Suid-Afrika se fiskale afgrond

ekonomiese krisis

Argieffoto.

Deur Jannie Rossouw, Fanie Joubert en Adèle Breytenbach

Suid-Afrika het van 2000 tot 2007 ʼn tydperk van buitengewone hoë ekonomiese groei beleef.  Hierdie groeiprestasie was onder meer die gevolg van die voordeel vir Suid-Afrika uit hoër kommoditeitspryse en groter uitvoervolumes, wat op hul beurt deur sterk internasionale vraag gedryf is.  Gedurende hierdie tydperk was die ekonomiese groeikoers gemiddeld meer as 4% per jaar. Die goeie ekonomiese groeikoers het tot hoër belastinginkomste vir die staat gelei, want stewige ekonomiese groei brei die staat se belastingbasis uit.

Chili, ʼn groot koperprodusent en –uitvoerder, is ʼn voorbeeld van ʼn land wat soortgelyk bevoordeel is.  Die Chileense ekonomie het baat gevind by die skerp styging in die prys van koper gedurende die bloeitydperk vir kommoditeitspryse.  Die Chileense regering het in 2000 ʼn oorskotriglyn vir die owerheidsbegroting aanvaar.  Kragtens hierdie riglyn het die regering elke jaar vir ʼn oorskot (waar inkomste uitgawe oorskry) begroot en die surplusfondse gebruik om staatskuld te betaal.  Dit is ʼn baie verantwoordelike wyse vir ʼn regering om die voordeel van hoër belastinginkomste te gebruik.

Die Suid-Afrikaanse regering het nie soortgelyke oorskotriglyne ingestel nie en kon slegs daarin slaag om gedurende 2007 en 2008 klein begrotingsoorskotte te behaal.  Die regering het ook daarin geslaag om staatskuld te verlaag van meer as 40,0% van die BBP (bruto binnelandse produk) in 2000 tot nagenoeg 26,0% in 2008. Dit lyk egter asof daar geen beplanning was vir “wanneer die goeie tye ophou nie” en die finansiële krisis (2008-09) het die prentjie dramaties verander.

Die rede hiervoor is dat die toename in belasting sedert die vroeë 2000s ten dele gebruik is om ʼn uitgebreide stelsel van sosiale toelaes te befonds en om staatsdiensindiensneming (en gevolglik staatsdiensvergoeding) aansienlik uit te brei. Die gevolg hiervan was dat die fiskus skielik in die moeilikheid beland het toe die gety teen ontluikende kommoditeitsuitvoerders (soos Suid-Afrika) gedraai het – mens kan immers nie sommer willens en wetens teruggaan op beloftes wat gemaak is en gewoontes wat gekweek is nie!

Fiskale-afgrond

Figuur 1: Suid-Afrika se jaarlikse begrotings asook bruto skuld, persentasie tot BBP. Bron: SA Reserwebank.

Voorbeelde hiervan is duidelik in die begrotingsrede van Februarie 2002, waartydens die minister van finansies die regering se voorneme aangekondig het om kindertoelaes aansienlik uit te brei.  Teen 2002 het 4,2 miljoen Suid-Afrikaners vir toelaes gekwalifiseer.  Tans kwalifiseer meer as 16 miljoen Suid-Afrikaners vir sosiale toelaes.  Oor dieselfde tydperk het die besteding aan toelaes toegeneem van R29,6 miljard (sosiale oordragte en administrasie) per jaar tot die huidige vlak van R130,1 miljard (sosiale bystand) per jaar. (Let daarop dat die kategorisering, asook benaming, binne die sosiale ontwikkelingsbegrotingsraamwerk aangepas is, wat die direkte vergelyking moeilik maak).

Terselfdertyd het owerheidsindiensneming ook skerp toegeneem.  Teen 2008 het die regering op sentrale en provinsiale vlak 1,3 miljoen mense in diens gehad.  Die aantal het met 250 000 tot die huidige vlak van 1,55 miljoen toegeneem.

Hierdie toename in indiensneming het gepaard gegaan met ʼn skerp toename in die owerheid se vergoedingsrekening.  Afgesien van indiensname, is hierdie toename gedryf deur algemene jaarlikse verhogings bo die inflasiekoers, bevorderings en jaarlikse kerfverhogings van staatsamptenare.  In nominale terme het die vergoedingsrekening toegeneem van R195 miljard in 2008, tot die huidige vlak van R480 miljard per jaar.

Ons het reeds in April 2014 in ʼn artikel in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe aangedui dat die regering bedreig word deur ʼn fiskale afgrond.  Ten spyte van hierdie waarskuwing, het die regering in 2015 tot ʼn onbekostigbare algemene verhoging in staatsdiensvergoeding ingestem.

Die finansiële krisis van 2008-09 het die inkomstegroei van die Suid-Afrikaanse regering ʼn ernstige knou toegedien.  Weens swak besluite in die voorspoedjare, het die besteding aan sosiale uitgawes en owerheidsvergoeding ongelukkig bly groei, ten spyte van trae ekonomiese groei.  Besteding aan sosiale toelaes en owerheidsvergoeding het vanaf 45,5% van totale inkomste in 2008 tot net duskant 60,0% van totale inkomste in 2015 gegroei (ʼn dramatiese sprong in sewe jaar).

Met ʼn voortsetting van hierdie neiging, word Suid-Afrika bedreig deur ʼn potensiële fiskale afgrond: Die punt waar alle owerheidsinkomste gebruik moet word om bloot dié twee uitgawe-items te dek, naamlik sosiale toelaes en owerheidsvergoeding.

Die vraag is dus watter kant van die probleem die staat meer waarskynlik sal takel: die uitgawe- of inkomstekant?

Alhoewel die minister in die mees onlangse Mediumtermyn Begrotingsraamwerk (Oktober 2015) aangedui het veral staatsdienswerkers sal hul gordels stywer moet vastrek, bly daar baie sosiale druk op die regering en is dit onwaarskynlik dat dramatiese aanpassings verwag kan word. Gevolglik het die regering geen ander keuse as om belastings te verhoog nie.  Figuur 2 toon dat die Suid-Afrikaanse regering hoofsaaklik op drie inkomstebronne kan staatmaak: Belasting op toegevoegde waarde (BTW); maatskappybelasting en persoonlike inkomstebelasting.

fiskale-afgrond-02

Figuur 2: Owerheidsinkomste volgens inkomstebron: 2015/16. Bron: 2015-begroting.

Die implikasies is duidelik.  BTW kan beswaarlik verhoog word, want dit benadeel arm mense.  Dus is hoër maatskappy- en inkomstebelasting nodig om te verseker dat Suid-Afrika ʼn fiskale afgrond vermy.  Voorts is daar sprake van ʼn moontlike welvaartsbelasting.

Ons is nie ten gunste van ʼn welvaartbelasting nie.  Dit lê besparing aan bande en sal ʼn nuwe waardasie- en invorderingstelsel tot gevolg hê, met gepaardgaande addisionele  kostes.  As belastings dus verhoog moet word, verkies ons hoër persoonlike inkomstebelasting.  Ons voorkeur is egter bestedingsbesuinigings, eerder as hoër belastings.  As belastingsverhogings onafwendbaar is, toon ons berekenings dat die regering bykomend sowat R10 miljard kan invorder met twee ekstra belastingkerwe: 45% op inkomste tussen R1 miljoen en R2 miljoen en 50% op inkomste bo R2 miljoen.

Suid-Afrikaners betaal nou die prys vir die regering se spandabelrigheid in die vorige dekade.  Ons  het egter nie enige ander keuse as om nou die bitter pil te sluk nie.  Die alternatief is ʼn afgradering van die land se kredietgradering, wat die land nog vinniger by die fiskale afgrond sal bring.

  • Jannie Rossouw is die hoof van die Universiteit van die Witwatersrand se skool vir ekonomiese en sakewetenskappe.
  • Fanie Joubert is ‘n senior lektor aan die departement ekonomie by die Universiteit van Suid-Afrika.
  • Adèle Breytenbach is ook ‘n senior lektor aan die departement ekonomie by Universiteit van Suid-Afrika.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Johann Marx ·

Goeie genugtig….wat ‘n ellelange verduideliking vir ‘n situasie wat in een woord opgesom kon word: “Onvermoë”.

Gemsbok ·

Hoe vergelyk die verwagte begrotingstekort oor die volgende 3 jaar met die bykomende inkomste van R10 miljard wat deur twee ekstra belastingkerwe ingevorder kan word wat julle voorstel?

Dit lyk vir my maar na ‘n druppel in die emmer wanneer die welsynstoelae en die salarisbesteding met R285 miljard toegeneem het volgens die syfers in jul artikel.

Laastens, is julle werklik verbaas dat die regering “ten spite van jul waarskuwing” onbekostigbare verhogings instem? Op grond waarvan het julle gehoop dat die regering enige waarde sal heg aan jul waarskuwings?

tamboti ·

Wat van die geld op die vliegtuig van Duitsland af, wat glo meermale gedoen word?
Word hierdie geld op die boeke gewys, of “print” ons regering geld soos Zimbabwe om aan hul GROOT behoeftes te voldoen?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.