saak waar in die werld dit is nie. Vat hulle belasting geld weg dit is al.

Adam Adriaan ·

Nou het die man wat die geld voorsien ook nie meer geld nie. SO? wat nou? As jy nie werk sal jy nie eet nie. Feit soos ‘n koei. Hoop die klomp kommuniste het darem die bietjie grysstof om dit te verstaan, dat almal moet werk en werk moet geskep word. Kan nie verwag dat die oorgrote meerderheid van die bevolking sit en handevou en wag dat ander hulle moet voed nie. Hier kom ‘n ding, ‘n ding wat spring. Interesante tye wat voorlê!!!

annie ·

Ons probleem is nie meer die bou van ‘n heining (veral nie die Lelie-tipe of dalk juis as gevolg daarvan) vòòr die afgrond nie, maar ‘n leer om teen die hoè kranse op te kan klouter. Ons is reeds onder. Lig die masker en ruik die riool.

Suzette ·

Ek dink nie die regering weet wat fiskale afgrond beteken nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.