Suid-Afrikaners behoort eerder op Jeugdag te rou

Argieffoto Foto: www.saccess-project.eu

Argieffoto (Foto: www.saccess-project.eu)

Dit is vandag Jeugdag, maar Suid-Afrikaners, en veral jongmense, het bitter weinig om te vier.

Op 16 Junie, 40 jaar gelede, het tussen 10 000 en 20 000 jong leerders na die Orlando-stadion in Soweto opgeruk om teen die gedwonge gebruik van Afrikaans in skole, wat vir hulle simbolies van apartheid en onderdrukking was, te betoog.

Die optog het op daardie dag, wat later ook as Sowetodag bekend sou staan, gewelddadig geraak en in ’n nagmerrie ontaard toe die polisie op die woedende en oproerige skare begin skiet het. Tientalle jong betogers, onder wie Hector Pieterson (13), is in die skietery dood.

Terwyl 16 Junie vir altyd in die geskiedenis van die land sal uitstaan as dié dag waarop die jeug hul stem teen swak en ongelyke onderwys verhef het, is al hoe meer Suid-Afrikaners met woede en diepe teleurstelling vervul omdat niks van die aspirasies en drome van daardie jongmense en ook vandag s’n gekom het nie.

Suid-Afrika se onderwysstelsel is steeds in ’n krisis gedompel en ná vier dekades is jongmense steeds die slagoffers van volwassenes wat hulle met ’n swak opvoeding en onderwys in die steek laat.

Vandag se onderwys is so swak dat Pali Lehohla, statistikus-generaal van Statistieke Suid-Afrika (SSA), onlangs verklaar het dat vandag se jeug selfs minder vaardig as hul ouers is.

Suid-Afrika se amptelike werkloosheidsyfer staan op 26,7%, met jongmense die kwesbaarste onder die werkloses. Net 31,1% van jongmense het werk en hul vaardigheidsvlakke bly laag. Altesaam 47,5% van die jeug-arbeidsmark het nie hoërskool voltooi nie en net 13,8% het ’n tersiêre kwalifikasie.

Lehohla is nie die eerste om hierdie uiters kommerwekkende donker prentjie te skets nie. Talle uitgesproke akademici en ontleders het dit al voorheen durf waag om die baie polities niekorrekte stelling te maak dat leerders, ook swart leerders, wat skoling onder die apartheidstelsel gekry het, beter daaraan toe was.

Prof. Rabelani Dagada, ’n dosent verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) se Sakeskool, het al by geleentheid gesê die Bantoe-onderwysstelsel in die apartheidera was veel beter wat gehalte betref, vergeleke met dit waaraan vandag se leerders blootgestel is.

Ook die politikus en sakevrou Mamphela Ramphele het haar al die argwaan van die ANC op die hals gehaal met haar stelling dat vandag se onderwys swak vergelyk met Bantoe-onderwys van die 1950’s en 1960’s.

Hoewel daar vandag geen twyfel bestaan dat apartheid immoreel en verkeerd was nie, is dit egter jammer dat daar klaarblyklik niemand in die huidige regering is, én wat vir onderwys verantwoordelik is, wat vir ’n oomblik wil stilstaan en gaan kyk waarom sommige aspekte van die ou bedeling se onderwysstelsel tog beter produkte gelewer het nie.

Mense soos prof. Hermann Giliomee, historikus, het omvattende navorsing gedoen wat bevind het dat die standaard van die sillabus in hoër grade in swart skole destyds op dieselfde peil as dié van wit skole was.

Politici, talle ontleders en veral die ANC is vandag meesters daarvan om selektief met die verlede en geskiedenis om te gaan. Dit is maklik om die skuld vir alles wat swak in die onderwysstelsel was en helaas steeds is, op wyle dr. Hendrik Verwoerd se skouers te pak. Min mense gee erkenning aan die hoë premie wat in die verlede ook op die belangrikheid van moedertaalonderrig geplaas is. Bantoe-onderwys, soos in 1954 deur Verwoerd ingestel is, het voorsiening vir agt jaar van moedertaalonderrig gemaak. In die negende jaar van skoling moes leerders na Afrikaans en Engels oorskakel. Een van die hoofredes vir die agteruitgang van swart onderwys ná 1976 was die instelling van ’n beleid wat moedertaalonderrig tot die eerste drie jaar van onderrig beperk het.

Die internasionale onderwyskundige Kathleen Heugh het in haar navorsing gesê die apartheid-onderwysbeleid bestaan uit twee fases. Die eerste fase tot en met 1976 het tot die opvoedkundige voordeel van kinders gewerk en die tweede fase ná 1976 tot hul nadeel.

Kritici gebruik ook dikwels die betoog van die ongelyke besteding aan onderwys vir die verskillende rassegroepe as verskoning vir die swak gehalte onderwys wat swart leerders gekry het. Terwyl dit inderdaad waar is dat die regering in 1953 sewe keer meer aan onderwys vir wit as swart leerders bestee het en in die jare daarna nog meer, sal dit verkeerd wees om net hierop te fokus. Daar moet ook in ag geneem word dat die getal swart leerders van 800 000 in 1950 tot 2,7 miljoen in 1970 toegeneem het. Vandag is daar bykans 12 miljoen leerders op skool.

Hoe ’n mens ook al na onderwys van die verlede kyk en dit beoordeel, is die tragiese werklikheid dat die land se kinders vandag steeds aan swak onderwys blootgestel is en min geleenthede het op ’n beter toekoms.

Terwyl die jeug vandag weer, soos in 1976, in opstand kom teen Afrikaans op skool en ook op universiteitsvlak, is die vraag eerder of hulle nie teen ’n regering in opstand moet kom wat hulle ná meer as twee dekades van demokrasie steeds geen toegang tot gehalte-onderwys gee nie.

Die ANC-regering het sedert dit aan bewind gekom het talle foute gemaak wat die land se onderwys tot nuwe laagtepunte geneem het. Om maar enkeles te noem: Daar is ’n enorme gebrek aan goed opgeleide onderwysers, onvermoë om beter en meer skole te bou en korrupsie in die stelsel. Daarbenewens was die instelling van uitkomsgebaseerde onderwys (UGO) ’n klaaglike mislukking wat tot laer geletterdheid en syferkundigheid gelei het. Ander  ondeurdagte besluite was die sluiting van die onderwyskolleges en die samesmelting van tegniese kolleges en universiteite. Dit het tot ’n uittog van derduisende kundiges in die land se onderwysstelsel gelei.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Disselboom ·

“Jeugdag” is ‘n versinsel is, ‘n leuen wat kamtig iets van dapperheid en lyding met ‘n goeie doel wil gedenk, terwyl die NP-regering se lomp hantering van Afrikaans in swart onderwys maar net die verskoning van die oomblik vir afbreek, afbrand, geweld en opstand was. 40 jaar later vandag, en in Limpopo is skole steeds afgebrand. Wat is die verskoning hierdie keer?

Laat ons nie die leuen begin glo van opstande teen swak onderwys nie – as dit so edel was (en is), sou afbrand van skole en geweldadige vernietiging in die strate nie die metode gewees het of nou wees nie. Dit lyk eerder na mense wat dinge vernietig wat hulle lewenswyse en bestaan van klein, selfversorgend wil behou, om nie na die meer stresvolle lewe van ‘n moderne gemeenskap wat boontoe beur en ‘n toekoms wil bestendig nie, gesleep word nie.

Dit is snert dat die 1976-opstande ‘n (soort edele) opstand van jeug teen die stand van onderwys was. Die opstande was bloot deel van ‘n toestand en afbrekende rewolusionêre stroom gebeure. As daardie jeug dan so vol insig en ambisie was, hoekom is dan – onder daardie einste geslag wat nou in beheer is en die werk moet doen, dinge vrotter as ooit?

“Jeugdag” is ‘n verromantisering van geweld en opstand en dat kinders die land kan dikteer, iets wat in ‘n Christelike land geen plek kan hê nie.

fritz breitenbach ·

Disselboom. die dag is lank voor die tyd beplan .dit sal intresant wees wat die polisie se hoekom het hulle die klomp geskiet.Die dag was ek in Johannesburg en hulle het beolan om Johannesburg aan die brand te steek terwyl die polisie met die klomp in soweto besig was maar die polisie het presies geweet wat hulle beplan het en vir hulle ingewag probeer n polisie man wat daar was om die wwarheid te se wat die klomp beplan het

Disselboom ·

Fritz sê dinge wat gehoor moet word.

En wat van die moorde op amptenare van die departement van onderwys in Soweto kort voor hierdie gebeure? Mens hoor maar min daarvan.

Anders as die beeld wat geskep word deur insinuasies en waar die fokus geplaas word, het die polisie nie sommer maar net geskiet as daar nie rede was nie.

johann cb ·

Waarom moet ons rou Alet? Sal dit die verlede ongedaan maak? Ons moet eenvoudig leer om saam te leef, werk en verdraagsaam te wees. Die verlede sal ongelukkig altyd met ons wees.

Disselboom ·

“Jeugdag” wil dit goedpraat dat kinders geweldadig kan rondgaan om hulle sin te kry, en sit ‘n leuen voort wat ‘n hele rewolusionêre beweging se moord en doodslag en vernietiging miskyk en net fokus op een van die verskonings van geweld, naamlik dan Afrikaans in die klaskamer. En die onaanvaarbare, onlogiese en vernietigende “oplossing”: om skole af te brand en vele ander verwoesting en bedreiging van menselewens te saai…?!

John ·

In Kalifornia, VSA, bly verskillende volke: Amerikaners, Mexikaners, Duitsers, Italianers, Negers, Sjinese, Jode, selfs Suid-Afrikaners, ens ens. Daar is nie ‘n alewige pratery oor handevat en verfgifnis en alles-saam-doen-nie. Daar is verskillende eetplekke en winkels en koerante en sportsoorte ens ooreenkomstig almal se smaak en almal los mekaar uit en praat hul eie taal. Rus en vrede heers. En die staat met sy 6 milj inwoners is die mees produktiewe en rykstse in die VSA.

Leonard van der Dussen ·

Kom ons lees die artikel vir die waarde wat dit wel het, naamlik om uit te wys dat onderwys agteruitgegaan het, terwyl die propaganda-masjien almal wou wysmaak dat ‘n een-mens-een-stem-regering die land sou laat vooruitgaan en dat die ANC die verantwoordelikheid vir die mislukking moet dra.

(Ek stem ook nie saam met die onderliggende trant wat die propaganda-weergawe van die 1976-onluste wil aanvaar nie, maar die artikel se hooftema lig ‘n belangrike saak uit).

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.