Suid-Afrikaners (te) tevrede met swak leiers

konings-skaak

Foto: Klimkin/Pixabay.com

Deur Christoff van Wyk

“’n Volk juig as regverdige mense die mag kry; ’n volk sug as ’n goddelose mens regeer.” – Spreuke 29:2

My tannie het altyd gesê alles met ’n te vooraan, is verkeerd behalwe te voet en te perd, maar is ons samelewing in Suid-Afrika nie te tevrede met swak leierskap nie en indien wel, wat kan ons doen om dit te verander?

Goolam Ballim, hoofekonoom by Standard Bank reken dat Suid-Afrika soveel as R1 biljoen (“trillion”) armer geword het gedurende Jacob Zuma se presidentskap en dat hierdie verlies die direkte gevolg van sy swak leierskap was. Dit beteken dat Suid-Afrika se ekonomie vandag ongeveer 25% groter sou gewees het indien die groeikoers tot en met 2009 gehandhaaf was.

Dalk is dit nodig om op die vooraand van ’n nuwe leierskapsera baie deeglik te gaan kyk na wat ons van ’n goeie leier moet verwag en ook terselfdertyd te besin oor wat ons te doen staan as dit nie realiseer nie.

Brand Pretorius skryf in sy boek Aan die stuur dat ’n effektiewe leier oor ten minste 11 eienskappe moet beskik, naamlik basiese intelligensie, morele intelligensie, spirituele intelligensie, emosionele intelligensie, teenspoed-intelligensie, integriteit, nederigheid, gehardheid, dissipline, ’n positiewe houding en die gewilligheid om aan te hou leer.

Hy lys dan ook verder ’n paar vaardighede waaroor ’n uitnemende leier moet beskik wat onder andere insluit strategiese denke en goeie kommunikasie.

Al sou ’n persoon oor al hierdie eienskappe en vaardighede beskik, is daar egter drie eienskappe wat uitgelig kan word en universeel erken word as deurslaggewend, naamlik integriteit, morele intelligensie en spirituele intelligensie.

Volgens Pretorius is integriteit die belangrikste kenmerk van ’n effektiewe leier, want “ware leierskap begin binne, by die persoon se karakter”. Genl. Norman Schwarzkopf het dit so gestel: “Leierskap is ’n kragtige kombinasie van strategie en karakter. Maar as jy sonder een moet klaar kom, los dan die strategie.”

Die tweede eienskap wat onontbeerlik is, is morele intelligensie. Volgens Pretorius is morele intelligensie dit “wat ons gewete rig, en sodoende ons reaksie op die omstandighede en uitdagings wat ons teëkom beïnvloed. Morele intelligensie bepaal ons integriteit – dis ons morele kompas. Dit bied die verwysingsraamwerk vir wat reg en verkeerd is.”

Die laaste eienskap wat as onontbeerlik beskryf kan word, is spirituele intelligensie. Hy beskryf dit as “ons vermoë om volgens waardes te leef wat ’n sinvoller doel stel vir wat ons doen as bloot eiebelang. Leiers wat op hierdie gebied uitstaan, is nie selfsugtig of korttermyn-georiënteerd nie – hulle streef na iets meer as persoonlike glorie.” In dié verband verwys hy dan ook na dr. Albert Wessels as ’n goeie voorbeeld van ’n leier met spirituele intelligensie.

Die Zuma-administrasie was ’n ramp. Maar, dit was ’n mensgemaakte ramp wat vermy kon word as daar vroeg reeds opgetree is. Dikwels is die samelewing egter te vergewensgesind en te onbetrokke en dan word swak leierskap die norm, en ’n geslag word groot sonder om werklik te besef hoe lyk goeie leierskap, máár ook wat dit beteken om ’n goeie leier te wees. Want, elkeen van ons staan iewers in ’n leierskapsposisie. Daar rus ’n plig op elke burger om op alle vlakke die tipe leierskapseienskappe soos hierbo genoem, uit te leef en veral dié drie eienskappe wat hierbo uitgesonder word, naamlik morele intelligensie, spirituele intelligensie en absolute integriteit.

Ons as burgers van Suid-Afrika se plig in vandag se samelewing strek veel verder as om net elke nou en dan te gaan stem. Ons plig is om op verantwoordelike wyse deel te neem aan die publieke lewe waar ons onsself ook al bevind. Dit sluit in ons plaaslike regering, ons werksplekke, ons kerke, ons skole en selfs ook op provinsiale en nasionale regeringsvlak, indien moontlik.

In die eerste plek vereis dit verantwoordelike optrede van alle landsburgers se kant af, maar dan ook die optrede om ons leiers verantwoordbaar te hou en nie slap te lê nie.

Ons eerste groot uitdaging binne die nuwe leierskapsera is reeds hier en dit gaan ’n bepalende faktor wees vir die toekoms van elke persoon in Suid-Afrika. Die kwessie is natuurlik grondonteiening sonder vergoeding. Ons sal deur die propaganda en swak argumente moet kyk, by die beginsel van die saak uitkom en die geveg vanuit die morele hoë grond daar beveg.

Martin Niemoller was ’n prominente protestantse predikant wat ’n uitgesproke teenstander was van die Nazi-regering in Duitsland en het selfs sewe jaar in gevangenskap deurgebring oor sy sieninge en uitsprake. Hy skryf in ’n gedig die volgende:

First they came for the Socialists, and I did not speak out —
Because I was not a Socialist.

Then they came for the Trade Unionists, and I did not speak out —
Because I was not a Trade Unionist.

Then they came for the Jews, and I did not speak out —
Because I was not a Jew.

Then they came for me — and there was no one left to speak for me.

 Alhoewel die presiese inhoud van die gedig ’n omstrede onderwerp is, staan die boodskap hiervan duidelik uit soos ’n paal bo water. Ons kan nie terugsit en kyk hoe ’n land verwoes word omdat dit my nog nie persoonlik raak nie.

Hou op om te tevrede te wees voor dit dalk TE laat is.

  • Christoff van Wyk is getroud en tans besig om vier kinders tot volwassenheid te probeer bring, sommige dae meer suksesvol as ander. Hy is tans bestuurshoof van die FAK se jeugontwikkelingsterrein, Udolpho. Hy is ook betrokke by die bestuur van die FAK se NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Ou Vlakvark, Leier van die Varkerasievolk van SA ·

Die beste artikel wat ek sedert 1994 gelees het.
Ons betaal duur klsgelde se apatie teenoor swak leierskap sedert 1994.
Die vraag ontstaan: “Wat het Suid-Afrikaners geleer uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis sedert 1994 en wat gaan hy doen vir ‘n beter Suid-Afrika?”

Johann Marx ·

Maar ons het byna GEEN sê in die aanstelling van daardie “leiers” nie? Suid Afrika het nie ‘n “deelnemende demokrasie” nie, ons het net ‘n “verteenwoordigende demokrasie” waar die gewone man op straat slegs elke paar jaar ‘n stem kan uitbring vir die politieke party van sy keuse………..en daardie party stel dan hulle “leiers” aan. Dis min of meer die grootste “fout” wat ons kon gemaak het in terme van “demokrasie”…….want hierdie is nie ‘n “demokrasie” nie, dis ‘n verwronge mag-spel waar die “oorheersende party” maak en breek NES HULLE WIL………en die res van ons kan toekyk en help betaal. As hierdie ‘n “deelnemende demokrasie” was, sou ons die een na die ander referendum gehad het oor sake van landsbelang………

Mkobu ·

Ai dit maak ‘n mens so hartseer, Boeta Johann. Die oordeel kom slegs Hom toe. So ‘n mooi in-diepte artikel verdien meer respek en begrip as vlak aardse woorde uit ‘n verlore verlede. Kom ons toon die leierskap en begrip waarin ons glo. Positief voorwaarts ons geliefde Suid-Afrika!

Vaalseun ·

Baie dankie, Christoff.
Brand het een van die belangrikste eienskappe van ‘n goeie leier nie genoem nie, naamlik dit wat een van die fondamente van die beskawing en die lang-termyn sukses van ‘n land of organisasie is, naamlik, die leiers se vermoë om kritiek te kan ontvang sonder om te vergeld. NP van Wyk Louw het gesê, luister na jou vyande. En dit begin by die godsdiens- en onderwysstelsels. Die Pous, die Kardinaal, die Pastoor, die Ouderling, die Leerkrag, die Dosent, die Lidmaat en Student mag en moet gekritiseer kan word sonder die gevaar van weerwraak. Net so die Minister en Sakeleier. Met kritiek word ek gedwing om nie net te lees of te luister na waarvan ek hou nie, maar na dit wat ek nie raakgesien het nie en wat vir ander saakmaak. Kritiek dwing my om die foute in my eie en andere se denke en dade te leer verstaan, en my eie foute reg te stel. En sonder dat die foute raakgesien en reggestel word, kan ‘n land of organisasie nie volhoubaar groei nie.

adriana ·

Morele standaarde en integriteit bestaan nie meer in die meeste Suid Afrikaners nie – dit is waarom hulle tevrede is met swak leiers. Hulle vereenselwig dus hulself met swak leiers omdat hulle self swak is.
Goddeloosheid help dit natuurlik ook aan.

Jerry ·

Nasies en volkere kies die leiers wat hulle verdien! Ongehoorsaamheid om God se opdragte uit te voer gedurende en na apartheid het die Suid Afrikaner gebring tot op n punt waar sy ongehoorsaamheid hom straf soos in die geval met n radikale leier (swak?) soos Zuma. God is egter n genadige God en daarom het Suid Afrikaners se oe oopgegaan en kon hulle n gematigde leier (sterk?) kies soos CR. Suid Afrikaners word die tydperk wat CR sal dien gegun om hulle ongehoorsaamheid en bose dade te bely en reg te stel deur opregte versoenende uitsprake en optredes. Indien Suid Afrikaners egter van beide kante aan God se opdragte verdere ongehoorsaamheid toon sal die leier wat Suid Afrikaners na CR gaan kies, nog erger radikaal wees as wat Zuma ooit van kon droom om te wees. As daar ooit n tyd was vir Suid Afrikaners om na mekaar uit te reik en die waarheid te laat seevier en sodoende die radikales te verslaan, dan is dit nou die tyd anders sal Suid Afrikaners se ongehoorsaamheid hulle aanhou straf totdat dit almal en alles in hierdie land vernietig!

dr. Sakkie van der Merwe ·

Jerry, Kyk na CR se uitsprake die naweek en sy oproep dat Malema moet terugkeer na die ANC. Kyk na Afrika en jy sien die resultate van magsbebeptheid en -vergrype. Om te dink dat CR skielik alles gaan omkeer is soos wat FW geglo het sy besluite reg was. Ons is wel in God se Hand en daar le troos maar dan moet ons self iets aan ons posisie doen.

dr Sakkie van der Merwe ·

Dankie Christoff dit beskryf ‘n leier. Groot gewag is gemaak van Cyril wat die land sou omkeer (positief) maar sy paai-beleid van grondgryp en die naweek se verklaring dat die regering dit “wettig” sal doen wys dat sy onderrok ver uithang. Wat Johan Marx noem is belangrik want in die huidige politieke bedeling beteken my en jou stem net mooi niks, want die meerderheid sal bly regeer. As ons erens selfbeskikking kan bekom waar ons deur “ons” mense regeer word kan daar weer stabiliteit en vrede kom. Maar ons mense is nog in ‘n gemaksone – verdien te veel geld, ry twee motors en leef luuks. Wie gaan bereid wees om voor te begin met eie werksmag en -krag? Die dag as ons in ‘n hoek gedruk word is dit dalk te laat om iets vir ons kinders en kinds kinders na te laat.

Eish ·

Ek is allesbehalwe tevrede.
Die feit van die saak is dat indien jy aan die Afrikaanse Kaukasiese minderheidsgroep behoort, is jy effektief uitgerangeer tot n bestaan van niksseggendheid. Met 4.4 miljoen blankes wat Engelssprekendes en ander tale insluit, is ons so 8% van die bevolking met negatiewe aanwas.
Dus, vir my is demokrasie soos om 10 wolwe en twee skape te laat stem wat vir middagete genugtig gaan word. Dit werk nie vir ons nie.
Selfs lidmaatskap en deelname aan Burgerregte organisasies, is soos om n tandarts te besoek terwyl jy nie n enkele tand in jou mond het nie.
Nuttelose oefening in futiliteit.
Ons het ons Simson oomblik bereik.
Die vraag is net of ons die moed van oortuiging het om biddend tussen die fondasiepilare te gaan staan…

Casper Labuschagne ·

@Eish, ek kom toenemend tot die gevolgtrekking dat vir ons minderheid sal dit vorentoe nie daaroor gaan oor om te probeer om stuurman en bemanning van die skip te probeer wees nie. Selfs al sou die skip sink kan ons bitter min doen om die katastrofiese oorsaak daarvan enigsins te beïnvloed. Maar wat ons minderheid wel heelwat aan kan doen is om ons eie voorbestaan te verseker, en om te sorg dat ons nie saam met daardie skip sink nie. Persoonlik glo ek die skip gaan in elk geval sink binne ‘n dekade, oftewel twee verkiesings, wat in sal beteken dat die gevolge van jou Simson opsie in elk geval ‘n realiteit word. Die vraag is, wat gaan ons doen om te oorleef?

Eish ·

Daar is slegs drie opsies.
Assimilasie: Laat God’s water oor God’s akker loop.
Selfbeskikking: Fondasiepilaar.
Dit gaan n helse ingreep in ons omstandighede verg om genoegsame kritiese massa op te bou daarvoor. Maar dit is oppad.
Emigreer: Fondasiepilaar.
Slegs indien ons vlugtelingstatus iewers kan kry. Meeste van ons voldoen nie aan vereistes nie, veral tov ouderdom, en kapitaal.

Sarel Strydom ·

Probleem is my volk het sy Geloof en daardeur iok sy moed verloor en so ook die krag om gebed. Ons kan prast en dabateer maar solank as wat ons sake uit eie hardkoppige wil doen en God vergeet sal ons nie oorleef nie.

Jerry ·

Sarel, wanneer n volk ongehoorsaam is aan die opdragte van God, dan raak party moedeloos terwyl ander weer terugkeer tot gehoorsaamheid. Dit het met God se volk net so gegaan soos wat dit vandag met die Afrikaner gaan. Die wat na die leiers (profete) geluister het, het oorleef en die wat nie geluister het nie se ongehoorsaamheid het hulle verder gestraf en uiteindelik vernietig. Daarom en gegewe die situasie van haat en wraak van die meerderheid Suid Afrikaners teenoor die Afrikaner moet die Afrikaner hom beroep op die ware leiers, die profete van die bybel se boodskap van wat jou te doen staan wanneer jy en jou God so gehaat word dat julle nie meer welkom is in julle eie land. Gaan lees jou bybel, vind jou boodskap en voer die opdrag uit as n instrument van jou skepper sodat jy nie moedeloos raak oor Nehemia-bou mure en ander uit sy diepte uit boodskappe van vandag se selfaangestelde Afrikaner leiers! Planne om laer te trek soos in die tyd van die Voortrekkers by bloedrivier is netso onrealistiese verwagting as om mure te bou om selfbeskikking!

Jan Publiek ·

Hier kom ‘n Burgeroorlog en ons moet net die geloof van ‘n mosterdsaadjie he – en dan sal ons oorwin . Ek het geen twyfel daaraan nie.
Die goddelose sal nooit seevier nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.