Suid-Afrika treur, maar kan ook juig

jannie-pelser-01-featured

Jannie Pelser. Foto: Verskaf.

Deur Jannie Pelser

Ons treur oor die onreg, korrupsie, bedrog, selfsug en blindheid van leiers.

Ons treur oor staatskaping, selfverryking, die Guptas en ruggraatlose politici.

Ons treur oor armoede en werkloosheid, ontwrigting en ellende wat deel vorm van die groot meerderheid mense met wie ons hierdie ruimte deel.

Ons treur oor lamlendigheid en die magteloosheid van kiesers.

Ons treur oor geweld en moord en huisbraak en motorkapings.

Ons treur oor vroue en kinders wat wreed gebrutaliseer en vermoor word.

Ons treur oor ons ekonomie wat aan flarde lê en buitelandse vertroue wat opgedroog het.

Ons treur oor bronne wat skaamteloos onder ons oë weggegrawe word.

Ons treur oor droogte en skaarste van allerlei aard.

Ons treur oor die Kaap van storms en die bleek woude van Knysna en omgewing.

Ons treur oor mense wat huis en haard en geliefdes te midde van versengende toestande verloor.

Ons treur oor dienslewering en beloftes wat niks beteken nie.

Ons treur oor nimmereindigende hofsake en verhore wat die onreg net uitrek en niks meer is as ʼn uitstel van die onafwendbare nie.

Ons treur oor twiets wat mense se lewe verder pynig.

Ons treur oor verskonings vind vir die verkeerde en harde harte wat nie ekskuus kan sê en ekskuus kan lewe nie.

Ons treur oor opruiende uitsprake wat kinders onveilig laat voel en beroof van hul toekoms.

Ons treur oor biddeloosheid en harde harte.

Ons treur oor ʼn kerk wat sy impak verloor het, leë banke en geloofsvervreemding.

Ons treur oor kerklike vergaderinge wat oor ander se menswees oordeel.

Ons treur omdat die kerk oor irrelevante dinge praat terwyl Rome brand.

Ons treur oor die trane in God se oë.

Ons treur omdat God treur …

2 Kronieke 7:14: en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.

Ons juig oor mense wat met ʼn ander ingesteldheid na die toekoms kyk.

Ons juig oor burgers wat die nodige onderskeidingsvermoë aan die dag lê om nuut en vars te dink en te beplan en nie opgegee het nie.

Ons juig oor mense wat weier om te versand in gister se manier van doen, die vrese en vooroordele begrawe en die liefde as rigsnoer behou.

Ons juig oor oop hande en harte wat ander se nood raaksien en iets daaraan doen.

Ons juig oor jongmense wat bid en vertrou.

Ons juig oor mense wat jammer sê en dit bedoel.

Ons juig vir elke vriendelike woord wat in ʼn atmosfeer van versoening gespreek word.

Ons juig oor die kerk se profetiese getuienis.

Ons juig omdat God se stem nog nie stil geword het nie en sy beloftes steeds geld.

Ons juig oor hoop, verwagting, geloof, vertroue.

Ons juig omdat God lewe en op die troon is.

Psalm 50:15: Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

René Erwee ·

Dankie vir die pragtige verwoording van ons hartseer en vreugde. Ek is so lief vir my land en ek huil oor dit wat gebeur, MAAR dan onthou ek elke keer God is in beheer en Hy gebruik ons om sy ligdraers te wees. Wens net ons wil meer saamstaan en die verskil duideliker maak.

Carine ·

Dankie Jannie Pelser. Ek stem saam!!
Sjoe, dis lekker om te weet daar is nog ander wat ook positief is en besef dat God nogsteeds in beheer is. Ek sal nooit ophou glo, bid en vertrou nie!

Frieda ·

Wow dit is hoe na hierdie land en sy mense gekyk moet word!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.