Suid-Afrika se varswaterwerklikheid

Deur prof. Anja du Plessis

Foto ter illustrasie (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Die werklikheid van die skaal en omvang van Suid-Afrika se groot wateruitdagings asook, in sommige gevalle, krisisse, wissel in die spesifieke tipe, frekwensie, grootte en intensiteit.

Hierdie wateruitdagings is niks nuuts nie en is ontwikkel en verskerp oor die afgelope twee tot drie dekades. Suid-Afrika bereik egter steeds toenemende kantelpunte om huidige en toekomstige watersekerheid te verseker.

Ongelukkig het bepaalde probleme óf nuwe wateruitdagings geskep in plekke wat nie in die verlede groot waterverwante probleme gehad het nie óf reeds bestaande probleme vererger – hierdie probleme sluit in voortgesette swak waterbestuur en wanbestuur, nie-afdwinging van bestaande wetgewing, swak of geen beplanning, voortdurende gebrek aan optrede tesame met ʼn nou verskanste kultuur van ontoerekeningsvatbaarheid en nie-deursigtigheid.

Wanfunksionele, insolvente en/ of nie-presterende munisipaliteite en ander waterdiensleweringsinstellings (met die primêre mandaat van voorsiening van watertoegang, betroubare voorsiening, veilig vir drink- en sanitasiedienste) soos Johannesburg het in sommige gevalle ʼn perfekte storm van waterverwante kwessies geskep. Hierdie vererger uiteindelik uitdagings in so ʼn mate dat burgers, selfs in metropolitaanse gebiede, gelaat word met onbetroubare toevoer of droë krane.

Talle voorbeelde van waterkrisisse is regoor die land sigbaar. Vanaf die cholera-uitbraak in Hammanskraal, nuut geïmplementeerde waterstortings in Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni asook die voortslepende en toenemende rioolkrisisse oor Suid-Afrika. Spesifiek die waterkrisisse binne die eThekwini plaaslike munisipaliteit vernietig ekologiese funksionering, bedreig algehele menslike gesondheid, het ʼn nadelige impak op besighede en sosio-ekonomiese groei in die streek – veral vir diegene wat afhanklik is van toerisme as deel van hul lewensbestaan.

Ons moet onthou dat Suid-Afrika ʼn waterskaars land is, gekenmerk deur ʼn oorheersende droë tot semi-droë klimaat, wat onder gemiddelde reënval (465 mm per jaar) ontvang – 395 mm minder as die globale gemiddelde van 860 mm per jaar. Suid-Afrika se oneweredig verspreide reënval lei boonop tot ongelyke verspreiding van waterbronne, en word onder die 30 droogste lande ter wêreld gerangskik. Die algehele waterkrisis word as die tweede hoogste risiko vir sake doen in die land gesien, naas die werkloosheidskrisis.

Ander groot wateruitdagings of -krisisse sluit in:

  1. Watervoorsiening voldoen nie aan huidige (onvolhoubare) waterbehoeftes en -onttrekkings nie.
  2. Onbetroubare en/ of gebrekkige watervoorsiening en sanitasiedienste in beide stedelike en landelike opsette.
  3. Deurlopende ineenstortings van vervalle waterinfrastruktuur wat bydra tot ewig verhogende nie-inkomstewater, waar meer as 41% van behandelde drinkwater hoofsaaklik verlore gaan voor dit selfs die verbruiker bereik.
  4. Verhoogde en voortgesette besoedeling deur verskeie bronne wat die verspreiding of selfs verergering van groot wateruitdagings veroorsaak – wat insluit eutrofikasie, versouting, sedimentasie, versuring en mikrobiese besoedeling van reeds skaars varswaterbronne.
  5. Nie-funksionerende en/ of oorweldigte afvalwaterbehandelingswerke (WWTWs) wat grootliks bydra tot rioolbesoedeling, die agteruitgang of vernietiging van wateromgewings. Hierdie is duidelik sigbaar uit grootskaalse visvrektes asook groot menslike gesondheidsrisiko’s soos diarree, cholera en tifus.
  6. Gebrek aan afdwinging en implementering van bestaande wetgewing, beleid, strategieë en daargestelde standaarde.
  7. Ongeskikte watermoniteringsnetwerke met sommige monsternemings wat vir jare nie plaasvind nie (spesifiek tussen 2012 en 2015), of die wanfunksionering van moniteringstasies of -toerusting wat nooit vervang word nie.

Al hierdie primêre dryfkragte het eerstens erge en verhoogde stres geplaas op reeds skaars waterbronne – beide in die hoeveelheid beskikbaar asook die kwaliteit daarvan.

Waterstorting is nou ook by die lys gevoeg, wat swak en/ of onbekwame waterbestuur op alle vlakke en van relevante belanghebbendes beklemtoon. Onbekwame waterbestuur het ongelukkig bykomende druk op die land se reeds skaars waterbronne geplaas aangesien die water deur voortgesette besoedeling ongeskik vir gebruik en daardeur nutteloos gemaak word.

2023 in oorsig

Kortom, Suid-Afrika se waterkwessies het in getalle en omvang in 2023 toegeneem.

Die verskansing van ontoerekeningsvatbaarheid en wanfunksionering van plaaslike munisipaliteite (verantwoordelik vir die verskaffing van betroubare watervoorsiening van ʼn geskikte standaard) het duideliker geword. Meestal te danke aan ʼn voortgesette toename in bewustheid van waterkwessies uitgelig deur die burgerlike samelewing en met ondersteuning van betrokke akademiese werk en ondersoekende joernalistiek.

Ongelukkig is die burgerlike samelewing en watergebruikers nadelig geraak deur swak waterbestuur, wanbestuur sowel as algehele gebrek aan optrede weens voortgesette gebrek aan politieke wil en beleggings, wat bestaande wateruitdagings vererger.

Die voortdurende afname van waterdienslewering in die Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni is uitstekende voorbeelde van hoe een streek deur ʼn volmaakte storm getref kan word – saamgestel uit geen politieke wil, bestuursonstabiliteit, voortgesette binnegevegte, swak of geen beplanning, wanbestuur en beweerde korrupsie, voortgesette stroomonderbrekings wat swak herstel van waterinfrastruktuur beïnvloed en weer lei tot wisselvallige watertoevoer of droë krane vir dae aaneen vir sommige verbruikers.

Sommige voorwaartse treë is egter in 2023 gegee en sluit in, maar is nie beperk nie tot, die volgende:

  1. Giyani-grootmaatwaterprojek: Voltooiing van fase 1 waartydens die dorpe aan die waterbron, wat nog in ontwikkeling is, verbind word. Maatreëls is ingestel om korrupsie in die verkrygingsproses op munisipale vlak te voorkom.
  2. Nuwe “Mega”-Vlakfontein-reservoir: Die projek is van stapel gestuur in Februarie 2023. Die bykomende stoorkapasiteit van 210 mega-liter voeg ʼn 24-uur buffer by vir gebiede in Tshwane.
  3. Vrystelling van die groen- en bloudruppelverslag en die geendruppelverslag. Die groot vertraging van die vrystelling van die finale groendruppel-ouditverslag en bloudruppel-tussentydse verslag is egter kommerwekkend aangesien dit reeds in Julie 2023 vrygestel moes word.
  4. Huidige hersiening van nasionale wetgewing en standaarde – ʼn deurlopende projek om te hersien en wysig waar nodig.
  5. Verhoogde sigbaarheid van die departement van water en sanitasie (DWS) om bewusmaking te verhoog en met relevante belanghebbendes en die publiek te kommunikeer. Die departement het die tema van die jaar: “Versnelling van verandering” aangekondig, met die doel om beleidmakers en besluitnemers aan te moedig om hul pogings in die verskaffing van watertoegang te verhoog. Die departement was die jaar deel van talle paneelbesprekings wat deur hulle en ander rolspelers geïnisieer is.
  6. Die bekendstelling van die Nasionale Waterhulpbron-infrastruktuuragentskap met die uitsluitlike doel van die administrasie, bedryf en befondsing van alle infrastruktuur wat verband hou met nasionale waterbronne.

Die negatiewe weeg ongelukkig swaarder as hierdie paar vooruitstrewende stappe, siende dat die land se waterhulpbronne steeds onder groot bedreiging is – met sommige waterbronne wat ongeskik geword het vir gebruik as gevolg van voortdurende besoedeling.

Varswatervooruitsig vir 2024

Eerstens moet die groendruppel-ouditverslag en bloudruppel-tussentydse verslag vrygestel word siende dat dit lank reeds agterstallig is. Dit is weereens ʼn voorbeeld van ʼn gebrek aan optrede en ondeursigtigheid deur staatsdepartemente op alle vlakke wat verantwoordelik is vir watervoorsiening aan verbruikers.

Hierdie verslae is van die grootste belang aangesien dit die huidige toestand uitlig van afvalwaterbehandelingswerke (meestal op kritieke vlakke) sowel as die nakoming van munisipaliteite in die verskaffing van watertoegang, betroubaar voorsiening van drinkwater van ʼn geskikte gehalte sowel as algehele water- en sanitasiediens aflewering.

Die geskepte kultuur van gebrek aan deursigtigheid, ontoerekeningsvatbaarheid, totale verwaarlosing en apatie blyk duidelik uit die groendruppelverslag. Slegs 50% van munisipaliteite wat onvoldoende bevind is, het gereageer op hul nie-nakomingsbriewe en selfs minder as 50% het die vereiste waterbestuur-intervensieplan ingedien. ʼn Duidelike voorbeeld van voortgesette apatie en nalatigheid.

Die huidige watermoniteringsnetwerkinfrastruktuur en toerusting moet gediens en aanlyn gebring word om besluitnemers te help. Sonder hierdie bygewerkte verslae en/ of watermoniteringsdata kan goed ingeligte waterbestuursplanne nie op ʼn ingeligte wyse ontwikkel word nie. Geskikte kort-, medium- en langtermyn-ingrypings of inisiatiewe (met die uitsluitlike doel om die gevolge van voortgesette wateruitdagings aan te spreek en krisisse te minimaliseer) kan ook nie akkuraat ontwikkel word nie.

Ons kan slegs reg bestuur en reg beplan as ons kwessies in meer detail kan “sien” en meer terrein-spesifieke, geskikte, doeltreffende maatreëls en oplossings ontwikkel. Ontoerekeningsvatbaarheid, ondeursigtigheid en algehele verwaarlosing duur voort weens nie-afdwinging/ implementering, swak bestuur, wanbestuur sowel as voortgesette beweerde korrupsie – hierdie alles rem positiewe vordering aansienlik.

Vir die watersektor om vorentoe te beweeg moet die blaamspel gestaak word. Aksie moet geneem word, geskikte konteks spesifieke aksie en ingrypings moet ontwikkel/ geïdentifiseer en geïmplementeer word om watersekuriteit in stand te hou of te verbeter. Ons moet begin om die land se groot wateruitdagings aan te spreek.

  • Prof. Anja du Plessis is ‘n kenner in waterhulpbronbestuur aan Unisa.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Hierdie is heeltemal te veel eerstewêreld-idees. Te korrek en harde werk vir Afrika wat wag dat iemand anders dit doen, maar nie hulle nie. Die probleem is dat dit hulle is wat dit moet doen want hulle is die regering met die beursie en die mag. En hulle gaan niks doen nie. Dit is die probleem.

OW ·

Baie goeie en volledige skrywe en oorsig van die stand van sake,wat water betref in SA.Die inhoud van die skrywe weerspieel presies wat die stand van die huidige regering is,betreffende staatsverval op alle fronte.Ek hoop die kantelpunt is nie te ver in die toekoms in nie,en dat begin kan word met heeltemal nuwe politieke leierskap.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die ANC gaan nog lank regeer. Hul nalatenskap sal vir die res van die eeu gevoel word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.