Suid-Afrika, Zimbabwe en die grondkwessie: Ooreenkomste en verskille

land-grond-landbou-onweer-donderweer-weerlig-wolke-deur-eugene-triguba-unsplash

Foto: Eugene Triguba/Unsplash.com

Dit is teen dié tyd reeds ou nuus dat die heersende ANC-party besluit het om ’n beleid van onteiening van grond sonder vergoeding na te jaag. In die vroeë 2000’s was die wêreld geskok toe ons buurland, die “Broodmandjie van Afrika” begin het om grond van blanke boere af te neem sonder kompensasie. Die doel van hierdie artikel is nie om paniek te saai nie. Suid-Afrika en Zimbabwe is uiteraard ook nie spieëlbeelde van mekaar nie. Dit is wel tog belangrik om te let op die ooreenkomste.

Daar word dikwels vergeet dat oudpresident Mugabe in die vroeë 2000’s aanvanklik gekant was teen wanordelike grondgrype. ’n Stelsel waar grond onteien is (sonder vergoeding) deur ’n wetlike proses was Mugabe se aanvanklike gunsteling. Later van tyd het Mugabe openlik wanorde en wettelose grondgrype ondersteun.

Die samevatting van die Zimbabwiese geskiedenis hierin kom in ’n groot mate vanuit die uitspraak van daardie land se hoogste hof op 21 Desember 2001 in die saak van Commercial Farmers Union v Minister of Lands Agriculture and Resettlement, Zimbabwe and Others. Die uitspraak getuig van groot dapperheid van ’n klein groepie regters wat in daardie stadium onder enorme politieke druk intellektueel eerlik gebly het.

Die Zimbabwiese Grondwet ná onafhanklikheidswording het die beginsel van gewillige koper en verkoper beskerm. Sedert 1990 is die Zimbabwiese Grondwet stelselmatig afgewater om dit makliker te maak vir die staat om grond te bekom. Tot en met 1992 is ongeveer 2,3 miljoen hektaar grond bekom. Tussen 1992 en 1993 is ’n verdere 900 000 hektaar verkry deur die Zimbabwiese staat. Die hervestigingsprojekte was in ’n groot mate onsuksesvol weens, onder meer, tekorte aan kapitaal en infrastruktuur.

Op 28 November 1997 het ’n lys van 1 471 kommersiële plase in die Zimbabwiese staatskoerant verskyn. Die regering het die voorneme aangekondig om daardie grond te onteien. Voor daardie datum, is grond deur die departement van landbou geïdentifiseer vir verkryging deur die staat. Die lys van 1 471 plase is egter opgestel deur die goewerneurs van die onderskeie provinsies, tesame met lede van die regerende Zanu-PF-party.

Ná die ontvangs van voorleggings deur die meeste tersaaklike grondeienaars is 512 plase van die lys verwyder. In September 1998 is ’n konferensie gehou vir internasionale beleggers in ’n poging om kapitaal bymekaar te skraap vir die hervestiging van plase. Daar is ’n plan beraam om aanvanklik ’n toetslopie te doen met ’n kleiner groepie plase op die lys. Hierdie inisiatief het spoedig misluk.

Kort hierna het die regering besluit om summier al die oorblywende plase op die lys te vat, selfs nog voordat al die besware oorweeg kon word. Die gebrekkige administratiewe prosesse het oponthoude vir die regering geskep in die spesiale administratiewe howe.

In Februarie 2000 is Zanu-PF in ’n referendum om die Grondwet verder te wysig, by die stembus verslaan. Kort hierna het totale chaos uitgebreek.

Persone wat die hof beskryf het as “war veterans, landless peasants and unemployed townspeople” het onregmatig kommersiële landbougrond ingevaar. Aanranding van boere en plaaswerkers, veediefstal, brandstigting en saakbeskadiging het hoogty gevier. Lewens is verloor tydens die opstande. Die polisie het bitter min hulp verleen aan die slagoffers van misdaad, ten spyte van ’n hofbevel van 17 Maart 2000 wat hul gelas het om wet en orde te handhaaf. Dié bevel het ook die grondgrype verbied. Ten spyte daarvan dat die polisie toegestem het tot daardie hofbevel, is dit algemeen verontagsaam en verskonings soos ’n gebrek aan mannekrag en opdragte van hoë polisie-offisiere is as verskonings geopper om nie die bevel uit te voer nie.

Verskeie plaasbesetters is in staatsvoertuie of deur die regerende party aangery na plase. Die staatshulp aan die onwettiges het plaasgevind terwyl die hof bevind dat dit juis die staat se versuim (om ordelike grondhervorming af te handel) was, wat die wanorde veroorsaak het.

In die uiteindelike bevel van die dapper regters van die hooggeregshof is beslis dat reg en geregtigheid in die landbougemeenskap totaal verval het. Verdere prosesse met betrekking tot grondhervorming word toe opgeskort/verbied totdat wet en orde herstel is.

Die hartseer einde van die hofsaak is die lot van die meeste van die dapper regters. Hoofregter Gubbay word in vroeë aftrede ingedwing nadat oorlogsveterane die hof binnevaar. Die polisie het geweier om sy veiligheid te waarborg ten spyte van die vele dreigemente teenoor hom. Regter McNally volg kort hierna op sy hakke. Regter Ebrahim bedank in 2002. In daardie stadium was hy die laaste regter van ’n ander etnisiteit in die hooggeregshof. Regter Sandura tree in 2011 af, en regter Muchechetere is in 2002 aan malaria oorlede. Teen 2003 het die hooggeregshof in Zimbabwe geen wit regters meer oorgehad nie. Ná die geforseerde uittrede van hoofregter Gubbay, het oudpresident Mugabe ’n oudminister van sy kabinet aangestel om hom te vervang.

Die groot vraag is, waar laat dit Suid-Afrika? Suid-Afrika het 14 jaar later as Zimbabwe ’n regeringsoorgang beleef. Die Grondwet van 1996 maak voorsiening vir grondhervorming en, in sommige gevalle, onteiening met vergoeding.

Dit is algemeen bekend dat die regering met die formele grondhervormingsprogram sloer. ’n Groot klomp eise moes voor 1998 ingedien wees en is steeds nie behoorlik ondersoek of afgehandel nie. Die oorgrote meerderheid afgehandelde eise eindig in mislukte boerderypogings.

Op 10 Julie 2001, voor die baanbrekersuitspraak van Zimbabwe se hooggeregshof, beslis die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria, met betrekking tot onwettige grondbesetting, in Groengras Eiendomme (Edms.) Bpk. v Elandsfontein Unlawful Occupants and Others as volg:

“The applicants further allege that it is in the public interest that this illegal land grab be halted immediately. Furthermore, that it is in the public interest that the rule of law be upheld and that this unlawful action creates a negative perception about South Africa and would, in all likelihood, discourage investor confidence which is sorely needed in the Republic. In my view this Court cannot close its eyes to the devastating effect land grabs have had on the economy and the security of one of our neighbouring countries. The rule of law means that everyone must respect and adhere to the law. One cannot ride roughshod over the law; not even when the need is great.”

In 2013 verskyn die EFF op die politieke speelveld. Die EFF is ’n splintergroep van die ANC en daardie party se ideologiese stiefbroer. Die ontstaan en bestaan van die party kan in ’n groot mate toegeskryf word aan die ANC se onvermoë om dienste te lewer en om op ’n geordende wyse met grondhervorming te vorder. Vanaf die ontstaan van die EFF propageer dit openlik vir die onteiening van alle grond. Misdadige grondgrype word ook aangehits. Hierdie propaganda verskyn selfs skriftelik in die party se manifeste. Die EFF gaan tot sover om geld in te samel vir misdadige grondgrypers se moontlike botsing met die gereg.

In die 2016 munisipale verkiesings het die ANC bloedneus gekry in sekere metropolitaanse stede. Weliswaar is daar nie ’n referendum verloor nie, maar die krake begin wys en desperaatheid begin toon.

Op 27 Februarie 2018 neem die EFF en ANC tesame in die parlement ’n mosie aan, wat die wiele aan die rol sit vir die moontlike koms van onteiening sonder vergoeding.

Julius Malema hits op 23 Mei 2018 openlik die grootskaalse gryping van grond aan in die parlement. As regverdiging hiervoor, word aangevoer dat onteiening sonder vergoeding te lank sloer.

President Ramaphosa het kort ná sy verkiesing as ANC-president reeds laat blyk dat die regerende party onteiening sonder vergoeding sal najaag. Die president het nie gewag vir die parlementêre verhore om afgehandel te word nie en bloot aangedui dat die ANC ten gunste daarvan is dat die Grondwet verander sal word. Mnr. Ramaphosa se (huidige) standpunt is dat grondgrype wel taboe is. Hy sal dit soms noem as hy byvoorbeeld op Vrouedag ’n groep betogers aangaande grondsake vra om eers eenkant te staan.

Ramaphosa se jongste aankondiging dat die Grondwet gewysig sal word, het ’n vlaag grondbesettings ontketen wat nog nie voorheen beleef is nie.

’n Goue draad deur die grondgrype in onlangse jare is die polisie se onvermoë om die grondeienaars behulpsaam te wees. Dikwels weier die polisie in totaliteit om klagtes van betreding aanhangig te maak. Hierdie probleem duur dikwels voort selfs waar hofbevele die polisie tot aksie roep.

Die einste mnr. Malema wat openlik wetsverbreking aanmoedig, sit op die liggaam wat regters vir aanstelling aanbeveel nadat onderhoude met hul gevoer word. Dit is ’n landskande dat voornemende regters hulself professioneel moet regverdig voor ’n persoon wat nie die wet of artikel 25 van die Grondwet respekteer nie.

Onlangs was daar vir die eerste keer in Suid-Afrika ’n lys met plaasname op. Hierdie lys is deur die ANC opgestel en net oorgedra aan hul uitvoerende knegte. Weereens is hier ’n geringe verskil in die verband tussen Suid-Afrika en Zimbabwe.

In Zimbabwe is sommige plase na voorleggings van die lys verwyder. Ander persone was nie so gelukkig nie. In Suid-Afrika mag jy tans nie weet as jou plaas op die lys is nie. Dalk win jy regsadvies in as jy sou weet. Dalk sit dit jou in ’n meer gelyke posisie teenoor die staat wat in die donker wil planne smee en dan met die landsburgers se geld eksperimente met betrekking tot jou eiendom in howe wil doen. Onlangse mediaberigte aangaande ’n firma genaamd Akkerland Boerdery dui daarop dat daardie grondeienaars nie eers die kans gegun is om die meriete van ’n grondeis aan te veg voordat daar ’n poging tot onteiening deur die staat van stapel gestuur is nie. Daar word beloftes gemaak dat billike prosesse met onteiening gevolg sal word en dat die relevante wetgewing streng gevolg sal word. Indien die mediaberigte aangaande Akkerland Boerdery waar is, is die beloftes reeds in die eerste toetssaak verbreek.

Dit is van kardinale belang vir geaffekteerde grondeienaars om minstens te weet van die krokodil wat onder die water lê. Dit is te verstane dat die geaffekteerdes tans onseker en bang is. Hierdie vorm van diefstal is nuut vir ons almal. Dit is ook strydig met die Grondwet en regsbeginsels. As ’n persoon stil-stil besteel sou wees, sal sake nie beter wees nie. Die saak is ’n bedreiging veel groter as vir die eiendomme wat op ’n uitgelekte lys verskyn, wat eg blyk te wees. Daar is reeds ’n aanslag teen van die gelyste eiendomme.

Soos die spreekwoord lui, is kennis steeds mag. Daar was nog nooit ’n tyd om druk uit te oefen soos die hede nie. Mens kan net hoop dat nugter denke sal seëvier en verder druk plaas op leiers om oordeelkundig op te tree. Dit help nie om apaties te bly en voor te gee daar is nie ’n bedreiging nie. Die blote bestaan van ’n lys (finaal of in alle opsigte korrek, al dan nie) is genoeg rede tot kommer. Die ANC was trots om te verkondig hulle gaan met eksperimente begin.

In die woorde van Langenhoven – hoe minder jy ag gee op die toekoms, hoe meer sal hy ag gee op jou.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Willie Spies

Meer oor die skrywer: Willie Spies

Willie Spies is prokureur by Hurter Spies Ing en betrokke by verskeie regsaksies van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Paul ·

Dankie vir mense met insig, ‘n passie vir sy professie, sy taal en sy land en omgee soos jy.

waarheid ·

Daar is nie positiewes nie – daar is vir my net negatiewes.
Die regering het nie mentaliteit nie en daarom kan jy nie in gesprek met hulle tree nie.
Jy kan net sowel met ‘n klip praat – kyk maar na die geskiedenis en vegewis jouself.
Daardie les moes ons mos nou al geleer het – wel ek het.

leon ·

Goeie opsomming Willie. Om groter prentjie te verstaan moet die doelwitte van die Nasionale Demokratiese Revolusie altyd in gedagte gehou word. Dit is slegs die taktiek van die anc wat van leier tot leier sal verskil.

Enigste langtermyn plan – Selfbeskikking.

Gerhard ·

Ek dink enige persoon wat nou nog dink die ding gaan gestop word kort ‘n goeie sielkundige. Willie, ek hoop julle het ‘n plan om selfbeskikking in werking te stel. Anders is daar ‘n groot probleem.

Siener van Melbourne ·

Laat my toe om by te voeg: Die kaders het n plan. Hulle gaan gevra word deur die ontwikkelde wereld om die benadeeldes te vergoed waarop hulle gaan antwoord dat hulle nie die kapitaal het nie dan gaan die ontwikkelde lande hulle geld vir die doel gee en die geld gaan reguit gatsakke toe. Glo my maar. Ek weet…

bgj van der westhuizen ·

die anc sal nie stop nie hy maak daar op staat dat die wit man net n hand vol is van die land
hulle sal net wag tot voor die oes tyd dan vat hulle plase boere wees wakker en dink goed voor julle geld te veel in die plaas sit

CG ·

Baie onheilspellend! Dit is nou sulke tyd: “Glo in God en hou jou kruit droog”.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.