Suid-Afrika se krisis net so groot soos Eskom sʼn

Deur Daniel du Plessis

Argieffoto: GCIS

Daar is al baie in die media uitgewei oor die presiese omvang van die uitdaging wat voorlê vir André de Ruyter – en dit is kwalik moontlik om dit te oorskat. President Ramaphosa het egter vroeër vandeesweek sy stem dik gemaak: De Ruyter se aanstelling is die eerste stap na stabiliteit.

Mens moet egter wonder tot watter mate hierdie dalk wensdenkery aan Ramaphosa se kant is – nie net oor Eskom nie, maar ook oor Suid-Afrika as geheel.

De Ruyter en Ramaphosa sit immers met dieselfde tipe uitdaging. Kan De Ruyter Eskom se ineenstorting stop? En kan Ramaphosa dit doen vir Suid-Afrika?

Waar maatskappye nie na wense funksioneer nie is dit tipies nodig om te oorweeg of daardie organisasie se struktuur gepas is. Maak die maatskappy se versameling van bates, strategieë en personeel sin? Veral gegewe die omstandighede waarbinne hy sake moet doen?

Suid-Afrika het dan ook, net soos Eskom, ’n bepaalde struktuur – ’n bepaalde korporatiewe strategie. Ook, soos met Eskom, help dit kwalik om onsself in hierdie struktuur vas te staar totdat alles tot niet gegaan het. Ons moet aanpas waar nodig.

Hoe lyk die werklike Suid-Afrika dan? Kortom, effens soos ’n piramideskema – die meerderheid van Suid-Afrikaners het, direk en indirek, blote afhanklikes van die staat geword.

Hoeveel mense is, byvoorbeeld, afhanklik van hul werk in die kolossale staatsdiens? Of in onvolhoubare staatsondernemings met gans te veel werkers?

Dit is egter nie net armes wat so afhanklik is van die staat nie. Sowat 29 000 staatsamptenare verdien meer as R1 miljoen per jaar. Dit is sowat 20% van alle Suid-Afrikaners wat meer as R1 miljoen verdien – en hierdie syfer sluit nie eens werknemers van staatsinstellings soos Eskom en SAL in nie.

Wanneer dit kom by diegene wat minder ooglopend deur die staat onderhou word – soos die begunstigdes van maatskaplike toelaes en kontrakteurs vir SEB-kontrakte – is die ekonomiese uitkring van hierdie afhanklikheid moeilik om te bepaal.

Hierdie afhanklikheid is egter geensins ’n eenrigtingstraat nie: deur sy eie mag te vestig op hierdie manier, het die ANC ook homself weer, op sy beurt, afhanklik gemaak van die voortbestaan van hierdie stelsel.

Daniel du Plessis. Foto: Facebook

Wanneer dit werk, werk hierdie struktuur goed. Die groot probleem met hierdie strategie is egter die inherente onvolhoubaarheid daarvan.

Hier ontstaan daar twee Suid-Afrika’s. Een is gerat om te baat by ekonomiese groei en ontwikkeling. ’n Ander is gebou rondom ’n immergroeiende staat en, daarmee saam, ’n immergroeiende las op die produktiewe dele van die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Daar is doodeenvoudig net soveel méér wat afhanklik is as diegene wat bydra. In ’n land van sowat 57 miljoen, word 80% van die belastinglas deur minder as 2 miljoen gedra.

Polities maak dit veel meer sin om jou te steur aan een van hierdie groepe – selfs al is die langtermyngevolge noodlottig.

Die Suid-Afrika van vandag is op ’n baie spesifieke manier gebou. Belasting is so hoog as wat dit kan wees – en selfs nóg ’n bietjie meer. Die ekonomie stagneer. Bates en kapitaal binne die staat se beheer is mettertyd so erg verteer dit heeltemal onbruikbaar blyk te wees (dink hier, byvoorbeeld, aan Eskom en waterinfrastruktuur).

Kortom, die Suid-Afrikaanse masjien is gebou vir verbruik en nie produksie nie – en hy is stadig, maar seker, besig om homself te verorber.

Kan ons die situasie beredder? Beslis. Maar ons eerste stap behoort te wees om te herbesin oor hoe presies hierdie hele ding werk.

  • Daniel du Plessis is ’n regsontleder by Sakeliga, ’n onafhanklike sakegemeenskap.
Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Feite ·

Goeie insiggewende ontleding, maar heeltemal te optimisties om te dink dat SA te redde is, omrede SA reeds gered sou gewees het indien dit moontlik was en dit sou net moontlik wees indien die ANC radikale ekonomiese transformasie gestaak het. Dit het nie gebeur nie. Die vryval na verarming het reeds begin en SA kan nie omdraai en terugklim in die vliegtuig nie!

André-Chris ·

Cyril Ramaphosa het nog eers transformansie op sy brein en dit sal hy nooit uit sy gestel kry nie. ook Onteiening sonder vergoeding. Terselfdertyd en in dieselfde nuusbrief sê hy gister dit is taboe dat mense se ras nog ‘n rol moet speel in hul aanstelling. Nou is ek deur die wind, het hy uit een mond of twee monde gepraat? Dalk het hy met die een mond vir ‘n sekere gehoor gepraat en met die ander een vir ‘n ander gehoor. Dit sal nogal help as hy onderaan elke skrywe of toespraak van hom ‘n voetnota kan sit dat mens kan verstaan wat hy nou eintlik gesê het. Ek het idee hy praat aspris in sirkels, laat die dobbelsteentjies dan val soos hulle wil.

HPV ·

André-Chris jy is reg, hy praat met ‘n gevurkte tong, vir elke gehoor net wat hulle wil hoor.
Tranformasie sal nie stop terwyl daar nog iets is om te plunder nie. Dit sal aanhou tot almal in die land niks meer besit, hul ou self in die voet skiet beleid, as ek nie ‘n motor het sal ek sorg dat jy ook nie een besit ens.

Sink ·

Die berig bevestig maar net weer dat die SA-Titanic reeds kantel terwyl almal drink en party hou.

Sinkende bootjie ·

Hierdie berig bevestig weer eens waarheen die landjie heen oppad is terwyl almal party hou.

Boer-in-die-Wind ·

“….die Suid-Afrikaanse masjien is gebou vir verbruik en nie produksie nie – en hy is stadig, maar seker, besig om homself te verorber.” Is die beste die-kruks-van-die-saak-in-‘n-neutedop beskrywing wat ek in ‘n lang tyd gelees het.

Wat in die Suid-Afrika se ekonomie onder ANC beheer gebeur roep beelde van Jan Rabie se ‘Drie Kaalkoppe eet te same’ beelde op.

Sarie ·

Die S A masjien was gebou vir produksie maar toe word hy weggegee vir verbruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.