Suid-Soedan en die gevaar van ʼn volksmoord

Vredeswerkers van Kamodja vergader by die militêre lugmagbasis in Phnom Penh. 382 van hulle het Donderdag veilig tuis gekom na die voltooiing van hulle jaarlange VN-vredesveldtog in Mali en Suid-Soedan. Foto: AP Photo/ Sovannara /www.africannewsagency.com

Vredeswerkers van Kamodja vergader by die militêre lugmagbasis in Phnom Penh. 382 van hulle het in Junie veilig tuis gekom na die voltooiing van hulle jaarlange VN-vredesveldtog in Mali en Suid-Soedan. Foto: AP Photo/ Sovannara /www.africannewsagency.com

Die president van Suid-Soedan, Salva Kiir, het die jongste beskuldigings van die uitwissing van etniese groepe in die land ontken. ʼn Afvaardiging van die Verenigde Nasies hou egter vol die uitwissing is so erg dat ʼn volskaalse volksmoord in Suid-Soedan se toekoms lê. Die afvaardiging het die laaste tien dae die dreigende volksmoord in Suid-Soedan te ondersoek in dié land met 64 etniese groepe.

Suid-Soedan se probleme het in 2013 begin, toe president Kiir sy adjunk, Riek Machar, afgedank het. Die regering van nasionale eenheid het slegs drie maande lank regeer. Dit het tot ʼn gewelddadige konflik gelei tussen die Dinka’s, die etniese groep waaraan president Kiir behoort en die Nuer, die etniese groep waaraan Machar behoort.

Ander kleiner etniese groepe, wat oor die jare in stryd met die Dinka’s was, is nou opnuut by die etniese geweld betrek. Dit is juis dié groeperinge wat, volgens die VN se afvaardiging, die risiko loop om uitgewis te word.

Die Amerikaanse regering het intussen gevra vir ʼn embargo op die verkoop van enige wapens aan enige instansies binne Suid-Soedan, weens die vrees dat die wapens in die uitwissing van etniese groepe gebruik kan word.

Die VN se veiligheidsraad is ook versoek om resolusie 2304 in werking te stel. Ingevolge die resolusie sal ʼn gewapende mag ontplooi word, wat kan optree teen enige gewapende groepe wat onskuldige mense bedreig. Die regering van Suid-Soedan sleep egter hul voete en werk nie voldoende saam met die Verenigde Nasies nie. Die president, soos vroeër genoem, ontken steeds daar is enige vorm van etniese geweld in die land.

Die president se ontkenning is egter nie die enigste gevaarlike retoriek wat leiers in Suid-Soedan tans uiter nie. Uitlatings oor die minderwaardigheid van sekere etniese groepe en wraakaanvalle kom algemeen voor. Gewapende militante jeuggroepe is besig om etniese minderhede met geweld uit sekere streke te verdryf.

Meer as ʼn miljoen mense het oor die laaste drie jaar uit Suid-Soedan gevlug. Minstens 4 000 mense het volgens berekenings elke dag die grens na Uganda oorgesteek. Teen September het bykans 40 000 vlugtelinge na Ethiopië gevlug en 57 000 na die Kongo.

Die situasie in Suid-Soedan herinner baie aan die etniese volksmoord in Rwanda 12 jaar gelede. In daardie tyd het die VN weinig gedoen en dit kon, weens burokrasie, eintlik weinig doen om onskuldige mense te beskerm. Dit sal ʼn klad op die naam van internasionale menseregte wees indien etniese minderhede in Suid-Soedan uitgemoor word weens daardie selfde burokrasie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister na Klankkoerant daagliks op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hendrik ·

Wel in die afgelope 22 jjar is daar 500 000 mense in S.A. dood aan geweld. 62 mense van alle bevolkingsgroepe word gedood per dag in S.A.

Bekommerd ·

Ek is net so bekommerd oor die moontlikheid van ‘n volksmoord in SA – na aanleiding van ons eie president en ook Malema se uitsprake in die openbaar. Verder is dit kommerwekkend dat SA uit die Internasionale Strafhof bedank het. Hoekom?

Anoniem ·

Daar is net een rede hoekom SA uit die Internasionale Strafhof wil onttrek en dit is om nie eendag vir die Volksmoord wat tans aan die gang is verantwoording te moet doen nie en ook nie vir hulle mede volksmoord gespuis vir wie hulle so rojaal trakteer en die landuit gesmokkel het nie. Internasionale wette en standaarde is mos nie op Afrika van toepassing nie, dit weet ons mos al lankal.

Kader ·

Die ander lande gaan nou lekker agteroor sit en wins uit wapenverkope geniet. Almal is te slap om dit te keer. Ons moet self voorbereid wees wanneer die regering op ons gaan toeslaan.

John ·

Die wil tans voorkom of al die swart volke in SA goed klaarkom. Die ANC het baie hard probeer om die opstandige Zoeloes in die groep in te trek en Zuma as president aangestel, maar krake begin wys. Zuma trek duidelik sy mense voor met die meeste ministers glo uit sy gebied. Nou werk hy en ander glo hard daaraan om sy adjunk uit te werk en sy ex in te voer. Malema kom weer uit Noord-Transvaal met sy eie voorkeure. Grondgryp gaan soveel onderlinge struweling veroorsaak oor wie wat en waar moet/mag kry… en … en. Moeilikheid wag. Ons Afrikaners gaan dalk die minste van hul probleme wees.

Rupert Ashford ·

En die VN sal staan en handjies vryf en preek totdat dit te laat is.

Sputnik ·

Dit alles maak’n mens net meer en meer bekommerd! Eish! Ek wil so graag my kinders naby my hou, maar wens terselfdertyd dat hulle sal emmigreer.

Etienne ·

Dalk is Siener se spreekwoordelike emmer bloed nader as wat ons besef….

SA ·

Dis nie ‘n klad op SA se naam dat etniese minderhede by die duisende hier vermoor word deur die etniese meerderheid nie. Hulle wil net seker maak hulle word nie vervolg nie deur uit die Internasionale Strafhof te bedank/onttrek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.