Suid-Afrika word geregeer deur ’n intens korrupte man

Pres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

Die laaste paar jaar kan ’n mens ’n interessante ontwikkeling in die openbare politieke debat rondom die ANC – en meer bepaald pres. Jacob Zuma – sien.

Wanneer daar oor korrupsie gepraat word, word alle versigtigheid oorboord gegooi. Daar word nie meer op ’n bedekte wyse te kenne gegee dat die president korrup is nie; dit word sommer reguit gesê.

Dit sê baie vir die volslae minagting waarmee talle Suid-Afrikaners hul staatshoof beskou. Dis iets wat in min ander lande, indien enigsins op dié skaal voorkom.

In die Suid-Afrikaanse reg is die vryheid van spraak, soos veranker in die Grondwet, ander wette en die howe se regspraak, besonder wyd.

Eintlik is daar slegs twee beperkings. Die een is haatspraak; die ander is laster – en laasgenoemde is relevant as ’n mens in die openbaar oor Zuma se korrupsie praat.

Daar is geen wet in Suid-Afrika wat korrupsie definieer en reël nie. Deur die jare heen was daar wel verskeie regterlike uitsprake wat presedente geskep en dus gewoontereg geword het.

Kortpad gevat, kom dit op die volgende neer. Laster beteken eenvoudig dat jy iemand se waardigheid en eer in die oë van sy gemeenskap aantas.

Laster hoef nie onwaar te wees nie; jy kan iemand ook met die waarheid belaster. As dit onwaar is, is dit wel ’n verswarende omstandigheid.

Om dit deur middel van ’n konkrete voorbeeld te illustreer: Ek kan ’n omsendbrief in elke posbus in my straat stop met die boodskap dat die man by nommer 11 sy vrou elke aand pimpel en pers slaan. As dit onwaar is, is dit strafbare laster.

Maar selfs al is dit waar, bly dit laster. As die man my vir laster dagvaar, sou my enigste verweer openbare belang kon wees.

In ’n geval soos dié sou dit buitengewoon moeilik wees om te bewys dat dit in belang van al die inwoners in die straat is om bekend te maak dat die man by nommer 11 sy vrou aanrand. Die manier om dit te hanteer sou wees om hom by die polisie aan te gee, want aanranding is immers ’n oortreding van die wet.

Nou vat ons dit ’n stap verder. Ek versprei ’n berig aan die gemeentelede dat die dominee ’n dubbellewe het: Bedags stap hy ewe sedig rond in die gemeente; snags trek hy ’n masker oor sy kop en staan aan die hoof van ’n bende wat huise beroof.

As dit ’n leuen is, is ek diep in die moeilikheid. As dit waar is, kan ek sê dis in die openbare belang dat die gemeente weet watter soort mens staan Sondae op die preekstoel en vertel die kerkgangers hoe hulle moet leef.

Dis dié beginsel wat op Zuma van toepassing is.

Wat wéét ons bo alle redelike twyfel van Zuma?

Ons weet dat daar 783 klagte van korrupsie, magsmisbruik en rampokkery bokant sy kop hang. Ons weet dat daardie klagte teruggetrek is deur die hoof van die openbare vervolgingsgesag, adv. Shaun Abrahams.

Ons weet verder dat Abrahams Zuma se persoonlike keuse vir dié pos was. Ons weet dat Zuma ’n voorkeur het vir mense in invloedryke openbare poste wat doen wat hom – sal ons dit maar sagkens stel – welgevallig is.

Ons weet ook dat die DA die hof gevra het om Abrahams se terugtrekking van die 783 klagte as “irrasioneel” te verklaar. En dat Zuma se eie advokaat, Kemp J. Kemp, voor die hof moes toegee dat dit irrasioneel was om die klagte terug te trek.

Ten slotte weet ons dat regter Hilary Squires in 2006 vir Schabir Shaik skuldig bevind het op aanklagte dat hy geld in ruil vir politieke gunste aan Zuma betaal het. Die regter het dit nie so reguit gesê nie, maar as dit ’n feit is, beteken dit immers ook dat Zuma daardie geld in ontvangs geneem het.

En as woorde betekenis het, maak dít van Zuma ’n korrupte man.

Nou kom ons terug by die oorspronklike uitgangspunt.

Om sonder omhaal van woorde te sê Zuma is korrup, is tegnies lasterlik. Jy tas immers sy eer in die gemeenskap aan.

Maar albei moontlike punte van verweer wat vir laster geld, is hier van toepassing.

Ten eerste blyk uit al die feite wat hier bo genoem is, dat Zuma óf korrup is óf dat die moontlikheid van sy korrupsie oorweldigend groot is. Tweedens is hy die president van Suid-Afrika en dit is in die openbare belang dat die gemeenskap wéét dat hy korrup is.

Indien Zuma nou die moeite sou doen om my weens laster te dagvaar, is daar min twyfel dat die regter my verweer – waarheid en openbare belang – sou aanvaar. Net om die vernedering nóg groter te maak sou ’n mens selfs die regter kon vra om, indien hy my skuldig bevind, my ’n skadevergoeding van R1 aan Zuma te laat betaal.

Maar natuurlik gaan Zuma my nie dagvaar nie. Net so min as wat hy enigeen van al die duisende mense wat daagliks in die openbaar, op die internet of in druk, eksplisiet of implisiet na sy korrupsie verwys.

Hy sal mý nie dagvaar nie, want ek is maar klein en onbelangrik. Maar hy sal ook werklik belangrike mense wat so sê ook nie dagvaar nie, want hy weet dat hy nie ’n kat se kans in enige hof sal hê nie.

En as ’n regter in só ’n saak téén hom beslis, kan ’n ieder en ’n elk ongestraf oor hom sê byna net wat hulle wil. Dan is sy posisie nog verder verswak.

Maar polities maak dit nie werklik baie saak nie. Die punt is dat die koerante en die internet-media byna daagliks melding van Zuma se korrupsie maak, byna asof dit vanselfsprekend is.

Amper so vanselfsprekend as om te sê die son kom daagliks in die ooste op.

Ek is nie bewus van enige politikus in die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat al só langdurig en só dikwels só erg in die openbaar as Zuma verneder is nie. Maar die man het ’n dik krokodilvel; al wat blykbaar vir hom saak maak, is om die einde van sy bewindstermyn te haal sonder om in die tronk te beland.

Intussen – en Zuma, luister maar hier – Suid-Afrika word geregeer deur ’n intens korrupte man. Sy naam is Jacob Gedleyihlekisa Zuma.

So sue me.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

TESS ·

Ek dink daar is ook ander kurrupte mense-nogal baie, maar ek dink Zuma is die enigste een wat dit met trots dra.

Hendrik ·

Wel eerstens het Zuma geen skaamte nie en tweedens laat die grondwet hom toe om sy agenda deur te voer. Die grondwet laat die president van S.A toe om oor die 70 aanstelling te doen bv. hoofregter, publieke vervolger, ens. Niemand het in hulle naiewiteit voorsien dat die president nie die poste sal vul deur die beste mense (ongeag velkleur) maar hy het die poste gevul met sy kaders. Dus ….. daar is fout met die grondwet en gaan dit verander kan word?

Rupert Ashford ·

Leopold die probleem wat hierdie situasie egter vir Suid-Afrika skep verder aan in die geskiedenis is beduidend. Ons het ‘n grens oorgesteek die dag toe dit algemene kennis geword het dat ons ‘n korrupte president het en niemand iets daaraan gedoen het om die man uit sy pos te verwyder nie. Die presedent is geskep vir die volgende president…

Verwonderd ·

En dan tweet Gwede Mantashe dat daar ‘n krisis sal wees as numa one nie die leisels aan Ramaphosa oorhandig nie… Wat bedoel hy presies daarmee? ‘n Derde Termyn miskien? Ek wonder oor die 2019 verkiesieng se haalbaarheid.

Flip ·

Dit is nie heeltemal korrek dat daar geen wet in Suid-Afrika is wat korrupsie reël en definieer nie. Daar is die ” Prevention and Combating of Corrupt Activities Act” van 2004 en dié se voorgangers – die “Korruptie Verhinderings Wet” van 1918 en die “Wet op die Voorkoming van Korrupsie” van 1958.

aunti zumpta ·

Dankie Flip. Hoe werk dit? Want dit lyk asof niemand daarvan weet nie.

Francie ·

Hendrik, ekself wroeg ook al lankal oor ons “perfekte , demokratiese” grondwet.
Dit is blykbaar destyds geskryf met ‘n leier soos mnr Mandela as voorbeeld. Goed en wel, daar kon in die toekoms eerbare leiers na vore kom,, maar dit bly tog maar eenmaal so dat voorkeur gegee word aan “jou” mense .
Hoekom soveel mag aan enige president gee? Ons wonderlike grondwet en die opstellers daarvan het nooit daarvoor voorsiening gemaak dat ‘n deurtrapte korrupte mens die skuiwergat sou misbruik nie. My probleem is dat niemand klaarblyklik iets daaraan kan of wil doen nie. Ons neem daagliks tot satwordens kennis van hierdie skelms wat doodluiters aangaan met hulle korrupte agenda. Hoe lank nog! sal ek baie graag wil weet. Ons leef allermins in ‘n demokratiese land.

Haan ·

Ons het al sedert FW n korrupte man aan die stuur van die land en julle is verbaas oor dié een?? Haibô…
Psalm 146:3

Verstom ·

Ek stem saam met jou Haan vlg Ps 146:3. My vertroue is slegs op dié Prins van prinse. Gelukkig weet ons dat elke prins sy dag van afrekening sal kry wat nie aards gebonde is nie.

Theresa ·

Maar dit bly verkeerd dat hy toegelaat word om die staatshoof te bly. Dit skep verwarring by jeugdiges wat beslis nie doof of blind is vir sy doen-en-late nie. Dit breek die hele nasie af tot die rommelstatus van die ekonomie. Hy moes nie die reg gegee word om in die posisie aan te bly nie. So, wie dit hom ookal bly toestaan, is ook skuldig aan die afbreek van almal en als in die land. Almal smag na ‘n goeie leier vir hierdie land.

Eish ·

Ek dink jy is heeltemal uit voeling met die woelinge in die jeug, tensy jy stipuleer watter deel van die jeug. Indien jy die ANC jeugliga insluit in die term, sit jy die pot mis. Kyk na die uitsprake. Hul kry die politieke agenda saam met moedersmelk in. Die “succession planning” is iets wat jy die meerderheid bittermin gaan leer. Rhodes must fall, feesmustfall ens kom van die jeug af en volg die Afrikabloudruk. Die kwessie word genoem Afrika-intellektuele tradisie, met dank ontleen van n geleerde se artikel vroeër die week op MM. Die blanke jeug, dit is n kwessie op sy eie.

A. Mac ·

Dit is nou nie ‘n leuen nie. Maar dan moet ook die mense wat hom daar gesit het en hom daar hou, ook as aandadiges in hierdie situasie uitgewys word. Hierdie is nie net ‘n een-man sirkus wat in die land aangaan nie, dis sy korrupte voetlekkers ook wat net so lekker baai in sy glorie van korrupsie.

Mario ·

Daar is inderdaad n omvattende wet wat korrupsie omskryf en is so wyd soos die Heer se genade. Die strafbepalings is ook baie daar.

aunti zumpta ·

Dankie Mario. Soos ek nou nou vir Flip gevra het, Hoe werk dit? Want dit lyk asof niemand daarvan weet nie.

John ·

Die punt van ‘n ysberg wat bo die water uitsteek, is sekerlik ook deel van sy lyf onder die water… eintlik die grootste en die gevaarlikste deel. Om die deel af te skiet wat jy kan sien, verminder nie die gevaar nie. Inteendeel. En dit is ook hoekom die Zuma-sepie net aan en aan loop soos sepies mos doen, want diegene wat die hoofkarakter uitskryf, doen ook so met die res. Of Leopold vannag lig slaap weens sy dapper volsinne, sal net hy weet… Dit help natuurlik om die duiwel annerkant die diep blou see te hou… net ingeval…

Eish ·

Dit is baie moeilik om in sulke omstandighede n postiewe gesindheid teenoor die helhool en sy mense te behou, baie moeilik.

Anoniem ·

Leopold, jy is verkeerd. Zuma gee vir 2 goed om:
1. Om sy bas uit die tronk te hou.
2. Om soveel geld moontlik bymekaar te maak.

Koos1 ·

Ek is nie ‘n regskenner nie, maar met SA wat deel is (maar volgens Zuma nie wil wees nie!) van die Internasionale Regshof, kan hy nie oorsee aangekla word nie?
Daar is mos die BP/Guptas sage wat BP in Engeland laat vou het en ondersoek word?
Sy korupsie is dan nou internasionaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.