Suid-Afrikaners kan nie nóg ’n staatseksperiment bekostig nie

ernst-van-zyl

Ernst van Zyl. Foto: Verskaf.

Ons het almal al mense teengekom wat van die een projek na die ander spring, maar sonder dat hul grenslose ambisies ooit enige vrug dra. Vanuit ’n derde persoon se perspektief kan jy presies dieselfde gebreke in elke enkele skema sien, terwyl hulle jou steeds verseker “dié keer gaan dit anders wees”.

Die groot verskil tussen daardie bekende scenario en die huidige penarie waarin Suid-Afrikaners hulle bevind met die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) op die horison, is dat die eerste scenario nie op jou swaar verdiende inkomste aangewese is om al daardie duur mislukkings te finansier nie.

’n Goeie uitdaging vir mense wat kompulsief nuwe boeke koop, is om hulself toe te laat om net een boek te koop vir elke drie boeke wat hulle gelees het. Ek reken hierdie beginsel moet ook op die ANC-regering toegepas word.

Van die SA Lugdiens tot Eskom, die poskantoor, die SAUK en openbare onderwys – die ANC-regering toon werklikwaar ’n deurlopende omgekeerde Midas-aanraking wat die bestuur van staatsbeheerde ondernemings betref. As ons voortgaan met hierdie groot-regering-groot-besteding-paradigma – en ek kan nie sien dat ons in die afsienbare toekoms daarvan ontslae gaan raak nie – is die minste wat Suid-Afrikaners kan doen, om van die staat te vereis om ’n duidelike vermoë te toon om sy speelgoed reg te hanteer voordat hy nog duur nuwe speelgoed kry. In die lig van die ANC se powere geskiedenis, dink ek dit is ’n heeltemal redelike vereiste van belastingbetalers.

Totdat die ANC doen wat hy sê en lewer wat hy belowe, moet Suid-Afrikaners verseg om enige verdere duur skemas soos die NGV te finansier, waarvan die enigste doel blykbaar is om nog meer mag en beheer in die hande van die heersende elite te sentraliseer en sodoende die Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) te bevorder. President Ramaphosa het onlangs belowe “Ons wil met ’n skoon skip in ons NGV-fonds vaar.”

Ons moet regtig besorg wees omdat dit die heel eerste skoon ANC-skip in sy hele vloot sal wees.

As die ANC nie kan wys dat hy die vermoë het om staatshospitale doeltreffend te bestuur nie, moet hy nooit ’n mandaat kry om verdere riskante gesondheidsorgondernemings aan te pak nie. Dit kan hom noop om alternatiewe roetes te oorweeg om dieselfde doelwitte te bereik. Die enkele vernaamste bydraende faktor om breër toegang tot privaat gesondheidsorg moontlik te maak, bly ’n nasie se vlak van inkomste per capita. Die mees logiese alternatiewe roete om toegang tot privaat gesondheidsorg vir die hele samelewing te verhoog, is dus een wat fokus op ekonomiese groei, gepaardgaande met ’n laer individuele belastinglas.

Ondervinding leer dat ’n monopolistiese stelsel soos die NGV inherent swak en wesenlik ondoeltreffend is, met die tipiese probleme wat met sulke onmededingende stelsels gepaardgaan: steeds stygende koste, dalende gehalte, ondoeltreffende hulpbrontoewysing en ’n onhanteerbare burokrasie. Om belediging by benadeling te voeg, sal die ANC se NGV ’n baie swakker en heeltemal onbekostigbare gesondheidstelsel meebring, terwyl daar van die reeds oorlaaide belastingbetalers verwag sal word om dit te befonds.

Maar dalk is die fundamentele kern van die probleem dat die ANC-regering net ongelooflik swak vaar met die bestuur en uitvoering van andersins goed ontwerpte regeringsprogramme en -stelsels.

Die probleem lê dalk dieper: dat Suid-Afrikaners byna ’n eeu lank gekondisioneer is om te glo dat hulle ’n groot regering nodig het om al hul probleme op te los. Die tyd het dalk gekom om hierdie narratief van die vaderlike staat en die kinderlike burgery te bevraagteken. Politici en burokrate het ons in hierdie afhanklike en hulpelose situasie laat beland, en daarom moet Suid-Afrikaners daaroor besin of die tyd aangebreek het om óf die ANC demokraties die deur te wys óf alternatiewelik ons moue op te rol en stadig maar seker ons lot in ons eie hande te neem op hierdie sinkende skip.

Die voor die hand liggende oplossing van goeie regering en ekonomiese groei is in die hande van die ANC. As die Titanic egter nie van koers verander nie, kom ons begin dan ons eie probleme oplos deur klein reddingsbootjies te bou, een stap op ’n slag. Van buurte wat saamstaan om gemeenskapsveiligheidsnetwerke te bou, tot AfriForum wat slaggate opvul en padtekens verf, tot gemeenskappe wat betrokke raak om basiese gesondheidsdienste te verskaf – ons moet ons oorlewingskanse verbeter terwyl ons wag dat ’n politieke wonderwerk gebeur.

Dit is nóú tyd dat belastingbetalende Suid-Afrikaners standpunt inneem teen die NGV deur in die openbaar daarop aan te dring dat die ANC ophou om hulle droog te melk om enige verdere openbare bestedingseksperimente te befonds, waar die burgers die proefkonyne is. Dit is ’n algemene waarheid dat jy moet kruip voordat jy kan loop en loop voordat jy kan hardloop. Die ANC het nog nie gewys dat hy kan kruip nie, en tog verwag hy van ons om vir die duurste nuwe NGV-hardloopskoene ter wêreld te betaal.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst van Zyl

Ernst van Zyl is AfriForum se hoof van openbare betrekkinge en die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Hy het ʼn meestersgraad (cum laude) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal, is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen bekend as Twitter) en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Sideliner Opinions ·

Ernst ek dink jy lê die vinger op die pols deur uit te wys dat ‘n onbevoegde ANC/SAKP regering die wortel van die kwaad is. Hul verskonings moet een of ander tyd op raak. As hul nie demokraties verwyder word nie moet ons solank ons reddingsbaadjies begin aantrek om ons en ons kultuur se ooorlewingskanse te verbeter. Dankie vir wat julle reeds in hierdie verband by Afriforum doen.

Stephan de S ·

Een vd beste en duidelikste en praktiese artikels nog op MM. Ek het reeds my stem laat hoor dmv n webwerf teen hd planne vd ANC. Hoe kan gewone burgers meer bydrae om die owerheid tot verantwoordelikheid te daag?

Jerry ·

Die ANC sal nie die NGV soos voorgele net so implementeer nie. Die ANC verwag weerstand en daarom wag die ANC vir die slimjanne se voorstelle en planne om sodoende eers alles wat die NGV nie noodwendig sal verbeter nie, maar finansieel inkomste gewys vir die ANC beter kan maak, in te sluit in die NGV en dit dan te implementeer! Die belastingbetalers (gyselaars) kan dus standpunt inneem, maar indien daardie standpunte nie soos n gyselaar weldeurdink is nie, soos soveel vorige standpunte, dan is ek bevrees dat dit die belastingbetaler net nog meer gaan kos. Geen planne en implementering van die ANC sal ooit ter goeder trou teenoor enige suiwer koloniale konsep kan geskied nie, omrede die ANC ideologies tot kapitalistiese sosialisme vir die “ANC only” verbind is. Die kruks is dus dat, hoe meer weerstand en slim planne, hoe meer en beter kan die koei gemelk word!

Elizabeth ·

Ernst, geluk met ‘n puik beredeneerde artikel. Hoe bied mense wat ‘n salaris verdien en wie se belasting deur die werkgewer afgetrek word, weerstand teen belasting?

Johanna Botha ·

ALLES waaraan die anc gevat het in die laaste 25 jaar is n GROOT GEMORS ! NGV ook n flop …gee jou n brief !

San ·

Puik artikel. Spandeer eerder NGV geld om benarde staatshospitale op te gradeer en sodoende beter gesondheidsorg te bied.

Jimmy ·

Selfs met die huidige begroting kan die staat openbare gesondheidsorg binne 12 maande omdraai. Maar ons weet wie neem die beluite en wie werk daar. Dieselfde met openbare onderwys en polisie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.