‘Suid-Afrika verraai sy dogters’ – Dawie Roodt

dawie-roodt-blokkettingtegnologie-afrisake-2017-11-22

Dawie Roodt. Foto: Reint Dykema.

Minder as 10% van alle mense op aarde leef vandag in absolute armoede in vergelyking met meer as 90% honderd jaar gelede.

Ons het absolute armoede oorwin en binne minder as 20 jaar sal dit nie meer bestaan nie – met die uitsluiting van lande wat in oorloë gewikkel is, meestal in Afrika.

Waaraan kan hierdie merkwaardige prestasie toeskryf word?

Ek dink nie een of ’n paar spesifieke gebeurtenisse of “uitvindsels” kan uitgesonder word vir ons vooruitgang nie. Ek dink eerder ’n proses van eksperimentering en geluk het oor duisende jare uiteindelik gelei tot die mensdom se verstommende sukses.

En die proses is ver van klaar…

In die verre verlede kan ons seker “uitvindsels” soos vuur, of meer onlangs, die wiel as voorbeelde noem van groot deurbrake, maar vir my was een van ons grootste ekonomiese deurbrake die tem van diere. Dit het sowat 15 000 jaar gelede gebeur, en die hond was waarskynlik die eerste mak dier. Daarna het diere soos beeste, varke en hoenders gevolg.

Waarom dit so ’n groot hoogtepunt is, is dat dit waarskynlik gepaardgegaan het met die ontwikkeling van die konsep wat toe nog nie bestaan het nie: private eiendomsreg.

Sonder eiendomsreg kan eiendom nie oorgedra word nie. Eiendomsreg is nodig om handel moontlik te maak. Handel tussen twee individue is altyd tot voordeel van albei partye, anders sal die partye nie handel dryf nie.

Saam hiermee het nog ’n merkwaardige ekonomiese deurbraak geleidelik gevolg: geld! Aanvanklik het handel uit ruilhandel bestaan, wat ondoeltreffend en duur is. Maar met die ontstaan van geld het transaksiekoste begin daal, wat handel winsgewender gemaak het.

En telkens wanneer geld ontwikkel tot ’n meer moderne vorm, verminder transaksiekoste, wat winsgewendheid en uiteindelik groter voorspoed vir almal beteken.

Dink maar aan die oorspronklike vorme van geld: vee, skulpe, slawe, metaal, munte, note; en verskeie vorme van “afgeleide” geld, soos skuldbriewe en digitale geld vandag. En die jongste vorm van geld, soos kriptogeld, laat die transaksiekoste selfs verder daal.

Sowat 8 000 jaar gelede het nóg ’n groot deurbraak plaasgevind: die verbouing van plante, veral graan. Dit het sosiale strukture dramaties verander. Boere, wagte (leërs), priesters, onderdrukkers (politici, konings, tsaars, sultans), slawe en ander sosiale groepe het ontstaan. Dit was die begin van “beskawings” – of ingewikkelder samelewings.

So was daar baie ander groot en wonderlike deurbrake, waarvan baie taamlik onlangs plaasgevind het: die stoomenjin, demokrasie, elektrisiteit, die internet, selfone en vele meer.

Al hierdie deurbrake het duisende jare geneem om behoorlik gevestig te word, maar dit was veral die afgelope sowat honderd jaar dat die mens ongekende vooruitgang gemaak het.

Dit bring my by ons laaste werklike groot deurbraak: onderwys vir meisies. Verpligte onderwys is maar ’n taamlik nuwe ding (minder as ’n eeu in die meeste Europese lande), en die idee dat meisies geregtig behoort te wees op dieselfde onderwys as seuns, is selfs nuwer.

Onderrig aan meisies het ’n maatskaplike omwenteling veroorsaak wat in ekonomiese waarde gelykgestel kan word aan die verbouing van plante en die uitvinding van geld.

Onderwys aan meisies het gelei tot kleiner gesinne en het ons demografiese strukture heeltemal verander. Belangriker: Opgeleide vroue beïnvloed ook hul dogters om skool toe te gaan, wat weer húl dogters beïnvloed.

Uiteindelik was nie net mans goed opgelei nie, maar vroue ook, en namate dit aanvaarbaarder geword het dat vroue in die arbeidsmag met mans meeding, het die arbeidsmag vergroot en produktiwiteit toegeneem wat tot ons verstommende vooruitgang gelei het.

Tot onlangs was dit vreemd om vroue in professies te sien, maar vandag is dit algemeen. Dit duur tipies twee tot drie generasies (40 tot 60 jaar) voordat vroue die professionele beroepe begin betree van daardie eerste dag dat ’n gesin vir die eerste keer ’n dogter na ’n (goeie) skool toe stuur.

Daarom is dit hartverskeurend om te sien hoe Suid-Afrika sy eie dogters, en uiteindelik ons ekonomiese toekoms, verraai deur nie die meeste van ons kinders goeiegehalte-onderwys te bied nie.

En selfs al kry ons dit reg om ons onderwyspeil en -gehalte te verbeter, sal dit steeds geslagte neem voordat ons die volle voordeel daarvan sal ervaar.

  • Dawie Roodt is die hoofekonoom van die Efficient Group. Besoek hul webtuiste hier of kontak Roodt by [email protected]

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Dawie Roodt

Meer oor die skrywer: Dawie Roodt

Dawie Roodt is direkteur en hoofekonoom van die Efficient Groep en lewer gereeld ekonomiese kommentaar.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Hoeveel “onse” is in jou pond? Jy is ‘n indringer in Afrika wat probeer om dit te verwesters….en in meeste gevalle hopeloos onsuksesvol. Afrika “lei niemand op nie”, gee “niemand ‘n opvoeding nie”, gee nie om vir “kwalifikasie” nie, stel nie belang in “Westerse standaarde” nie….het geen begrip vir ekonomiese vooruitgang en opheffing nie. Afrika werk met die wette van die natuur……enige behoefte word onmiddelik bevredig, al moet dit met geweld gepaard gaan. En so sal dit wees…..ad infinitum, ad nauseum…

Alfred ·

Uitstekend opgesom-ons is gefrustreerd in SA juis omdat ons met ‘n Westerse bril na die huidige regime kyk. Deur ‘n Afrikabril is die ANC regime een van die suksesvolste in in die geskiedenis.

Marlene ·

Interessante artikel Dawie, dankie. Sleg om te weet dat elke dogter wat nie matriek maak nie, se kinders dus ook ñ skraler kans het om ñ volledige skoolloopbaan te hê. Groot hartseer daarin.

Amanda ·

25 jaar terug moes die ANC enorme bedrae geld spandeer het, om skole, veral in agtergeblewe areas, te bou, onderwysers opgelei het en werk gemaak het om kwaliteit onderrig en opvoeding te verskaf. Dan was ons land vandag ‘n ander prentjie. Nou bly vrouens vasgevang in armoede, kinders het kinders twv ‘grants’, en die ellendige siklus van ongeskooldheid en armoede hou net aan.
Maar die ANC verkies dit so, ongeskoold en afhanklik van die staat , want dit is súlkes wat by die stembus weer vir die vet katte stem, in ruil vir ‘n t-hemp en populistiese leuens. Die ANC soek alles behalwe ‘n denkende kieser.

Eugene ·

Miskien, ja net miskien net ‘n bietjie te regs vir sommiges se ego. ” Ek en ander het jul mos gesê.”
DIE LEWE is daar om sulses aan almal te dien. Die leiers van verleë het en is steeds besig om na die huidige te te kyk en te beplan.
Om iets vir die volk te doen moet jy dit vir die volk doen.
Die SA verkiesingsstelsel is ‘n geraamte. Leiers met etiek, waardigheid, moraliteit is veronderstel om om ‘n tafel te gaan sit en n plan vir die landsburgers uit te werk wat tot almal se voordeel gaan trek. Hul moet deur die Burgers ook verantwoordelik gehou kan word. Hul moet spoedig en met volle openbaring aanpassings maak waar nodig om die land en AL sy mense ALTYD eerste te stel.

Eddy ·

Ek glo dat vroue steeds onder verdrukking gebuk gaan.Die samelewing waarin ons is,is patriargaal.Dis n man gedomineerde wereld.Die ANC kan probeer hoeveel ministers en premiers aanstel,dit meen glad nie dat vroue bevry is nie.Vandag 9 Augustus is maar slegs n herdenking van wat in 1956 gebeur het.dis al. ons moet vroueregte meet aan hoe ons ons vroue behandel.Tans is 1 uit elke 4 SA vroue,in n “abusive relationship”.M.a.w. 1 uit 4 vroue se regte word geskend.Ons het selfs n deputy minister gehad wat 2 vroue aangerand het.Daar is te veel gevalle van vroumense wat wreed vermoor,verkrag,aangerand ens.word.As ons met trots kan sê ons mishandel nie ons SA vroue nie,Dan kan ons vandag sonder huigelary,Vrouedag vier

Sanna ·

Die ANC stembroeimasjien beleid is so teleurstellend en dit raak ons almal, manlik, vroulik, jonk en oud.

John ·

Groot spronge word gemaak om by Vrouedag uit te kom. Poor little me… is steeds die ondertoon. Miskien moet diè dag ook aandag skenk aan verantwoordelikhede. Vroue wie se kinders sonder toesig is, moet gestraf word. Kleuters moet nou skooltoe dat ma kan uitjol, selfs die troepies se wapens uit hul hande vat. Dis belaglik. Geskoolde vroue sit op kantoor maar verantwoordelikheid broei nie in die linkerhandse boonste laai van die groot nuwe lessenaar uit nie.

@John ·

Kom ons straf dan ook asb mans wat hul vaderlike plig versuim. Wat van gevalle waar moeders se verdienstes families aan die lewe hou wanneer pa’s afgelê word deur bv regstellende aksie? Wie gaan jy dan daar straf, want dit is tradisioneel die pa se rol om die broodwinner te wees. Stereotipering werk eenvoudig nie meer vandag nie. Vrouens is nie net kinderfabrieke nie; baie is in staat om families, huishoudings en beroepe te balanseer. Baie werk tuis om dit te kan doen. Ek wonder nogal wat is die straf wat jy sal uitdink vir vrouens wat beroepslewes het en hulle kinders in kleuterskole sit?
Geskoolde, opgevoede vrouens maak beter lewenskeuses, het kleiner gesinne en kan meer ekonomies selfstandig wees en dit is waar vrouens gefaal word, wanneer sy nie haar potensiaal kan bereik nie en haar opsies beperk word tot afhanklikheid van toelaes en armoede haar voorland is. Voed jy ‘n dogter op, voed jy ‘n nasie op, want sy gaan bepaal hoe haar kinders grootword.

Krisjan ·

Wat Dawie se is seker waar maar hoe sorg jy terselfdertyd dat minderheidgroepe se aanwas bly groei om te vervang wat oudword en doodgaan en om dan ook n positiewe groei in getalle te verseker ??

Wat word dan van die vrou se primere verantwoordelikheid /rol om die volgende geslag te help voortbring as deel van n gesinseenheid vs die “moderne” beroepsvrou wat amper nie genoeg ure per dag het om te werk en dan nog na haar gesin om te sien nie?
Ek se dis reg , vrouens moet aspirasies en drome he maar dan moet die spasie en tyd geskep word dat vroue gemaklik by alles kan uitkom sonder om die primere verantwoordelikheid af te skeep .
Vergoeding moet ook gelyk wees met mans vir dieselfde werk.

Attie. ·

Dawie Roodt het pragtige woorde in rye gerangskik om sin te maak volgens die lig wat hy ontvang het en daar is ‘n gedeelte waar maar dit is duidelik dat hy die belangrikste gekiedenisboek nl die Bybel, as ‘n sprokoe aanvaar en nie die waarheid nie, Dawie, jy is ‘n Evolusionis en ek ‘n Christen. Sesduisend jaar gelede was die aarde woes en leeg en die vorige lewe met mense en al vernietig deur satan. Daar was ‘n nuwe skepping met Adam die eerste van die spesie Homo Sapiens. Lees Pred 3:15 Jes 14:;17 Jer 4:27 Eseg 28:12.
Dawie,hou jou by ekonomiese sake en los geskiedenis, daarvan weet jy duidelik niks nie.

Kosie Kramer ·

Die Bybel is NIE `n geskiedenisboek nie. Enige dominee sal jou dit sê. Die Bybel is `n godsdienstige boek wat rondom die Jode se geskiedenis geskryf is. Die Jode se geskiedenis beloop dan al amper 6000 jaar!

Attie. ·

Dawie, God het die vrou Eva geskape om vir die mens Adam ‘n maat te wees en sy sal vrugbaar wees en hy sal in die sweet van sy aangesig sy brood verdien. Vandag beoefen die vroue ‘n beroep wat ek nie teen is nie maar die min kinders wat uit haar gebore word het nie n ma wat hulle opvoed nie. Dieselfde geslag verhoudings is die oplossing vir die oorbevolking op aarde. Wat nou op aarde gebeur is nie hoe God dit beplan het nie en daarom beweeg ons daagliks nader aan die eindtyd soos dit in die Bybel beskryf word. Dawie, die mense van vandag jaag geld na en almal wil ryk wees, Tog dink ek jy maak n massiewe fout as jy dink net 10% van die aardbewoners is regtig arm, gaan reis bietjie deur net die BRICS lande, daar wag ‘n ontnugtering op jou….

Koos ·

Voorreg om te sien Dawie kom nou al vir vrouens ook op. Dink net waar sou ons vandag gestaan het as hy ( Dawie ) en sy groot vriend Tim du Plessis hier in die jare 1992 tot 1994 deur middel van die nuusblad Beeld, die destydse regering van die dag, as belaglik, met nog byvoeglike naamwoorde, afgekraak het en dan artikels geplaas het hoe om ons jonge dogters gereed te maak vir die pragtige toekoms wat vir hul wag!

Wat vandag gebeur het ons voorspel, wat gebeur toe, ons word as belagliklike karikature voorgehou.

Sterkte met al die pogings, dit sal verseker beter gaan wanneer ons die geleentheid gebied word om weer voor te begin.

George in Bloem ·

Die enigste groot deurbraak wat Suid Afrika se Eureka! oomblik kan wees en die land se ekonomie van ondergang kan red is die ontdekking van “common sense” in die ANC gedomineerde parlement maar pffffffttt…….wat is die kanse ou Dawie? Erens tussen zero en bokkerol?

Jerry ·

Ek verstaan nie hoe die skrywer tot die gevolgtrekking kom dat SA sy dogters verraai nie, omrede dit die stemgeregtigte dogters is wat SA verraai. Die dogters is die meerderheid, die dogters stem vir die ANC, die dogters verdien dus die ANC en die leier wat hulle kry. Die dogters kan dit verander deur reg te stem, maar hulle doen nie, hulle verdien presies wat hulle kry, want hulle stem presies daarvoor!

Swannie ·

Ek verskil ook van Dawie.

Armoede uitgewis in 20 jaar ??? Huh ??

Oor 20 jaar sal ons armoede sien soos wat ons nog nooit gesien het nie – kyk maar net na Zimbabwe en ons is op die drumpel om dieselfde pad te loop.

Marthinus Willemse ·

Landbou is in alle waarskynlikheid deur vroue gestig. Voor stede bestaan het, en die mens nomade was, was dit die taak van vroue en kinders om kos soos sade, vrugte en meer, te soek, terwyl die manne gaan jag het vir vleis. So het die vroue ontdek dat sekere gewasse op `n spesifieke plek waar hulle verlede jaar was, weer hernu en groei. Hulle het sekerlik met sade begin eksperimeteer, en ontdek dat jy kos kan plant; jy hoef nie meer te wag dat moeder natuur dit skep nie. Dit het gelei tot die skep van plase, gemeenskappe en beskawings.

humor ·

Ek vind dit eintlik baie skraal wanneer op vrouedag alleen tersprake is wat sy vir die mensdom van waarde is, en veral ekonomies van waarde is. Sy word so alleen tot n gebruiksvoorwerp gedegradeer. Beslis sy het haar rol as vrouewese op alle gebiede te vervul, maar kan haar vroulike wese nie meer beklemtoon word nie. Veral met betrekking
tot die onderskeie verhoudinge waarin sy leef en waarvoor sy as vrou bestem is.

JAN ·

…God sal iets nuuts skape : …. die vrou sal die man beskerm…….
Jeremia 31: 15 tot 22
Heilige feminisme / vroulikheid
Die lot van ‘n gemeenskap volk is van die vroue afhanklik.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.