Suid-Soedan: Net nóg ’n Afrika-tragedie

 

suid-soedan

Salva Kiir en Riek Machar voordat die konflik uitgebreek het. Foto: Naijapicks.com

Dit was veronderstel om ’n ligpunt te wees ná dekades van stryd om vryheid: maar die nuutste onafhanklike staat in die wêreld, Suid-Soedan, is egter net nog ’n mislukte staat op die donker kontinent. Ná jare van oorlog teen hul Moslem-heersers van die noorde uit Kartoem, het Suid-Soedan onafhanklikheid verkry in 2011. Nou, slegs vyf jaar later, is die land in groter chaos gedompel as ooit tevore. Gevegte vind oral plaas, die meerderheid van die land se 11 miljoen mense het voedselhulp nodig en meer as ʼn miljoen het al uit die land gevlug.

Die stryd tussen kamerade

Suid-Soedan het in Julie 2011 onafhanklikheid van Soedan ontvang ná ’n lang uitgerekte stryd teen die Moslem-regime in die noorde. Die suide se mense is eerder Christene of hang inheemse gelowe aan (animiste), teenoor die meerderheid Moslems in die noorde. Die suide was egter van belang aangesien Soedan se grootste olieveld in die suide geleë is.

Nietemin het amper al die inwoners (van die suide) gestem vir onafhanklikheid ná jare lange internasionale bemiddeling. Die nuwe onafhanklike Suid-Soedan was arm en daar was byna geen infrastruktuur in die land of sy hoofstad, Juba, nie, maar die land het oor olie beskik en almal was baie optimisties.

Slegs twee jaar later, in Desember 2013, het die sprokie platgeval en ’n burgeroorlog uitgebreek nadat die president, Salva Kiir, die adjunkpresident, Riek Machar, beskuldig het van ’n gepoogde staatsgreep. Tienduisende is dood, die Verenigde Nasies (VN) het vredestroepe ingestuur en derduisende het gevlug na Uganda, Soedan (ironies genoeg), Kenia en die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK).

Kiir en Machar beskuldig mekaar oor hul aandeel in die konflik. Die internasionale gemeenskap doen hul bes om te help.

Suid-Afrika se president, Jacob Zuma, het sy eie spesiale vredesgesant, Cyril Ramaphosa, aangestel om vrede in Suid-Soedan te help bewaar. Ramaphosa is bekend as ʼn toonaangewende onderhandelaar tydens die grondwetlike onderhandelinge in Suid-Afrika in die 1990’s. Ook ander gesante is aangestel om ’n ernstige konflik te vermy – deur die VSA, Brittanje, Noorweë, Sjina, asook die Afrika-unie en die Europese Unie.

Dít wys op verskeie belange deur verskillende rolspelers wat reeds in Suid-Soedan teenwoordig is. Ten spyte van pogings tot bemiddeling en vredesooreenkomste was daar tot dusver geen sukses nie en die konflik duur voort. Suid-Soedan kan met reg as ’n mislukte staat beskryf word.

Suid-Soedan word geplunder

Ná maande lange pogings om die vrede te bewaar, het ernstige gevegte weer in Julie vanjaar uitgebreek tussen troepe lojaal aan onderskeidelik die president en Machar. Laasgenoemde het skuiling gaan soek by sy eertydse vyand, Soedan. Daarna is hy weer terug na Suid-Soedan waar vredespogings weer misluk het. Machar het in Oktober weer gevlug, hierdie keer na Suid-Afrika (blykbaar vir “mediese behandeling”). Machar predik egter “populêre gewapende stryd” teen die Kiir-regime.

Op die oog af behoort die twee hoofproponente van die konflik goed oor die weg te kom. Albei het jare lank teen die Soedannese geveg in die Sudan People’s Liberation Army (SPLA). Soos maar in Afrika die geval is, speel etniese en stamgebondenheid wel ’n rol in die konflik en het ondersteuners van albei partye vinnig volgens stamverband verdeel. Kiir is van die Dinka-stam, wat ongeveer 35-40% van die bevolking uitmaak, en Machar van die Nuer-stam, wat so 15-20% van die bevolking uitmaak.

Intussen het die eintlike rede vir die twis na vore gekom. Dit is geen verrassing dat dit oor geld en mag gaan nie. Dit is seker Afrika se grootste siekte wat byna die hele kontinent oorheers.

Die Sentry-groep, wat deur die Amerikaanse akteur, George Clooney, en ’n menseregte-aktivis, John Prendergast, gefinansier word en fokus op Suid-Soedan, het onlangs ’n verslag vrygestel waarin in detail aangedui word hoe Kiir, Machar en ʼn spul ander hooggeplaastes in die Suid-Soedannese regering die staatskas leeggesteel het, luukse huise en eiendomme oor die wêreld gekoop en luukse motors aangekoop het. Hulle het hulself en hul familielede verryk deur toe-eiening in oliekontrakte en ander besigheidsondernemings.

Soos ons hier in Suid-Afrika maar te goed leer besef het, het die maghebbers hulself volgestop met die staat se rykdom. Groot betalings is byvoorbeeld ontvang vanaf buitelandse maatskappye wat besigheid in Suid-Soedan wou doen. Terselfdertyd besit of beheer senior amptenare en hul vriende of familielede maatskappye wat in Suid-Soedan besigheid doen, natuurlik in weerwil van plaaslike wetgewing.

Hulle en hul familielede besit multimiljoen-dollar-huise in die buiteland (Kiir en Machar het albei sulke huise in Nairobi, Kenia), reis oral rond en bly in vyfsterhotelle. Dit alles terwyl meer as die helfte van die bevolking in toestande van hongersnood probeer oorleef. Selfs die voortslepende konflik en gevegte veroorsaak dat die elite meer geleenthede tot korrupsie kry en dit benut.

Soos gewoonlik is die internasionale banke, maatskappye, wapenhandelaars, eiendomsagente, motorhandelaars en prokureurs wetend of onwetend betrokke om die Suid-Soedannese kleptokrasie aan die gang te hou. Die Sentry-verslag wys vinger na betrokkenheid by hierdie kringloop deur rolspelers op vyf kontinente – Europa, Noord-Amerika, Afrika, Asië en Australasië.

Die tragedie van Afrika

So, hoekom is Suid-Soedan net nog ’n Afrika-mislukking? Is dit nie maar net Afrika-pessimisme deur ’n Westerse bril nie, of is daar ander soortgelyke probleme in Afrika? Moet ons maar aanvaar Afrika-lande sukkel met nepotisme, korrupsie, oorlog, konflik of politieke onrus? Staatskaping deur elite-groepe vind lankal plaas, al is dit ’n nuwe begrip wat ons nou te gereeld hier in Suid-Afrika hoor.

Ja, daar is demokratiese instellings ingestel in die meeste Afrika-state. Verkiesings word gereeld gehou en hier en daar word selfs nuwe leiers verkies. Afrika het sekerlik vooruitgegaan die afgelope 20 jaar of so. Dit is nie meer die een konflikgebied ná die ander wat die Koue Oorlog vanaf die 1960’s-1990’s gekenmerk het nie. Staatsgrepe en burgeroorloë is beslis minder aanwesig as 40-50 jaar gelede. Hiervoor moet ons instellings soos die Afrika-unie en die VN erkenning gee.

Sommige Afrika-lande het ook sterk ekonomieë opgebou, al is dit dalk soms vanweë die beskikbaarheid van grondstowwe. Dink hier aan Nigerië, Kenia en kleiner landjies soos Botswana of Mauritius. By ander duur die plundery te lekker voort. Dink maar aan Angola, Ekwatoriaal-Guinee, DRK, Kameroen, Zimbabwe en ander.

Wat ons egter nou in Suid-Soedan sien, vind steeds te veel in ons kontinent plaas. Korrupsie vier hoogty, met enkele uitsonderings. Verkiesings word gemanipuleer (soos nou onlangs weer in die Republiek van die Kongo, Gaboen en Zambië) en leiers weier om mag oor te dra ten spyte van grondwette wat meestal derde termyne as staatshoof verbied (Rwanda en Uganda is voorbeelde). Konflik en oorlog vind steeds plaas (Nigerië, Soedan, Suid-Soedan, Libië, Ethiopië en Sentraal-Afrikaanse Republiek) om maar ʼn paar te noem.

Dit help natuurlik nie dat Afrika-lande hulle nou ook begin onttrek aan internasionale instellings soos die Internasionale Strafhof nie. Suid-Afrika, Burundi en Gambië het reeds aangedui dat hulle hulle gaan onttrek. Die boodskap is dat Afrika-lande nie hulself wil onderwerp aan internasionale standaarde oor oorlogsmisdade nie.

Meestal, soos in Suid-Soedan, is die oorsaak van die konflik oënskynlik etnies of godsdienstig. Dit is natuurlik waar dat etniese en godsdiensverskille ’n groot rol speel. Maar in Afrika is die grootste oorsaak kompetisie oor die grootste prys van almal – beheer oor die staat se bates en die land se natuurlike grondstowwe. Dit word wedywering tussen kleptokratiese families en hul vriende. Die leiers manipuleer en buit etniese verdeeldheid uit om, soos in Suid-Soedan, ondersteuning te verkry vir ’n konflik wat net die belange dien van die verskillende faksies en hul internasionale ondersteuningsnetwerke.

Dít is die tragedie van Afrika.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 25 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

John ·

Hallo, maak plek vir ons! Gryp, gryp gryp is nou ook ons motto! Die droom om langbeen in die son te sit met vliee wat bo die bierpot zzzz is besig om ook hier waar te word. Ons hoop net die VV-vliegtuie met die kosvoorrade het genoeg petrol om ook op ons droe vlaktes af te lewer. Kap af die bome mense dat ons kan sien waar val die pakkies Franse drinkwater, Duitse wors en Engelse babadoeke… my vrou wag al weke vir haar Italiaanse leerskoene en boetie vir ‘n appel vir sy kennisdors.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.