Suid-Afrika se probleem is geen lone, nie laer lone

Cyril_Ramaphosa_1

Adjunkpres. Cyril Ramaphosa. Foto: ANA

Adjunk-president Cyril Ramaphosa het die afgelope naweek die voorgestelde nasionale minimumloon aangekondig vir die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad in ʼn verslag aan dié ligaam. Die nuwe voorgestelde nasionale minimumloon is vasgestel op R3,500 per maand of R20 per uur. Hierdie getal is voorgestel deur ʼn paneel raadgewers met ʼn gepaardgaande tentatiewe tydsraamwerk om die landswye beleid in werking te stel.

Ramaphosa het ʼn beroep gedoen op alle Suid-Afrikaners om hierdie verslag en voorstelle te debatteer en bespreek. Juis met hierdie gees van robuuste redevoering in gedagte, is hierdie opiniestuk gepen.

Daar word aangevoer die voorgestelde minimumloon is daarop gemik om die kwessies van armoede en ongelykheid te hanteer. Daar is egter ʼn groot leemte gelaat in hierdie verband.

Eerstens is ʼn nasionale minimumloon veronderstel om te sorg vir meer geld in die sakke van werkende Suid-Afrikaners. Die Suid-Afrikaanse werkloosheidsyfer staan tans, volgens die nuutste ontstellende data, by 27.1%, die hoogste werkloosheidsyfer sedert 2003.

Die skokkende werklikheid is dat die minimumloon, wat juis gemik is op die verligting van armoede, meer as ʼn kwart van die land se burgers eenvoudig ignoreer. Ongeag waar ʼn mens persoonlik staan in terme van die debat oor die gevolge van ʼn breë nasionale minimumloon, is dit nie juis moeilik om te sien dat grootse probleem wat ons land se ekonomie het, nie voldoende en effektief opgelos word deur so ʼn loonstruktuur nie. Dit blyk dat die Suid-Afrikaanse regering nie in staat is om ʼn gunstige en volhoubare omgewing vir werkskepping te verseker nie en dwaal juis daarom by ander alternatiewe rond om oor die korttermyn opportunistiese guns te wen by voorheen lojale politieke bondgenote.

Ons land se enkele grootste kwessie oor die ekonomie is die feit dat Suid-Afrika een van die hoogste werkloosheidsyfers ter wêreld het. Ons fokus moet dus nie op moontlik impotente loonbepalings wees nie, maar eerder op hoe die die ekonomie gegroei en ontwikkel kan word om meer werksgeleenthede te skep vir die miljoene Suid-Afrikaners wat werkloos is.

Vanuit die meerderheid studies wat gedoen is oor die gevolge van ʼn minimumloon op die nasionale indiensnemingskoers, bly een aspek duidelik: ʼn verandering in die loonstruktuur van ʼn land is ʼn sekondêre faktor tot die nasionale arbeidsmark se ontwikkeling, met vraag na indiensneming as die enkel grootste oorwegende faktor.

Dit is glashelder duidelik in verskeie gevallestudies. Werkloosheid het in die 1920’s in die VSA nie skielik gedaal weens ʼn verandering in die lone van Amerikaners nie, maar weens ʼn groeiende en gesonde ekonomie waarin meer werksgeleenthede geskep is. Die Groot Depressie wat daarop gevolg het, was nie die gevolg van hoër of laer lone nie maar eerder ekonomiese wanbestuur (soortgelyk aan die gevaarlike gedrag wat tot die 2008 wêreldwye ineenstorting gelei het) en beleggingsbesteding wat as gevolg daarvan getuimel het.

Suid-Afrika moet dus nie kyk hoe die regering ons armoedeprobleem kan oplos deur nasionale skemas nie, maar eerder hoe werkskepping ʼn gety kan word wat alle armoede-skepe kan lig. Tog, ten spyte van ons kommerwekkende werkloosheidsyfer wat ons grootste ekonomiese bedreiging is, ignoreer die regering die probleem deur die minimumloon as politieke en selfdienende weerligafleier te gebruik.

Die aankondiging van ʼn voorgestelde minimum loon is mynsinsiens, slegs polities gemotiveerd in ʼn poging om vakbonde te paai na die merkwaardige verlies aan ondersteuning wat die ANC-regering moet hanteer in die dorre elektorale landskap na die 2016 plaaslikeregeringsverkiesings. Die besluit om ʼn nasionale minimumloon voor te hou as die geneesmiddel vir vele ekonomiese kwale, is soos om die kraak in ʼn motorongelukslagoffer se fibula te herstel sonder om na die platgevalde longe van die pasiënt om te sien (en om behoorlik te probeer bepaal of die pasiënt dalk met insekdoder in die gesig gespuit is).

Suid-Afrika se primêre ekonomiese probleem is nie lae lone nie, maar geen lone.

  • Daniël Eloff is ʼn regstudent aan die Universiteit van Pretoria, met ʼn besonderse belangstelling in die Publiekreg. Hy is ʼn gereelde skrywer vir die aanlyn nuuswebtuiste The Rational Standard en ook betrokke as ʼn studenteleier in sy voormalige posisies as voorsitter van die UP Debatsvereniging sowel as die Hoof van Leierskapsontwikkeling by die Tuks Leadership and Individual Program.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Daniël Eloff

Meer oor die skrywer: Daniël Eloff

Daniël Eloff werk by Hurter Spies Ing., ʼn regsfirma wat spesialiseer in openbare belang-litigasie en is tans besig met sy meestersgraad in publiekreg. Hy is ook ʼn direkteur van AGENDA, ʼn nie-winsgewende organisasie wat hulself beywer vir die ontwikkeling van debat in Afrikaans in Suid-Afrikaanse skole en op ons land se tersiêre kampusse.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Theresa

Is die 27% werkloosheidsyfer dié onder wettige landsburgers of sluit dit al die oorlopers oor grense heen in? Punt een behoort die regering ordentlike grensbewaring en bewaking te doen, sodat almal wat wil nie net die land instroom nie. Dis een van die grootste geïgnoreerde feite en een wat slegs die regering kan regstel. Dan, sou dit nie dalk weer beter gaan as alle straatsitters, bedelaars en leegleêrs van die strate afgehou word nie? Met die groot opsie dat as hul regtig wil werk soek, hul by ‘n kantoor (elke voorstad kan een hê) hul name gaan aanmeld, die nodige… Lees meer »

Jean

Suid Afrika se probleem van geen lone is weer die regering se onvermoe om werk te skep. Hulle het sover moontlik werk afgeneem en mense afgele om hulle met die nuwe ‘generasie’ te vervang, so ook al die staatsdiensposte, en nou is daar nie meer om net af te neem en uit te deel nie, nou moet hulle poste skep en hulle weet nie hoe nie.

JC

Dankie vir jou nugtere en uitstekende ontleding van die kwessie Daniel.
Jy is sowaar ‘n Tukkie om op trots te wees!!! HOU SO AAN EN MAAK ONS TROTS!!

vossie

Deel van die probleem van werkloosheid is die wetgewing oor diensvoorwaardes; dit is makliker om van jou vrou te skei as om van ‘n onbevredigende werker ontslae te raak.

hans

SA se probleem is luigatgyt.N biljoener soos ramaposa sal nooit kan verstaan wat op die vloer aangaan nie.