Suid-Afrika se volgende begroting

begroting-finansies-ekonomie-bestuur-stevepb-pixabay

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Dit is amper weer begrotingstyd en die kommentare sal weer wyd loop. Die vraag kom by mens op oor hoe die begroting ontleed word om die kwaliteit daarvan te kan evalueer. Weinig kere word daar terugvoer gegee oor wat in die verlede reggekry is met die geld wat spandeer was. Dat dit wel verdwyn het uit die staatskas is so, maar daar word nie noodwendig beter onderwys, hospitalisasie, veiligheidsdienste of die daarstel van broodnodige infrastruktuur beleef nie. Dit bring mens noodwendig by die vraag uit of belastinggeld sinvol aangewend word. Om die braaivleisvure word daar gereeld kommentare gedeel oor die doeltreffendheid van staatsdiensstelsels in die ergste negatiewe sin denkbaar. Die sogenaamde staatskaping en vraagtekens oor selfverryking wat daagliks hoofopskrifte haal bring ook nie eintlik gemoedsrus oor die spandering van swaarverdiende belastinggeld nie.

Daar is ongeveer 13% van ons bevolking van oor die 56 miljoen wat belasting betaal. Nogal ‘n swaar las om te dra en indien dit nie effektief aangewend word nie, en die belastingbetaler het dalk die reg om ongelukkig te wees. Daarmee saam is die oorgrote deel van die stemkrag in verkiesings juis diegene wat nie belasting betaal nie.

Bespiegeling doen die ronde dat die BTW-koers kan styg – tot selfs met twee persentasiepunte. Met ander belastings wat gehef word, is daar reeds ʼn groot las op vuisvoos betalers. Watter haas gaan uit die hoed getrek word om ‘n bankrot regering te red? Daar is basies twee opsies, naamlik kry meer inkomste en/of spandeer minder. Om minder te spandeer met ‘n reeds oorgelaaide staatsdiens, gaan nie maklik wees nie. Oor produktiwiteit en doeltreffendheid in die staatsdiens wil ek liewers niks sê nie. Die goue vraag is watter melkkoei verder verby sy produksievermoë gemelk gaan word om die inkomste te vergroot.

Wat staan die regering dan te doen om ‘n verskil te maak? Ten eerste moet ‘n beleidsomgewing geskep word wat aspekte insluit soos onder andere bevestiging oor eiendomsreg, logiese arbeidswetgewing, goeie bestuur op al die vlakke (wat vereis dat persone met kundigheid en integriteit belas moet word om die werk te doen), gunstige veiligheidsomstandighede vir inwoners en broodnodige beleggings wat sal meedoen dat die ekonomie kan groei. Die ongekende hoë werkloosheidsyfer het boonop die laaste paar jaar met rasse skrede verhoog.

By herhaling wys die ekonome daarop dat ons land se ekonomie moet groei en dat dit die enigste wyse is hoe kapasiteit geskep kan word om al die knelpunte sinvol te kan aanspreek. Solank die beleggers onseker is oor die keuse wat gemaak gaan word oor watter beginsels die ekonomie gaan rig, sal kapitaal nie voldoende vas belê word nie. Kapitaal volg nie onsekerheid nie, allermins as die klanke van onteiening sonder vergoeding deur die regerende party as beleid aanvaar word.

Die wipplank rondom die leierskapstryd wat sedert Desember gewoed het tussen die Uniegebou en Luthuli-huis bring ander dilemmas na vore. Die begroting is geoormerk om op 21 Februarie te dien in die parlement. Wat gewoonlik gebeur is dat die politieke leier in die staatsrede die politieke doelwitte uitstippel waarna die minister van finansies in die begroting uitstippel hoe die finansies aangewend gaan word om daardie politieke doelwitte te bereik. Ten einde die begroting saam te stel, verg ‘n lang tydperk se kundige insette om dit sinvol te kan saamstel. Minister Gigaba het gewis die begroting saamgestel in die Zuma-denke. Dan wonder mens wat gaan die waarde en toepasbaarheid van hierdie begroting in die lig van die leierskapstryd wees?

Heel moontlik sal hierdie begroting sekere mooi dinge noem as verwagte uitkomste soos in die verlede, maar dit gaan moontlik ook maar eindig met die opmerking wat al in die verlede gemaak is, naamlik dat dit ‘n sukses moet wees want al die geld is spandeer! Die werklikheid van die ANC se spandeerbeleid is sterk gefokus op die vestiging van ‘n sosialistiese benadering. Met ongeveer 17 miljoen mense wat reeds welsynstoelae ontvang met so klein belastingbetalerbasis, is die vraag natuurlik hoe volhoubaar hierdie beleid is. Iewers gaan die probleem opduik dat as die ander mense se geld opraak, daar weinig gaan wees om te verdeel!

Die ANC sukkel om dit reg te kry om die regte seine uit te stuur om beleggingsvertroue te kan wen. Indien hulle hul nie onomwonde verbind tot privaat besitreg en die vrye mark en wegbeweeg van sosialisme en kommunisme nie, sal die proses om by groei te kan uitkom, nie geaktiveer word nie. Die fokus moet op die resultate wees in belang van Suid-Afrika en nie die korttermyn-oorlewing van die ANC nie.

Gaan nog ‘n begroting nie maar net kom en gaan op 21 Februarie 2018 met ʼn Suid-Afrika wat agterna voortbloei soos die laaste klompie jare die geval was nie? Of gaan die ANC dalk begin implementeer wat ekonomies korrek is, die land begin regeer en hulle “struggle” mentaliteit en blaamverplaas spel laat vaar.

Dalk word ons verras, maar dit sal ʼn yslike groot verrassing wees!

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Bennie Van Zyl

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van die Transvaalse Landbou-unie.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

dr Sakkie van der Merwe ·

Mooi saamgevat Bennie, maar soos ons weet is Afrika-kultuur anders ingestel as die van ons westerse denke. Die vervanging van Zuma kan tydelike verligtigting beteken maar kyk ons na Edward Zuma se oproep om radikale ekonomiese transformasie dan besef ons dat die pad vorentoe, veral vir die landbou sektor nie maklik gaan wees nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.