Suid-Afrika voor en na die 2024-verkiesing lll

President Nelson Mandela van die ANC op 27 April 1994 in Oshlange, naby Durban, terwyl hy sy geskiedkundige stem uitbring tydens Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing. (Foto:
WALTER DHLADHLA / AFP)

Ten opsigte van die uitkomste (die 2024-verkiesing en sy afloop) gaan die moontlike uitspeel hiervan ingevolge scenario-perspektiewe verder hanteer word.

Scenario 1: Die voortsetting van die status quo in ʼn veranderende omgewing

Hierdie scenario beklemtoon dat (ongeag die gekompliseerde aard van politiese, ekonomiese en maatskaplike verandering as uitkoms van post-kantelpuntpolitiek) die algemene status quo (binne die raamwerk van bestaande veranderlikes en die gepaardgaande dinamika) min of meer gehandhaaf gaan word.

Die regerende elite (al is dit verswak) bly steeds die dominante politieke faktor binne ʼn verslegtende politieke omgewing. Hierdie scenario is nie ʼn langtermyn-scenario nie en sal weer tydens 2026 en 2029 getoets word, met waarskynlik ʼn ander stel uitkomste ooreenkomstig reeds geïdentifiseerde veranderlikes.

Kenmerke en veronderstellings

Die regerende party voer ʼn terugvegpoging, met as fokus die organisasie en die mobilisasie van steun, sterker en meer daadkragtig as in die verlede. Die mobilisasie van die landelike omgewing en apatiese kiesers (veral die jeug) sal hier prioriteit geniet.

Ramaphosa, wie se steunbasis sterker is as dié van die party self, sal die gesig van die verkiesingstrategie wees en die leierskap sal op voetsoolvlak ontplooi word om ʼn verkiesingsoorwinning vir die regerende ANC-elite te help verseker.

Eenheid binne die ANC (in die naam van vernuwing) sal bevorder word en strafregtelike optredes (ooreenkomstig onder meer die Zondo-kommissie-aanbevelings) sal uitgestel en waarskynlik uiteindelik laat vaar word.

Populistiese beleid, die grondkwessie en rasseretoriek tesame met patronaatskappolitiek sal tot voordeel van die ANC met die ondersteuning van staatstrukture wees en in politieke kapitaal  omgesit word.

ʼn Politieke herposisionering ten opsigte van ʼn meer radikale Brics-groepering en anti-Westerse sentimente internasionaal, sal ʼn Afrikanistiese grondslag verseker vir die mobilisasie van politieke sentiment en steun. Die ondersteuning van state soos Rusland, China en Iran kan hier nie uitgesluit word nie, asook hulle betrokkenheid by die verkiesing ten gunste van die ANC-elite.

Wysigings aan die kiesstelsel (indien deurgevoer) werk tot die voordeel van die regerende ANC, en/ of word deur instellings soos die OVK geïnterpreteer en toegepas tot die voordeel van eersgenoemde.

Opposisiegroepe presteer net gemiddeld beter en die bedreiging vir die regerende party is daarom minder. ʼn Onvermoë bestaan om werklik polities op die situasie te kapitaliseer as gevolg van ʼn gekompliseerde groep redes wat insluit gebrekkige onderlinge samewerking, wantroue en verbandhoudende persepsies, ras, kultuur, en redes wat met identiteit verband hou.

In ʼn ekstreme situasie, sal slegs samewerking met kleiner partye nodig wees om ʼn nasionale meerderheid te verseker, terwyl sekere provinsiale omgewings meer ingewikkeld is, maar nie buite die bereik van ANC-bestuur staan nie!

Koalisiepolitiek ondermyn nie die ANC-magsbasisse dermate nie en laat die status quo toe om met beperkte wysigings bykans onveranderd te kan bly voortgaan.

Uitkomste en implikasies

ʼn Veranderende, maar verswakkende status quo word behou met kernveranderlikes wat steeds negatief inspeel en die regeringslegitimiteit ondermyn maar nie fundamenteel op die korter termyn bedreig nie. Die ANC oorleef, is wel in ʼn verswakte posisie, maar slegs tot en met die 2026 plaaslike en 2029 nasionale en provinsiale verkiesings waar groter uitdagings en meer fundamentele verandering voor die deur lê.

Scenario 2: Regeringsverswakking, koalisiepolitiek, nuwe politieke spelreëls

Sentrale uitgangspunt/ beskrywing

Die ANC sukkel tans om ʼn volstrekte meerderheid nasionaal te bepaal en is hul volstrekte meerderhede in provinsies soos Gauteng, KwaZulu-Natal en die Vrystaat ook moontlik in gedrang. Hierdie is duidelik ooreenkomstig die bevindinge van talle meningspeilings van verskillende instellings, verder belyn met die groter tendens van steunvermindering by die regerende ANC (ʼn gevestigde patroon sedert 2004 soos ook bewys tydens die 2021-plaaslike verkiesings), verslegtende sosio-ekonomiese omstandighede soos vroeër aangedui, verswakkende dienslewering en ʼn versterkte opposisie op grond van nuwe groepe en alliansies.

Die ANC se steun daal tot so laag as 45% (of selfs minder) en eersgenoemde benodig meer steun as net dié steun van enkele kleiner partye om volstrekte meerderhede (nasionaal en in sekere provinsiale omgewings) te bewerkstellig. Koalisiesluiting, politieke kompromieë en ooreenkomste is binne hierdie scenario aan die orde van die dag. Soos met talle plaaslike regeringskoalisies (veral in die metropole) na afloop van die 2021-plaaslike verkiesing, lei dit tot onsekerheid, gebrekkige besluitneming en in uiterste vorm patrone van politieke onstabiliteit en stelseldisfunksionaliteit.

Kenmerke en veronderstellings

Ongeag talle pogings om steun te organiseer en te mobiliseer (selfs met staatsondersteuning, en soos aangedui in die vorige scenario), slaag die ANC nie daarin om ʼn volstrekte meerderheid te behaal nie en is die steunbasis van so ʼn aard (45% of laer) dat selfs die koöptering van kleiner opposisiepartye nie alleen genoegsaam sal wees nie.

Versterkte en meer gekoördineerde opposisie-politiek, nuwe groeperinge waaronder ActionSA, African Congress for Transformaton (Ace Magashule se party), One South Africa Movement, en groeperinge met ʼn populistiese aanslag (veral die EFF) is verantwoordelik om op partyvlak die ANC se steun te laat erodeer.

Wysigings aan die kiesstelsel (hofsake is tans aan die gang) bevoordeel onafhanklike kandidate (talle met historiese verbintenisse aan die ANC wat laasgenoemde se steunbasis verswak), en is verder bydraend om ANC-steunbasisse te ondermyn.

In reaksie op verslegtende diensleweringskwessies en sosio-ekonomiese uitdagings, is ANC-ondersteuners óf apaties óf steun ander alternatiewe wat beskikbaar is, selfs onafhanklike kandidate. Die impak van apatie is die grootste op die ANC en dra sodoende by dat (proporsioneel gesproke) die ANC vergelykend swakker doen as ander kleiner partye, wie se ondersteuners wel gaan stem. Dit is ʼn redelik normale patroon by eenpartydominante stelsels, veral bevrydingspartye in Suider-Afrika, en waarvan Zimbabwe, Namibië en selfs Botswana tans sprekende voorbeelde is.

Soos met die huidige sowat 70 “hangrade” (na afloop van die 2021-plaaslike verkiesings) is onderhandelings en gesprek met as uitkoms koalisiepolitiek ʼn noodwendige, belangrike en noodsaaklike uitkoms binne hierdie scenario. Hierin bestaan geleenthede om ʼn nuwe bedeling te kan herbou en in opsigte selfs te kan heronderhandel.

Hierdie onderhandelings ingevolge koalisievorming kan uiters ingewikkeld wees aangesien dít wat vir die ANC nodig is om nasionaal beheer te behou waarskynlik sal verskil van wat nodig is om byvoorbeeld KwaZulu-Natal of Gauteng as provinsie te behou. Botsende benaderings, magspolitiek en ontwrigting, oorkoop van partye (soms lede en/ of onafhanklikes) kan hierdie proses ingewikkeld, konflikgeoriënteerd en selfs gewelddadig en misdadig maak. Laasgenoemde verwys onder meer na die groot getal sluipmoorde wat reeds plaasgevind het en skynbaar besig is om toe te neem as een voorbeeld.

Teen die agtergrond van gebrekkige politieke kultuur ten opsigte van effektiewe werkende koalisies, is toenemende patrone van konflik, geweld en politieke onstabiliteit ʼn groot waarskynlikheid binne hierdie scenario.

In politieke omgewings (nasionaal en/ of provinsiaal) waar die ANC hul mag verloor, is regime-weerstand en sabotasie (soms van ʼn misdadige aard soos tans gesien in onder meer Tshwane) ʼn groot waarskynlikheid.

Stelselstabiliteit word beskerm deur die bestaan van parallelle strukture (uitgebreid na verwys as die parallelle staat) wat kernfunksies van die staat (onder meer veiligheid en kritieke vorme van dienslewering) oorneem en die spreekwoordelike “Suid-Afrikaanse Lente” verhoed.

Uitkomste en implikasies

Hierdie scenario beklemtoon dat die ANC se alleenbeheer ten dele op ʼn einde is, hul magsbasis tot in sy fondasies geskud is en dat noodmaatreëls nou nodig is en dat die “politieke wedstrydplan” nou dienooreenkomstig aangepas moet word ten einde politieke beheer te kan behou.

Hierdie politieke omgewing is meer onstabiel as die een in scenario 1, wat die agterdeur oop laat vir vorme van “praetoriaanse politiek” waar veiligheidsinstellings meer in die spel kom in belang van die handhawing van wet en orde asook stelselstabiliteit (waar en soos van toepassing). ʼn Situasie waar die ANC te swak is om alleen te regeer, maar steeds beheer het oor die hefbome van mag, is hier ʼn waarskynlike uitkoms.

Indien die ANC in die opposisiebanke sou eindig, kan verwag word dat hulle alles in hul vermoë sal doen om koalisieregerings te ondermyn en te destabiliseer, in navolging van dít wat op sekere plaaslike regeringsvlakke reeds waargeneem word.

Hierdie scenario beklemtoon ʼn patroon van vloeibaarheid en vergrote onstabiliteit, wat soms in die literatuur as “punctuated equilibrium” beskryf word.

Scenario 3: ʼn Suid-Afrikaanse Lente

Sentrale uitgangspunt

In die aanloop en/ of die afloop van die 2024-verkiesing dra ʼn kombinasie van politieke, ekonomiese en maatskaplike faktore (geaktiveer deur ʼn gebeurtenis/se) by tot ʼn eskalasie van politieke onstabiliteit. Die funksionele vermoëns van die staat word oorspoel in ʼn omgewing wat Samuel Huntington sou beskryf as hoë vlakke van politieke deelname en lae vlakke van institusionalisering.

Hierdie situasie baan die weg vir politieke onstabiliteit en institusionele verval soos tans wyd in Suid-Afrika aangetref word. ʼn “Ontploffing van politieke deelname” (dit wil sê ʼn revolusie in Huntington-terme) manifesteer – ten minste in dele van die land. Soortgelyke patrone van politieke geweld soos wat in KwaZulu-Natal en dele van Gauteng gedurende 2021 gebeur het vind weer plaas, maar instellings is nie by magte om dit te kan hanteer nie.

Die opbou, verloop of afloop van die 2024-verkiesing kan hier die potensiële vonk in die spreekwoordelike kruitvat verskaf. Dit plaas die land voor ʼn politieke en selfs ʼn grondwetlike krisis – voorgehou as ʼn unieke Suid-Afrikaanse Lente.

Kenmerke en veronderstellings

Politieke, ekonomiese en maatskaplike uitdagings word polities gemobiliseer tydens die verloop van die verkiesingsproses, verkry momentum en laat politieke onstabiliteit toeneem. Hierdie uitdagings verwys na daardie sake wat in die aanvanklike ontleding as sodanig geïdentifiseer is.

Spesifieke kwessies wat as politieke snellers in hierdie konteks sou kon dien, sluit in kwessies wat met sosiale kohesie (ras, kultuur of identiteit) te make het, ʼn finansiële (skuld) krisis wat veroorsaak dat maatskaplike toelaes nie betaal word nie, toenemende xenofobiese tendense, politieke elites se verlies aan politieke mag en hul politieke reaksie hierop, ʼn verkiesing wat ontspoor as gevolg van talle redes, leierskapkonflikte, hofbeslissings rakende politieke elites en reaksionêre optredes en voedselsekerheid.

Verlies van politieke mag, veral waar die ANC-regering mag verloor, word gewelddadig ondermyn. Staatstrukture het ʼn onvermoë om die situasie te hanteer en verlies aan politieke beheer beteken toenemende chaos, wanorde en misdadigheid, wat toenemend buite beheer raak.

Die gesag van die grondwet (en groter politieke regime) word uitgedaag en bestaande leierskap gediskrediteer en kan selfs totaal verwerp word.

Praetoriaanse ingrypings (die rol en aanwending van veiligheidsinstellings in belang van wet en orde) werk net ten dele en die opsie van ʼn politieke staatsgreep is aanwesig onder politieke elites – veral diegene wat baie het om te verloor. ʼn Vorm van eksterne ingryping/s kan nie hier uitgesluit word nie.

Ruimte bestaan in die aanwesigheid van visionêre leierskap dat botsende groepe deur onderhandelings en die soeke na konsensus antwoorde vir vraagstukke (polities, ekonomies en maatskaplik) kan vind.

Die implikasies vanuit hierdie scenario is verreikend vir regime stabiliteit, en ʼn volledige “regime breakdown” kan nie noodwendig hier uitgesluit word nie.

Uitkomste en implikasies

Hierdie is die spreekwoordelike slegte-saak-scenario en dui op patrone van politieke onstabiliteit as uitkoms van ʼn reeds onstabiele omgewing. Geaktiveer deur ʼn snellermeganisme (ʼn gebeurtenis of kombinasie hiervan), word die stelsel finaal oor die afgrond geneem of verloor ten minste beheer oor die situasie – reëel en perseptueel.

Parallelle strukture wat reeds bestaan, is te swak om die funksies van die staat te hanteer in die lig van ʼn waarskynlike “regime breakdown”.

Sterk en visionêre leierskap (tans nie juis sigbaar nie) kan binne sodanige omgewing (eksterne ingrypings kan nie uitgesluit word nie) deur onderhandelings, skikkings en fundamentele hervorming die grondslag lê vir die vestiging van ʼn nuwe of veranderde staatkundige orde.

Evaluerende perspektiewe

Suid-Afrika staan op die vooraand van een van die belangrikste verkiesings sedert 1994, met verreikende implikasies vir die regerende ANC se politieke elites. Die regerende ANC se posisie gaan verswak (in vergelyking met die 2019-verkiesing) en ʼn volstrekte meerderheid is nie outomaties verseker nie. Die uitkoms van hierdie verkiesing (teen die agtergrond van reuse-politieke, ekonomiese en maatskaplike uitdagings) kan verreikende implikasies inhou vir die regerende party, maar ook vir die regerende elite binne die groter politieke regime.

Indien die magsbasis (lees die bevoorregte posisie van ontplooide kaders) as gevolg van die uitslag in gevaar is, kan regime onstabiliteit nie uitgesluit word nie. Trouens, dit is reeds ʼn werklikheid in omgewings soos Tshwane en Johannesburg, waar die ANC plaaslike politieke mag moes afstaan en (soms saam met die EFF) ondermynend, destabiliserend en selfs misdadig opgetree het en steeds optree.

Myns insiens is Scenario 1 en/ of scenario 2 die meer waarskynlike uitkoms vir die 2024-verkiesing. Generaal Jan Smuts het immers profeties gesê dat nóg die beste nóg die slegste ooit in Suid-Afrika gebeur! Tog kan scenario 3 nie van die tafel gevee word nie, hoewel ʼn snellermeganisme betreffende ʼn gebeurtenis (of kombinasie van gebeure) dan veronderstel word.

Die huidige politieke status, gegewe die aard en impak van talle veranderlikes en die wyse hoe dit tans bestuur word, is nie polities volhoubaar nie. Slegs die fundamentele hervorming van die politieke, ekonomiese en maatskaplike orde kan Suid-Afrika oor die medium en langtermyn red van ʼn potensiële slegte-saak-scenario (scenario 3).

Indien die slegste scenario nie in 2024 manifesteer nie en die regering bestuur en onderpresteer op die huidige trant, is die krisis vorentoe wat insluit die 2026-plaaslike verkiesings of die 2029 nasionale en provinsiale verkiesings myns insiens gewaarborg. Hierin lê geleentheid vir talle groepe om op verskillende terreine en werkswyses op te tree as die bouers van ʼn nuwe en beter politieke, ekonomiese en maatskaplike orde.

Wat duidelik is, is dat die uitkoms van hierdie verkiesing die potensiaal het om die politieke landskap in Suid-Afrika drasties te verander, en dat die reaksie van belangegroepe en rolspelers in hierdie verband moeilik voorspelbaar is.

Die woorde van Antonie Gramsci vat die situasie goed saam as hy dit stel dat: “I’m a pessimist because of intelligence, but an optimist because of will. The old world is dying, and the new world struggles to be born: now is the time of monsters. I hate the indifferent.”

Hierdie artikel is die laaste in ‘n reeks van drie oor die 2024-nasionale en provinsiale verkiesing, wat aanvanklik vir die Afrikanerbond geskryf is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: André Duvenhage

André Duvenhage is politieke ontleder en professor in Politieke Wetenskap aan die Noordwes-Universiteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Die wêreldpolitiek begin SA insuig. Ons is nie meer ver van alles soos in die verlede nie. Groot verdeeldheid in swart geledere tov mag en ook met betrekking tot die Midde-Oosterse kwessies, gaan 2024 oorheers. Bloed kan hier ook vloei.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die ANC kan ook ‘n noodtoestand afkondig en nog vir dekades regeer. Die kruppel weermag sal hulle beskerm. Dis maar hoe dit werk in Afrika. Wie steur hulle aan demokrasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.