Suid-Tirool – ʼn geseënde stukkie aarde

suid-tirool1

Suid-Tirool. Foto: Argief.

Suid-Tirool, die noordelikste provinsie van Italië, is vandag ʼn gewilde toeristebestemming en ooglopend ʼn geseënde stuk aarde, maar dit was en is nog steeds ʼn politieke twisappel en een van die bekendste voorbeelde van hoe minderhede ná ʼn lang stryd vir selfbeskikking geakkommodeer word. Vir die Afrikaner as minderheid is dit dus boeiend om die Suid-Tiroolse outonomie-model te bestudeer en in praktyk te beleef.

Dié land het vir eeue as deel van die land Tirool tot die multi-etniese, dinastiese Habsburgse Ryk behoort, een van die groot Europese ryke waarvan die sentrum Wene en die elite Duitssprekendes was. Die Tiroolers was van die mees lojale onderdane van die Habsburgse monargie. Die ryk het bestaan uit ʼn magdom verskillende volke, soos, behalwe die Duitsers (oftewel Oostenrykers) onder andere Hongare, Tsjegge, Italianers, Pole, Slowene, Roemenië, Kroate ensovoorts. Wat die volke saamgebind het, was die Habsburgse dinastie, asook die Rooms-Katolieke godsdiens waaraan die meeste onderdane behoort het.

Die Habsburgse Ryk het in die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) saam met die Duitse Ryk, Italië en ander kleiner state (die sogenaamde Sentrale Moondhede) teen die Geallieerde Magte, by name Groot-Brittanje, Frankryk, Rusland en later die VSA asook verskeie kleiner state, geveg. Italië is deur die geallieerdes oorgehaal om sy rug op sy alliansievennote te draai en as prys is die suidelike deel van Tirool aan Italië belowe. In Tirool het net enkele Italiaanssprekendes gewoon, maar dit was geografies begeerlik: ʼn vrugbare vallei wat die toegang oor die Alpe na die Noorde beheer het. So het Suid-Tirool na die geallieerde oorwinning deel van Italië geword, heeltemal teen die bevolking se sin en sonder enige konsultasie. Die hele Habsburgse Ryk is in sy etniese bestanddele opgedeel. Suid-Tirool en sy mense het sedertdien, tot vandag toe, ʼn stryd om selfbeskikking en uiteindelike aansluiting by die etniese en kulturele moederland Oostenryk gevoer.

Geografies lyk Suid-Tirool breedweg soos ʼn Y: twee riviere, die Etsch uit die Noordweste en die Eisack uit die Noordooste (beide vanaf die Alpe se waterskeiding) kom in die sentrum, by die hoofstad Bozen, bymekaar en vloei voortaan as Etsch direk suid om in die Po-rivier te mond. Alle stede, soos Bozen, Meran en Brixen, is in die twee valleie. Beide valleie het talle kleiner newe-valleie en daar is daar ook verskeie klein dorpies en gehuggies bo op die berge. Die hoofvalleie lê tussen 200 en 300 meter bo seevlak, die bergdorpies 1 000 tot 1 500 meter hoog en kan deur paaie met talle haarnaalddraaie, of direk per kabelspoor bereik word. Elke vallei het sekere kulturele eiesoortighede ontwikkel, alhoewel almal saam ook die identiteit as Duitssprekendes, as Tiroolers en as Suid-Tiroolers het, egter baie selde ook as Italianers, want kultureel het hulle bitter min met die meerderheid van die staat waarvan hulle noodgedwonge deel is, in gemeen.

Om ʼn houvas op Suid-Tirool te kry is na die Eerste Wêreldoorlog op groot skaal Italianers uit die arm Suide daarheen gestuur, veral na Bozen, wat vandag ʼn Italiaanse meerderheid het. Suid-Tirool in geheel is egter nog steeds 70% Duitssprekend en meeste dorpe, veral in die meer afgeleë dele, is feitlik uitsluitlik Duitssprekend en het ʼn sterk Alpe-karakter. Suid-Tirool het vandag sowat 500 000 inwoners. Behalwe vir die Duitse en Italiaanse taalgroep is daar nog die klein Ladiner-minderheid van etlike duisend, wat egter in ʼn sekere gebied gekonsentreerd is. Hulle is van die heel oorspronklike bevolking en praat ʼn unieke taal wat verwant is aan Latyn, daarvan die naam Ladiner. Suid-Tirool is daarom ook amptelik drietalig, alhoewel in meeste gevalle net Duits en Italiaans te sien en te hoor is.

In die konteks van Italië is dit die mees voorspoedige streek en alles is (anders as in die eintlike Italië) baie goed georganiseerd en pynlik netjies. Die ekonomie is tradisioneel gebou op intensiewe landbou, melkery in die berge en klein valleie en wyn- en appelverbouing in die groot valleie. Toerisme is ook groot en is al vir meer as honderd jaar ʼn goed gevestigde bedryf. Toeriste kom veral uit die omgewing, soos Duitsers en Oostenrykers, wat kultureel goed inpas. Sjinese, Indiërs of Amerikaners wat na al die Europese hoogtepunte stroom, is selde te sien en min mense, selfs in die toeristebedryf, praat goed Engels. Kennisgewings is altyd in Duits en Italiaans, net by sekere museums ook in Engels. Verder is hier ook ʼn goed gevestigde vervaardigings- en ambagsbedryf, meesal klein en medium grootte ondernemings, asook ʼn sterk dienssektor. Die ekonomie is dus goed verspreid, wat deel is van Suid-Tirool se sukses.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gerhard ·

Die plek is verseker op my emmerlys om eendag te besoek. Sterkte en groete aan die mense van Suid-Tirool.

JAN ·

Baie dankie Sebastiaan,
Dis sowaar ook op my reisprogram.
Ook Rusland maak my soo nuuskierig na die sokker vreugde!

JAN ·

Die WO 1 is glo veroorsaak oor die moord op Habsburger Frans Ferdinand [kroonprins??] in Sarajevo 1915 ?
Hy word beskou as ‘n laaste nageslag bloedlyn van Jesus Christus met Maria Magdalena .
Baie baie interessante geskiedenis… { Holy Blood Holy Grail}
Die moord opFrans F was net so verwoestend as ons syne 50 jaar gelede.
Die Habsburg state het weer selfbeskikking gekry Hnnn?
Miskien is daar hoop vir die Afrikaners.

sebastiaan ·

Dis korrek dat die oorsaak van die 1ste WO die sluipmoord op die kroonprins Frans Ferdinand was. Enige sugestie dat hy die fisiese nageslag van Jesus was, is egter onhistories en Godslasterlik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.