Suid-Afrikaners sal ’n kopskuif moet maak oor China

pres-xi-jinping-2018-07

Pres. Xi Jinping van China stel ‘n heildronk in tydens ‘n staatsbanket in sy eer tydens sy besoek aan Suid-Afrika. Die geleentheid het op Donderdag 24 Julie by die Sefako Makgatho presidentiële gastehuis in Pretoria plaasgevind. Foto: Kopano Tlape/GCIS.

Die jaar 1421 was volgens geskiedkundige navorsing vir sowel China as Afrika van groot belang. Dit was die jaar wat die grootste enkele armada skepe wat die wêreld nog ooit gesien het, uit China op ’n reis om die wêreld vertrek het. Sy opdrag was om die wereld te karteer en vir Chinese handel toeganklik te maak.

Die skepe was onder die bevel van die Chinese keiser Zhu Di se lojale gekastreerde admiraals en in die twee jaar wat hulle om die wêreld geseil het, het hulle die volgende vermag: hulle het in Tafelbaai vasgemeer sestig jaar voor enige Europeër daar voet aan wal gesit het, Noord-Amerika sewentig jaar voor Columbus  “ontdek” en Australië 350 jaar voor Thomas Cook bereik.

Die Chinese vloot se opdrag was om tot by die “einde van die aarde te vaar” en hulle het ’n eeu voor Magellaan rondom die aarde geseil. Die verskil is dat die Chinese nie gebly het om die lande te koloniseer nie in teenstelling met Europeërs wat oorloë teen die bevolkings gevoer het om die minerale rykdom in die hande te kry. Dink aan diesulkes soos Cecil John Rhodes, koning Leopold van België, die Duitsers in Namibië en baie ander.

Maar die Chinese is terug, en die staatsbesoek van Xi Jinping, die Chinese president, wat vandag in Suid-Afrika aankom en later vandeesweek saam met leiers soos president Putin van Rusland aan die Brics-beraad in Johannesburg kom deelneem, is ’n goeie bewys daarvan. Hulle kom egter nie met soldate nie, maar met honderde sakelui wat glo van plan is om miljarde roebel en yuan in Suid-Afrika te belê.

Nie dat albei se besoeke, maar veral dié van Xi Jinping sonder teenstand sal verbygaan nie. Verwag maar dat sake soos die Dalai Lama en Tibet, ivoor-, renosterhoring- en skulpvissmokkelary, die ontbossing van Afrika en tientalle ander sake voor China se kop gegooi word.

Suid-Afrika, ondanks sy koloniale verlede, is steeds Westersgesind en hou niks van Chinese nie. Hulle is glo hier om Afrika oor te neem of leeg te melk. Hulle maak om elke hoek en draai ʼn winkel oop en (is dit nie verskriklik nie) werk hard om hul brood te verdien.

Meeste Suid-Afrikaners is in hul harte xenofobies en selfs rassisties. Selfs al is ons van dieselfde kleur, kap ons mekaar. Al gehoor van die krewe wat in die Kaap uit ’n emmer probeer ontsnap, maar net voor een dit regkry, trek die ander hom af?

Nietemin, dis tyd dat Suid-Afrikaners hul koppe regkry of laat lees. Xi Jinping kom hier aan as leier van die land met die tweede grootste ekonomie ter wêreld. Xi het die plan dat China teen 2025 op alle gebiede selfversorgend moet wees en het onlangs die sogenaamde Belt and Road- inisiatief geloods. Dis ’n nabootsing van die Syroete wat in die ou dae deur Marco Polo verken is. Sien, China wil die grootste handelsnasie op aarde wees, en voorspellings is dat hy teen 2032 Amerika sal verbysteek.

Dis waarom Amerika ’n handelsoorlog teen China begin het, maar ook besig is om terselfdertyd sy Europese en Kanadese bondgenote te vervreem. Amerika skuld te veel geld aan China vir Trump om snags rustig te slaap.

Dis dus ook geen wonder nie dat die Amerikaanse handelsoorlog een van die vernaamste besprekingspunte op die komende Brics-beraad gaan wees. Die Brics-lande Rusland, Indië, Brasilië en Suid-Afrika het juis reeds al hul hulp aan China (wat ook deel van die Brics-lande vorm) toegesê in die stryd wat kom.

Nie dat Suid-Afrika nie ook sy pond vleis sal soek vir die steun wat hy aan China gaan bied nie. Na verwagting sal letterlik honderde Chinese sakeleiers deel van Xi se afvaardiging wees met die uitsluitlike en verklaarde doel om industralisasie in Suid-Afrika aan te help. Daar is reeds talle Chinese nywerhede in Suid-Afrika gevestig (dink maar aan Hisense in Atlantis, Great Wall Motors in Port Elizabeth en Huawei in Johannesburg).

Daar is selfs Suid Afrikaners wat miljoenêrs in China is. Koos Bekker van Media24 het sy miljoene te danke aan ’n aandeelhouding in Tencent, die Chinese kommunikasiemaatskappy. Daar is letterlik honderde Suid-Afrikaners wat deesdae in China woon en werk en die Facebook-groep South Africans living in China is nou bykans 200 lede sterk.

Hulle steur hulle nie daaraan dat China ’n sosialistiese land is nie, of dat Xi ’n kommunistiese diktator is nie. Om die waarheid te sê, Xi se “sosialisme met Chinese karaktertrekke” is meer kapitalisties as Amerika. Xi se doelwit is om sy meer as 1,4 miljard mense teen 2025 almal uit eeue lange armoede te help en daarom wil hy soveel moontlik handel dryf.

Xi se Kommunistiese Party het ook die groen lig gegee dat hy so lank hy wil China se president sal wees. Amerikaners en andere skree blou moord dat dit ongehoord is en nooit sal werk nie. Die Chinese psige is egter gewoond aan keisers wat lewenslank regeer. Hulle wys tereg die vinger na Donald Trump as bewys dat Amerikaanse demokrasie ook nie werk nie. Xi, sê hulle, doen wat goed is vir die land; Amerikaanse presidente werk net om weer verkies te word. Hulle sê ook tereg dat Westerse demokrasie nie vir alle lande werk nie. Dit is ’n siening waarmee veral baie lande in Afrika sal saamstem.

Of ’n mens Suid-Afrikaners sover gaan kry om Xi te vertrou, is ’n ander saak. Veral diegene wat elke keer swymel as die Britse koningin haar wit handskoene wuif, sal moeilik aan so iets byt. Hulle is dalk te gewoond om onderdane van die eens magtige Britse Ryk te wees.

Intussen: moet almal in Suid-Afrika uitsluitlik Westersgesind bly? Of is dit wys om nou ook na die Verre Ooste te kyk? Ek stem vir die tweede opsie, maar daar sal eers ’n kopskuif onder Suid-Afrikaners moet kom. Dié wat dit kan regkry, mag die geleentheid kry om baie geld te maak; diegene wat aan hul verkrampte koloniale idees vashou, gaan tweede kom.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Tienie Fourie

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

58 Kommentare

jongste oudste gewildste
Peet Schabort

Al wat ek in hierdie land verlang is vryheid van my godsdiens, my blyplek sonder om daar doodgemaak te word, om dag en nag sonder vrees rond te kan beweeg, wedersydse respek van andere, misdaad ‘n absolute NUL (????), vry van intimidasie, die regstelsel wat korrek werk ongesiens invloede van die gemeenskap, die SAPD wat hulle werk doen . . . Ek dink ek vra té veel, né Ramaphosa??

Oupa Wilde [email protected]?

Geagte mnr Fourie, ‘n uiters interessante artikel. Dankie.

Nou my vraag aan alle Suid-Afrikaners: “Wat is Suid-Afrikaners se NASIE-VISIE?”

Askies?

As dit nou nie die mees eensydigste stuk is wat ek in my lewe gelees het nie is dit nou die ou artikeltjie. Erens het hierdie man ook ‘n linkse klap weg. WAT U nie verstaan nie is die AFrikaan word omgekoop deur ENIGIETS .. maak nie saak of dit deur ‘n CHinees of Kubaan of Rus is nie .. SA is ALTYD te koop .. HOEKOM moet die hele AFRIKA ook aan China behoort, kyk hoe groot is hulle land, hoekom bly hulle nie daar nie? Ek verstaan nie dat almal kopskuiwe moet maak oor ANDER nasies wat AFrika… Lees meer »

nico k

Ek is maar skepties oor die mening dat demokrasie nie vir alle volke werk nie. Ek het nog nooit van ‘n goeie diktator gehoor nie. Diktators werk altyd net vir hulself. En om te sê dat die Sjinese gewoond is om deur diktators te regeer te word tel ook nie. Europa was ook gewoond aan konings vir eeue. En die stelling dat Sjina nie kolonisties soos Europa was nie, is ook verkeerd. Wat van Tibet? Nie dat ek konsekwent teen Sjina is nie, maar hulle is niks beter as die Weste nie. Die rede hoekom hulle vooruitgaan is omdat hulle… Lees meer »

Andre

Julle moet bly wees Trump red Amerika se ekonomie. As Amerika finansieel onderdeur gaan, sal ons almal, die hele wereld, bitter duur betaal vir die ergste ressesie ooit. Die Ooste het duidelik goeie werks etiek, maar nie naasteby die skeppingsvermoe van die weste nie. Trump het ook n baie meer Christen sosiale uitgangspunt ( van Norman Vincent Peale geleer) as meeste ander van vandag se leiers. Dit is tog die kern waarop die westerse beskawing gefundeer is, waarvan byna die hele wereld vandag die voordeel in verskillende mate beleef. Die Chinese vervaardig meestal net wat die weste geskep het. Hulle… Lees meer »