Suid-Afrikaanse politiek: ʼn Keuse tussen twee kampe

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Juis omdat die lewe nie eenvoudig is nie, is hy meestal interessant. Dit sien ʼn mens duidelik in die politiek, wat om keuses draai.

Dit gaan hier nie slegs om die keuses wat ʼn leier of ʼn politikus moet neem nie, maar hoe ons as gewone mense daarop reageer. Hoe beïnvloed dit óns keuses?

As ʼn mens die saak streng teoreties bekyk, is dit eenvoudig. Daar is immers rég, en daar is ook verkéérd. En vir iemand wat eties en moreel na die lewe kyk, kan daar tog geen twyfel wees nie – jy kies vir wat reg is.

Maar helaas bestaan die lewe nie uit teorie nie. Dit word deur ʼn uiters ingewikkelde praktyk oorheers, wat daardie keuse tussen reg en verkeerd dikwels uiters moeilik maak.

Kom ek verduidelik. In die Tweede Wêreldoorlog het jy twee kante teenoor mekaar gehad – Adolf Hitler se Nazi-Duitsland en die Geallieerdes.

Sedert 1945 het historici nou al uitvoerig en sonder enige sweem van twyfel hoegenaamd bewys dat Nazi-Duitsland (om dit sag te stel) nie op Christelike moraliteit aanspraak kon maak nie. Maar beteken dit dat die Geallieerdes dit wel kon doen?

Nou ja, vir sover énige sondige mens op Christelike moraliteit aanspraak kan maak, was dit die geval met die Amerikaners en Britte. Hulle het vir die goeie saak geveg; Hitler vir die slegte kant.

Maar nou stuit ons onmiddellik op twee probleme.

Ten eerste het Amerika en Brittanje die morele suiwerheid van hul saak besoedel deur grootskaalse bomaanvalle op Duitse stede te doen, waardeur minstens 600 000 burgerlikes gedood is. Die moderne oorlogsreg (jy sien dit byvoorbeeld in die Oekraïnse oorlog) bestempel dit as oorlogsmisdade.

In die tweede plek het Amerika en Brittanje ʼn bondgenoot gehad wat moreel minstens ewe verwerplik as Hitler was. Dit was Josef Stalin, wat aan die hoof van ʼn buitengewoon wrede totalitêre diktatuur gestaan het wat in verreweg die meeste opsigte ʼn spieëlbeeld van Hitler se Nazi-diktatuur was.

Die keuse tussen goed en kwaad, tussen moreel en immoreel, is dus in die praktyk nie altyd so maklik as wat dit in teorie lyk nie.

Dié insig het ook iets vir ons in die huidige Suid-Afrikaanse politiek te sê.

As ek ʼn ideale situasie sou kon skep, sou ek twee kampe teenoor mekaar plaas: Enersyds ʼn kombinasie van die ANC (met inbegrip van al sy vleuels), die EFF, die PAC, ensovoorts. Andersyds die DA, VF+, die IVP, ensovoorts.

ʼn Keuse tussen dié twee kampe sou dan op sekere faktore berus. Moraliteit is een, maar ook sake soos doeltreffendheid en bekwaamheid is belangrik.

Nou is dit so dat die ANC en diegene aan sy kant van die grens al sedert die jare van ballingskap deur immoraliteit, oneerlikheid en ʼn vergaande onbekwaamheid gekenmerk word. Ek meen ek het dit in groot detail uitgelig in my boek Terreur en Bevryding (Jonathan Ball), wat vroeër vanjaar verskyn het.

Dis natuurlik nie die volle waarheid nie, want ná 1994 het jy eerliker en oneerliker faksies in die ANC/ SAKP geken, vleuels wat meer en minder moreel, bekwaam en minder bekwaam opgetree het.

Pres. Nelson Mandela was in groot mate ʼn eerlike man, maar nie besonder bekwaam nie. Sy opvolger, pres. Thabo Mbeki, was die man van groot visie, maar het toegelaat dat sy sig op die heelal sy begrip van die diefstal, korrupsie en agteruitgang rondom hom vertroebel.

Toe kom die toppunt – pres. Jacob Zuma. Die kriminele en akademiese ondersoeke na sy erflating sal nog ʼn hele ruk duur, en dus moet ek beskeie in my oordeel oor hom wees: Hy het nooit die indruk gewek van iemand wat sy taak as die voordeel van die mense van Suid-Afrika gesien het nie; eerder sy eie magsposisie en voordeel. En dit is om dit sag te stel.

Nou het ons pres. Cyril Ramaphosa. Ek meen nie dat ek sterretjies in my oë het as ek sê hy maak ʼn veel eerliker en bekwamer indruk as sy voorganger nie.

As sodanig wil ʼn mens dus hoop dat hy die politieke aanslae uit eie kring (ʼn mens dink aan die radikale RET-faksie in die ANC, die EFF en ander) kan afslaan. As ek moet kies tussen Ramaphosa en – sê maar – Julius Malema as president, weet ek onmiddellik waar ek my kruisie sal trek.

Maar beteken dit dan dat Ramaphosa vlekkeloos is? Weliswaar is níks teen hom nog bewýs nie, maar ʼn mens hoef slegs die woorde “Phala Pahla” – die naam van sy plaas – te noem, en die wenkbroue skiet omhoog.

Dis immers daar waar sowat $4 miljoen in kontant uit die opstal van die plaas gesteel is, waar dit in verskeie meubelstukke versteek was. Ofskoon die diefstal al op 9 Februarie 2020 gepleeg is, het Ramaphosa dit eers ná ʼn hele tyd by die polisie aangemeld.

Selfs toe dit deur die media oopgevlek is, het hy uiters onwillig voorgekom om oop kaarte met die publiek te speel.

Is dit nou maar net ék, of ruik ek ʼn deurdringende stank rondom die saak? Sou dit ʼn onbillike vermoede wees dat Ramaphosa die geld onwettig bekom en weggesteek het, en dat dit onverwags deur die diefstal aan die groot klok gehang is?

Ek beskuldig niemand van iets nie; dis vir die polisie en howe om oor te besluit. Al wat ek sê, is dat iéts hier ten hemele stink.

En nou kom ek weer terug by my uitgangspunt van die artikel.

As ek self my sin kon kry, sal ek wou stem op ʼn party of bondgenootskap wat gekenmerk word deur moraliteit, eerlikheid en bekwaamheid. As die keuse dus tussen Ramaphosa en die RET-faksie van die ANC sou wees, sou ek eersgenoemde kies.

Die probleem is dat hy, nes die Amerikaners en Britte in die Tweede Wêreldoorlog met hul oorlogsmisdade en vriendskap met Stalin, ver van ʼn ideale keuse is. Nader aan só ʼn keuse sou vir my wees ʼn bondgenootskap tussen die DA, VF+, IVP en ander verwante groepe.

Op dié oomblik is die moontlikheid vir laasgenoemde keuse nie prakties nie; dit kan dit wel later word. Koerante haal politieke kenners aan wat meen Ramaphosa word nie meer deur die kiesers as trekpleister ervaar nie en dat die ANC moontlik ʼn volgende verkiesing kan verloor.

Maar dan – en hier kom ek by ʼn lewensbelangrike element van die artikel – moet die partye wat wel (min of meer) aan die vereistes van eerlikheid en bekwaamheid voldoen, hul onderlinge rusies agterweë laat en begin saamwerk.

Dus, DA, VF+, IVP en ander wat ook kan, hou op om so te kibbel. Kyk na die groter prentjie: Die politieke vyand is in die ANC en die groepe links van hom.

Met al die misdaad, kragonderbrekings en dies meer is Suid-Afrika in ʼn krisis. Dit verg ʼn sekere grootheid van gees om hom daaruit te verlos.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Moraliteit, eerlikheid en bekwaamheid bestaan nie in Suid Afrika nie.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Daar is twee politieke groeperinge in Suid-Afrika: 1) die selfgesentreerde gierige partye wat in wese die kommunisties Marxistiese ideologie aanhang en hul party bo SA stel en daarteenoor 2) die politieke groeperinge wat eerlik, opreg en bekwaam by uitnemendheid die Suid-Afrikaanse nasie, natuur en omgewing te diene wil wees.

Daar is geen utopiese staatsbestel, Grondwet en Handves van Menseregte en demokrasie nie. Goeie Suid-Afrikaners sal met verdraagsaamheid, geduld en wedersydse respek koalisies moet laat werk of deel wees van ‘n kommunistiese ANC/EFF eMzansibabwe. Onsuksesvolle koalisies is ‘n weerspieëling van politieke onvolwassenheid.

Andrew ·

As jy die ANC, EFF groeperinge saamstel dan is dit do dat 65-70% plus van die land is marxisties en koester selfde rasse haat as hul leiers. Haal dan die 15% nie swart mense uit die res uit dan is daar maar min oor om mee te werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.