Suid-Afrika word wat hy is

SAvlag

Suid-Afrikaanse vlag. Argieffoto.

Die groeiende krisis in Suid-Afrika het die land weereens voor ʼn historiese kruispad te staan gebring. Die vraag is eerstens: Hoe het ons hier gekom? Tweedens volg: Hoe gaan ons hier uitkom?

Suid-Afrika het in die tagtigerjare algaande in ʼn politieke doodloopstraat beland. Die ANC kon nie in sy doel slaag om die regering met ʼn gewelddadige rewolusie omver te werp nie, en die NP-regering kon nie genoeg swart vennote kry om sy hervormingsprojek te laat slaag nie.

Grootskaalse demografiese, politieke, ekonomiese en maatskaplike omwentelings het ʼn rigtingverandering onvermydelik gemaak. Boonop het die einde van die Koue Oorlog die politiek terselfdertyd “ontvries”, wat verdere druk op die twee hoofrolspelers geplaas het. Die groot vraag was egter: In watter rigting moes daar verander word?

Daar was basies twee keuses. Die eerste een was ʼn gewone “een mens, een stem”-meerderheidsregering wat oor die hele Afrika in gebruik is, teenoor ʼn federale bedeling wat meerderheidsregering vir minderheidsbeskerming sou verruil. Die Amerikaanse staatsman, Henry Kissinger, het só gewaarsku dat die gewone meerderheidsdemokrasie nie hier sou werk nie:

“In die Weste het demokrasie uit homogene samelewings ontwikkel. Daar was nie institusionele versperrings vir ʼn minderheid om ʼn meerderheid te word nie. In die Weste is verkiesingsneerlae gesien as ʼn tydelike terugslag wat weer omgekeer kan word. Maar in multi-etniese lande beteken minderheidstatus gereeld permanente diskriminasie en die risiko van politieke uitwissing.” Dis hoekom demokrasie in Afrika misluk het.”

Federalisme

Daarteenoor het die Britse staatsman, Lord Acton, ʼn federasie gesien as die beste stelsel teen die misbruik van staatsmag: “Van alle soorte toetse aan demokrasie, is ʼn federasie die beste stelsel om vryheid vir almal te verseker. Die federale stelsel beperk en beheers die soewereine gesag deur dit te verdeel en slegs sekere omskrewe regte aan die regering toe te ken.”

In die praktyk lei ʼn gewone meerderheidstelsel in ʼn land soos Suid-Afrika, onvermydelik tot magsentralisasie, en het ʼn party selfs met 51% steun prakties 100% van die mag. Daarenteen word mag in ʼn federasie verdeel en versprei om te verseker dat gemeenskappe oor die oorspronklike magte beskik om oor hulle eie sake te besluit.

Dit is die rede hoekom multi-etniese federasies soos Switserland, Kanada en België bestendig en voorspoedig is, teenoor “demografiese demokrasieë” waar die meerderheidsregering in die praktyk tot meerderheidsoorheersing lei. In hierdie lande is al die samestellende dele vry, en nie net die meerderheid nie.

Nieteenstaande hierdie internasionale lesse het Suid-Afrika egter téén federalisme en vir ʼn gewone meerderheidsbestel gekies. Nou sit ons met ʼn sentralistiese stelsel waar die mag in ʼn korruptte president gekonsentreerd is.

Maar daar is hoop. Suid-Afrika is ʼn uiters heterogene staat, wat tans deur die werklikhede van die land “gefedereer” word. Die sentrale regering se mag word van bo en onder af verswak. Van bo af deur globalisering en swak regering, en van onder af deur privatisering, tegnologie en gemeenskappe wat hulself begin help. Dit lyk of die land die vorm van die federale werklikheid begin aanneem. Suid-Afrika gaan uiteindelik word wat hy is.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Sjo! ·

Onbevoegdheid en korrupsie het Suid Afrika daar gekry waar hy is!!! Die teenoorgestelde kan hom daar uitkry maar dit sal nie gebeur nie !
Die anc en kaders sal nie hul mag wil verloor nie al beteken dit n beter land vir die meeste.
Korrup tot op die been, die bloed gaan moet vloei vir n beter Suid Afrika…

Veritas ·

Flip ek ag jou skrywe normaalweg bogemiddeld maar ek is bevrees jy slaan die bal hier vêr mis. Geen federale stelsel sal ooit in Sui-Afrika ontstaan nie. Die kans is goed dat ons ook nie in die afsienbare toekoms ‘n ‘demokratiese’ verkiesing sal sien nie. Dalk is ek onnodig swartgallig maar ek sien ‘n diktatorskap in wording. Die skynbare onaantasbaarheid van die president is ‘n duidelike teken hiervan. Dít en die feit dat enigeen, binne sy party, wat durf van hom verskil, onmiddellik uit die pad geskuif word.

Nouja ·

Veritas, ek deel jou sentimente. ‘n Federale bestel wat skielik vanuit die hemele hier op ons al kleiner wordende volkie gaan neerdaal en ons tot redding gaan stem, is kinderagtig en belaglik. Ek kan nie verstaan hoe dit en die pseudo volkstaat idee deur dieselfde mense aangeprys kan word wat so uit die boks kon dink en ‘n digitale geldeenheid kan voorstaan nie. Die volkstaat of federale bestel is iets wat ‘n ouer generasie met alle erns en opregtheid voorgestel het. Dit is politieke denke wat hoort tot die verlede en is nie meer relevant in 2017 nie sal nog minder relevant wees in 2027. Ons moet asb ophou om valse beloftes en leuns te verkondig.

Eish ·

Tensy dit vinnig plaasvind, is ek nie so seker dat ons dit gaan beleef as n groep wat die Westerse en Christelike waardestelsel aanhang nie. Daarvoor is die misdaad net te hoog, die BEE se slagoffers net te veel en die gevolglike verarming grotesk. Ons verouder teen n groter tempo as ons aanwas en leef in n uiters vyandige omgewing.

Intrinsieke verdeeldheid het tot gevolg dat die oorgrote meerderheid van die blanke minderheid nie tot Burgerregte groepe behoort nie, wat uiteraard die trefwydte van enige aksies benadeel. Miskien moet die politieke landskap goed deurmekaar gekrap word deur n politieke arm van Burgerregte groepe. Soos dinge nou staan is die Afrikaner leierloos in die politieke woestyn.

Indien die proses soos beskryf n spontane proses is sonder dat dit gedryf word in n duidelik gedefinieërde beleid, kan die uitkoms na enige kant val. Tyd skiet tekort ten einde n leefbare uitkoms te bestuur en te verseker in die milieu waarin dit moet plaasvind.

Tog, ons hoop en vertrou dat u voorspelling waar word. Net deur ons Hemelse Vader se genade.

Sebastiaan ·

Eish en Veritas, ek dink Flip Buys is wel reg. By julle hoor ek nog die verknogdheid aan die staat Suid-Afrika, wat deur ‘n goeie leier en ‘n opposisieblok wat die verkiesing wen gered kan word. Dis mos die ou Afrikaner-sentiment, wat NP, KP en DA met verskillende verpakkings aan ons smous. In praktyk is Suid-Afrika reeds 1000 klein leefwêrelde in een land, en was dit eintlik nog altyd.

Johan ·

Veritas ek stem saam met jou. Hoekom dink jy is Mugabe hier? Hy moet hulle kom wys hoe werk n diktator.

JC ·

Johan, baie skerp waarneming, ek het dieselfde ding gedink; maar ek stem ook beslis saam met Sebastiaan se mening, en dus Flip se oorwoe mening. Dankie.

Henry ·

Sou dit nie wonderlik wees indien jy korrek is nie Flip!

Ek twyfel egter sterk of jy al die werklikhede van hierdie droewe land in ag neem wat ‘n “ge-federeerde” staat ten gevolg mag hê.

Wat van grondgryp, radikale swart bemagtiging en nasionalisering om enkele haakplekke te noem. Struikelblokke wat miljoene ondersteuners in hierdie staat het en kenmerkend van talle ander Afrikastate is?

JC ·

Ek sukkel om sin uit jou argumente te maak Henry, federalisme is dan juis ooglopend die (ENIGSTE) antwoord vir die onbeskaafde gevare wat jy noem?
Die alewige gelip-suigery oor aansprake op ons land is ook vervelig, en moenie dat politiese opstokers en moeilikheidmakers wat met onwaar en emosionele uitsprake vorendag kom, jou denke beinvloed nie.
Dit IS MOS dan heel eenvoudig, blankes en ons bruin broers en susters, was onteenseglik HEEL eerste in die Kaap(wes en Noord) , d.i. grotendeels die westelike gedeelte v/d land, terwyl swartes kan aanspraak maak daarop i.v.m. getalle oorwegings, dat hulle eerste in die Ooste v/d land was (alhoewel hulle ook vandaar af die Khoi-khoi en San verdryf het).
Wat is so moelik daaraan, gaan lees Giliomee indien onseker.

Henry ·

Jammer om te hoor van jou ge-sukkelry JC.

Met die uitsondering van Nigerië en Ethiopië wat eers bloedige en langdurige burgeroorloë gevoer het, is daar nie ander Subsahara Afrikastate wat met ‘n federale stelsel kan spog nie. Bly maar ‘n bederfie wat hoofsaaklik in ontwikkelde demokrasieë soos die Aussies en Amerikaners s’n te vinde is.

Sal interessant wees om te hoor wat die huidige regime en hul meer radikale geesgenote – die EFF – se reaksie sal wees wanneer jou Weskaapse wit/bruin federale staat gedagte aan hulle voorgestel sou word. Ek vermoed dat die regime, die EFF en die res van 50 miljoen siele nie baie beïndruk gaan wees met die spesiale reeling vir die wit minderheid en ‘n gedeelte van die bruin bevolking nie. Veral gesien teen die agtergrond van al die “agterstande” wat sedert 1994 nie eers amper ingehaal of ge-transformeer is nie. Grond, geld, huise, gratis opleiding werkgeleenthede, gratis medies en wat nogal vir 50 miljoen moet sekerlik voorkeur geniet, bo die fênsie federale gedagte met ‘n wit/bruin aparte federale staat. In die Weskaap van alle plekke. Nogal.:-)

Ek deel nie Mnr Buys se optimisme dat hierdie droewe land onderweg is om in die praktyk na ‘n federale regeringstelsel sal transformeer nie.

Hermann Gilliomee, ander geskiedskrywers en kundiges se skryfsels is goed bekend aan my, dankie.
:-)

wegbeweeg ·

ons sal moet wegbeweeg want die meerderheid weet niks van ekonomie nie en sal nooit. ons kan nie meer dat hulle oor ons toekoms besluit nie.

Bekend Maak Bemind Vrydenker Erdvark ·

Flip, baie dankie vir hierdie artikel.

‘n Federale stelsel in Suid-Afrika is moontlik. Maar dan moet elkeen van ons in gesprek tree met ander minderheidsgroepe oor gedeelde waardes en ons gesamentlike realistiese drome vir ons nageslagte. En alle Suid-Afrikaners moet besef dat daar geen bewyse is welke kultuurgroep was die eerste Homo sapiens sapiens bewoners van Suid-Afrika. Alle huidige groepe se voorouers in Suid-Afrika kon waarskynlik kolonialiste gewees het.

So, as Suid-Afrikaners voorspoed wil beleef, sal hulle wêreldkompeteerbaar moet wees, gesamentlik en afsonderlik! Dit is die realiteit! Federalisme sekondêr.

Henry ·

Die mense/organisasies/politieke groeperinge binne die huidige politieke stelsel, wat namens die meerderheid van hierdie land se bevolking/kiesers optree, sal na alle waarskynlikheid “bewys” dat hulle die eerste bewoners van hierdie droewe land is/was.

Drie vrae:

Met watter minderheidsgroepe moet oor watter gedeelde waardes gesels word en hoe sal die meerderheidsgroep(e) oortuig word om die minderheidsgroepe se standpunte te aanvaar?

bgj van der westhuizen ·

wel np het ons uit verkoop aan die anc en toe raak hulle een wat se jy de klerk en na 23 jaar is die land in sy hel baie dankie aan al die slim mense in die ou np regering wat so swak plan gehat het om nie n beter manneer het om die land weg te gee aan klom mense wat niks weet om n land te bestuur nie

Delarey ·

Stem Sebastiaan. Op ‘n manier bly ons reeds in ‘n federale bestel omdat ons weet die regering wil en kan niks vir ons doen nie. Ons sorg dus self met privaat sekuriteit, privaat skole, hospitale ens, ens.

“Veritas” en “Nouja” as formele federalisme onmoontlik is beteken dit “die geskiedenis is verby” en “die wiel draai nie meer nie” (en vir die van ons wat gelowig is dat God nie almagtig is nie). 30 jaar gelede het mense geglo dis onmoontlik dat SA ‘n swart president gaan kry en net 5 jaar gelede het mense geglo dis onmoontlik dat die ANC se steun tot naby aan 50% sal daal. Nou glo mense dis onmoontlik dat die ANC nie hulle agende, wat soorgelyk aan die van Mugabe is, kan deurvoer nie.

Dis egter geen uitgemaakte saak nie. Wat gaan gebeur wanneer Mugabe sterf? Dit blyk ook dat die ANC besig is om te verbrokkel. Wat gaan gebeur as daar ‘n rewolusie in SA uitbreek soos baie ontleders voorspel. Ens. Ens.

Sterk staan Afrikaners. Vertrou op God, wees betrokke in jou gemeenskap en bou. MOENIE oorgee en sé daar is nie ‘n toekoms in SA nie (God is almagtig). En wag en wees gereed ….want die wiel draai beslis!

JC ·

Dankie! vir jou bydrae, en positiewe en opbouende kommentaar:)

Louis Botha ·

Die probleem met ons politieke stelsel is dat dit ń dun baadjie van demokrasie dra waarin die hoof van die wenparty maklik ń despoot kan word.
Hy, of sy stel sy maters aan in poste waarmee daar gesorg word dat hy nie uitgedaag kan word nie. As enigeiemand dwars trek word die persoon eenvoudig afgedank en verloor al die gepaardgaande mag en voorregte.
Bevoegdheid en meriete is dus minder belangrik as persoonlike lojaliteit.
Gevolglik sit ons met ń stelsel waarin een persoon totale mag bekom.
Dit pas wel by die ou Afrika koningshuismodel.
As dit nie verander nie gaan die “koning” en sy trawante geweldig ryk en magtig word en die ekonomie stelselmatig vernietig word.
Ons sal op ń manier hierdie model moet aanpas maar dit is na alle waarskynlikheid reeds te laat.

Johanna Botha ·

N gemors waar niks werk nie en alles vervalle raak met mense wat steel ,plunder, brand , verkrag en moor en met alles wegkom ….die nuwe SA met komplimente van die anc en die ja stem , wat gedink het alles gaan maanskyn en rose wees …en wat het ons nou ….n GROOT gemors !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.