Suid-Afrika se vreemde politieke spektrum

Ferial Haffajee

Ferial Haffajee, die Suid-Afrikaanse joernalis en voormalige redaktrise van die City Press asook die Mail & Guardian, het groot reaksie ontlok nadat sy ’n reeks plasings op die sosialemediaplatform Twitter gemaak het. Hierdie plasings het verband gehou met haar analise van nuusgebeure rakende die Instituut van Rasseverhoudings (IRV), die Demokratiese Alliansie (DA) en AfriForum.

In die reeks plasings (twiets) verwys Haffajee na die drie organisasies as die “nuwe regses” wat kwansuis slegs die land se omstandighede en mense se lewens as “datapunte” sien. Die twiet op sy eie verdien ’n deeglik ontleding en ’n sterk weerlegging. Dit verg besonderse ongenuanseerde analise om met soveel oortuiging op ’n openbare forum te beweer dat die IRV, DA en AfriForum ideologies eenders is.

Op die dieselfde dag het Irvin Jim, die sekretaris-generaal van die vakbond Numsa, sy eie Twitter-opslae gemaak deur na die einste Haffajee te verwys as ’n “regse joernalis” wat daarvoor bekend is dat sy regses beskerm deur haar skryfwerk. Indien mens dus vanuit hierdie twee twiets ’n politieke spektrum moet illustreer, sal dit interessante leesstof maak.

Hierdie twee onafhanklike klein insidente spreek egter boekdele oor twee punte in die huidige Suid-Afrikaanse diskoers.

Eerstens is dit ’n sprekende voorbeeld van oor hoe ons media- en leierskapmeningsverskille benader en bedink. Diskoers het wegbeweeg van bloot verskille hê oor beleid of filosofie en oorgeskuif na waar mense ’n intellektuele laer trek en mense soos Haffajee en Jim eenvoudig en binêr dink dat hul kamp reg is en die res verkeerd. Moderne diskoers het die vermoë verloor om aanknopingspunte raak te sien bloot omdat daar op ander punte verskil word.

Irvin Jim. Foto: ANA/Siphelele Dludla

Tweedens beeld hierdie interaksie tussen Haffajee en Jim uit dat die woord regs sy ware betekenis verloor het. Volgens Haffajee is die progressiewe DA, die klassiek liberale IRR en die minderheidsregte-organisasie AfriForum almal een groepering van regses, terwyl sy self afstand doen van die verskillende waardes en beleide wat hierdie organisasies verteenwoordig. Hierteenoor beweer Jim dat Haffajee self regs is omdat sy kritiek teen vakbonde uitspreek.

Die woord regs het verskeie betekenisse aangeneem. In Suid-Afrika verteenwoordig dit nie meer die voormalige Konserwatiewe Party of Herstigte Nasionale Party nie. Vir mense soos Haffajee en Jim beteken regs enige persoon wat hul wêreldbeskouing uitdaag en losweg voorstanders van vryheid en kapitalisme is.

In die warboel van ons huidige politieke klimaat is dit belangrik om die vlak van diskoers te verbeter en met ’n fyn oog na sake te kyk. Veralgemenings soos dié waaraan beide Haffajee en Jim skuldig is, bevorder nie ons soeke na die waarheid nie. Om die woord regs te gebruik as ’n klad teen iemand se naam, bevorder nie diskoers nie.

Maar indien regs beteken om ’n voorstander van vryheid te wees, dan gaan staan ek graag aan die regterkant van die IRV, AfriForum en die DA.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Daniël Eloff

Meer oor die skrywer: Daniël Eloff

Daniël Eloff werk by Hurter Spies Ing., ʼn regsfirma wat spesialiseer in openbare belang-litigasie en is tans besig met sy meestersgraad in publiekreg. Hy is ook ʼn direkteur van AGENDA, ʼn nie-winsgewende organisasie wat hulself beywer vir die ontwikkeling van debat in Afrikaans in Suid-Afrikaanse skole en op ons land se tersiêre kampusse.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae